HOOFSTUK 7
Sterrevoorspellers besoek Jesus
-
STERREVOORSPELLERS VOLG ’N “STER” NA JERUSALEM EN DAN NA JESUS
’n Paar mans kom uit die Ooste. Hulle is sterrevoorspellers – mense wat die posisie van die sterre bestudeer en wat beweer dat hulle daardeur weet wat die gebeure in mense se lewens beteken (Jesaja 47:13). Terwyl hulle in die Ooste was, het hulle ’n “ster” gesien en dit honderde kilometers gevolg, nie na Betlehem toe nie, maar na Jerusalem.
Wanneer die sterrevoorspellers daar aankom, vra hulle: “Waar is die kind wat as koning van die Jode gebore is? Want ons het sy ster gesien toe ons in die Ooste was, en ons het gekom om aan hom eer te bewys.” – Matteus 2:1, 2.
Koning Herodes van Jerusalem hoor hiervan en is baie kwaad. Daarom laat hy die hoofpriesters en ander Joodse godsdiensleiers roep, en hy vra hulle waar die Christus gebore sou word. Hulle baseer hulle antwoord op die Skrif en sê: “In Betlehem” (Matteus 2:5; Miga 5:2). Dan laat Herodes die sterrevoorspellers in die geheim na hom toe kom, en hy sê vir hulle: “Gaan soek oral na die jong kind, en wanneer julle hom gevind het, moet julle vir my kom sê sodat ek ook kan gaan om aan hom eer te bewys” (Matteus 2:8). Maar Herodes soek eintlik die jong kind omdat hy hom wil doodmaak!
Nadat die sterrevoorspellers daar weg is, gebeur iets verbasends. Die “ster” wat hulle gesien het toe hulle in die Ooste was, beweeg voor hulle uit. Dit is beslis nie ’n gewone ster nie, maar dit is spesiaal gestuur om vir hulle die pad te wys. Die sterrevoorspellers volg die ster totdat dit gaan staan bo die huis waar Josef en Maria nou saam met hulle jong seun woon.
Wanneer die sterrevoorspellers in die huis ingaan, is Maria daar saam met haar jong kind, Jesus. Die sterrevoorspellers buig voor hom neer en gee vir hom geskenke van goud, wierook en mirre. Wanneer hulle later wil teruggaan na Herodes toe, waarsku God hulle in ’n droom om dit nie te doen nie. Daarom gaan hulle met ’n ander pad terug na hulle eie land toe.
Wie dink jy het die “ster” gestuur wat die pad vir die sterrevoorspellers gewys het? Onthou, dit het hulle nie reguit na Jesus in Betlehem gelei nie. Dit het hulle eerder na Jerusalem gelei waar hulle met koning Herodes gepraat het, wat Jesus wou doodmaak. En hy sou dit gedoen het, maar God het die sterrevoorspellers gewaarsku om nie vir Herodes te gaan vertel waar Jesus is nie. Dit is duidelik dat dit God se vyand, Satan die Duiwel, was wat wou hê dat Jesus doodgemaak moes word. Hy het daardie ster gebruik om dit te probeer doen.