Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

  DIE BYBEL SE BESKOUING

Jesus

Jesus

Is Jesus God?

“Geen mens het God ooit gesien nie.”—Johannes 1:18.

WAT MENSE SÊ

Baie mense glo nie dat Jesus God is nie. Maar ander meld weer Bybelverse wat volgens hulle toon dat Jesus aan God gelyk is.

WAT DIE BYBEL SÊ

Volgens die Bybel is Jesus nie God die Almagtige of gelyk aan God nie. Inteendeel, dit toon duidelik dat Jesus ondergeskik is aan God. Byvoorbeeld, in die Bybel sê Jesus self: “Die Vader is groter as ek” (Johannes 14:28). Die Bybel sê ook: “Geen mens het God ooit gesien nie” (Johannes 1:18). Jesus kan nie God wees nie omdat baie mense Jesus wel gesien het.

Jesus se vroeë volgelinge het nie gesê dat hy God is nie. Die Evangelieskrywer Johannes het byvoorbeeld aangaande die dinge wat hy opgeteken het, gesê: “Hierdie dinge is neergeskryf sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God.”Johannes 20:31. *

 Wanneer is Jesus gebore?

“Daar was . . . herders wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle kuddes wag gehou het.”—Lukas 2:8.

WAT MENSE SÊ

Party mense vier Kersfees op 25 Desember—die dag waarop sommige meen Jesus gebore is. Ander vier Jesus se geboortedag vroeg in Januarie.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel sê nie op watter dag Jesus gebore is nie. Maar dit sê wel dat daar tydens Jesus se geboorte “herders [was] wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle kuddes wag gehou het” (Lukas 2:8). Dit is baie onwaarskynlik dat hierdie herders hulle kuddes gedurende Desember en Januarie in die nag buite sou gehou het. Waarom?

In die gebied waar Jesus gebore is, is Desember en Januarie van die koudste maande. Waar die Bybel van hierdie tyd van die jaar praat, sê dit dat mense “bewend [was] weens die reënbuie” (Esra 10:9, 13; Jeremia 36:22). Herders sou beslis nie hierdie tyd van die jaar met hulle kuddes “in die oop veld gebly” het nie.

Het Jesus werklik uit die dood opgestaan nadat hy gesterf het?

“God het hom [Jesus] uit die dode opgewek.”—Handelinge 3:15.

WAT MENSE SÊ

Party mense meen dat dit onmoontlik is vir enigiemand, insluitende Jesus, om uit die dood op te staan nadat hy gesterf het.

WAT DIE BYBEL SÊ

Jesus het sy volgelinge geleer dat hy “baie dinge . . . moet ly en doodgemaak en op die derde dag opgewek moet word” (Matteus 16:21). Volgens die Bybel het Jesus ná sy dood en opstanding aan meer as 500 mense verskyn (1 Korintiërs 15:6). Hierdie ooggetuies het glad nie daaraan getwyfel dat hy uit die dood opgewek is nie. Hulle was selfs bereid om vir hierdie oortuiging te sterf!—Handelinge 7:51-60; 12:1, 2.

WAAROM DIT SAAK MAAK

Die Bybel leer dat Jesus se dood en opstanding dit vir alle mense moontlik gemaak het om by die Bybel se beloofde Paradys op aarde baat te vind (Psalm 37:11, 29; Openbaring 21:3, 4). Ons het die vooruitsig om ’n gelukkige, eindelose lewe in hierdie aardse Paradys te geniet danksy die liefde wat Jesus en sy Vader, die almagtige God, Jehovah, betoon het.—Johannes 3:16; Romeine 6:23.

^ par. 7 Die Bybel leer nie dat God ’n letterlike vrou het by wie hy kinders verwek het nie. Dit noem Jesus eerder “die Seun van God” omdat Jesus regstreeks deur God geskep is en soortgelyke eienskappe as dié van sy Vader het.