Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 3

Ragab het in Jehovah geglo

Ragab het in Jehovah geglo

Kom ons maak asof ons in die stad Jerigo is. Hierdie stad is in die land Kanaän, waar die mense nie in Jehovah glo nie. ’n Vrou met die naam Ragab bly hier.

Toe Ragab ’n jong meisie was, het sy gehoor dat Moses die Rooisee verdeel het en die Israeliete uit Egipte uitgelei het. Sy het ook gehoor dat Jehovah hulle gehelp het om die oorloë teen hulle vyande te wen. Nou hoor sy dat die Israeliete naby Jerigo kamp opgeslaan het!

Ragab het die spioene beskerm omdat sy in Jehovah geglo het

Een aand gaan twee Israelitiese spioene na Jerigo toe om te kyk wat in die stad aangaan. Hulle gaan na Ragab se huis toe. Sy nooi hulle in en sê dat hulle daar kan bly. Gedurende die nag vind die koning van Jerigo uit dat daar spioene in die stad is en dat hulle na Ragab se huis toe gegaan het. Daarom stuur die koning manne om hulle te gaan haal. Ragab steek die twee spioene op die plat dak van haar huis weg en sê vir die koning se manne: ‘Die spioene was hier, maar hulle is klaar weg uit die stad. As julle gou maak, kan julle hulle nog vang!’ Weet jy hoekom Ragab die spioene beskerm?— Omdat sy in Jehovah glo en weet dat hy die land Kanaän aan die Israeliete sal gee.

Voordat die spioene van Ragab se huis af weggaan, belowe hulle dat sy en haar familie veilig sal wees wanneer Jerigo vernietig word. Weet jy wat hulle vir haar sê om te doen?— Hulle sê: ‘Vat hierdie rooi tou en laat dit by jou venster uithang. Dan sal almal wat in jou huis is, veilig wees.’ Ragab doen presies wat die spioene vir haar sê om te doen. Weet jy wat hierna gebeur?—

Jehovah het Ragab en haar familie gered

Die Israeliete loop ’n paar dae later in stilte om die stad. Hulle loop ses dae om die stad, een keer elke dag. Maar die sewende dag loop hulle sewe keer om die stad. Dan skreeu hulle almal hard. Jehovah laat die stad se mure inmekaarval. Maar die huis waar die rooi tou by die venster uithang, staan nog! Kan jy dit in die prent sien?— Ragab en haar familie is gered!

Wat kan jy by Ragab leer?— Ragab het in Jehovah geglo omdat sy soveel wonderlike dinge van hom gehoor het. Jy leer ook baie wonderlike dinge van Jehovah. Glo jy soos Ragab in hom?— Ons weet jy glo in hom!