INDONESIË
Wes-Java lewer vrugte op
In 1933 het Frank Rice vir Theodorus (Theo) Ratu, ’n inwoner van Noord-Sulawesi, genooi om hom te help om Djakarta se lektuurdepot te bestuur. “Die Koninkrykswerk het my baie beïndruk, en ek het saam met broer Rice begin preek”, het Theo vertel. “Later het ek saam met Bill Hunter op ’n predikingsreis na Java gegaan, en toe saam met die bemanning van die Lightbearer na Soematra.” Theo was die eerste Indonesiër wat die waarheid aanvaar het, en hy het dekades lank in Java, Noord-Sulawesi en Soematra gepionier.
Die daaropvolgende jaar het Bill Hunter die boekie Waar is die dode? vir Felix Tan gegee, ’n student wat in Djakarta gewoon het. Felix het teruggekeer na sy familie in Bandung, Wes-Java, en het die boekie vir sy jonger broer, Dodo, gewys. Albei was verbaas om in die boekie te leer dat die eerste mens, Adam, nie ’n onsterflike siel gehad het nie. Adam was ’n siel (Gen. 2:7). Felix en Dodo se geestelike aptyt is gewek, en hulle het die tweedehandse boekwinkels in Bandung deursoek vir nog Wagtoringpublikasies. Hulle het ook vir hulle familie vertel wat hulle geleer het. Nadat hulle al die boeke en boekies wat hulle kon vind, gretig gelees het, het hulle aan die lektuurdepot in Djakarta geskryf. Tot hulle verbasing het hulle ’n aanmoedigende besoek van Frank Rice ontvang, wat vir hulle nog lektuur gebring het.
Kort nadat broer Rice na Djakarta teruggekeer het, het die pasgetroude Clem en Jean Deschamp ’n besoek van 15 dae aan Bandung afgelê. “Broer Deschamp het ons gesin gevra of ons gedoop wil word”, het Felix gesê. “Vier van ons—ek, Dodo, my jonger suster, Josephine (Pin Nio) en my ma (Kang Nio)—het ons toewyding aan Jehovah gesimboliseer.” * Nadat hulle gedoop is, het die Tan-gesin saam met Clem en Jean aan ’n nege dae lange predikingskampanje deelgeneem. Clem het vir hulle gewys hoe om te preek met behulp van ’n getuieniskaart waarop daar ’n eenvoudige Bybelboodskap in drie tale was. Kort voor lank het die klein groep in Bandung ’n gemeente geword, die tweede in Indonesië.
Die pous se hoed
Die groot vooruitgang in die predikingswerk het die Christendom se geestelikes skielik laat regop sit. Hulle en hulle handlangers het artikels in die pers geskryf waarin hulle die oortuigings en werk van die Getuies aangeval het. Weens die artikels het amptenare by die Departement van Godsdienssake Frank Rice vir ondervraging ingeroep. Die amptenare was tevrede met sy antwoorde en het toegelaat dat die werk ongehinderd voortgaan. *
Gedurende die vroeë 1930’s het die meeste koloniale amptenare die predikingswerk geïgnoreer of geduld. Maar toe Nazi-Duitsland in Europa aan bewind gekom het, het party burokrate die Getuies begin teëstaan, veral dié wat ywerige Katolieke was. “’n Katolieke doeanebeampte het ’n besending van ons boeke gekonfiskeer omdat dit na bewering ongunstig na Nazisme verwys het”, het Clem Deschamp gesê. “Toe ek die Doeanedepartement besoek het om ’n klagte in te dien, was die vyandige amptenaar met vakansie. Sy plaasvervanger—’n vriendelike man wat nie Katoliek was nie—het onmiddellik ons boeke teruggegee en gesê: ‘Vat alles wat julle kan terwyl die man wat gewoonlik hier werk, weg is!’”
“By ’n ander geleentheid het amptenare daarop aangedring dat ons twee prente in die boek Vyande sensor”, het Jean Deschamp gesê. “Hulle het kapsie gemaak teen spotprente van ’n kronkelende slang (Satan) en ’n dronk prostituut * Ons was vasbeslote om die boek te versprei. Daarom het drie van ons in die bedompige hitte by die kaai gesit en deur duisende boeke gegaan om prente van die pous se hoed dood te krap!”
(valse godsdiens). Albei het ’n hoed soos dié van die pous (’n myter) gedra.Terwyl Europa op oorlog afgestuur het, het ons publikasies aangehou om die Christendom se huigelary en politieke inmenging moedig bloot te lê. Die geestelikes het daarop gereageer deur groter druk op die owerheid uit te oefen om ons werk te beperk, en baie van ons publikasies is verbied.
Maar die broers was vasbeslote om met die werk voort te gaan en het goeie gebruik gemaak van ’n drukpers wat hulle uit Australië ontvang het (Hand. 4:20). Jean Deschamp het een van hulle strategieë soos volg beskryf: “Wanneer ons ’n nuwe boekie of tydskrif gedruk het, moes ons ’n eksemplaar daarvan by die owerheid indien vir goedkeuring. Ons het die publikasie aan die begin van die week gedruk en versprei. Dan, aan die einde van die week, het ons ’n eksemplaar na die prokureur-generaal se kantoor geneem. Wanneer die publikasie afgekeur is, het ons ons kop hartseer geskud en dan vinnig na die drukkery teruggegaan om die volgende publikasie te druk.”
Broers en susters wat verbode publikasies versprei het, het dikwels kat en muis met die polisie gespeel. Charles Harris het byvoorbeeld onwetend aan die deur van die plaaslike polisie-inspekteur geklop terwyl hy in Kediri, Oos-Java, gepreek het.
“Ek soek al heeldag na julle”, het die inspekteur gesê. “Wag hier terwyl ek my lys van julle verbode boeke kry.”
“Terwyl die inspekteur in sy huis gesoek het”, sê Charles, “het ek die verbode lektuur in versteekte sakke in my jas gesit. Toe hy teruggekom het, het ek vir hom 15 boekies gegee wat nie verbode was nie. Hy het teësinnig sy bydrae vir my gegee, en toe het ek die verbode lektuur vir ander mense in die straat gegee.”
Die drukwerk word onder druk geplaas
Toe Europa in die Tweede Wêreldoorlog gedompel is, kon ons nie meer lektuur van Nederland ontvang nie. Maar die broers het die moeilikheid sien kom en het wyslik gereël dat ’n maatskappy die tydskrifte in Djakarta druk. Die eerste nommer van Vertroosting (nou Ontwaak!) in Indonesies het in Januarie 1939 verskyn, en Die Wagtoring in Indonesies is kort daarna vrygestel. Die broers het toe ’n klein drukpers gekoop en die tydskrifte self begin druk. In 1940 het hulle ’n groter platpers uit Australië ontvang waarmee hulle boekies en tydskrifte in Indonesies en Nederlands op eie onkoste gedruk het.
Op 28 Julie 1941 het die owerheid egter al die publikasies van die Wagtoringgenootskap verbied. Jean Deschamp het vertel: “Ek was een oggend in die kantoor besig om te tik toe drie polisiemanne en ’n senior Nederlandse amptenaar daar ingebars het in volle ampsdrag—medaljes, wit handskoene, ’n pronkswaard en ’n pluimhoed. Ons was nie verbaas nie. Drie dae tevore het ons eerstehandse inligting ontvang dat ons publikasies binnekort verbied sou word. Die vertonerige amptenaar het ’n lang proklamasie gelees en toe daarop aangedring dat ons hom na die drukkery moet neem sodat hy die drukpers kon verseël. Maar my man het vir hom gesê dat hy te laat is. Die drukpers is al die vorige dag verkoop!”
Die Bybel is egter nie verbied nie. Die broers het dus voortgegaan om van huis tot huis te preek deur slegs die Bybel te gebruik. Hulle het ook Bybelstudies gehou. Maar aangesien oorlogswolke oor Asië saamgepak het, is die buitelandse pioniers na Australië teruggestuur.
^ par. 1 Later het Felix se pa en drie jonger broers ook Getuies geword. Sy suster, Josephine, het met André Elias getrou en die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon. Haar lewensverhaal het in die Ontwaak! van September 2009 verskyn.
^ par. 1 Ná die Tweede Wêreldoorlog het Frank na Australië teruggekeer en ’n gesin gehad. Broer Rice het sy aardse loopbaan in 1986 voltooi.
^ par. 3 Die prente was gebaseer op Openbaring 12:9 en 17:3-6.