Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Is die Bybel net ’n goeie boek?

Is die Bybel net ’n goeie boek?

Die Bybel is omtrent tweeduisend jaar gelede voltooi. Intussen het tallose ander boeke gekom en gegaan. Maar nie die Bybel nie. Kyk na die volgende.

  • Die Bybel het behoue gebly, al het invloedryke persone dit keer op keer probeer uitwis. In die Middeleeue, in party sogenaamde Christenlande, het die Kerk ’n persoon as afvallig en opstandig beskou as hy die Bybel in die volkstaal besit het of gelees het, sê die boek An Introduction to the Medieval Bible. Mense wat die Bybel in die volkstaal vertaal het of wat Bybelstudie bevorder het, het hulle lewens gewaag. Party is doodgemaak.

  • Ten spyte van al die Bybel se vyande het dit die wyds verspreide boek van alle tye geword—en dit is nog steeds die geval. Ongeveer vyfmiljard Bybels is al in die geheel of gedeeltelik in meer as 2 800 tale gedruk. Dit verskil baie van boeke oor filosofie, die wetenskap en soortgelyke onderwerpe, wat moontlik gou verouderd raak en waarvan minder versprei word.

  • Die Bybel het bygedra tot die bewaring en ontwikkeling van sommige van die tale waarin dit vertaal is. Die vertaling deur Martin Luther het ’n groot invloed op Duits gehad. En die eerste uitgawe van die King James Version is al beskryf as “waarskynlik die invloedrykste boek wat nog ooit [in Engels] gepubliseer is”.

  • Die Bybel het “’n groot invloed gehad op die Westerse kultuur, nie net op godsdiensopvattings en -gebruike nie, maar ook op kuns, literatuur, wetgewing, die politiek en tallose ander gebiede”.—The Oxford Encyclopedia of the Books of the Bible.

Dit is slegs ’n paar van die dinge wat die Bybel uniek maak. Maar waarom is dit so gewild? Waarom het mense hulle lewe daarvoor gewaag? Daar is baie redes, wat die volgende insluit: Die Bybel bevat sedelike en geestelike leringe wat merkwaardige wysheid weerspieël. Die Bybel help ons om die hoofrede vir menslike lyding en konflik te verstaan. Nog beter, dit belowe dat hierdie probleme tot ’n einde sal kom en sê selfs hoe dit sal gebeur.

Die Bybel gee ons sedelike en geestelike insig

Sekulêre opleiding is belangrik. Maar “opleiding . . . wat letters agteraan jou naam voeg . . . is nie ’n waarborg van sedelike intelligensie nie”, het ’n hoofartikel in die Ottawa Citizen, ’n Kanadese koerant, gesê. Ja, talle hoog geleerde persone—insluitende leiers in die sakewêreld en regering—kul, pleeg bedrog en steel. Volgens ’n wêreldwye studie wat gepubliseer is deur Edelman, ’n reklamemaatskappy, is die gevolg dat baie mense vertroue verloor in hulle leiers.

Die Bybel fokus op sedelike en geestelike opleiding. Dit gee ons insig in “regverdigheid en reg en regskapenheid . . . , die hele weg van wat goed is” (Spreuke 2:9). Byvoorbeeld, ’n 23-jarige man wat ons Stefan sal noem, was in Pole in die tronk. Terwyl hy daar was, het hy die Bybel begin studeer en ’n waardering ontwikkel vir die praktiese raad daarin. “Ek sien nou wat dit beteken om ‘jou vader en jou moeder te eer’”, het hy geskryf. “Ek het ook geleer om my emosies, veral woede, te beheer.”—Efesiërs 4:31; 6:2.

Stefan het die beginsel in Spreuke 19:11 ter harte geneem, wat sê: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn, en dit is mooi van hom om die oortreding oor te sien.” Wanneer Stefan nou in ’n moeilike situasie is, probeer hy om dit kalm te ontleed en die gepaste Bybelbeginsels toe te pas. “Ek het besef dat die Bybel die beste handboek is”, het hy gesê.

Maria, wat een van Jehovah se Getuies is, is in die openbaar beledig deur ’n bevooroordeelde vrou wat ’n groot bohaai gemaak het. Maar eerder as om terug te kap, het Maria kalm gebly en verder geloop. Die ander vrou het sleg gevoel oor haar gedrag en na die Getuies begin soek. Omtrent ’n maand later, toe sy uiteindelik weer vir Maria gesien het, het sy vir haar ’n drukkie gegee en om verskoning gevra. Wat meer is, sy het tot die slotsom gekom dat dit Maria se godsdiens is wat haar so sagmoedig maak en soveel selfbeheersing gee. Die gevolg? Hierdie vrou en vyf van haar familielede het besluit om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer.

Wysheid word geregverdig deur die resultate wat dit voortbring, het Jesus Christus gesê (Lukas 7:35). Ja, daar is baie bewyse dat Bybelbeginsels werk! Dit bring die beste in ons na vore. Dit “maak die onervarene wys”, “maak die hart bly” en “laat die oë straal” met sedelike en geestelike helderheid.—Psalm 19:7, 8.

Die Bybel verduidelik waarom menslike lyding en konflik plaasvind

Wanneer navorsers ’n epidemie bestudeer, probeer hulle om die oorsaak te vind—waar het dit begin? Ons kan dit ook doen wanneer ons die “plaag” van menslike lyding en verdeeldheid wil verstaan. Weer eens help die Bybel ons baie, want ons vroegste geskiedenis is daarin opgeteken, die tyd toe al ons probleme begin het.

Die boek Genesis sê vir ons dat die mensdom se ellende begin het toe die eerste mense teen God in opstand gekom het. Hulle wou self besluit wat reg en verkeerd is—’n reg wat alleenlik aan ons Skepper behoort (Genesis 3:1-7). Ongelukkig het mense oor die algemeen dieselfde onafhanklike denke ontwikkel. Wat is die gevolg? Die mens se geskiedenis is ’n verhaal, nie van vryheid en geluk nie, maar van konflik, onderdrukking en sedelike en geestelike verdeeldheid (Prediker 8:9). Die Bybel sê tereg: “Dit behoort nie aan die mens . . . om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Die goeie nuus is dat die mensdom se rampspoedige eksperiment met onafhanklikheid van God amper verby is.

Die Bybel gee hoop

Die Bybel verseker ons dat God, uit sy liefde vir diegene wat sy gesag en standaarde respekteer, nie vir ewig slegtheid en die lyding wat dit veroorsaak, sal verdra nie. Die goddeloses sal “van die vrug van hulle weg eet”; dit wil sê, hulle sal die gevolge van hulle dade dra (Spreuke 1:30, 31). Maar “die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede”.—Psalm 37:11.

“God [se wil] is dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom.”—1 Timoteus 2:3, 4

God se voorneme om ’n vreedsame aarde te hê, sal deur middel van “die koninkryk van God” vervul word (Lukas 4:43). Hierdie Koninkryk is ’n wêreldregering, en dit sal God weer as die regmatige heerser van die mensdom herstel. Dit stem ooreen met Jesus se woorde in die Onse Vader: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied . . . op die aarde.”—Matteus 6:10.

Ja, die onderdane van God se Koninkryk sal God se wil doen. Hulle sal die Skepper—geen mens nie—as regmatige Heerser erken. Korrupsie, gierigheid, ekonomiese ongelykheid, rassevooroordeel en oorlog sal iets van die verlede wees. Daar sal letterlik een wêreld, een regering en een stel sedelike en geestelike standaarde wees.—Openbaring 11:15.

As jy in daardie nuwe wêreld wil wees, moet jy kennis inneem. “God [se wil] is dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom”, sê 1 Timoteus 2:3, 4. Daardie waarheid sluit Bybelleringe in oor die Koninkryk se “grondwet”—die wette en beginsels waarvolgens dit sal regeer. Voorbeelde hiervan kan gevind word in Jesus Christus se Bergpredikasie (Matteus hoofstuk 5-7). Terwyl jy daardie drie hoofstukke lees, kan jy jou probeer voorstel hoe die lewe sal wees wanneer almal Jesus se wysheid toepas.

Moet dit ons verbaas dat die Bybel die wêreld se wyds verspreide boek is? Glad nie! ’n Mens kan duidelik sien dat die Bybel se leringe deur God geïnspireer is. Die feit dat dit so wyd verspreid is, bewys dat God wil hê dat mense van alle tale en nasies van hom moet leer en die seëninge moet ontvang wat sy Koninkryk sal bring.—Handelinge 10:34, 35.