Deuteronomium 17:1-20

  • Offerandes moet sonder gebrek wees (1)

  • Hoe afvalligheid hanteer moet word (2-7)

  • Moeilike regsake (8-13)

  • Riglyne vir toekomstige koning (14-20)

    • Koning moet afskrif van Wet maak (18)

17  “Julle mag nie aan Jehovah julle God ’n bul of ’n skaap offer wat ’n gebrek het of waarmee daar iets fout is nie, want dit is iets afskuweliks vir Jehovah julle God.+  “Sê nou daar word in een van julle stede wat Jehovah julle God aan julle gee, ’n man of ’n vrou onder julle gevind wat doen wat sleg is in die oë van Jehovah julle God en wat sy verbond verbreek.+  Miskien het hy ’n verkeerde weg ingeslaan en ander gode aanbid en voor hulle of voor die son of die maan of die hele leërmag van die hemel neergebuig,+ iets wat ek nie beveel het nie.+  Wanneer dit aan julle gerapporteer word of julle daarvan hoor, moet julle die saak deeglik ondersoek. As dit bevestig word+ dat hierdie afskuwelike ding in Israel gedoen is,  moet julle die man of die vrou wat hierdie slegte ding gedoen het, na die stadspoorte bring, en die man of die vrou moet met klippe doodgegooi word.+  Die persoon moet doodgemaak word as die saak deur* twee of drie getuies bevestig word.+ Hy mag nie doodgemaak word as daar net een persoon is wat teen hom getuig nie.+  Die getuies moet hulle hand eerste lig om hom dood te maak, en daarna moet die hele volk dieselfde doen. Julle moet wat sleg is, onder julle uit verwyder.+  “As ’n saak in een van julle stede na julle toe gebring word wat vir julle te moeilik is om oor te besluit, of dit nou te doen het met iemand wat doodgemaak is*+ of ’n wettige eis of ’n gewelddaad of enigiets anders waaroor daar ’n geskil is, dan moet julle na die plek gaan wat Jehovah julle God uitkies.+  Gaan na die Levitiese priesters en na die regter+ wat in daardie dae dien en stel julle saak aan hulle, en hulle sal die besluit aan julle bekend maak.+ 10  Dan moet julle optree in ooreenstemming met die besluit wat hulle aan julle bekend maak by die plek wat Jehovah uitkies. Sorg dat julle alles doen wat hulle julle beveel. 11  Julle moet optree volgens die wet wat hulle vir julle wys en volgens die besluit wat hulle aan julle bekend maak.+ Moenie regs of links afwyk van die besluit wat hulle aan julle bekend sal maak nie.+ 12  Die man wat trots* is en nie luister na die regter of na die priester wat voor Jehovah julle God dien nie, moet sterf.+ Julle moet wat sleg is, uit Israel verwyder.+ 13  Die hele volk sal dan hiervan hoor en bang word, en hulle sal nie weer waag om so iets te doen* nie.+ 14  “Wanneer julle in die land kom wat Jehovah julle God aan julle gee en julle dit in besit geneem het en daarin woon en julle sê: ‘Laat ons ’n koning oor ons aanstel soos al die nasies wat om ons is,’+ 15  dan moet julle ’n koning oor julle aanstel wat deur Jehovah julle God gekies word.+ Julle moet een van julle broers as koning aanstel. Julle mag nie ’n uitlander, wat nie julle broer is, oor julle aanstel nie. 16  Maar hy mag nie baie perde vir homself verkry+ of die volk na Egipte laat teruggaan om meer perde te kry nie,+ want Jehovah het vir julle gesê: ‘Julle mag nooit weer op hierdie pad teruggaan nie.’ 17  Hy mag ook nie baie vrouens vir hom neem nie, sodat sy hart nie ’n verkeerde weg inslaan nie.+ Hy mag ook nie groot hoeveelhede silwer en goud vir homself verkry nie.+ 18  Wanneer hy op die troon van sy koninkryk gaan sit, moet hy vir hom in ’n boek* ’n afskrif skryf van hierdie Wet, wat deur die Levitiese priesters gehou word.+ 19  “Dit moet by hom bly, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees,+ sodat hy kan leer om Jehovah sy God te vrees en om al die woorde van hierdie Wet en hierdie wetsvoorskrifte te gehoorsaam deur dit te doen.+ 20  Dan sal hy nie neersien op sy broers nie,* en hy sal nie regs of links van die gebod afwyk nie, en hy en sy seuns sal lank oor sy koninkryk in Israel regeer.

Voetnote

Of “uit die mond van”.
Of “met bloedvergieting”.
Of “vermetel”.
Of “weer vermetel optree”.
Of “boekrol”.
Lett. “sy hart hom nie bo sy broers verhef nie”.