’n Brief van die Bestuursliggaam
Liewe broers en susters
In die sewende eeu VHJ het die profeet Esegiël ’n ongelooflike visioen ontvang. Hy het ’n reusagtige voertuig, ’n hemelse strydwa, onder die beheer van die Soewerein van die heelal gesien. Die indrukwekkendste ding omtrent hierdie voertuig was hoe dit beweeg het. Dit kon blitsvinnig beweeg selfs wanneer dit van rigting verander het—sonder om spoed te verminder of te draai!—Eseg. 1:4, 9, 12, 14, 16-27.
Hierdie visioen herinner ons daaraan dat die hemelse deel van Jehovah se universele organisasie altyd aan die beweeg is. Maar wat van die aardse deel? Die afgelope diensjaar was dit duidelik dat Jehovah sy georganiseerde volk op aarde ook teen ’n geweldige pas laat voortbeweeg!
In die Verenigde State is lede van die Bethelgesin besig om van Brooklyn na die nuwe wêreldhoofkwartier in Warwick, New York, te trek. Party het na ander komplekse getrek, en ander is na die veld gestuur. Betheliete by verskeie ander takkantore regoor die wêreld is ook besig met bouprojekte, opknappingswerk, konsolidering of om na ander plekke te trek. Wat van jou? Selfs al het jy nie getrek nie, was jy ongetwyfeld op ander maniere aan die gang.
Dit is vir die Bestuursliggaam aanmoedigend en dit raak hulle diep wanneer hulle sien dat God se volk regoor die wêreld besiger is as ooit tevore en byhou met Jehovah se organisasie. Baie het getrek na plekke waar daar hulp nodig is. Ander het ’n nuwe taal geleer om hulle bediening uit te brei. Party het op nuwe maniere waaraan hulle nie gewoond is nie, begin getuig. Baie verkondigers het hulle diens op ander maniere uitgebrei. En alle getroue Christene, insluitende die bejaardes en verswaktes, is besig om lojaal in die wedloop vir die lewe te hardloop. Hulle is bedrywig in Jehovah se diens, en hulle help om te bewys dat Satan ’n leuenaar is!—Wees verseker dat die gees wat jy toon deur Jehovah raakgesien word (Heb. 6:10). Jou bereidwilligheid laat ons aan Abraham en Sara dink. Toe Abraham in sy 70’s was, het hy en sy familie van die Galdese stad Ur na die verafgeleë Kanaän getrek. Daar het hy die oorblywende 100 jaar van sy lewe in tente gewoon. Hy en sy dierbare vrou het tog so ’n gewillige gesindheid getoon!—Gen. 11:31; Hand. 7:2, 3.
Het jy so ’n gesindheid? Almal van julle wat getrou bly in hierdie moeilike tye, is besig om te doen wat Jesus ons beveel het. Hy het gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees.”—Matt. 28:19.
Selfs die feit dat Jesus die woord “gaan” gebruik het, wys dat ons aan die beweeg of bedrywig moet wees. Dit is tog so bemoedigend om te sien hoeveel daar gedurende die afgelope jaar deur Christus se ywerige volgelinge bereik is! Jehovah se magtige hand seën beslis die werk om die goeie nuus van die Koninkryk in al die nasies te verkondig.—Mark. 13:10.
Baie mense reageer op die boodskap. Die verkondigerhoogtepunt vir die afgelope jaar is 8 340 847, en ons het gemiddeld 10 115 264 Bybelstudies elke maand gehou. Dit is duidelik dat die hemelse strydwa aan die beweeg is, en julle ook! Hou vol met julle goeie werk terwyl Jehovah nog net ’n kort tydjie toelaat vir mense om gered te word.
Daarom is ons jaarteks vir 2017 heel gepas: “Vertrou op Jehovah en doen wat goed is”! (Ps. 37:3). Wanneer jy gehoorsaam is aan hierdie woorde en doen wat goed is deur heilige diens aan Jehovah te verrig, wys jy dat jy op hom vertrou. Hou asseblief altyd in gedagte dat jy nooit alleen is nie. Jesus het gesê: “Kyk! Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matt. 28:20). Hierdie woorde sal altyd waar wees.
JAARTEKS VIR 2017:
“Vertrou op Jehovah en doen wat goed is”
Jy kan seker wees dat Jehovah jou getroue diens sal seën. Dit maak nie saak hoeveel jy doen nie. Al wat Jehovah vra, is dat dit jou beste is en dat jy dit vir die regte rede doen. Alles wat jy vir hom doen, raak sy hart en maak hom gelukkig (2 Kor. 9:6, 7). Hou dus aan om nader aan jou liefdevolle Vader te kom deur gereeld te bid, God se Woord te studeer, Christelike vergaderinge by te woon en bedrywig te wees in die bediening.
Die Duiwel het net “’n kort tydjie” oor, en daarom sal hy alles in sy mag doen om ons sover te kry om ontrou aan Jehovah te wees (Op. 12:12). Maar as jy na aan Jehovah bly, sal die Duiwel dit beslis nie regkry nie (Ps. 16:8). Ons wil hê dat julle moet weet dat ons baie lief is vir julle en dat ons dit waardeer dat julle ons help om na die Here se Koninkryksbelange in hierdie laaste dae om te sien.
Julle broers
Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies