Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die dag toe die “Boshoofstad” in vlamme opgegaan het

Die dag toe die “Boshoofstad” in vlamme opgegaan het

Die dag toe die “Boshoofstad” in vlamme opgegaan het

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

OP 18 Januarie 2003 was daar ’n onheilspellende gloed in die lug toe die inwoners van Australië se hoofstad, Canberra, wakker geword het. ’n Dik rookkombers het die oggendson in ’n bloedrooi bal verander. Die lug was warm, droog en drukkend. Australië was in die greep van ’n droogte wat die bome, blare en onderbos kurkdroog laat word het. Brande het weke lank gewoed in die groot bloekomwoude rondom hierdie stad, wat die Boshoofstad genoem word.

Daardie middag het sterk, skroeiende winde die ondenkbare laat gebeur. Die brande het oor brandpaaie tot in die dennewoude gespring wat in en om die suidwestelike deel van Canberra groei.

Die woud bars uit in vlamme

Elliot, ’n vrywillige brandweerman, vertel: “Die dennewoude het om 3:00 nm. met soveel krag ontplof dat gloeiende kooltjies op ons en die nabygeleë voorstede neergereën het. Dit was vreesaanjaend om te sien hoe ’n 40 meter hoë vlammemuur vinnig nader kom.” Die versengende hitte en rukwinde het hulle eie weerpatrone gevorm en ’n vuurbal geskep wat teen ’n skrikwekkende spoed deur die voorstad Chapman getrek het en bome ontwortel asook huise vernietig het. Talle kragpale het gebrand en omgeval met die gevolg dat lewendige kragdrade op die grond beland het. Binne die eerste uur is 230 huise vernietig.

Die verwoestende krag van die brand het brandweerspanne oorweldig. Elliot sê: “Dit was hartverskeurend om huise in vlamme te sien opgaan, want ons moes kies watter huise ons sou probeer red en watter ons aan die vuur sou afstaan. Maar dit was nog erger om te sien hoe huilende, ontstelde mense terugkeer na wat voorheen hulle huise was.”

Die nasleep

Vier mense het in die brande omgekom en honderde is beseer. Een slagoffer, ’n 36-jarige vrou, het in haar huis in teruggehardloop om foto’s te red. Die dak het ineengestort en haar binne-in vasgekeer. Sy kon nie gered word nie.

Toe die winde begin bedaar en die vlamme uitgewoed het, was 530 huise vernietig, wat 2 500 mense dakloos gelaat het. Elektrisiteits-, gas- en riooldienste is erg beskadig en het gesondheidsgevare veroorsaak. Die ongevalleafdeling van die Canberra-hospitaal is oorval deur mense wat aan asemhalingsprobleme gelei het. Dit is jammer om te sê dat hartelose misdadigers die verlate huise begin plunder het terwyl mense na die ontruimingsentrums gestroom het. Maar verslae van heldedade en mensliewendheid was ook algemeen. Bure het mekaar gehelp, vreemdelinge het diere gered, skole het hulle deure vir die dakloses geopen en vrywillige brandweermanne het ander mense se geboue beskerm terwyl hulle eie huise vernietig is.

Hoewel die bome uiteindelik weer sal groei en die huise herbou sal word, het eerste minister John Howard gesê dat die impak van die vernietiging ‘iets is wat die mense van Canberra nog lank sal bybly’.

[Foto-erkenning op bladsy 25]

AP Photo/Fairfax, Pat Scala