Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Skenk meer as die gewone aandag’

‘Skenk meer as die gewone aandag’

‘Skenk meer as die gewone aandag’

“Dit [is] nodig dat ons meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat ons gehoor het, sodat ons nooit sal wegdryf nie.”—HEBREËRS 2:1.

1. Lig toe hoe afleidings rampspoedige gevolge kan hê.

 MOTORONGELUKKE eis elke jaar ongeveer 37 000 lewens in die Verenigde State alleen. Kenners sê dat baie van hierdie sterftes vermy kan word as bestuurders hulle aandag meer op die pad bepaal. Party motoriste se aandag word afgetrek deur tekens en reklameborde of omdat hulle op hulle selfoon praat. Dan is daar ook diegene wat eet terwyl hulle bestuur. In al hierdie situasies kan afleidings rampspoedige gevolge hê.

2, 3. Watter raad het Paulus aan die Hebreeuse Christene gegee, en waarom was dit gepas?

2 Bykans 2 000 jaar voor die motor uitgevind is, het die apostel Paulus ’n soort afleiding geïdentifiseer wat vir sommige Hebreeuse Christene rampspoedig was. Paulus het beklemtoon dat die verrese Jesus Christus ’n hoër posisie as al die engele gegee is, aangesien hy aan die regterhand van God gaan sit het. Toe het die apostel gesê: “Daarom is dit nodig dat ons meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat ons gehoor het, sodat ons nooit sal wegdryf nie.”—Hebreërs 2:1.

3 Waarom moes die Hebreeuse Christene “meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat [hulle] gehoor het” aangaande Jesus? Omdat daar toe reeds byna 30 jaar verloop het sedert Jesus die aarde verlaat het. Noudat hulle Heer afwesig was, het party Hebreeuse Christene van die ware geloof af begin wegdryf. Hulle aandag is afgelei deur Judaïsme, hulle vorige vorm van aanbidding.

Hulle moes meer aandag skenk

4. Waarom sou party Hebreeuse Christene dalk na Judaïsme wou terugkeer?

4 Waarom sou ’n Christen dalk na Judaïsme wou terugkeer? Wel, die stelsel van aanbidding onder die Wet het tasbare dinge behels. Mense kon die priesters sien en die brandende offerandes ruik. In sekere opsigte was die Christelike geloof egter baie anders. Christene het ’n Hoëpriester, Jesus Christus, gehad, maar dit was drie dekades sedert hy laas op die aarde gesien is (Hebreërs 4:14). Hulle het ’n tempel gehad, maar die hemel self was die heiligdom daarvan (Hebreërs 9:24). In teenstelling met vleeslike besnydenis onder die Wet was Christelike besnydenis “dié van die hart deur gees” (Romeine 2:29). Gevolglik kon die Christelike geloof dalk vir die Hebreeuse Christene ietwat abstrak begin lyk het.

5. Hoe het Paulus getoon dat die stelsel van aanbidding wat deur Jesus ingestel is, verhewe was bo die stelsel onder die Wet?

5 Die Hebreeuse Christene moes iets baie belangriks besef omtrent die stelsel van aanbidding wat deur Christus ingestel is. Dit was meer op geloof as aanskouing gegrond, maar dit was verhewe bo die Wet wat deur die profeet Moses oorgedra is. “As die bloed van bokke en van bulle en die as van ’n vers wat gesprinkel word op dié wat verontreinig is, sodanig heilig dat die vlees rein word”, het Paulus geskryf, “hoeveel te meer sal dan die bloed van die Christus, wat homself deur ’n ewige gees sonder smet aan God geoffer het, ons gewetens van dooie werke reinig sodat ons heilige diens aan die lewende God kan verrig?” (Hebreërs 9:13, 14). Ja, die vergifnis wat deur geloof in die losprysoffer van Jesus Christus moontlik gemaak is, is in baie opsigte ver verhewe bo die vergifnis wat deur middel van offerandes onder die Wet verkry is.—Hebreërs 7:26-28.

6, 7. (a) Waarom was dit dringend dat die Hebreeuse Christene “meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat [hulle] gehoor het”? (b) Hoeveel tyd was daar nog oor vir Jerusalem toe Paulus sy brief aan die Hebreërs geskryf het? (Sien voetnoot.)

6 Daar was nog ’n rede waarom die Hebreeuse Christene noulettend aandag moes skenk aan die dinge wat hulle oor Jesus gehoor het. Hy het voorspel dat Jerusalem vernietig sou word. Jesus het gesê: “Die dae sal oor jou kom wanneer jou vyande ’n verskansing met spits pale rondom jou sal bou en jou sal omsingel en jou van alle kante in benoudheid sal bring, en hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter, en hulle sal in jou nie ’n klip op ’n klip laat nie, omdat jy nie die tyd waarin jy geïnspekteer is, onderskei het nie.”—Lukas 19:43, 44.

7 Wanneer sou dit gebeur? Jesus het nie gesê wat die dag en uur sou wees nie. Hy het eerder hierdie opdrag gegee: “Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby gekom het. Laat dié wat in Judea is, dan na die berge begin vlug, en laat dié wat in die stad is, uitgaan, en laat dié wat in die plattelandse plekke is, nie daar ingaan nie” (Lukas 21:20, 21). Gedurende die 30 jaar nadat Jesus hierdie woorde gespreek het, het party Christene in Jerusalem hulle gevoel van dringendheid verloor en is hulle aandag deur ander dinge afgelei. Hulle het as ’t ware nie meer op die pad gekonsentreer nie. As hulle sou versuim om hulle denke reg te stel, sou dit gewis tot rampspoed lei. Of hulle so gedink het of nie, Jerusalem se vernietiging was op hande! a Hopelik sou Paulus se woorde Christene in Jerusalem wat geestelik aan die slaap geraak het, maan om wakker te word.

Skenk vandag “meer as die gewone aandag”

8. Waarom moet ons “meer as die gewone aandag skenk” aan die waarhede van God se Woord?

8 Soos die eerste-eeuse Christene moet ons “meer as die gewone aandag skenk” aan die waarhede van God se Woord. Waarom? Omdat ons ook ’n naderende vernietiging in die gesig staar, nie net van een nasie nie, maar van ’n hele stelsel van dinge (Openbaring 11:18; 16:14, 16). Ons ken natuurlik nie die presiese dag en uur waarop Jehovah sal optree nie (Matteus 24:36). Ons sien nietemin hoe Bybelprofesieë vervul word wat duidelik toon dat ons in “die laaste dae” lewe (2 Timoteus 3:1-5). Daarom moet ons waak teen enigiets wat ons aandag kan aflei. Ons moet aandag skenk aan God se Woord en ’n intense gevoel van dringendheid behou. Slegs dan sal ons “daarin . . . slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur”.—Lukas 21:36.

9, 10. (a) Hoe kan ons toon dat ons aandag skenk aan geestelike dinge? (b) Hoe is God se woord ‘’n lamp vir ons voet’ en ‘’n lig vir ons pad’?

9 Hoe kan ons in hierdie betekenisvolle tye toon dat ons “meer as die gewone aandag” aan geestelike dinge skenk? Een manier is om Christelike vergaderinge en byeenkomste gereeld by te woon. Ons moet ook ywerige studente van die Bybel wees sodat ons nader aan Jehovah, die Outeur daarvan, kan kom (Jakobus 4:8). As ons deur middel van persoonlike studie en vergaderinge kennis van Jehovah inneem, sal ons soos die psalmis wees wat vir God gesê het: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.”—Psalm 119:105.

10 Die Bybel dien as ‘’n lig vir ons pad’ wanneer dit ons van God se voornemens vir die toekoms vertel. Dit is ook ‘’n lamp vir ons voet’. Met ander woorde, dit kan ons help om ons voetstappe te rig wanneer ons voor moeilike probleme in die lewe te staan kom. Daarom is dit noodsaaklik dat ons “meer as die gewone aandag skenk” wanneer ons saam met medegelowiges vergader om onderrig te word en wanneer ons persoonlik God se Woord lees. Die kennis wat ons inneem, sal ons help om verstandige en goeie besluite te neem wat Jehovah behaag en sy hart bly maak (Spreuke 27:11; Jesaja 48:17). Hoe kan ons ons konsentrasietyd tydens vergaderinge en persoonlike studiesessies verleng sodat ons die grootste voordeel uit God se geestelike voorsienings kan put?

Hoe om beter te konsentreer tydens vergaderinge

11. Waarom is dit soms moeilik om tydens Christelike vergaderinge aandag te skenk?

11 Dit is soms moeilik om tydens Christelike vergaderinge aandag te skenk. Ons gedagtes kan maklik afgelei word, miskien deur ’n huilende baba of ’n laatkommer wat ’n sitplek soek. Ná ’n lang dag by die werk is ons dalk eenvoudig te moeg. Dit is miskien nie die boeiendste spreker wat aan die woord is nie, en voor ons ons kom kry, is ons besig om te dagdroom—of dalk selfs in te sluimer! Omdat die inligting wat aangebied word, lewensbelangrik is, sal dit goed wees as ons ons konsentrasievermoë tydens vergaderinge verbeter. Maar hoe kan ons dit doen?

12. Wat kan dit vir ons makliker maak om tydens vergaderinge aandag te skenk?

12 Dit is gewoonlik makliker om tydens vergaderinge aandag te skenk as ons goed voorberei het. Sit dus gerus tyd opsy om vooraf na die materiaal te kyk wat bespreek gaan word. Dit neem net ’n paar minute elke dag om ’n deel van die weeklikse Bybellees te doen en daaroor te peins. Met ’n bietjie beplanning kan ons ook tyd vind om vir die Gemeentelike Boekstudie en die Wagtoring-studie voor te berei. Watter rooster ons ook al kies, een ding is seker: Voorbereiding sal ons help om aandag te skenk aan die materiaal wat by gemeentelike vergaderinge bespreek word.

13. Wat kan ons help om te konsentreer op die materiaal wat by vergaderinge bespreek word?

13 Party vind dat hulle nie net beter konsentreer by vergaderinge as hulle goed voorberei het nie, maar ook as hulle voorlangs in die Koninkryksaal sit. Nog maniere om te voorkom dat ons gedagtes dwaal, is om oogkontak met die spreker te behou, in die Bybel te volg wanneer ’n teks gelees word en aantekeninge te maak. Maar wat veel belangriker as enige spesifieke konsentrasietegniek is, is om ons hart voor te berei. Ons moet in gedagte hou waarom ons saam vergader. Ons kom hoofsaaklik met medegelowiges byeen om Jehovah te aanbid (Psalm 26:12; Lukas 2:36, 37). Vergaderinge is ’n belangrike manier waarop ons geestelik gevoed word (Matteus 24:45-47). Daarbenewens gee dit ons die geleentheid om ‘mekaar tot liefde en goeie werke aan te spoor’.—Hebreërs 10:24, 25.

14. Wat maak ’n vergadering werklik ’n sukses?

14 Party meet dalk die gehalte van ’n vergadering aan die onderrigvermoëns van die sprekers. As die sprekers baie bekwaam is, meen ons miskien dat dit ’n goeie vergadering was. Maar as hulle nie sulke bekwame onderrigters is nie, voel ons dalk anders daaroor. Diegene op die program moet weliswaar hulle bes doen om die onderrigkuns toe te pas en veral om harte te bereik (1 Timoteus 4:16). Maar ons wat daarna luister, moet nie oorkrities wees nie. Hoewel die onderrigvermoëns van sprekers belangrik is, is dit nie die enigste faktor wat tot die sukses van ’n vergadering bydra nie. Sou jy nie saamstem dat die hoofsaak nie moet wees hoe goed die spreker sy toespraak hou nie, maar hoe goed ons luister? Wanneer ons vergaderinge bywoon en aandag skenk aan die materiaal wat bespreek word, aanbid ons God in ooreenstemming met sy wil. Dít is wat die vergadering ’n sukses maak. As ons gretig is om kennis van God in te neem, sal ons by vergaderinge baat vind, ongeag ’n spreker se vermoëns (Spreuke 2:1-5). Laat ons dan vasbeslote wees om “meer as die gewone aandag [te] skenk” tydens ons vergaderinge.

Vind ten volle baat by persoonlike studie

15. Hoe kan ons baat vind by studie en bepeinsing?

15 Ons vind grootliks daarby baat as ons “meer as die gewone aandag skenk” wanneer ons persoonlike studie doen en bepeins. As ons die Bybel en Christelike publikasies lees en daaroor nadink, sal dit ons kosbare geleenthede bied om die waarhede van God se Woord in ons hart te laat insink. Dít weer sal ’n diepgaande uitwerking op ons denke en dade hê. Trouens, dit sal ons help om behae daarin te skep om Jehovah se wil te doen (Psalm 1:2; 40:8). Ons moet dus ons konsentrasievermoëns ontwikkel sodat ons dit goed kan gebruik wanneer ons studeer. Ons aandag kan so maklik afgelei word! Geringe onderbrekings—’n telefoonoproep of ’n skielike lawaai kan ons konsentrasie verbreek. Of ons sukkel dalk oor die algemeen om lank te konsentreer. Ons gaan sit moontlik met die goeie voornemens om geestelike voedsel in te neem, maar kort voor lank begin ons gedagtes dwaal. Hoe kan ons “meer as die gewone aandag skenk” wanneer ons persoonlike studie van God se Woord doen?

16. (a) Waarom is dit belangrik dat ons tyd opsy sit vir persoonlike studie? (b) Hoe het jy tyd ingeruim om God se Woord te bestudeer?

16 Dit sal goed wees as ons ’n rooster opstel en êrens studeer waar ons die beste sal kan konsentreer. Die meeste van ons vind dat ons tyd en privaatheid beperk is. Dit voel dalk vir ons of die lewe so gejaag is dat ons eenvoudig meegesleur word soos ’n takkie in ’n snelvloeiende stroom. Ons moet as ’t ware beur om uit die stroom te kom en ’n eiland van kalmte probeer bereik. Ons kan nie maar net sit en wag dat ’n geleentheid om te studeer, hom voordoen nie. Ons moet eerder daadwerklik optree en tyd inruim vir studie (Efesiërs 5:15, 16). Party sit ’n tydjie in die oggend opsy wanneer daar dalk minder afleidings is. Ander vind weer dat die aand vir hulle ’n beter tyd is. Die punt is dat ons nooit uit die oog moet verloor hoe noodsaaklik dit is om juiste kennis van God en sy Seun in te neem nie (Johannes 17:3). Laat ons derhalwe tyd opsy sit vir persoonlike studie en dan by daardie rooster bly.

17. Wat is bepeinsing, en hoe kan ons daarby baat vind?

17 Bepeinsing—die proses om na te dink oor wat ons deur middel van studie geleer het—is van onskatbare waarde. Dit help ons om God se gedagtes van die gedrukte bladsy af na ons hart oor te dra. Bepeinsing help ons om te sien hoe ons Bybelraad kan toepas sodat ons “daders van die woord [kan word] en nie net hoorders” nie (Jakobus 1:22-25). Bowendien help bepeinsing ons om al hoe nader aan Jehovah te kom, want dit laat ons nadink oor sy eienskappe en hoe dit na vore kom in die materiaal wat ons tydens studiesessies bestudeer.

18. Watter omstandighede is nodig vir doeltreffende bepeinsing?

18 As ons ten volle by studie en bepeinsing wil baat vind, moet daar niks wees wat ons aandag kan aflei nie. Ons moet ons van die afleidings van die daaglikse lewe afsluit sodat ons nuwe inligting kan inneem wanneer ons peins. Dit vereis dat ons tyd inruim en ons afsonder. Maar hoe verkwikkend is dit tog om geestelike voedsel en die waters van waarheid in te neem wat in God se Woord gevind word!

19. (a) Wat het sommige gehelp om hulle konsentrasievermoëns te verbeter wanneer hulle persoonlike studie doen? (b) Wat moet ons gesindheid teenoor studie wees, en watter voordele kan ons uit hierdie belangrike bedrywigheid put?

19 Maar gestel ons sukkel om lank te konsentreer en ons gedagtes begin dwaal ná net ’n kort rukkie. Party het gevind dat hulle hulle konsentrasievermoëns kan verbeter deur eers met kort studiesessies te begin en dit dan geleidelik te verleng. Ons doelwit moet wees om ons te verdiep in ons studie en nie daardeur te jaag nie. Ons moet ’n lewendige belangstelling ontwikkel in die onderwerp wat ons bestudeer. En ons kan verdere navorsing doen met behulp van die oorvloed materiaal wat deur die “getroue en verstandige slaaf”-klas voorsien word. Dit het groot waarde om “die diep dinge van God” te ondersoek (1 Korintiërs 2:10). As ons dit doen, verbreed ons ons kennis van God en ontwikkel ons ons waarnemingsvermoëns (Hebreërs 5:14). As ons ywerige studente van God se Woord is, sal ons ook “voldoende bekwaam . . . wees om ander te leer”.—2 Timoteus 2:2.

20. Hoe kan ons ’n intieme verhouding met Jehovah God ontwikkel en behou?

20 As ons Christelike vergaderinge bywoon en persoonlike studie doen, sal dit ons baie help om ’n intieme verhouding met Jehovah te ontwikkel en te behou. Dit was klaarblyklik die geval met die psalmis wat vir God gesê het: “Hoe lief het ek u wet tog! Die hele dag oordink ek dit” (Psalm 119:97). Laat ons dan alles in ons vermoë doen om vergaderinge en byeenkomste gereeld by te woon. En laat ons tyd uitkoop vir Bybelstudie en bepeinsing. Ons sal ryklik beloon word omdat ons op hierdie maniere “meer as die gewone aandag” aan God se Woord skenk.

[Voetnoot]

a Die brief aan die Hebreërs is waarskynlik in 61 G.J. geskryf. Indien wel, was dit net sowat vyf jaar later dat Jerusalem deur die leërkampe van Cestius Gallus omsingel is. Kort daarna het hierdie leërs teruggetrek, en waaksame Christene kon toe vlug. Vier jaar later is die stad deur die Romeinse leërs onder generaal Titus vernietig.

Onthou jy?

• Waarom het party Hebreeuse Christene van die ware geloof af begin wegdryf?

• Hoe kan ons noukeurig aandag skenk tydens Christelike vergaderinge?

• Wat sal ons help om baat te vind by persoonlike Bybelstudie en bepeinsing?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 11]

Hebreeuse Christene moes Jerusalem se naderende vernietiging goed in gedagte hou

[Prent op bladsy 13]

Ouers kan hulle kinders help om by Christelike vergaderinge baat te vind