Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

GEORGIË

Ek het gedink dat my lewe suksesvol is

Madona Kankia

Ek het gedink dat my lewe suksesvol is
  • GEBORE 1962

  • GEDOOP 1990

  • PROFIEL ’n Voormalige lid van die Kommunistiese Party in Georgië. Sy het baie mense gehelp om die waarheid te leer. In 2015 is sy opgelei in die eerste klas van die Skool vir Koninkrykspredikers in Tbilisi.

TOE ek in 1989 Bybelwaarheid vir die eerste keer gehoor het, was ek ’n bekende lid van die Kommunistiese Party in my tuisdorp, Senaki. Ek het gereeld in die Opperste Sowjet van Georgië gesit, wat vandag gelyk is aan die parlement. Ek was ook verloof aan ’n jong man, en daarom het ek gedink dat my lewe suksesvol is.

My ma en pa het my geleer om vir God lief te wees. Daarom het ek aan God geglo al was ek ’n Kommunis. Toe ek die Bybel begin studeer het, het ek bevredigende antwoorde op al my vrae gekry, en daarom het ek besluit om my lewe aan Jehovah toe te wy. Maar my familie, vriende, kollegas en verloofde het nie met my besluit saamgestem nie.

My nuwe geloof het veroorsaak dat my familie my verwerp het, en dit het ook met my politieke loopbaan gebots. Ek het besef dat ek geen keuse gehad het as om die huis te verlaat, my verlowing te verbreek, uit my werk te bedank en my aan die Kommunistiese Party sowel as die Opperste Sowjet te onttrek nie. Nadat ek gedoop is, het dit vir my gevoel asof my familie en vriende nog meer druk op my plaas. Omdat ek so bekend was in my tuisdorp, het ek na die stad Koetaisi getrek, waar ek onmiddellik begin pionier het.

Wanneer mense my vra of my geloof al die swaarkry werd was, dan antwoord ek dadelik dat ek baie gelukkig is oor die besluite wat ek gemaak het. Hoewel my ouers nie my besluite verstaan het nie, is ek dankbaar dat hulle my geleer het om lief te wees vir God en my naaste. Dit het my baie in die lewe gehelp.