Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Alle ware Christene is evangeliedienaars

Alle ware Christene is evangeliedienaars

Alle ware Christene is evangeliedienaars

“Sing tot Jehovah, loof sy naam. Verkondig van dag tot dag die goeie nuus van redding deur hom.”—PSALM 96:2NW.

1. Watter goeie nuus moet mense hoor, en hoe het Jehovah se Getuies die voorbeeld daarin gestel om hierdie nuus te versprei?

 IN ’N wêreld waar rampe elke dag plaasvind, is dit werklik vertroostend om te weet dat oorlog, misdaad, honger en onderdrukking binnekort iets van die verlede sal wees, soos die Bybel beloof (Psalm 46:9, NW; 72:3, 7, 8, 12, 16). Is dit nie beslis goeie nuus wat almal moet hoor nie? Jehovah se Getuies dink so. Hulle is oral daarvoor bekend dat hulle “goeie nuus van iets beters” verkondig (Jesaja 52:7, NW). Baie Getuies is weliswaar al vervolg weens hulle vasbeslotenheid om die goeie nuus te verkondig. Maar hulle dra mense se belange op die hart. En watter goeie rekord van ywer en volharding het die Getuies tog opgebou!

2. Wat is een rede vir die ywer van Jehovah se Getuies?

2 Die ywer wat Jehovah se Getuies vandag aan die dag lê, kom ooreen met dié van die Christene van die eerste eeu. Die Rooms-Katolieke koerant L’Osservatore Romano het tereg van hulle gesê: “Die eerste Christene het, onmiddellik nadat hulle gedoop is, gevoel dat dit hulle plig is om die Evangelie te verkondig. Slawe het die Evangelie mondelings oorgedra.” Waarom is Jehovah se Getuies so ywerig, net soos daardie vroeë Christene was? Eerstens, omdat die goeie nuus wat hulle verkondig, van Jehovah God self kom. Kan daar ’n beter rede vir ywer wees? Hulle predikingswerk is in reaksie op die woorde van die psalmis: “Sing tot Jehovah, loof sy naam. Verkondig van dag tot dag die goeie nuus van redding deur hom.”—Psalm 96:2NW.

3. (a) Wat is ’n tweede rede vir die ywer van Jehovah se Getuies? (b) Wat behels “redding deur [God]”?

3 Die psalmis se woorde herinner ons aan ’n tweede rede vir die ywer van Jehovah se Getuies. Hulle verkondig ’n boodskap van redding. Party mense verrig werk op mediese, maatskaplike, ekonomiese of ander gebiede om die lewe van hulle medemens te verbeter, en sulke strewes is prysenswaardig. Maar enigiets wat een mens vir ’n ander kan doen, is baie beperk in vergelyking met “redding deur [God]”. Deur middel van Jesus Christus sal Jehovah die sagmoediges van sonde, siekte en die dood red. Diegene wat hierby baat vind, sal vir ewig lewe! (Johannes 3:16, 36; Openbaring 21:3, 4). Vandag is redding een van die “wonderlike werke” wat Christene verkondig wanneer hulle gehoor gee aan dié woorde: “Maak onder die nasies [God se] heerlikheid bekend, onder al die volke sy wonderlike werke. Want Jehovah is groot en baie lofwaardig. Hy is vreesinboesemend bo alle ander gode.”—Psalm 96:3, 4NW.

Die Heer se voorbeeld

4-6. (a) Om watter derde rede is Jehovah se Getuies ywerig? (b) Hoe het Jesus ywer vir die verkondiging van die goeie nuus aan die dag gelê?

4 Jehovah se Getuies is ywerig om ’n derde rede. Hulle volg die voorbeeld van Jesus Christus na (1 Petrus 2:21). Daardie volmaakte man het die toewysing “om goeie nuus aan die sagmoediges te verkondig”, heelhartig aanvaar (Jesaja 61:1, NW; Lukas 4:17-21). Hy het dus ’n evangeliedienaar, ’n verkondiger van goeie nuus, geword. Hy het deur die hele Galilea en Judea gereis en “die goeie nuus van die koninkryk verkondig” (Matteus 4:23). En omdat hy geweet het dat baie gunstig sou reageer op daardie goeie nuus, het hy vir sy dissipels gesê: “Die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dus die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur.”—Matteus 9:37, 38.

5 In ooreenstemming met sy eie gebed het Jesus ander opgelei om evangeliedienaars te wees. Mettertyd het hy sy apostels op hulle eie uitgestuur en vir hulle gesê: “Terwyl julle gaan, preek en sê: ‘Die koninkryk van die hemele het naby gekom.’” Sou dit meer prakties gewees het as hulle programme georganiseer het om die maatskaplike probleme van hulle dag te verlig? Of moes hulle by die politiek betrokke geraak het om die wydverspreide korrupsie van hulle tyd te bestry? Nee. Jesus het eerder die standaard vir alle Christenevangeliedienaars gestel toe hy vir sy volgelinge gesê het: “Terwyl julle gaan, preek.”—Matteus 10:5-7.

6 Later het Jesus ’n ander groep dissipels uitgestuur om aan te kondig: “Die koninkryk van God het naby . . . gekom.” Toe hulle terugkeer om verslag te doen oor die sukses van hulle evangelisasiereis, was Jesus verheug. Hy het gebid: “Ek loof u in die openbaar, Vader, Here van hemel en aarde, omdat u hierdie dinge sorgvuldig vir die wyses en intellektuele verberg het en dit aan klein kindertjies geopenbaar het” (Lukas 10:1, 8, 9, 21). Jesus se dissipels, wat voorheen hardwerkende vissermanne, boere, ensovoorts was, was soos klein kindertjies in vergelyking met die hooggeleerde godsdiensleiers van die volk. Maar die dissipels was opgelei om die allerbeste goeie nuus te verkondig.

7. Aan wie het Jesus se volgelinge eers die goeie nuus verkondig nadat hy na die hemel opgevaar het?

7 Nadat Jesus na die hemel opgevaar het, het sy volgelinge voortgegaan om die goeie nuus van redding bekend te maak (Handelinge 2:21, 38-40). Vir wie het hulle eers gepreek? Het hulle na die nasies gegaan wat God nie geken het nie? Nee, aan die begin was hulle veld Israel, ’n volk wat Jehovah meer as 1 500 jaar lank geken het. Het hulle die reg gehad om in ’n land te preek waar mense Jehovah reeds aanbid het? Ja. Jesus het vir hulle gesê: “Julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:8). Israel moes die goeie nuus hoor net soos enige ander nasie.

8. Hoe volg Jehovah se Getuies vandag die voorbeeld van Jesus se eerste-eeuse volgelinge na?

8 Net so ook preek Jehovah se Getuies vandag oor die hele aarde. Hulle werk saam met die engel wat deur Johannes gesien is en wat “ewige goeie nuus gehad [het] om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, en aan elke nasie en stam en taal en volk” (Openbaring 14:6). In die jaar 2001 was hulle bedrywig in 235 lande en gebiede, waarvan party oor die algemeen as Christenlande beskou word. Is dit verkeerd van Jehovah se Getuies om op plekke te preek waar die Christendom reeds kerke het? Party sê dit is en beskou dalk selfs sulke evangelisasiewerk as “skape steel”. Maar Jehovah se Getuies onthou hoe Jesus oor die nederige Jode van sy dag gevoel het. Hoewel hulle reeds ’n priesterdom gehad het, het Jesus nie geaarsel om aan hulle die goeie nuus bekend te maak nie. Hy het “medelye vir hulle gevoel, want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matteus 9:36). Moet Jehovah se Getuies, wanneer hulle nederige mense vind wat nie weet van Jehovah en sy Koninkryk nie, die goeie nuus van sulke mense weerhou omdat ’n sekere godsdiens beweer dat dié mense aan hulle behoort? In navolging van die voorbeeld van Jesus se apostels antwoord ons nee. Die goeie nuus moet “in al die nasies”, sonder enige uitsondering, verkondig word.—Markus 13:10.

Alle vroeë Christene was evangeliedienaars

9. Wie in die eerste-eeuse Christengemeente het aan die predikingswerk deelgeneem?

9 Wie het in die eerste eeu aan die predikingswerk deelgeneem? Die feite toon dat alle Christene evangeliedienaars was. Die skrywer W. S. Williams sê: “Die algemene getuienis is dat alle Christene in die oorspronklike Kerk . . . die evangelie verkondig het.” Aangaande gebeure op Pinksterdag 33 G.J. sê die Bybel: “Hulle is almal [mans en vroue] met heilige gees vervul en het in ander tale begin praat, net soos die gees aan hulle gegee het om te spreek.” Evangeliedienaars het mans en vroue, oud en jonk, slawe en vrygeborenes ingesluit (Handelinge 1:14; 2:1, 4, 17, 18; Joël 2:28, 29; Galasiërs 3:28). Toe talle Christene weens vervolging uit Jerusalem moes vlug, het ‘dié wat verstrooi is, deur die land gegaan en die goeie nuus van die woord bekend gemaak’ (Handelinge 8:4). Almal “wat verstrooi is”, nie net ’n paar aangesteldes nie, het die evangelie verkondig.

10. Watter tweevoudige opdrag is voor die vernietiging van die Joodse stelsel uitgevoer?

10 Dit was die geval dwarsdeur daardie vroeë jare. Jesus het voorspel: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). In die eerste-eeuse vervulling van daardie woorde is die goeie nuus oral verkondig voordat Romeinse leërs die Joodse godsdiens- en politieke stelsel vernietig het (Kolossense 1:23). Verder het al Jesus se volgelinge sy bevel gehoorsaam: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Die vroeë Christene het nie sagmoediges aangespoor om in Jesus te glo en hulle dan op hulle eie gelaat soos party hedendaagse predikers doen nie. Hulle het hulle eerder geleer om dissipels van Jesus te word, hulle in gemeentes georganiseer en hulle opgelei sodat hulle dan weer die goeie nuus kon verkondig en dissipels kon maak (Handelinge 14:21-23). Jehovah se Getuies volg vandag hierdie selfde patroon.

11. Wie verkondig vandag die allerbeste goeie nuus aan die mensdom?

11 ’n Aantal Getuies van Jehovah het die eerste-eeuse voorbeelde van Paulus, Barnabas en ander gevolg en as sendelinge na ander lande gegaan. Hulle het werklik ’n baie nuttige werk verrig, aangesien hulle nie by die politiek betrokke geraak het of op ander maniere afgewyk het van die opdrag om die goeie nuus te verkondig nie. Hulle het eenvoudig die opdrag van Jesus gehoorsaam: “Terwyl julle gaan, preek.” Maar die meeste Getuies van Jehovah dien nie as sendelinge in ander lande nie. Baie van hulle doen sekulêre werk om ’n bestaan te maak, en ander is nog op skool. Party maak kinders groot. Maar alle Getuies verkondig aan ander die goeie nuus wat hulle geleer het. Oud en jonk, man en vrou, gee met blydskap gehoor aan die Bybel se aansporing: “Verkondig die woord, bly dringend daarmee besig in gunstige tye, in moeilike tye” (2 Timoteus 4:2). Soos hulle eerste-eeuse voorgangers gaan hulle “sonder ophou [voort] om te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak” (Handelinge 5:42). Hulle verkondig die allerbeste goeie nuus aan die mensdom.

Proselitisme of evangelisasie?

12. Wat is proselitisme, en hoe word dit deesdae beskou?

12 Die Griekse taal het die woord pro·se’ly·tos wat ’n “bekeerling” beteken. Hiervan het die Afrikaanse woord “proselitisme” gekom, wat basies beteken “om bekeerlinge te maak”. Deesdae sê sommige dat proselitisme skadelik is. ’n Dokument wat deur die Wêreldraad van Kerke uitgereik is, praat selfs van “die sonde van proselitisme”. Waarom? Die Catholic World Report sê: “Weens die nimmereindigende Ortodokse klagtes het ‘proselitisme’ die betekenis van gedwonge bekering aangeneem.”

13. Wat is ’n paar voorbeelde van skadelike proselitisme?

13 Is proselitisme skadelik? Dit kan wees. Jesus het gesê dat die proselitisme van die skrifgeleerdes en Fariseërs skadelik was vir die bekeerlinge wat hulle gemaak het (Matteus 23:15). “Gedwonge bekering” is beslis verkeerd. Toe die Makkabeër Johannes Hirkanus byvoorbeeld die Idumeërs onderwerp het, het hy, volgens die geskiedskrywer Josefus, “hulle toegelaat om in hulle land te bly mits hulle hulle laat besny het en bereid was om die wette van die Jode te onderhou”. As die Idumeërs onder Joodse heerskappy wou bly lewe, moes hulle die Joodse godsdiens beoefen. Geskiedskrywers vertel ons dat Karel die Grote die heidense Saksers van noordelike Europa gedurende die agtste eeu G.J. verower het en hulle met geweld gedwing het om hulle te bekeer. a Maar hoe opreg was die bekering van die Saksers of die Idumeërs? Hoe eg was die Idumese koning Herodes—wat die kindjie Jesus probeer doodmaak het—se toegewydheid aan die Goddelik geïnspireerde Wet van Moses byvoorbeeld?—Matteus 2:1-18.

14. Hoe oefen party van die Christendom se sendelinge druk op mense uit om hulle te bekeer?

14 Word bekerings vandag afgedwing? In sekere sin soms wel. Party sendelinge van die Christendom bied na bewering vir potensiële bekeerlinge oorsese studiebeurse aan. Of hulle sal ’n uitgehongerde vlugteling deur ’n hele preek laat sit om ’n bietjie kos te kry. Volgens ’n verklaring wat in 1992 deur ’n konvensie van Ortodokse Aartsbiskoppe uitgereik is, “vind proselitisme soms plaas deur materiële lokmiddele en soms deur verskeie vorme van geweld”.

15. Maak Jehovah se Getuies bekeerlinge volgens die hedendaagse betekenis van die woord proselitisme? Verduidelik.

15 Dit is verkeerd om druk op mense uit te oefen om van godsdiens te verander. Jehovah se Getuies doen dit beslis nie. b Hulle maak dus nie bekeerlinge volgens die hedendaagse betekenis van die woord proselitisme nie. Hulle verkondig eerder die goeie nuus aan almal, net soos die eerste-eeuse Christene gedoen het. Enigeen wat uit vrye wil daarop reageer, word genooi om deur middel van ’n Bybelstudie meer kennis in te neem. Hierdie belangstellendes leer om geloof, wat stewig op juiste Bybelkennis gegrond is, in God en sy voornemens te stel. Gevolglik roep hulle God se naam, Jehovah, aan vir redding (Romeine 10:13, 14, 17). Of hulle die goeie nuus aanneem of nie, is hulle eie besluit. Hulle word nie gedwing nie. As hulle gedwing word, sou bekering sinloos wees. Aanbidding is slegs aanneemlik vir God as dit uit die hart kom.—Deuteronomium 6:4, 5; 10:12.

Evangelisasie in ons tyd

16. Hoe het die evangelisasiewerk van Jehovah se Getuies in ons tyd uitgebrei?

16 In hedendaagse tye het Jehovah se Getuies die goeie nuus van die Koninkryk as deel van ’n groter vervulling van Matteus 24:14 verkondig. ’n Vername hulpmiddel in hulle evangelisasiewerk is Die Wagtoring. c In 1879, toe die eerste nommers van Die Wagtoring gedruk is, het die tydskrif ’n verspreiding van omtrent 6 000 in een taal gehad. In die jaar 2001, meer as 122 jaar later, het die verspreiding 23 042 000 eksemplare in 141 tale bereik. Daardie vermeerdering gaan gepaard met ’n ooreenstemmende uitbreiding van die evangelisasiewerk van Jehovah se Getuies. Vergelyk die paar duisend uur wat in die 19de eeu jaarliks aan die evangelisasiewerk bestee is, met die 1 169 082 225 uur wat in die jaar 2001 aan die predikingswerk gewy is. Dink aan die 4 921 702 gratis tuisbybelstudies wat daar gemiddeld elke maand gehou is. Dit is waarlik ’n ontsaglike hoeveelheid goeie werk wat verrig is! En dit is deur 6 117 666 bedrywige Koninkryksverkondigers gedoen.

17. (a) Watter soort valse gode word vandag aanbid? (b) Wat moet almal weet, ongeag wat hulle taal, nasionaliteit of sosiale status is?

17 Die psalmis sê: “Al die gode van die volke is waardelose gode; maar wat Jehovah betref, hy het die hemele gemaak” (Psalm 96:5, NW). In vandag se verwêreldlikte stelsel het nasionalisme, nasionale simbole, vooraanstaande mense, materiële dinge en selfs rykdom voorwerpe van aanbidding geword (Matteus 6:24; Efesiërs 5:5; Kolossense 3:5). Mohandas K. Gandhi het eenkeer gesê: “Ek is vas oortuig dat . . . Europa vandag slegs in naam Christelik is. Hulle aanbid in werklikheid Mammon [rykdom].” Feit is dat die goeie nuus oral gehoor moet word. Almal, ongeag wat hulle taal, nasionaliteit of sosiale status is, moet weet van Jehovah en sy voornemens. Ons wil graag hê dat almal aan hierdie woorde van die psalmis gehoor moet gee: “Skryf aan Jehovah heerlikheid en sterkte toe. Skryf aan Jehovah die heerlikheid toe wat sy naam toekom”! (Psalm 96:7, 8, NW). Jehovah se Getuies help ander om van Jehovah te leer sodat hulle tereg aan hom heerlikheid kan toeskryf. En dié wat gunstig reageer, geniet groot voordele. Watter voordele geniet hulle? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnote]

a Volgens The Catholic Encyclopedia is die gebruik om ’n godsdiens op ’n volk af te dwing gedurende die Hervorming met hierdie leuse beskryf: Cuius regio, illius et religio (Dit beteken basies: “Wie ook al oor die land heers, bepaal die godsdiens daarvan.”)

b Tydens ’n vergadering van die Verenigde Nasies se Internasionale Kommissie vir Godsdiensvryheid wat op 16 November 2000 gehou is, het ’n spreker ’n onderskeid getref tussen diegene wat bekerings afdwing en die werk wat Jehovah se Getuies doen. Volgens die kommentaar preek Jehovah se Getuies op so ’n manier vir ander dat iemand eenvoudig kan sê: “Ek stel nie belang nie” en die deur kan toemaak.

c Die volledige titel van die tydskrif is Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan.

Kan jy verduidelik?

• Waarom is Jehovah se Getuies ywerige evangeliedienaars?

• Waarom preek Jehovah se Getuies selfs waar die Christendom reeds kerke het?

• Waarom is Jehovah se Getuies nie proselietmakers volgens die hedendaagse betekenis van die woord nie?

• Hoe het die evangelisasiewerk van Jehovah se Getuies in ons tyd uitgebrei?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 9]

Jesus was ’n ywerige evangeliedienaar en het ander opgelei om dieselfde werk te doen

[Prent op bladsy 10]

Almal in die eerste-eeuse gemeente was evangeliedienaars

[Prent op bladsy 11]

Dit is verkeerd om mense te dwing om van godsdiens te verander