Ontstellende nuusberigte en jou kinders
“My 11-jarige dogter hou nie daarvan om na die nuus te kyk nie. Sy kry dikwels nagmerries oor wat sy gesien het. Sy het eenkeer na ’n berig gekyk van iemand wat een van sy familielede onthoof het. Daardie aand het sy gedroom dat sy ook onthoof word.”—Quinn.
“My swaer se sesjarige dogtertjie het berigte gesien van tornado’s elders in die land. Sy was nog weke daarna doodbang. Sy het my ’n aantal kere gebel omdat sy oortuig was dat ’n tornado hulle sou tref en dat sy sou sterf.”—Paige.
MAAK nuusberigte jou kind bang? In een opname het byna 40 persent van ouers gesê dat hulle kinders al deur iets ontstel is wat hulle op die nuus gesien het en dat die kinders gevolglik bang was dat iets soortgelyks met hulle of hulle geliefdes sou gebeur.
Waarom? Een faktor is dat kinders die nuus dikwels anders vertolk as volwassenes. Byvoorbeeld, klein kindertjies glo dalk dat ’n tragedie wat herhaaldelik uitgesaai word, werklik herhaaldelik gebeur.
’n Tweede faktor is dat daaglikse berigte van ontstellende gebeure ’n kind ’n verdraaide beskouing van die wêreld kan gee. Ons lewe weliswaar in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Maar as kinders herhaaldelik blootgestel word aan ontstellende nuusberigte, kan hulle verlammende vrese ontwikkel. “Kinders wat baie na die nuus op TV kyk, is geneig om die algemeenheid van misdaad te oorskat en beskou die wêreld dalk as ’n gevaarliker plek as wat dit werklik is”, sê die Kaiser-gesinstigting.
Wat kan jy doen as ontstellende nuusberigte ’n uitwerking op jou kinders het? Hier is ’n paar wenke.
Beskerm hulle.
Op grond van jou kinders se ouderdom, rypheid en emosionele samestelling kan jy dit oorweeg om te beperk hoeveel nuus hulle kyk. In ons inligtingseeu is kinders natuurlik nie onkundig omtrent huidige gebeure nie. Selfs klein kindertjies sien of hoor dalk meer as wat jy dink. Daarom moet jy let op enige tekens van vrees of angstigheid by jou kinders.
Onderrig hulle.
Wanneer jou kinders ouer word, kan jy dit oorweeg om die nuus saam met hulle te kyk. Sodoende kan jy die nuus gebruik om hulle te onderrig. Probeer enige positiewe aspekte van ’n berig beklemtoon—byvoorbeeld, noodlenigingspogings om die slagoffers van ’n ramp te help.
Stel hulle gerus.
Wanneer daar ’n berig van ’n ontstellende gebeurtenis is, kan jy jou kinders vrae vra om uit te vind hoe hulle voel oor wat gebeur het. “Ek en my vrou neem die tyd om aan ons seun, Nathaniel, te verduidelik wat hy op die nuus gesien het, asook watter maatreëls ons getref het om dieselfde tragedie te vermy”, sê ’n pa met die naam Michael. “Eenkeer het Nathaniel beeldmateriaal op die nuus gesien van ’n huis wat afbrand, en hy was bang dat dieselfde met ons huis sou gebeur. Om hom gerus te stel, het ons hom al die rookalarms in ons huis gewys. Hy weet waar hulle is en waarom hulle daar is. Dit het hom gehelp om veilig te voel.”
Behou ’n gebalanseerde beskouing.
Navorsers het gevind dat mense geneig is om die waarskynlikheid dat ’n gebeurtenis sal plaasvind, te meet aan Spreuke 22:3, 13.
hoe maklik hulle voorbeelde van so ’n gebeurtenis kan herroep. As jy byvoorbeeld onlangs gehoor het dat ’n kind ontvoer is, sal jy waarskynlik aanneem dat jou kind in groter gevaar verkeer as wat werklik die geval is. Dit is natuurlik goed om bewus te wees van moontlike gevare. Nietemin sê deskundiges dat mediaberigte kan maak dat ons gebeure vrees wat ons waarskynlik nooit sal tref nie.—As ouers nie ’n gebalanseerde beskouing van die nuus behou nie, kan hulle oordrewe vrese ontwikkel. En dieselfde geld vir hulle kinders. Byvoorbeeld, in 2005 het ’n 11-jarige seun verdwaal in die berge van Utah in die Verenigde State. Hy was so bang vir ontvoerders dat hy vier dae lank vir reddingswerkers weggekruip het. Toe die reddingswerkers die kind uiteindelik gevind het, was hy swak en ontwater. Hoewel die moontlikheid om deur ’n vreemdeling ontvoer te word omtrent 1 uit 350 000 was, het die seun se vrees gemaak dat hy eerder verhongering in die gesig sou staar as om hulp te aanvaar.
“Kinders tussen die ouderdom van 3-7 word die meeste ontstel deur stories van natuurrampe en ongelukke, terwyl ouer kinders tussen die ouderdom van 8-12 die meeste ontstel word deur stories van misdaad en geweld.”—Kaiser-gesinstigting
Die les? Maak seker dat jy en jou kinders ’n gebalanseerde beskouing van die nuus behou. Die feit is dat talle tragiese gebeure as nuuswaardig beskou word omdat dit betreklik seldsaam is—nie omdat dit algemeen is nie.
Misdaad, geweld en natuurrampe is tragiese werklikhede van ons tye. Soos ons egter gesien het, sal jou pogings om jou kinders te beskerm, te onderrig, gerus te stel en ’n gebalanseerde beskouing te help ontwikkel, hulle in staat stel om ontstellende berigte te verwerk.