LANDE EN VOLKE
’n Besoek aan Ierland
DIE “Smarageiland” bestaan uit twee lande: die groter land is die onafhanklike Republiek van Ierland en die kleiner land is Noord-Ierland, wat deel uitmaak van die Verenigde Koninkryk.
Ierland word die Smarageiland genoem omdat die hoë reënval ’n helder groen landskap tot gevolg het. Pragtige mere en riviere, hooglande aan die kus en golwende heuwels dra by tot die natuurskoon.
Die mense van Ierland het al baie ontberinge deurgemaak. Byvoorbeeld, volgens skatting het ongeveer ’n miljoen mense tussen 1845 en 1851 van verhongering en siekte gesterf toe die aartappeloeste weens laatroes misluk het. Om volslae armoede te vermy, het baie mense na lande soos Australië, Brittanje, Kanada en die Verenigde State geëmigreer. Vandag is daar sowat 35 miljoen Amerikaners wat van Ierse herkoms is.
Die Iere is bekend vir hulle hartlikheid en gasvryheid. Hulle is baie lief vir perdry en spansport, soos krieket, rugby, sokker (wat hulle voetbal noem) en Gaeliese voetbal (wat soortgelyk is aan sokker). Veral
vroue geniet ’n spansport wat camogie genoem word en soortgelyk is aan hokkie.Die mense van Ierland hou ook van gesels en is lief vir musiek. Ierse stapdanse is wêreldberoemd. Dansers voer vinnige en presiese bewegings met hulle voete uit terwyl hulle hulle bolyf regop hou.
Jehovah se Getuies is al meer as honderd jaar in Ierland. Daar is nou meer as 6 000 Getuies in die land, en hulle span hulle in om ander die Bybel te leer.
HET JY GEWEET?
Die Giant’s Causeway, aan die noordkus van Noord-Ierland, bestaan uit duisende kalksteenpilare wat gevorm is toe lawastrome lank gelede afgekoel het toe dit in die see ingeloop het.