Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK TWINTIG

“Ek het geglo”

“Ek het geglo”

1. Beskryf Marta se droefheid en die oorsaak daarvan.

MARTA kon dit in haar gedagtes sien—haar broer se graf, ’n grot met ’n klip voor die ingang. Haar droefheid was so koud en swaar soos daardie klip. Sy kon skaars glo dat haar geliefde Lasarus nie meer daar is nie. Die vier dae vandat hy sy laaste asem uitgeblaas het, is gehul in ’n waas van droefheid, besoekers en woorde van meegevoel.

2, 3. (a) Watter uitwerking het dit waarskynlik op Marta gehad toe sy Jesus gesien het? (b) Wat het Marta se belangrike woorde oor haar geopenbaar?

2 En nou het die man wat vir Lasarus die meeste beteken het, voor Marta gestaan. Toe sy Jesus sien, het dit haar moontlik nog hartseerder gemaak, want hy was die enigste mens in die hele wêreld wat haar broer kon gered het. Nogtans het Marta ’n mate van vertroosting daaruit geput om hier buite die heuweldorpie Betanië saam met Jesus te wees. Ná net ’n paar oomblikke saam met hom het die geneentheid in sy oë en die opregte empatie wat altyd so bemoedigend was, haar beter laat voel. Hy het haar vrae gevra wat haar gehelp het om te konsentreer op haar geloof en haar hoop op die opstanding. Die gesprek het Marta beweeg om van die belangrikste woorde te uiter wat ooit oor haar lippe sou kom: “Ek het geglo dat u die Christus is, die Seun van God, die Een wat in die wêreld inkom.”—Joh. 11:27.

3 Hierdie woorde openbaar dat Marta ’n vrou met merkwaardige geloof was. Die bietjie wat die Bybel ons van haar vertel, leer ons belangrike lesse wat ons kan help om ons eie geloof te versterk. Om te sien waarom dit die geval is, gaan ons kyk na die eerste keer dat Marta in die Bybel gemeld word.

“Besorg en verontrus”

4. In watter opsig was Marta se gesin ongewoon, en wat was die gesin se verhouding met Jesus?

4 Dit was maande vroeër. Lasarus was fris en gesond. Hy sou die allerbelangrikste besoeker, Jesus Christus, in sy huis in Betanië ontvang. Lasarus, Marta en Maria was ’n ongewone gesin—twee susters en hulle broer, almal volwassenes, wat klaarblyklik in een huis gewoon het. Party navorsers sê dat Marta moontlik die oudste was, aangesien sy blykbaar as gasvrou opgetree het en soms eerste genoem word (Joh. 11:5). Ons weet nie of enigeen van die drie ooit getroud was nie. Hoe dit ook al sy, hulle het goeie vriende van Jesus geword. Tydens sy bediening in Judea, waar hy soveel teenstand en vyandigheid ondervind het, het Jesus hulle huis sy tuisbasis gemaak. Hy was ongetwyfeld baie dankbaar vir hierdie hawe van vrede en ondersteuning.

5, 6. (a) Waarom was Marta besonder besig gedurende Jesus se huidige besoek? (b) Hoe het Maria gereageer op die geleentheid wat Jesus se besoek aan hulle huis gebied het?

5 Marta het grootliks bygedra tot die gerief en gasvryheid van die huishouding. Sy was ’n bedrywige, vlytige persoon, en sy was blykbaar dikwels druk besig. Dit was ook die geval tydens Jesus se huidige besoek. Sy het gou ’n spesiale ete met baie disse vir haar geëerde gas, en moontlik party van sy reisgenote, beplan. Gasvryheid was destyds baie belangrik. ’n Gas is by sy aankoms met ’n soen verwelkom, sy sandale is uitgetrek, sy voete is gewas en sy kop is met verfrissende, welriekende olie gesalf. (Lees Lukas 7:44-47.) Alles moontlik is gedoen om hom van die beste verblyf en kos te voorsien.

6 Marta en Maria het baie gehad om te doen. Maria, wat soms as die meer sensitiewe en nadenkende een van die twee beskou word, het haar suster ongetwyfeld aan die begin gehelp. Maar nadat Jesus daar aangekom het, het dinge verander. Hy het die besoek beskou as ’n geleentheid om te onderrig—en dit is presies wat hy gedoen het! In teenstelling met die godsdiensleiers van daardie tyd het Jesus vroue gerespekteer en hulle graag geleer oor God se Koninkryk, die tema van sy bediening. Maria was verheug oor hierdie geleentheid en het by sy voete gesit en elke woord ingedrink.

7, 8. Waarom het spanning in Marta opgelaai, en hoe het sy uiteindelik daaraan uiting gegee?

7 Ons kan ons net voorstel hoe die spanning in Marta opgelaai het. Met al die disse wat sy moes voorberei en alles wat sy vir haar gaste moes doen, het sy al hoe angstiger geraak. Het sy, terwyl sy rondgeskarrel en gesien het hoe haar suster sit en niks doen om haar te help nie, op haar tande gekners, hardop gesug of gefrons? Dit sou nie verbasend gewees het nie. Sy kon tog nie alles alleen doen nie!

8 Uiteindelik kon Marta haar frustrasie nie langer bedwing nie. Sy het Jesus in die rede geval en gesê: “Here, gee u nie om dat my suster my alleen na alles laat omsien nie? Sê dan vir haar om my te kom help” (Luk. 10:40). Dit was sterk woorde. Ander vertalings gee haar vraag soos volg weer: “Here, maak dit nie vir u saak nie . . . ?” Toe het sy Jesus gevra om Maria te berispe en haar aan te sê om weer met die werk te help.

9, 10. (a) Hoe het Jesus Marta geantwoord? (b) Hoe weet ons dat Jesus nie Marta se harde werk as onbelangrik beskou het nie?

9 Jesus se antwoord het Marta dalk verbaas, net soos dit baie Bybellesers sedertdien verbaas het. Hy het vriendelik gesê: “Marta, Marta, jy is besorg en verontrus oor baie dinge. ’n Paar dinge is egter nodig, of net een. Wat Maria betref, sy het die goeie deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie” (Luk. 10:41, 42). Wat het Jesus bedoel? Het hy bedoel dat Marta materialisties is? Het hy al haar harde werk om ’n lekker ete voor te berei, as onbelangrik beskou?

Al was Marta “besorg en verontrus oor baie dinge”, het sy teregwysing nederig aanvaar

10 Nee. Jesus het duidelik gesien dat Marta dit uit liefde en met suiwer beweegredes gedoen het. Hy het ook nie gevoel dat selfs rojale gasvryheid noodwendig verkeerd is nie. Hy het die “groot onthaal” wat Matteus vroeër vir hom gehou het, met graagte bygewoon (Luk. 5:29). Dit het nie hier oor Marta se ete gegaan nie; eerder oor haar prioriteite. Sy was so ingestel op haar groot ete dat sy die belangrikste saak uit die oog verloor het. Wat was dit?

Jesus het Marta se gasvryheid waardeer, en hy het geweet dat sy uit liefde en met suiwer beweegredes opgetree het

11, 12. Hoe het Jesus Marta liefdevol reggehelp?

11 Jesus, die enigverwekte Seun van Jehovah God, was in Marta se huis om hulle die waarheid te leer. Niks, selfs nie haar lekker ete en die voorbereidings, kon belangriker wees nie. Jesus was ongetwyfeld jammer dat Marta ’n unieke geleentheid om haar geloof te versterk, laat verbygaan, maar hy het haar self laat kies. * Maar dit was iets heeltemal anders vir Marta om Jesus te vra om Maria te dwing om ook die geleentheid te laat verbygaan.

12 Hy het Marta dus liefdevol reggehelp, terwyl hy haar naam op ’n sussende toon herhaal het om haar senuwees te kalmeer, en hy het haar verseker dat dit nie nodig is om “besorg en verontrus oor baie dinge” te wees nie. ’n Eenvoudige ete van een of twee disse sou genoeg wees, veral wanneer ’n geestelike feesmaal beskikbaar is. Hy sou dus beslis nie “die goeie deel” wat Maria gekies het—naamlik om by Jesus te leer—van haar wegneem nie!

13. Watter lesse kan ons leer uit die manier waarop Jesus Marta reggehelp het?

13 Christus se hedendaagse volgelinge kan baie uit hierdie huislike toneel leer. Ons moet nooit toelaat dat enigiets ons verhinder om ons “geestelike behoefte” te bevredig nie (Matt. 5:3). Hoewel ons Marta se vrygewigheid en vlytigheid wil navolg, wil ons nooit so “besorg en verontrus” raak oor die minder belangrike aspek van gasvryheid dat ons prysgee wat werklik belangrik is nie. By ons assosiasie met medegelowiges is smaaklike kos nie die hoofsaak nie, maar eerder wedersydse aanmoediging en die uitruiling van geestelike gawes. (Lees Romeine 1:11, 12.) Selfs die eenvoudigste ete kan so ’n opbouende geleentheid moontlik maak.

’n Geliefde broer sterf en word opgewek

14. Waarom kan ons seker wees dat Marta ’n goeie voorbeeld daarin gestel het om raad te aanvaar?

14 Het Marta Jesus se liefdevolle teregwysing aanvaar en daaruit geleer? Ons hoef nie daaroor te wonder nie. Aan die begin van ’n opwindende verslag oor Marta se broer sê die apostel Johannes: “Jesus het Marta en haar suster en Lasarus liefgehad” (Joh. 11:5). Maande het verloop sedert Jesus se besoek aan Betanië wat hierbo beskryf word. Dit is duidelik dat Marta nie aanstoot geneem het nie; sy het nie ’n wrok teen Jesus gekoester weens sy liefdevolle raad nie. Sy het dit ter harte geneem. Ook in hierdie opsig het sy vir ons ’n uitstekende voorbeeld van geloof gestel, want wie van ons het nie van tyd tot tyd ’n bietjie raad nodig nie?

15, 16. (a) Hoe het Marta ongetwyfeld gereageer toe haar broer siek geword het? (b) Waarom is Marta en Maria se hoop verpletter?

15 Toe Marta se broer siek geword het, het sy sekerlik hard gewerk om hom te versorg. Sy het alles in haar vermoë gedoen om hom gemaklik te maak en hom te help om gesond te word. Nietemin het Lasarus al hoe sieker geword. Sy susters het dag en nag by hom gebly om hom te versorg. Hoe dikwels moes Marta tog na haar broer se uitgeteerde gesig gekyk het en teruggedink het aan al die jare waarin hulle lief en leed saam deurgemaak het!

16 Toe dit lyk of hulle niks meer vir Lasarus kon doen nie, het Marta en Maria ’n boodskap aan Jesus gestuur. Hy het sowat twee dagreise daarvandaan gepreek. Hulle boodskap was eenvoudig: “Here, kyk! die een vir wie u geneentheid het, is siek” (Joh. 11:1, 3). Hulle het geweet dat Jesus hulle broer liefhet, en hulle was oortuig dat hy alles in sy vermoë sou doen om sy vriend te help. Het hulle nog gehoop dat Jesus sou kom voordat dit te laat is? Indien wel, is hulle hoop verpletter. Lasarus het gesterf.

17. Wat kon Marta nie verstaan nie, en hoe het sy gereageer toe sy hoor dat Jesus naby die dorp is?

17 Marta en Maria het saam oor hulle broer getreur terwyl hulle die voorbereidings vir sy begrafnis getref en al die gaste uit Betanië en omstreke ontvang het. Maar hulle het nog steeds niks van Jesus gehoor nie. Marta kon dit dalk al hoe minder verstaan namate die tyd verbygegaan het. Uiteindelik, vier dae ná Lasarus se dood, het Marta gehoor dat Jesus naby die dorp is. Soos altyd het Marta, selfs in hierdie donker uur, tot aksie oorgegaan deur op te staan en, sonder om vir Maria te sê, Jesus inderhaas tegemoet te gaan.—Lees Johannes 11:18-20.

18, 19. Watter hoop het Marta uitgespreek, en waarom was haar geloof merkwaardig?

18 Toe Marta haar Heer sien, het sy die gedagte uitgespreek wat al dae lank in haar en Maria se koppe maal: “Here, as u hier was, sou my broer nie gesterf het nie.” Maar Marta het nog steeds hoop en geloof gehad. Sy het bygevoeg: “En tog weet ek selfs nou dat alles wat u van God vra, God vir u sal gee.” Jesus het onmiddellik iets gesê om haar geloof te versterk: “Jou broer sal opstaan.”—Joh. 11:21-23.

19 Marta het gedink dat Jesus van die toekomstige opstanding praat en het dus geantwoord: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan” (Joh. 11:24). Haar geloof in hierdie lering was merkwaardig. Party Joodse godsdiensleiers, wat Sadduseërs genoem is, het ontken dat daar ’n opstanding sal wees, al was dit ’n duidelike lering in die geïnspireerde Skrif (Dan. 12:13; Mark. 12:18). Marta het egter geweet dat Jesus mense van die opstandingshoop geleer het en dat hy selfs persone opgewek het—hoewel nie een van hulle so lank soos Lasarus dood was nie. Sy het nie geweet wat voorlê nie.

20. Verduidelik die betekenis van Jesus se onvergeetlike woorde in Johannes 11:25-27 en van Marta se antwoord.

20 Jesus het toe iets onvergeetliks gesê: “Ek is die opstanding en die lewe.” Ja, Jehovah God het sy Seun die gesag gegee om in die toekoms mense op wêreldwye skaal op te wek. Jesus het Marta gevra: “Glo jy dit?” Toe het sy die antwoord gegee wat aan die begin van hierdie hoofstuk bespreek is. Sy het geglo dat Jesus die Christus, of Messias, is, dat hy die Seun van Jehovah God is en dat hy die een is wat die profete voorspel het in die wêreld sou inkom.—Joh. 5:28, 29; lees Johannes 11:25-27.

21, 22. (a) Hoe het Jesus sy gevoelens vir die treurendes getoon? (b) Beskryf Lasarus se opstanding.

21 Waardeer Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, geloof soos dié van Marta? Die gebeure wat daarna voor Marta se oë afgespeel het, voorsien ’n baie duidelike antwoord. Sy het gou haar suster gaan haal. Daarna het sy gesien dat Jesus diep ontroer is terwyl hy met Maria en al die ander treurendes by haar praat. Sy het die trane in sy oë sien opwel terwyl hy openlik sy diepe droefheid getoon het oor die pyn wat deur die dood veroorsaak word. Sy het Jesus hoor sê dat die klip voor die ingang van haar broer se graf weggerol moet word.—Joh. 11:28-39.

22 Die immer praktiese Marta het beswaar gemaak dat die liggaam teen dié tyd, vier dae ná die dood, al sou ruik. Jesus het haar herinner: “Het ek nie vir jou gesê dat jy die heerlikheid van God sal sien as jy glo nie?” Sy het geglo, en sy het die heerlikheid van Jehovah God gesien. Hy het sy Seun daar en dan die mag gegee om Lasarus op te wek! Dink aan die oomblikke wat Marta sekerlik tot aan die einde van haar lewe bygebly het: Jesus se gebiedende stem wat uitroep: “Lasarus, kom uit!”; die dowwe geluide vanuit die grot toe Lasarus opstaan en, nog toegedraai in grafdoeke, na die opening van die grot skuifel; Jesus se bevel: “Maak hom los en laat hom gaan”; en natuurlik toe Marta en Maria hulle arms in ekstase om hulle broer se nek gooi. (Lees Johannes 11:40-44.) Marta se droefheid was iets van die verlede!

Marta se geloof in Jesus is beloon toe sy en Maria sien dat hulle broer opgewek word

23. Wat wil Jehovah en Jesus vir jou doen, en wat moet jy doen?

23 Hierdie verslag toon dat die opstanding van die dooies nie net wensdenkery is nie; dit is ’n hartverblydende Bybellering en ’n bewese geskiedkundige feit (Job 14:14, 15). Jehovah en sy Seun beloon graag geloof, soos hulle in die geval van Marta, Maria en Lasarus gedoen het. Hulle stel ook vir jou sulke belonings in die vooruitsig as jy sterk geloof opbou.

“Marta het bedien”

24. Watter laaste blik bied die Bybelverslag op Marta?

24 Die Bybelverslag noem Marta nog net een keer. Dit is aan die begin van die laaste week van Jesus se lewe op aarde. Jesus het goed geweet watter ontberinge vir hom voorlê en het weer daardie toevlug in Betanië as verblyfplek gekies. Van daar af kon hy die drie kilometer na Jerusalem stap. Jesus en Lasarus het by die huis van Simon, die melaatse, geëet, en daar kry ons hierdie laaste blik op ons hooffiguur: “Marta het bedien.”—Joh. 12:2.

25. Waarom is hedendaagse gemeentes geseënd om vroue soos Marta te hê?

25 Hoe tipies van daardie vlytige vrou! Wanneer ons haar vir die eerste keer in die Bybel teëkom, werk sy; en wanneer ons van haar afskeid neem, werk sy nog steeds, druk besig om te voorsien in die behoeftes van diegene om haar. Hedendaagse gemeentes van Christus se volgelinge is geseënd om vroue soos Marta te hê—moedig en vrygewig, altyd besig om hulle geloof uit te leef deur van hulleself te gee. Het Marta aangehou om dit te doen? Heel waarskynlik. Indien wel, het sy verstandig opgetree, want nog struikelblokke het vir haar voorgelê.

26. Wat het Marta se geloof haar gehelp om te doen?

26 Enkele dae later moes Marta die verskriklike dood van haar geliefde Heer, Jesus, verduur. Verder was dieselfde moorddadige huigelaars wat hom doodgemaak het, vasbeslote om Lasarus ook dood te maak, aangesien sy opstanding die geloof van so baie versterk het. (Lees Johannes 12:9-11.) En natuurlik het die dood uiteindelik die liefdevolle band tussen Marta en haar broer en suster verbreek. Ons weet nie hoe of wanneer dit gebeur het nie, maar van een ding kan ons redelik seker wees: Marta se kosbare geloof het haar gehelp om tot die einde toe te volhard. Daarom is dit verstandig van Christene van vandag om Marta se geloof na te volg.

^ par. 11 In die eerste-eeuse Joodse gemeenskap is vroue gewoonlik uitgesluit uit akademiese bedrywighede. Hulle opleiding was eerder toegespits op pligte in die huis. Gevolglik het Marta dit moontlik as hoogs ongewoon beskou dat ’n vrou by die voete van ’n geleerde sit om te leer.