Henog het met God gewandel in ’n goddelose wêreld
Henog het met God gewandel in ’n goddelose wêreld
DIE Duiwel voer aan dat hy alle mense van God kan afkeer, en dit moes al soms gelyk het asof hy daarin slaag. Ná Abel se dood was daar byna vyf eeue lank niemand wat hom as ’n getroue kneg van Jehovah onderskei het nie. Daarenteen het sondige en goddelose gedrag die norm geword.
Dit was gedurende daardie geestelik verdorwe tyd dat Henog op die toneel verskyn het. Volgens Bybelchronologie is hy in 3404 v.G.J. gebore. Anders as sy tydgenote was Henog ’n man wat vir God aanneemlik was. Die apostel Paulus het hom onder die knegte van Jehovah getel wie se geloof vir Christene ’n voorbeeld is. Wie was Henog? Voor watter uitdagings het hy te staan gekom? Hoe het hy dit die hoof gebied? En wat beteken sy onkreukbaarheid vir ons?
In Enos se dag, bykans vier eeue voor Henog se tyd, “het hulle die Naam van die HERE [“Jehovah”, NW] begin aanroep” (Genesis 4:26). Die Goddelike naam is al sedert die begin van die mens se geskiedenis gebruik. Die gebruik waarmee mense begin het toe Enos gelewe het, was dus nie om Jehovah in geloof en ware aanbidding aan te roep nie. Sommige Hebreeuse geleerdes meen dat Genesis 4:26 moet lees “op ontheiligende wyse begin” of “toe het ontheiliging begin”. Mense het moontlik Jehovah se naam op hulleself toegepas of op ander mense deur wie hulle voorgegee het dat hulle God in aanbidding nader. Of hulle het dalk sy naam vir afgode gebruik.
‘Henog het met die ware God gewandel’
Hoewel Henog deur goddeloosheid omring was, het hy “met die ware God [Jehovah] bly wandel”. Daar word nie gesê dat sy voorvaders—Set, Enos, Kenan, Mahalalel en Jared—met God gewandel het nie. Altans, hulle het dit nie in dieselfde mate as Henog gedoen nie, wie se lewenswyse hom blykbaar van hulle onderskei het.—Genesis 5:3-27, NW.
Die feit dat hy met Jehovah gewandel het, het ’n gemeensaamheid en ’n intieme verhouding met God aangedui wat slegs moontlik was omdat Henog in ooreenstemming met God se wil gelewe het. Jehovah het Henog se toegewydheid goedgekeur. Trouens, die Griekse Septuagint sê dat “Henog welgevallig was” vir God, ’n gedagte wat die apostel Paulus ook gemeld het.—Genesis 5:22; Hebreërs 11:5.
Henog se geloof was onontbeerlik vir sy goeie verhouding met Jehovah. Hy het ongetwyfeld geloof in die beloofde “saad” van God se “vrou” beoefen. As hy Adam persoonlik geken het, kon Henog inligting gekry het oor God se handelinge met die eerste mensepaar in Eden. Die kennis wat hy van God gehad het, het Henog die soort mens gemaak wat ‘hom ernstig gesoek het’.—Genesis 3:15; Hebreërs 11:6, 13.
In Henog se geval, en ook in ons s’n, verg ’n goeie verhouding met Jehovah meer as net kennis van God. As ons werklik waarde heg aan ’n intieme verhouding met ’n sekere persoon, word ons denke en dade deur sy sienswyse
beïnvloed, nie waar nie? Ons vermy woorde of dade wat daardie vriendskap sal bederf. En as ons dit oorweeg om die een of ander verandering in ons eie omstandighede te maak, neem ons ook in aanmerking hoe dit daardie verhouding sal raak, nie waar nie?Die begeerte om ’n hegte verhouding met God te handhaaf, hou eweneens verband met wat ons doen. ’n Voorvereiste is juiste kennis van wat hy goedkeur en afkeur. Dan moet ons deur daardie kennis gelei word en daarna streef om hom in denke en in dade te behaag.
Ja, as ons met God wil wandel, moet ons hom behaag. Dit is wat Henog honderde jare lank gedoen het. Trouens, die Hebreeuse werkwoordvorm wat aandui dat Henog met God “gewandel” het, dui op herhaalde, deurlopende optrede. Nog ’n getroue man wat ‘met God gewandel het’, was Noag.—Genesis 6:9.
Henog was ’n gesinsman wat ’n vrou gehad het en die vader van “seuns en dogters” geword het. Een van sy seuns was Metusalag (Genesis 5:21, 22). Henog het ongetwyfeld alles in sy vermoë gedoen om sy huisgesin op voortreflike wyse te beheer. Maar met goddeloosheid oral om hom heen, was dit nie vir hom maklik om God te dien nie. Lameg, Noag se vader, was moontlik sy enigste tydgenoot wat geloof in Jehovah beoefen het (Genesis 5:28, 29). Tog het Henog moedig ware aanbidding beoefen.
Wat het Henog gehelp om getrou aan God te bly? Hy het ongetwyfeld nie met mense omgegaan wat Jehovah se naam ontheilig het of met ander wat ongepaste metgeselle was vir ’n aanbidder van God nie. Toe Henog Jehovah se hulp in gebed gevra het, het dit hom sekerlik ook versterk in sy vasbeslotenheid om enigiets te vermy wat sy Skepper kon mishaag.
Profesie teen die goddeloses
Dit is moeilik genoeg om hoë standaarde te handhaaf wanneer jy deur goddelose mense omring word. Maar Henog het boonop ’n onverbiddelike oordeelsboodskap teen die goddeloses oorgedra. Henog het onder leiding van Judas 14, 15.
God se gees profeties verklaar: “Kyk! Jehovah het met sy heilige miriades gekom, om aan almal oordeel te voltrek en om al die goddeloses skuldig te bevind aan al hulle goddelose dade wat hulle op ’n goddelose wyse gedoen het en aan al die skokkende dinge wat goddelose sondaars teen hom gespreek het.”—Watter uitwerking sou daardie boodskap op verdorwe ongelowiges hê? Dit is redelik om te veronderstel dat sulke skerp woorde Henog ongewild gemaak het en moontlik spot, smaad en dreigemente uitgelok het. Sommige wou hom seker eens en vir altyd stilmaak. Henog is egter nie afgeskrik nie. Hy het geweet wat met die regverdige Abel gebeur het, en soos hy was Henog vasbeslote om God te dien, wat ook al gebeur.
“God het hom weggeneem”
Henog was blykbaar in lewensgevaar toe ‘God hom weggeneem het’ (Genesis 5:24). Jehovah het nie toegelaat dat sy getroue profeet deur die toedoen van wrede vyande ly nie. Volgens die apostel Paulus “is Henog weggevoer om die dood nie te sien nie” (Hebreërs 11:5). Baie sê dat Henog nie gesterf het nie—dat God hom hemel toe geneem het, waar hy sy lewe voortgesit het. Jesus het egter duidelik gesê: “Geen mens het in die hemel opgevaar nie, behalwe hy wat uit die hemel neergedaal het, die Seun van die mens.” Jesus was die “voorloper” van almal wat in die hemel opvaar.—Johannes 3:13; Hebreërs 6:19, 20.
Wat het dan met Henog gebeur? Die feit dat hy “weggevoer [is] om die dood nie te sien nie”, kan beteken dat God hom in ’n profetiese beswyming geplaas het en toe sy lewe beëindig het terwyl hy in daardie toestand was. Onder sulke omstandighede sou Henog nie die smarte van die dood ervaar het nie. Toe was hy “nêrens te vinde nie”, blykbaar omdat Jehovah sy liggaam weggeneem het, net soos hy Moses se liggaam weggeneem het.—Deuteronomium 34:5, 6.
Henog het 365 jaar lank gelewe—nie naastenby so lank soos die meeste van sy tydgenote nie. Maar wat vir liefhebbers van Jehovah belangrik is, is dat hulle hom tot aan die einde van hulle dae getrou dien. Ons weet Henog het dit gedoen, want “voor sy wegvoering het hy die getuienis gehad dat hy vir God welbehaaglik was”. Die Skrif sê nie hoe Jehovah dit aan Henog oorgedra het nie. Hoe dit ook al sy, voordat Henog gesterf het, is hy van God se goedkeuring verseker, en ons kan seker wees dat Jehovah hom in die opstanding sal onthou.
Volg Henog se geloof na
Ons kan gepas die geloof van godvrugtige mense navolg (Hebreërs 13:7). Deur geloof het Henog as die eerste getroue profeet van God gedien. Die wêreld van Henog se dag was soos ons dag—gewelddadig, onheilig en goddeloos. Maar Henog was anders. Hy het ware geloof gehad en was voorbeeldig in godvrugtige toegewydheid. Ja, Jehovah het hom ’n gewigtige oordeelsboodskap gegee om bekend te maak, maar hy het hom ook versterk om dit te verkondig. Henog het sy opdrag moedig uitgevoer, en ondanks teenstand deur vyande het God na hom omgesien.
As ons soos Henog geloof beoefen, sal Jehovah ons versterk om sy boodskap in hierdie laaste dae bekend te maak. Hy sal ons help om teenstand moedig die hoof te bied, en ons godvrugtige toegewydheid sal maak dat ons grootliks van die goddeloses verskil. Geloof sal dit vir ons moontlik maak om met God te wandel en ons so te gedra dat dit sy hart verbly (Spreuke 27:11). Deur geloof het die regverdige Henog daarin geslaag om in ’n goddelose wêreld met Jehovah te wandel, en ons kan ook.
[Venster op bladsy 30]
Haal die Bybel uit die boek Henog aan?
Die boek Henog is ’n apokriewe en pseudepigrafiese geskrif. Dit word valslik aan Henog toegeskryf. Dit is waarskynlik êrens gedurende die tweede en eerste eeu v.G.J. geskryf en is ’n versameling vergesogte en onhistoriese Joodse mites, klaarblyklik die resultaat van verklarende uitweidings oor die vlugtige verwysing na Henog in Genesis. Dit alleen is genoeg rede vir liefhebbers van God se geïnspireerde Woord om dit te verwerp.
In die Bybel bevat slegs die boek Judas Henog se profetiese woorde: “Kyk! Jehovah het met sy heilige miriades gekom, om aan almal oordeel te voltrek en om al die goddeloses skuldig te bevind aan al hulle goddelose dade wat hulle op ’n goddelose wyse gedoen het en aan al die skokkende dinge wat goddelose sondaars teen hom gespreek het” (Judas 14, 15). Talle geleerdes voer aan dat Henog se profesie teen sy goddelose tydgenote regstreeks uit die boek Henog aangehaal is. Is dit moontlik dat Judas ’n onbetroubare apokriewe boek as sy bron gebruik het?
Hoe Judas van Henog se profesie geweet het, word nie in die Skrif geopenbaar nie. Dalk het hy bloot ’n algemene bron aangehaal, ’n betroubare oorlewering uit die gryse verlede. Paulus het blykbaar iets soortgelyks gedoen toe hy Jannes en Jambres by name genoem het as die andersins anonieme towenaars aan Farao se hof wat Moses teëgestaan het. As die skrywer van die boek Henog toegang tot so ’n eertydse bron gehad het, waarom dan nie ook Judas nie? a—Exodus 7:11, 22; 2 Timoteus 3:8.
Hoe Judas die inligting oor Henog se boodskap aan die goddeloses gekry het, is nie werklik van belang nie. Die feit dat Judas onder Goddelike inspirasie geskryf het, getuig van die betroubaarheid daarvan (2 Timoteus 3:16). God se heilige gees het gekeer dat hy enigiets sê wat nie waar is nie.
[Voetnoot]
a Die dissipel Stefanus het ook inligting verskaf wat nêrens in die Hebreeuse Geskrifte voorkom nie. Dit het betrekking gehad op Moses se Egiptiese opvoeding, asook die feit dat hy 40 jaar oud was toe hy uit Egipte gevlug het, dat hy 40 jaar lank in Midian gebly het en dat ’n engel ’n rol daarin gespeel het om die Mosaïese Wet oor te dra.—Handelinge 7:22, 23, 30, 38.
[Prent op bladsy 31]
Henog het Jehovah se boodskap moedig oorgedra