Die tweede boek van Konings 4:1-44

  • Elisa laat weduwee se olie meer word (1-7)

  • Sunammitiese vrou se gasvryheid (8-16)

  • Vrou met seun beloon; hy sterf (17-31)

  • Elisa wek dooie seun op (32-37)

  • Elisa maak bredie eetbaar (38-41)

  • Elisa laat brood meer word (42-44)

4  Op ’n dag het ’n weduwee van een van die seuns van die profete+ na Eliʹsa uitgeroep en gesê: “My man, u kneg, is dood, en u weet goed dat hy Jehovah nog altyd gevrees het.+ En nou het ’n skuldeiser gekom om al twee my kinders as sy slawe te neem.”  Eliʹsa het toe vir haar gevra: “Wat kan ek vir jou doen? Sê vir my wat jy in die huis het.” Sy het geantwoord: “U diensmeisie het niks in die huis nie, behalwe ’n kruik* met olie.”+  Toe het hy gesê: “Gaan uit en vra al jou bure vir houers, leë houers. Kry soveel as wat jy kan.  Dan moet jy ingaan en die deur agter jou en jou seuns toemaak. Maak al die houers vol en sit die volles eenkant.”  Sy het toe van hom af weggegaan. Nadat sy die deur agter haar en haar seuns toegemaak het, het hulle die houers vir haar aangegee, en sy het die een ná die ander vol gemaak.+  Toe die houers vol was, het sy vir een van haar seuns gesê: “Bring vir my nog ’n houer.”+ Maar hy het vir haar gesê: “Daar is nie nog houers nie.” Toe het die olie opgehou.+  Daarna het sy vir die man van die ware God gaan vertel, en hy het gesê: “Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld, en jy en jou seuns kan lewe van wat oorbly.”  Eendag het Eliʹsa na Sunem+ gegaan, waar daar ’n vooraanstaande vrou was, en sy het daarop aangedring dat hy daar moet eet.+ En elke keer as hy daar verbygegaan het, het hy daar iets gaan eet.  Sy het vir haar man gesê: “Ek weet dat die man wat gereeld hier verby kom, ’n heilige man van God is. 10  Laat ons asseblief vir hom ’n kamertjie op die dak maak+ en vir hom ’n bed, ’n tafel, ’n stoel en ’n lampstaander daarin sit. Dan kan hy daar bly wanneer hy na ons toe kom.”+ 11  Op ’n dag het hy daar aangekom en na die kamer op die dak gegaan om te gaan lê. 12  Hy het toe vir sy dienaar Gehaʹsi+ gesê: “Roep die Sunammitiese+ vrou.” Hy het haar dus gaan roep, en sy het na hom toe gegaan. 13  Hy het vir Gehaʹsi gesê: “Sê asseblief vir haar: ‘Jy het so baie moeite vir ons gedoen.+ Wat kan ek vir jou doen?+ Moet ek namens jou met die koning+ of die hoof van die leërmag gaan praat?’” Maar sy het geantwoord: “Nee, dit is nie nodig nie, want ek woon onder my eie volk.” 14  Hy het toe gevra: “Wat kan dan vir haar gedoen word?” Gehaʹsi het gesê: “Wel, sy het nie ’n seun nie,+ en haar man is oud.” 15  Hy het dadelik gesê: “Roep haar.” Hy het haar toe gaan roep, en sy het by die ingang gaan staan. 16  Toe het hy gesê: “Teen volgende jaar hierdie tyd sal jy ’n seuntjie vashou.”+ Maar sy het gesê: “Nee, my meester, man van die ware God! Moenie vir u diensmeisie leuens vertel nie.” 17  Maar die vrou het swanger geword en presies ’n jaar later aan ’n seun geboorte gegee, net soos Eliʹsa vir haar gesê het. 18  Die kind het groter geword, en op ’n dag het hy na sy pa toe gegaan, wat by die oeswerkers was. 19  Hy het heeltyd vir sy pa gesê: “My kop, o my kop!” Sy pa het vir die dienaar gesê: “Dra hom na sy ma toe.” 20  Hy het hom na sy ma toe gedra, en hy het tot die middag op haar skoot gesit, en toe het hy gesterf.+ 21  Toe het sy opgegaan en hom op die bed van die man van die ware God neergelê,+ en sy het die deur agter haar toegemaak en uitgegaan. 22  Sy het haar man geroep en gesê: “Stuur asseblief vir my een van die dienaars en een van die donkies, en laat ek gou na die man van die ware God gaan, en dan sal ek terugkom.” 23  Hy het gevra: “Hoekom gaan jy vandag na hom toe? Dit is nie ’n nuwemaan+ of ’n sabbat nie.” Maar sy het gesê: “Moenie bekommerd wees nie.” 24  Sy het toe die donkie opgesaal en vir haar dienaar gesê: “Maak gou. Jaag die donkie aan en moenie ter wille van my stadiger gaan nie, tensy ek vir jou so sê.” 25  Sy het na die man van die ware God by die berg Karmel gegaan. Toe die man van die ware God haar in die verte sien, het hy vir sy dienaar Gehaʹsi gesê: “Kyk! Daar is die Sunammitiese vrou. 26  Hardloop asseblief na haar toe en vra haar: ‘Gaan dit goed met jou? Gaan dit goed met jou man? Gaan dit goed met jou kind?’” Sy het geantwoord: “Dit gaan goed.” 27  Toe sy by die man van die ware God op die berg kom, het sy dadelik sy voete gegryp.+ Gehaʹsi het toe nader gekom om haar weg te stoot, maar die man van die ware God het gesê: “Los haar, want sy is baie hartseer, en Jehovah het dit vir my weggesteek en my nie daarvan vertel nie.” 28  Sy het toe gesê: “Het ek my heer vir ’n seun gevra? Het ek nie gesê: ‘Moenie vir my valse hoop gee nie’?”+ 29  Hy het dadelik vir Gehaʹsi gesê: “Maak jou klere om jou heupe vas+ en neem my staf en gaan. As jy iemand teëkom, moet jy hom nie groet nie, en as iemand jou groet, moet jy hom nie antwoord nie. Gaan sit my staf op die seun se gesig.” 30  Toe het die seun se ma gesê: “So waar as wat Jehovah lewe en so waar as wat u lewe, ek sal u nie verlaat nie.”+ Daarom het hy opgestaan en saam met haar gegaan. 31  Gehaʹsi het voor hulle uit gegaan en die staf op die seun se gesig gesit, maar daar was geen geluid of reaksie nie.+ Hy het na Eliʹsa teruggegaan en vir hom gesê: “Die seun het nie wakker geword nie.” 32  Toe Eliʹsa in die huis ingaan, het die seun dood op sy bed gelê.+ 33  Hy het ingegaan en die deur agter hulle twee toegemaak en tot Jehovah begin bid.+ 34  Daarna het hy op die bed geklim en oor die kind gaan lê en sy mond op die seun se mond, sy oë op die seun se oë en sy palms op die seun se palms gesit en oor hom gebuig gebly, en die kind se liggaam het begin warm word.+ 35  Toe het hy heen en weer in die huis geloop, en daarna het hy weer op die bed geklim en oor hom gebuig. Die seun het sewe keer genies, en daarna het hy sy oë oopgemaak.+ 36  Eliʹsa het Gehaʹsi toe geroep en gesê: “Roep die Sunammitiese vrou.” Hy het haar dus geroep, en sy het na hom toe gegaan. Toe het hy gesê: “Tel jou seun op.”+ 37  En sy het ingegaan en voor sy voete geval en na die grond toe neergebuig, en daarna het sy haar seun opgetel en uitgegaan. 38  Toe Eliʹsa na Gilgal terugkeer, was daar hongersnood in die land.+ Die seuns van die profete+ het voor hom gesit, en hy het vir sy dienaar+ gesê: “Sit die groot pot op die vuur en kook ’n bredie vir die seuns van die profete.” 39  Toe het een van hulle na die veld uitgegaan om kruie te pluk, en hy het ’n wilde rankplant gevind en wilde kalbasse daarvan gepluk en sy kleed daarmee vol gemaak. Daarna het hy teruggegaan en dit opgesny en in die kookpot gegooi, al het hy nie geweet wat dit is nie. 40  Later het hulle dit vir die manne gegee om te eet, maar toe hulle van die bredie eet, het hulle uitgeroep: “Daar is gif* in die pot, o man van die ware God!” En hulle kon dit nie eet nie. 41  Toe het hy gesê: “Gaan haal ’n bietjie meel.” Nadat hy dit in die pot gegooi het, het hy gesê: “Gee dit vir die mense om te eet.” En daar was niks skadeliks in die pot nie.+ 42  ’n Man het uit Baäl-Saliʹsa+ gekom, en hy het vir die man van die ware God 20 garsbrode+ gebring wat van die eerste graan van die nuwe oes gemaak is, sowel as ’n sak vol vars graan.+ Toe het Eliʹsa gesê: “Gee dit vir die mense om te eet.” 43  Maar sy dienaar het gesê: “Hoe kan 100 manne hiervan eet?”+ Toe het hy gesê: “Gee dit vir die mense om te eet, want dít is wat Jehovah sê: ‘Hulle sal eet en nog oorhê.’”+ 44  Hy het dit vir hulle gegee om te eet, en hulle het geëet en nog oorgehad,+ net soos Jehovah gesê het.

Voetnote

Of “kruik met ’n tuit”.
Lett. “dood”.