Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Broers by ’n vergadering in Tbilisi in 1992

GEORGIË | 1991-1997

“God het dit deurentyd laat groei.”—1 Kor. 3:6.

“God het dit deurentyd laat groei.”—1 Kor. 3:6.

Genadi Goedadze het in die vroeë 1990’s as ’n kringopsiener gedien

GEORGIË het in 1991, die jaar toe die Sowjetunie ontbind is, onafhanklik geword. Maar politieke veranderinge en oproerigheid het veroorsaak dat lewenstoestande vinnig agteruitgegaan het. Genadi Goedadze, wat ’n kringopsiener in daardie jare was, onthou hoe mense amper heeldag lank vir brood in rye gestaan het.

Destyds het die Getuies dikwels die Bybelboodskap verkondig aan die mense wat in die rye gewag het. Genadi sê: “In daardie moeilike jare het baie mense in die waarheid belanggestel. Ons het honderde adresse gekry van mense wat ’n Bybelstudie wou hê.”

Aan die einde van elke vergadering het die broers wat die leiding geneem het, ’n lys name en adresse van mense gelees wat graag besoek wou word. Verkondigers het dan aangebied om hulle te besoek.

Die goeie nuus is in die 1990’s verkondig aan mense wat vir brood gewag het

Broer Lewani Sabasjwili, ’n ouer man in Tbilisi, vertel van ’n egpaar wat gevra het vir ’n besoek. Hy sê: “Die adresse is uitgedeel aan die verskillende verkondigers, maar niemand het aangebied om hierdie paartjie te besoek nie. Hulle het ver van Tbilisi gewoon, en baie van ons het reeds ’n hele paar Bybelstudies gehad.”

’n Paar maande later het dieselfde paartjie weer vir ’n Bybelstudie gevra. En daarna het hulle ’n derde keer gevra, maar hierdie keer het hulle die Getuies in ’n briefie gesmeek om nie bloedskuldig te wees nie (Hand. 20:26, 27). Lewani sê: “Dit was Nuwejaar, en ons het gewoonlik nie mense hierdie tyd van die jaar besoek nie. Maar ons kon hierdie besoek nie langer uitstel nie.”

Hierdie paartjie, Roini en Nana Grigalasjwili, wat ’n geestelike behoefte gehad het, kon skaars hulle oë glo toe hulle een koue oggend vir Lewani en ’n ander broer voor hulle deur sien. Hulle het dadelik die Bybel begin studeer. Roini, Nana en hulle kinders dien nou as gewone pioniers.

Moeite word gedoen om belangstellendes te bereik

Omdat dié wat die waarheid aanvaar het, so dankbaar was, het hulle onselfsugtig van hulle tyd, energie en middele gegee om die goeie nuus aan ander te verkondig. Al het Badri en Marina Kopaliani gesinsverantwoordelikhede gehad, het hulle sowel as ander broers en susters moeite gedoen om na afgeleë dorpies te gaan om belangstellendes te help.

Oor naweke het Badri en Marina en hulle tienerseuns, Gotsja en Lewani, gereis na die pragtige, bergagtige Dusheti-streek, noord van Tbilisi. Soms het hulle tot 150 kilometer op kronkelende paaie gereis om by verafgeleë dorpe uit te kom.

Eendag het ’n vrou vir Badri en sy vrou genooi om na haar werk te kom. Badri vertel: “Die vrou het ons na ’n groot vertrek geneem waar daar omtrent 50 mense vir ons gewag het! Ek was verstom, maar nadat ek tot Jehovah gebid het, het ek verse uit Matteus 24 oor die teken van die laaste dae begin bespreek. Een van hulle het verbaas gevra: ‘Hoekom leer ons priesters ons nie hierdie dinge nie?’”

Die Gedenkmaal trek aandag

Die Herdenking van Jesus se dood het talle opregte Georgiërs die geleentheid gegee om die waarheid te leer. Die Gedenkmaal is byvoorbeeld in 1990 in suster Ia Badridze se huis in Tbilisi gehou, en dit het baie aandag in die gebied getrek.

Ia Badridze se woonstel is vir die Gedenkmaal gebruik en 200 mense het dit bygewoon

Suster Badridze het aangebied dat die Gedenkmaal in haar woonstel gehou kan word. Haar kinders het haar gehelp om die sitkamer leeg te maak sodat daar genoeg plek sou wees. Maar waar sou sy genoeg stoele vir haar gaste kry? In Georgië het families gewoonlik tafels en stoele vir groot geleenthede gehuur. Omdat sy net stoele gehuur het, het die winkeleienaars bly vra: “Het jy nie tafels nodig nie? Waar gaan julle eet?”

Suster Badridze het dit reggekry om plek te maak vir almal wat na haar woonstel op die 13de vloer gekom het om Jesus se dood te herdenk. Verbasend genoeg het 200 mense dit bygewoon! Dit is geen wonder dat soveel bure vrae oor Jehovah se Getuies gehad het nie!

’n Onvergeetlike Gedenkmaal

In 1992 is groot sale in verskeie dele van die land vir die Gedenkmaal gehuur. Dawit Samcharadze, wat in Gori gewoon het, onthou dat die reisende opsiener gevra het wat hulle planne vir die Gedenkmaal is.

Toe hy uitvind dat die verkondigers in ’n huis bymekaar gaan kom, het hy gevra: “Is daar nie ’n groot saal in die stad nie? Hoekom huur julle dit nie liewer nie?” Aangesien die saal meer as 1 000 sitplekke gehad het, het die plaaslike verkondigers—wat net meer as 100 was—nie gedink dat dit nodig is om so ’n groot saal te huur nie.

Die reisende opsiener het toe voorgestel: “As elke verkondiger net tien mense kan kry om te kom, dan sal al die sitplekke vol wees.” Hoewel sy raad dalk onrealisties geklink het, het die verkondigers baie moeite gedoen om dit te volg. Hulle was baie verbaas en bly toe 1 036 mense die Gedenkmaal bygewoon het! *

Ywerige pioniers bereik nuwe gebiede

Teen 1992 was daar steeds ’n paar streke in Georgië waar Jehovah se volk nog nie die Bybelboodskap verkondig het nie. Hoe kon hierdie gebiede bereik word terwyl daar ’n ernstige ekonomiese krisis in die land was?

Tamazi Biblaia, wat in Wes-Georgië gewoon het, sê: “’n Reisende opsiener het ’n paar van ons besoek om te praat oor wat gedoen moet word. Ons het nie geweet hoe die reëling vir spesiale pioniers werk nie. Maar ons het geweet dat die goeie nuus dringend verkondig moes word” (2 Tim. 4:2). Hulle het dus 16 pioniers gekies en hulle na verskillende plekke in die land gestuur.—Sien die kaart op die volgende bladsy.

Plekke waar pioniers vyf maande lank gedien het

In Mei 1992 is ’n drie uur lange vergadering in Tbilisi gehou om die pioniers aan te moedig wat gekies is om vyf maande lank in daardie gebiede te werk. Elke maand het ouer manne hulle besoek om hulle geestelik te ondersteun en materiële hulp te voorsien as dit nodig was.

Twee pioniersusters, Manea Adwasjwili en Nazi Zjwania, is na die dorp Ozoergeti gestuur. Manea, wat toe 60 jaar oud was, sê: “Ons het geweet dat daar ’n belangstellende naby Ozoergeti woon. Ons het haar dus gaan sien kort nadat ons daar aangekom het. Toe ons by die vrou se huis aankom, het sy vir ons gewag, sowel as 30 ander persone wat sy genooi het. Ons het daardie dag ’n hele paar Bybelstudies begin.”

Die maande daarna was net so produktief. Ná net vyf maande was 12 mense gereed om gedoop te word!

Hulle selfopofferende gees het goeie resultate gehad

Twee pionierbroers, Pawle Abdoesjelisjwili en Paata Morbedadze, is na Tsageri gestuur. Dit is in ’n streek waar die mense nog vashou aan ’n mengsel van ou tradisies en leringe van die Christendom.

Die omgewing rondom Tsageri

Die strawwe winter was op pad en die pioniers se toewysing van vyf maande was amper verby. Paata is genooi om te help met vertaalwerk op ’n ander plek, en daarom moes Pawle ’n besluit maak. Hy vertel: “Ek het besef dat die winter in Tsageri baie moeilik sou wees. Maar ons Bybelstudente het nog hulp nodig gehad, en daarom het ek besluit om te bly.”

Pawle vertel verder: “Ek het by ’n gesin in die gebied gebly. Ek het amper heeldag velddiens gedoen. Saans het ek saam met die gesin om die houtstoof op die grondverdieping gekuier. Maar wanneer dit tyd was om boontoe na my kamer te gaan, het ek my warm hoed opgesit en onder ’n dik kombers geslaap.”

Toe die ouer manne Pawle in die lente kon besoek, het 11 mense aan die vereistes voldoen om ongedoopte verkondigers te word. Kort voor lank is almal gedoop.

^ par. 20 In 1992 het Georgië 1 869 ywerige verkondigers gehad en 10 332 het die Gedenkmaal bygewoon.