Volgens Matteus 19:1-30

  • Huwelik en egskeiding (1-9)

  • Gawe van ongetroude lewe (10-12)

  • Jesus seën die kinders (13-15)

  • Ryk jong man se vraag (16-24)

  • Opofferings vir die Koninkryk (25-30)

19  Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het hy uit Galileʹa vertrek en by die grens van Judeʹa oorkant die Jordaanrivier gekom.+  En groot groepe mense het hom gevolg, en hy het hulle daar genees.  En Fariseërs het na hom toe gekom om hom te toets, en hulle het gevra: “Mag ’n man sommer om enige rede van sy vrou skei?”+  Hy het geantwoord: “Het julle nie gelees dat die Een wat mense geskep het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?+  Hy het gesê: ‘Daarom sal ’n man sy pa en sy ma verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees.’+  Hulle is dus nie meer twee nie, maar een vlees. Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.”+  Hulle het vir hom gevra: “Hoekom het Moses dan gesê dat ’n skeibrief gegee kan word en dat hy van haar kan skei?”+  Hy het vir hulle gesê: “Moses het die toegewing gemaak dat julle van julle vrouens kan skei omdat julle harte so ongevoelig is,+ maar dit was nie van die begin af so nie.+  Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van seksuele onsedelikheid,* en met iemand anders trou, egbreuk pleeg.”+ 10  Die dissipels het vir hom gesê: “As dít die situasie is met ’n man en sy vrou, is dit beter om nie te trou nie.” 11  Hy het vir hulle gesê: “Nie almal kan hiervoor plek maak nie, maar net dié wat die gawe het.+ 12  Want daar is eunugs wat so gebore is, en daar is eunugs wat deur mense eunugs gemaak is, en daar is eunugs wat hulleself eunugs gemaak het ter wille van die Koninkryk van die hemel. Laat die een wat daarvoor kan plek maak, daarvoor plek maak.”+ 13  Toe is jong kinders na hom toe gebring sodat hy hulle kan seën* en vir hulle kan bid, maar die dissipels het streng met hulle gepraat.+ 14  Jesus het egter gesê: “Los die jong kinders, en moet hulle nie probeer keer om na my toe te kom nie, want die Koninkryk van die hemel behoort aan mense wat soos hulle is.”+ 15  En hy het sy hande op hulle gelê en daarvandaan weggegaan. 16  En iemand het na hom toe gekom en gevra: “Leermeester, watter goeie dinge moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?”+ 17  Hy het vir hom gesê: “Hoekom vra jy my oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is.+ As jy egter die lewe wil ingaan, moet jy aanhou om die gebooie te gehoorsaam.”+ 18  Hy het vir hom gevra: “Watter gebooie?” Jesus het gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie,+ jy mag nie egbreuk pleeg nie,+ jy mag nie steel nie,+ jy mag nie valslik getuig nie,+ 19  eer* jou pa en jou ma+ en jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”+ 20  Die jong man het vir hom gesê: “Ek was gehoorsaam aan al hierdie dinge. Wat moet ek nog doen?” 21  Jesus het vir hom gesê: “As jy volmaak* wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê.+ En kom word my volgeling.”+ 22  Toe die jong man dit hoor, het hy hartseer weggegaan, want hy het baie besittings gehad.+ 23  Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “Ek verseker julle: Dit sal vir ’n ryk man moeilik wees om in die Koninkryk van die hemel in te gaan.+ 24  Ek sê weer vir julle dat dit makliker is vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die Koninkryk van God in te gaan.”+ 25  Toe die dissipels dit hoor, was hulle baie verbaas, en hulle het gevra: “Wie kan dan eintlik gered word?”+ 26  Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”+ 27  Toe het Petrus hom geantwoord: “Ons het alles agtergelaat en u gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees?”+ 28  Jesus het vir hulle gesê: “Ek verseker julle: In die herskepping, wanneer die Seun van die mens op sy glorieryke troon gaan sit, sal julle wat my gevolg het, op 12 trone sit en die 12 stamme van Israel oordeel.+ 29  En elkeen wat huise of broers of susters of pa of ma of kinders of landerye ter wille van my naam verlaat het, sal 100 keer soveel kry en die ewige lewe ontvang.+ 30  “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en baie wat laaste is, sal eerste wees.+

Voetnote

Grieks: por·neiʹa. Sien Woordelys.
Of “sy hande op hulle kan lê”.
Of “respekteer”.
Of “volkome”.