Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 2

Die mens verloor die Paradys

Die mens verloor die Paradys

’n Opstandige engel beïnvloed die eerste man en vrou, Adam en Eva, om God se heerskappy te verwerp. Gevolglik kom sonde en die dood in die wêreld

LANK voordat God mense geskep het, het hy talle onsigbare geesskepsele—engele—geskep. In Eden het ’n opstandige engel, wat bekend geword het as Satan die Duiwel, Eva listig probeer versoek om die vrugte te eet van die een boom waarvan God hulle verbied het om te eet.

Satan het ’n slang as ’n mondstuk gebruik en beweer dat God iets begeerliks van die vrou en haar man weerhou. Die engel het vir Eva gesê dat sy en haar man nie sou sterf as hulle die verbode vrugte eet nie. Satan het God sodoende daarvan beskuldig dat Hy vir Sy mensekinders ’n leuen vertel het. Die Bedrieër het ongehoorsaamheid aan God voorgehou as ’n aanloklike weg wat tot spesiale insig en vryheid sou lei. Maar dit was alles ’n leuen—trouens, die heel eerste leuen wat op die aarde vertel is. Die eintlike geskilpunt was God se soewereiniteit, oftewel opperheerskappy—of God die reg het om te regeer en of hy dit op ’n regverdige wyse en in die belang van sy onderdane uitoefen.

Eva het Satan se leuen geglo. Sy het die vrugte begin begeer, en toe het sy daarvan geëet. Later het sy vir haar man daarvan gegee, en hy het dit ook geëet. So het hulle sondaars geword. Hierdie skynbaar onbeduidende daad was in werklikheid ’n daad van opstand. Deur doelbewus te kies om aan God se gebod ongehoorsaam te wees, het Adam en Eva die heerskappy verwerp van die Skepper wat hulle alles gegee het, insluitende volmaakte lewe.

Die saad “sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen wond”.—Genesis 3:15

God het die opstandelinge tot verantwoording geroep oor hulle dade. Hy het die koms voorspel van die beloofde Saad, of Verlosser, wat Satan, die een wat deur die slang verteenwoordig is, sou vernietig. God het die voltrekking van die doodsvonnis aan Adam en Eva ’n ruk lank uitgestel en sodoende barmhartigheid aan hulle ongebore nageslag bewys. Dié kinders sou ’n grondslag vir hoop hê omdat die Een wat deur God gestuur sou word, die tragiese gevolge van die opstand in Eden ongedaan sou maak. Presies hoe God se voorneme met betrekking tot hierdie toekomstige Redder vervul sou word—en wie die Een sou wees wat uitgestuur sou word—is geleidelik geopenbaar namate die Bybel geskryf is.

God het Adam en Eva uit die Paradys gedryf. Slegs met geswoeg en gesweet sou hulle ’n bestaan uit die grond buite die tuin van Eden kon maak. Toe het Eva swanger geword en geboorte gegee aan Kain, die eerste kind van Adam en Eva. Die egpaar het ander seuns en dogters gehad, insluitende Abel en Set, die voorvader van Noag.

—Gebaseer op Genesis hoofstukke 3 tot 5; Openbaring 12:9.