Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Belydenis wat lei tot genesing

Belydenis wat lei tot genesing

Belydenis wat lei tot genesing

“TOE ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed” (Psalm 32:3, 4). Hierdie gevoelvolle woorde het dalk die diep emosionele pyn beskryf wat koning Dawid van eertydse Israel ervaar het, pyn wat hy oor homself gebring het omdat hy ’n ernstige sonde weggesteek het in plaas van dit te bely.

Dawid was ’n man met uitsonderlike eienskappe. Hy was ’n dapper krygsman, ’n bedrewe staatsman, ’n digter en ’n musikant. En tog het hy nie op sy eie vermoëns staatgemaak nie, maar op sy God (1 Samuel 17:45, 46). Hy is beskryf as ’n man wie se hart “volkome met die HERE” was (1 Konings 11:4). Maar een sonde wat hy gepleeg het, was veral laakbaar, en dit is moontlik waarna hy in Psalm 32 verwys het. Ons kan baie leer deur te kyk na die omstandighede wat tot sy sonde gelei het. Ons sal slaggate raaksien wat ons moet vermy en ook sien hoe belangrik dit is om ons sondes te bely sodat ons ons verhouding met God kan herstel.

’n Lojale koning het in sonde verval

Die nasie Israel het oorlog teen die Ammoniete gevoer, maar Dawid het in Jerusalem agtergebly. Een aand toe hy op die dak van sy paleis gewandel het, het hy ’n pragtige vrou by ’n huis daar naby sien bad. In plaas van selfbeheersing aan die dag te lê, het hy haar hartstogtelik begin begeer. Toe hy uitvind dat sy Batseba, die vrou van Uria, ’n soldaat in sy leër, was, het Dawid haar laat haal en egbreuk met haar gepleeg. Later het Batseba Dawid laat weet dat sy swanger is.—2 Samuel 11:1-5.

Dawid was in ’n hoek vasgekeer. As hulle sonde blootgelê sou word, sou die straf vir hulle albei die dood wees (Levitikus 20:10). Hy het dus ’n plan beraam. Hy het Batseba se man, Uria, van die slagveld af teruggeroep. Nadat Dawid Uria alles uitgevra het oor die oorlog, het hy hom beveel om huis toe te gaan. Dawid het gehoop dat dit sou lyk asof Uria die vader van Batseba se kind is.—2 Samuel 11:6-9.

Tot Dawid se ergernis het Uria nie na sy vrou toe gegaan nie. Uria het gesê dat dit vir hom ondenkbaar was om terug te gaan huis toe terwyl die leër die ontberinge van die oorlog verduur het. Wanneer ’n Israelitiese leër in ’n oorlog gewikkel was, het die manne nie geslagsomgang gehad nie, selfs nie met hulle eie vrouens nie. Hulle moes seremonieel rein bly (1 Samuel 21:5). Dawid het Uria toe vir ’n maaltyd genooi en hom dronk laat word, maar hy het nog steeds nie huis toe gegaan na sy vrou nie. Uria se getroue gedrag het Dawid se growwe sonde veroordeel.—2 Samuel 11:10-13.

Die strik van Dawid se eie sonde het al hoe nouer om hom gespan. Uit wanhoop het hy net een oplossing gesien. Hy het Uria na die slagveld toe teruggestuur met ’n brief aan die leër se generaal, Joab. Die oogmerk van die kort brief was baie duidelik: “Sit Uria op die voorpunt van die hewigste geveg; trek julle dan agter hom terug, dat hy in die slag kan sneuwel.” Met hierdie eenvoudige boodskap het die magtige koning skynbaar sy sonde bedek en Uria na sy dood gestuur.—2 Samuel 11:14-17.

Onmiddellik nadat Batseba se routyd vir haar man verby was, het Dawid met haar getrou. Mettertyd is hulle kind gebore. Deur dit alles heen het Dawid stilgebly oor sy sondes. Miskien het hy sy optrede teenoor homself probeer regverdig. Het Uria nie op ’n eervolle manier gesterf in die oorlog, net soos ander nie? En was hy nie ongehoorsaam aan sy koning deur te weier om na sy vrou toe te gaan nie? Die ‘bedrieglike hart’ sal allerhande redenasies gebruik om sonde te probeer regverdig.—Jeremia 17:9; 2 Samuel 11:25.

Misstappe wat tot sonde lei

Hoe kon Dawid, ’n liefhebber van regverdigheid, hom tot egbreuk en moord verlaag? Die saadjies van sy sonde is klaarblyklik oor ’n tydperk gesaai. Ons wonder dalk waarom Dawid nie by sy manne was en hulle in hulle militêre veldtog teen Jehovah se vyande ondersteun het nie. Dawid het eerder in sy paleis ontspan, waar die werklikhede van die oorlog te ver verwyderd was om sy verkeerde begeerte na die vrou van ’n getroue soldaat te verdryf. Vandag is dit ’n beskerming vir ware Christene om ywerig besig te bly met geestelike dinge saam met hulle gemeente en om gereeld aan die evangelisasiewerk deel te neem.—1 Timoteus 6:12.

Die Israelitiese koning is beveel om ’n afskrif van die Wet te maak en dit daagliks te lees. Die Bybel gee die rede hiervoor: “Dat hy kan leer om die HERE sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insettinge te hou, om dit te doen; sodat sy hart hom nie verhef oor sy broers nie en hy van die gebod nie regs of links afwyk nie” (Deuteronomium 17:18-20). Dawid het heel moontlik nie hierdie instruksie gevolg toe hy daardie ernstige sondes gepleeg het nie. Gereelde studie van God se Woord en bepeinsing daaroor sal ons beslis in hierdie kritieke tye help om nie oortredings te begaan nie.—Spreuke 2:10-12.

Daarbenewens sê die laaste van die Tien Gebooie spesifiek: “Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie” (Exodus 20:17). Teen dié tyd het Dawid reeds ’n hele paar vrouens en byvrouens gehad (2 Samuel 3:2-5). Maar hy het nogtans ’n ander mooi vrou begeer. Hierdie verslag herinner ons aan die erns van Jesus se woorde: ‘Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg’ (Matteus 5:28). Pleks van sulke verkeerde begeertes te koester, moet ons dit gou uit ons verstand en hart verdryf.

Berou en barmhartigheid

Die Bybel se openhartige verslag van Dawid se sondes is beslis nie daar om enigiemand se geslagsdrange te bevredig nie. Die verslag gee ons die geleentheid om na ’n kragtige en treffende bewys van een van Jehovah se uitsonderlike eienskappe te kyk—sy barmhartigheid.—Exodus 34:6, 7.

Nadat Batseba aan ’n seun geboorte gegee het, het Jehovah die profeet Natan na Dawid gestuur. Dit was ’n daad van barmhartigheid. As Dawid nie genader is nie en hy stilgebly het, kon hy moontlik verhard geword het in ’n weg van sonde (Hebreërs 3:13). Gelukkig het Dawid positief op God se barmhartigheid gereageer. Natan se goed gekose maar ondubbelsinnige woorde het Dawid se gewete geprikkel, en hy het nederig erken dat hy teen God gesondig het. Trouens, Psalm 51, wat handel oor Dawid se sonde met Batseba, is gekomponeer nadat hy berou getoon en sy ernstige sonde bely het. Mag ons nooit toelaat dat ons hart verhard raak as ons ’n ernstige sonde pleeg nie.—2 Samuel 12:1-13.

Dawid is vergewe, maar hy is nie die dissipline of die gevolge van sy sonde gespaar nie (Spreuke 6:27). Dit kon tog nie anders gewees het nie. As God alles eenvoudig moes oorsien, sou hy ontrou wees aan sy eie standaarde. Hy sou net so min sy gesag laat geld het as wat die hoëpriester Eli gedoen het, wat sy goddelose seuns net lig bestraf het en hulle toe met hulle slegte dade laat voortgaan het (1 Samuel 2:22-25). En tog weerhou Jehovah nie sy liefderyke goedhartigheid van ’n berouvolle persoon nie. Sy barmhartigheid sal, soos verkwikkende, koel water, die een wat oortree het, help om die gevolge van sonde te verduur. Die teerheid van Goddelike vergifnis en die opbouende omgang met medeaanbidders is geestelik genesend. Ja, op grond van Christus se losprys kan ’n berouvolle persoon “die rykdom van [God se] onverdiende goedhartigheid” smaak.—Efesiërs 1:7.

“’n Suiwer hart” en ‘’n nuwe gees’

Nadat Dawid sy sonde bely het, het hy nie aan ’n negatiewe gevoel van waardeloosheid toegegee nie. Sy woorde in die psalms oor belydenis toon die verligting wat hy gevoel het, asook sy vasbeslotenheid om God getrou te dien. Kyk byvoorbeeld na Psalm 32. In vers 1 lees ons: “Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is.” Ongeag hoe ernstig die sonde is, ’n gelukkige uiteinde is moontlik as ’n persoon opregte berou toon. Een manier waarop ’n mens hierdie opregtheid kan toon, is deur volle verantwoordelikheid vir jou dade te aanvaar, soos Dawid gedoen het (2 Samuel 12:13). Hy het homself nie voor Jehovah probeer regverdig of ander die skuld probeer gee nie. Vers 5 sê: “My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.” As iemand sy sondes opreg bely, bring dit verligting mee, sodat sy gewete hom nie meer hoef te kwel oor vorige oortredinge nie.

Nadat Dawid Jehovah om vergifnis gesmeek het, het hy gevra: “Skep in my ook ’n suiwer hart, o God, en plaas in my ’n nuwe, standvastige gees” (Psalm 51:10, NW). Die feit dat Dawid “’n suiwer hart” en ‘’n nuwe gees’ gevra het, toon dat hy bewus was van die sondige neiging in hom en dat hy God se hulp nodig gehad het om sy hart te reinig en ’n nuwe begin te maak. Pleks van hom aan selfbejammering oor te gee, was hy vasbeslote om met sy diens aan God voort te gaan. Hy het gebid: “Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig.”—Psalm 51:17.

Wat was Jehovah se reaksie op Dawid se opregte berou en vasbeslote pogings om hom te dien? Hy het Dawid hierdie bemoedigende versekering gegee: “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou” (Psalm 32:8, NW). Hier is die versekering van Jehovah se persoonlike belangstelling in die berouvolle persoon se gevoelens en behoeftes. Jehovah het beloof om Dawid meer insig te gee, dit wil sê die vermoë om dieper as die oppervlak van ’n saak te sien. As hy in die toekoms in die versoeking sou kom, sou hy die uiteinde van sy dade en die uitwerking daarvan op ander kon sien, en hy sou verstandig kon optree.

Hierdie voorval in Dawid se lewe dien as ’n aanmoediging vir almal wat in ernstige sonde verval het. Deur ons sonde te bely en opregte berou te toon, kan ons ons kosbaarste besitting terugkry—ons verhouding met Jehovah God. Die kortstondige pyn en skande wat ons moontlik moet verduur, is baie beter as die angs wat ons het as ons stilbly, of die ernstige gevolge as ons toelaat dat ons in ’n opstande weg verhard word (Psalm 32:9). Ons kan eerder die tere vergifnis ondervind van ’n liefdevolle, barmhartige God, “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting”.—2 Korintiërs 1:3.

[Prent op bladsy 31]

Dawid het gehoop om die gevolge van sy sonde vry te spring deur Uria na sy dood te stuur