Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VIND VERLIGTING VAN STRES

Wat is stres?

Wat is stres?

Stres is hoe jou liggaam reageer op ’n situasie waar baie inspanning nodig is. Jou brein stuur hormone na elke deel van jou liggaam. Dit laat jou hart vinniger klop, reguleer jou bloeddruk, het ’n uitwerking op hoeveel suurstof daar in jou longe is, en dit laat jou spiere saamtrek. Voordat jy heeltemal bewus is van wat gebeur, is jou liggaam gereed vir aksie. Wanneer ’n stresvolle situasie verby is, is jou liggaam nie meer so gespanne nie en begin dit weer normaal werk.

GOEIE EN SLEGTE STRES

Stres is ’n natuurlike reaksie wat jou help om moeilike of gevaarlike situasies te hanteer. Jou liggaam se reaksie op stres begin in jou brein. Goeie stres help jou om vinnig op te tree of te reageer. ’n Sekere mate van stres kan jou ook help om jou doelwitte te bereik of om beter te doen wanneer jy ’n eksamen moet skryf, vir ’n werksonderhoud moet gaan of wanneer jy sport speel.

Maar uitermatige of chroniese stres of stres oor ’n lang tydperk kan vir jou skadelik wees. Wanneer jou liggaam herhaaldelik of die heeltyd gespanne is, kan jy fisies, emosioneel en verstandelik begin ly. Jou gedrag, insluitende die manier hoe jy ander behandel, kan verander. Mense wat aan chroniese stres ly, begin dikwels om te rook, te veel alkohol te drink, hulle te ooreet of dwelms te gebruik, of hulle raak dalk verslaaf aan medikasie of ontwikkel ander slegte gewoontes. Dit kan selfs lei tot depressie, uitbranding of selfmoordgedagtes.

Al affekteer stres nie almal op dieselfde manier nie, kan dit tot baie siektes lei. En dit kan amper elke deel van die liggaam affekteer.