Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die pragtige moldawiet

Die pragtige moldawiet

Die pragtige moldawiet

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE TSJEGGIESE REPUBLIEK

Wat kom in jou gedagte op wanneer jy die woord “moldawiet” hoor? In sommige tale laat die woord ’n mens dalk dink aan iets wat afkomstig is van die Moldau, ’n rivier in Sentraal-Europa wat nou die Vltavarivier genoem word. Of jy dink miskien aan ’n seldsame, pragtige steen. Dit is interessant dat die moldawiet albei hierdie dinge is.

’n Moldawiet is ’n groen, glasagtige voorwerp. Dit word in die suidelike deel van die Tsjeggiese Republiek gevind, in die gebied al langs die Vltavarivier. Dit word geklassifiseer as ’n tektiet—’n term wat van die Griekse woord tektos afgelei is en “gesmelt” of “gegiet” beteken. Die Encyclopædia Britannica verduidelik: “Tektiete het deur feitlik die hele 20ste eeu groot wetenskaplike belangstelling gewek weens hulle onbekende en moontlik buiteaardse oorsprong, maar dit is nou bekend dat dit gevorm is toe rotse op die Aarde gesmelt en vinnig afgekoel het nadat hulle gedisintegreer het as gevolg van die hoë-energiebotsings van groot meteoriete, komete of asteroïdes met die aardoppervlak.”

Tektiete is al op elke kontinent buiten Antarktika en Suid-Amerika gevind. As gevolg van moldawiete se buitengewone oorsprong dink party mense dalk dat dit misterieuse kosmiese energie en geneeskrag besit. Maar moldawiete is net stene—hoewel dit baie mooi en indrukwekkende stene is.

Hierdie seldsame stene het ’n diepgroen kleur. In teenstelling met ander tektiete kan dit tot asemrowende edelstene gesny word. Besoekers aan die Tsjeggiese Republiek kan moldawiete bewonder in die mineralogiese afdeling van die Nasionale Museum in Praag.

Die Bybel herinner ons: “Aan Jehovah behoort die aarde en alles wat dit vul” (Psalm 24:1). Dit sluit al die edelstene in die wêreld in. Dalk sal jy daaraan dink as jy ooit die geleentheid kry om die pragtige moldawiet te bewonder!

[Prent op bladsy 31]

Ruwe moldawiete

[Prent op bladsy 31]

’n Geslypte moldawiet

[Prent op bladsy 31]

Moldawietjuweliersware

[Foto-erkenning op bladsy 31]

Geslypte moldawiet en onderste foto’s: Z knihy Svĕt drahých kamenů