Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jy ‘ryk teenoor God’?

Is jy ‘ryk teenoor God’?

Is jy ‘ryk teenoor God’?

“So gaan dit met die mens wat vir homself skatte vergaar, maar nie ryk is teenoor God nie.”—LUKAS 12:21.

1, 2. (a) Waarvoor was mense nog altyd bereid om groot opofferings te maak? (b) Voor watter uitdaging en gevaar kom Christene te staan?

 SKATTEJAG is nie net ’n speletjie wat kinders graag speel nie; dit is ook ’n werklike drama wat hom herhaaldelik in baie eeue en samelewings afgespeel het. Byvoorbeeld, die goudstormloop van die 19de eeu in Australië, Suid-Afrika, Kanada en die Verenigde State het mense van heinde en ver gelok wat bereid was om hulle tuiste en geliefdes agter te laat om in ’n vreemde, soms onherbergsame, land na ’n fortuin te gaan soek. Ja, talle mense is bereid om baie groot risiko’s te loop en geweldige opofferings te maak om die rykdom te verkry wat hulle hart begeer.

2 Hoewel die meeste mense vandag nie aan ’n letterlike skattejag deelneem nie, moet hulle hard werk om ’n bestaan te maak. In die huidige stelsel van dinge kan dit ’n moeilike, veeleisende en moeisame taak wees. Dit is maklik om so besorg te raak oor voedsel, klere en huisvesting dat die belangriker dinge verwaarloos of selfs vergeet word (Romeine 14:17). Jesus het ’n illustrasie, of gelykenis, gegee wat hierdie menslike neiging baie goed beskryf het. Dit word gevind in Lukas 12:16-21.

3. Gee ’n kort opsomming van Jesus se illustrasie wat in Lukas 12:16-21 opgeteken is.

3 Jesus het die illustrasie gegee by dieselfde geleentheid toe hy gepraat het oor die belangrikheid daarvan om teen hebsug te waak, wat ons in die vorige artikel taamlik breedvoerig bespreek het. Nadat Jesus teen hebsug gewaarsku het, het hy van ’n ryk man gepraat wat nie tevrede is met die voorraadskure vol goeie dinge wat hy reeds het nie, maar dit afbreek en groteres bou om meer goeie dinge te vergaar. Net toe hy dink dat hy kan ontspan en ’n goeie lewe kan geniet, sê God vir hom dat sy lewe gaan eindig en dat al die goeie dinge wat die man opgegaar het, na iemand anders toe sal gaan. Toe het Jesus hierdie slotopmerking gemaak: “So gaan dit met die mens wat vir homself skatte vergaar, maar nie ryk is teenoor God nie” (Lukas 12:21). Watter les kan ons uit hierdie gelykenis leer? Hoe kan ons die les op ons eie lewe toepas?

’n Man met ’n probleem

4. Watter soort man kan ons sê, is in Jesus se gelykenis uitgebeeld?

4 Die illustrasie wat Jesus gegee het, is redelik bekend. Ons let op dat Jesus die verhaal ingelei het deur bloot te sê: “Die land van ’n sekere ryk man het ’n goeie opbrengs gelewer.” Jesus het nie gesê dat die man sy rykdom op die een of ander slinkse of onwettige manier verkry het nie. Met ander woorde, hy is nie as ’n slegte man uitgebeeld nie. Trouens, na aanleiding van Jesus se woorde is dit redelik om te dink dat die man wat in die gelykenis uitgebeeld word, hard gewerk het. Ons kan ten minste aflei dat hy ’n man was wat vir die toekoms beplan en gespaar het, dalk met sy gesin se welsyn in gedagte. Uit ’n sekulêre oogpunt kan hy dus beskou word as iemand wat ’n hardwerkende man voorstel wat sy verpligtinge ernstig opgeneem het.

5. Met watter probleem het die man in Jesus se gelykenis te kampe?

5 Hoe dit ook al sy, Jesus het die man in die gelykenis ’n ryk man genoem, iemand wat dus reeds ’n oorvloed materiële dinge besit het. Maar soos Jesus verduidelik het, het die ryk man ’n probleem gehad. Sy land het ’n baie groter opbrengs gelewer as wat hy verwag het, baie meer as wat hy nodig gehad het of kon behartig. Wat moes hy gedoen het?

6. Voor watter keuses kom baie van God se knegte vandag te staan?

6 Baie van Jehovah se knegte kom vandag voor situasies te staan wat baie ooreenkom met dié van die ryk man. Ware Christene streef daarna om eerlike, vlytige en pligsgetroue werkers te wees (Kolossense 3:22, 23). Of hulle vir iemand anders werk of hulle eie besigheid het, hulle vaar dikwels goed, hulle munt selfs uit in wat hulle doen. Wanneer hulle bevordering aangebied word of nuwe geleenthede ontstaan, moet hulle ’n besluit neem. Moet hulle die bevordering aanvaar of hulle besigheid uitbrei? Talle jong Getuies doen eweneens goed op skool. Gevolglik word hulle dalk toekennings of beurse aangebied om verder te studeer aan toonaangewende instellings. Moet hulle eenvoudig aanvaar wat hulle aangebied word?

7. Wat het die man in Jesus se gelykenis omtrent sy probleem gedoen?

7 Om terug te keer na Jesus se illustrasie: Wat het die ryk man gedoen toe sy land so ’n goeie opbrengs gelewer het dat hy nêrens gehad het om sy oes te berg nie? Hy het besluit om die voorraadskure wat hy gehad het, af te breek en groteres te bou om al die ekstra graan en goeie dinge te berg. Daardie plan het hom klaarblyklik so veilig en tevrede laat voel dat hy by homself gedink het: “Ek sal vir my siel sê: ‘Siel, jy het talle goeie dinge wat vir baie jare weggesit is; ontspan, eet, drink, wees vrolik.’”—Lukas 12:19.

Waarom ‘onredelik’?

8. Watter noodsaaklike faktor het die man in Jesus se gelykenis oor die hoof gesien?

8 Soos Jesus getoon het, het die ryk man se plan egter net ’n valse gevoel van veiligheid gebied. Hoewel dit dalk prakties gelyk het, het dit een noodsaaklike faktor buite rekening gelaat—God se wil. Die man het net aan homself gedink, hoe hy sou kon ontspan, eet, drink en vrolik wees. Hy het gedink dat hy ook “baie jare” sou hê, aangesien hy “talle goeie dinge” het. Maar ongelukkig vir hom het dinge nie so uitgewerk nie. Dit is net soos Jesus vroeër gesê het: “Selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie” (Lukas 12:15). Daardie einste nag het alles waarvoor die man gewerk het, tot ’n skielike einde gekom, want God het vir hom gesê: “Onredelike mens, vannag eis hulle jou siel van jou op. Wie gaan dan die dinge kry wat jy opgegaar het?”—Lukas 12:20.

9. Waarom is die man in die gelykenis onredelik genoem?

9 Nou kom ons by die hoofpunt van Jesus se illustrasie. God het die man onredelik genoem. Die Exegetical Dictionary of the New Testament verduidelik dat vorme van die Griekse woord wat gebruik is, “altyd op ’n gebrek aan begrip dui”. Dit meld dat God in hierdie gelykenis die woord gebruik om “die sinloosheid van die rykes se toekomsplanne” bloot te lê. Die woord verwys nie na iemand met ’n gebrek aan intelligensie nie, maar na “iemand wat weier om afhanklikheid van God te erken”. Jesus se beskrywing van die ryk man laat ons dink aan wat hy later vir die Christene in die eerste-eeuse gemeente in Laodisea, Klein-Asië, gesê het: “Jy sê: ‘Ek is ryk en het rykdom verwerf en het hoegenaamd niks nodig nie’, maar jy . . . weet [nie] dat jy ellendig en bejammerenswaardig en arm en blind en naak is nie.”—Openbaring 3:17.

10. Waarom is die besit van “talle goeie dinge” geen versekering dat ’n mens “baie jare” sal hê nie?

10 Dit sal verstandig van ons wees om die les ter harte te neem. Is ons dalk soos die man in die gelykenis—werk ons baie hard om seker te maak dat ons “talle goeie dinge” sal hê, maar versuim ons om te doen wat nodig is om die vooruitsig van “baie jare” te hê? (Johannes 3:16; 17:3). Die Bybel sê: “Waardevolle dinge sal geen voordeel bring op die dag van grimmigheid nie”, en “wie op sy rykdom vertrou—hy sal val” (Spreuke 11:4, 28). Daarom het Jesus hierdie laaste vermaning by die gelykenis gevoeg: “So gaan dit met die mens wat vir homself skatte vergaar, maar nie ryk is teenoor God nie.”—Lukas 12:21.

11. Waarom is dit nutteloos om materiële besittings jou hoop en bron van sekuriteit te maak?

11 Toe Jesus gesê het “so gaan dit”, het hy daarop gewys dat wat met die ryk man in die illustrasie gebeur het, ook met dié sal gebeur wat hulle lewe—hulle hoop en hulle sekuriteit—uitsluitlik op materiële besittings bou. Die fout is nie soseer ‘om vir jouself skatte te vergaar nie’, maar eerder om te versuim om ‘ryk teenoor God’ te wees. Die dissipel Jakobus het ’n soortgelyke waarskuwing gerig toe hy geskryf het: “Kom nou, julle wat sê: ‘Vandag of môre sal ons na dié stad reis en ’n jaar daar deurbring, en ons sal sake doen en wins maak’, terwyl julle nie weet wat julle lewe môre sal wees nie.” Wat moet hulle doen? “Julle behoort eerder te sê: ‘As Jehovah wil, sal ons lewe en ook dit of dat doen’” (Jakobus 4:13-15). Ongeag hoe ryk iemand is of hoeveel besittings hy het, dit sal alles nutteloos wees tensy hy ryk is teenoor God. Wat beteken dit dan om ryk te wees teenoor God?

Om ryk te wees teenoor God

12. Wat sal ons ryk maak teenoor God?

12 In Jesus se stelling vind ons ’n kontras tussen die gedagte om ryk teenoor God te wees en om materiële skatte vir jouself op te gaar, oftewel om jouself materieel te verryk. Jesus het dus gesê dat die opgaar van materiële rykdom of die genieting van wat ons besit, nie die hoofsaak in ons lewe moet wees nie. Ons moet eerder ons middele op so ’n manier gebruik dat dit ons verhouding met Jehovah verryk, of versterk. As ons dit doen, sal dit ons beslis ryk maak teenoor God. Waarom? Want dit maak dit moontlik om baie seëninge van hom te ontvang. Die Bybel sê vir ons: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie.”—Spreuke 10:22.

13. Hoe “maak” Jehovah se seën “ryk”?

13 Wanneer Jehovah seëninge op sy volk uitstort, gee hy hulle altyd die beste (Jakobus 1:17). Toe Jehovah byvoorbeeld vir die Israeliete ’n woonplek gegee het, was dit “’n land wat oorloop van melk en heuning”. Hoewel die land Egipte ook so beskryf is, het die land wat Jehovah vir die Israeliete gegee het, in ten minste een belangrike opsig verskil. Dit was “’n land waarvoor Jehovah jou God sorg”, het Moses vir die Israeliete gesê. Met ander woorde, hulle sou voorspoedig wees omdat Jehovah na hulle sou omsien. Solank die Israeliete getrou aan Jehovah gebly het, het hy hulle ryklik geseën en het hulle ’n lewenswyse geniet wat opvallend beter was as dié van al die nasies om hulle. Ja, Jehovah se seën “maak ryk”!—Numeri 16:13; Deuteronomium 4:5-8; 11:8-15.

14. Wat geniet diegene wat ryk is teenoor God?

14 Die uitdrukking ‘ryk teenoor God’ word ook weergegee met “ryk in God se oë” (The New Testament in Modern English, deur J. B. Phillips). Diegene wat materieel ryk is, is gewoonlik besorg oor hoe hulle in ander se oë lyk. Dit word dikwels weerspieël in hulle lewenswyse. Hulle wil mense beïndruk met wat die Bybel “die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” noem (1 Johannes 2:16). Daarenteen geniet diegene wat ryk is teenoor God, God se goedkeuring, guns en onverdiende goedhartigheid in oorvloed en het hulle ’n hartlike verhouding met hom. Om in so ’n kosbare verhouding te wees, gee hulle beslis ’n gevoel van welsyn en veiligheid, meer as wat enige materiële rykdom kan bied (Jesaja 40:11). Die vraag wat oorbly, is: Wat moet ons doen om ryk te wees in God se oë?

Ryk in God se oë

15. Wat moet ons doen om ryk te wees teenoor God?

15 In Jesus se illustrasie het die man planne gemaak en hard gewerk om homself te verryk, en hy is onredelik genoem. Om ryk teenoor God te wees, moet ons dus daarna streef om hard te werk en ’n volle aandeel te hê aan die bedrywighede wat in God se oë werklik waardevol en die moeite werd is. Een hiervan is wat Jesus beveel het: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies” (Matteus 28:19). As ons ons tyd, energie en talente gebruik, nie om onsself te bevoordeel nie, maar in die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk, is dit soos om ’n belegging te maak. Diegene wat dit gedoen het, is geestelik ryklik beloon, soos die volgende ondervindinge toon.—Spreuke 19:17.

16, 17. Watter ondervindinge kan jy vertel om te toon watter lewenswyse ’n mens ryk in God se oë maak?

16 Neem die voorbeeld van ’n Christenman in ’n land in die Ooste. Hy het ’n goed betaalde werk as ’n rekenaartegnikus gehad. Maar sy werk het feitlik al sy tyd in beslag geneem en hom geestelik uitgemergel laat voel. Uiteindelik het hy, in plaas van in sy werk te probeer vooruitgang maak, bedank en roomys begin maak en dit op straat verkoop sodat hy meer tyd sou hê om na sy geestelike behoeftes en verantwoordelikhede om te sien. Sy voormalige werksmaats het hom gespot, maar hoe het sake vir hom verloop? “Om die waarheid te sê, ek het finansieel beter gevaar as toe ek met rekenaars gewerk het”, het hy gesê. “Dit het my gelukkiger gemaak omdat ek nie die spanning en bekommernis van my vorige werk gehad het nie. En nog belangriker, ek voel nou nader aan Jehovah.” Die verandering het hierdie Christen in staat gestel om die voltydse bediening te betree, en hy dien nou by die takkantoor van Jehovah se Getuies in sy land. Ja, Jehovah se seën “maak ryk”.

17 Nog ’n voorbeeld is dié van ’n vrou wat in ’n gesin grootgeword het wat groot waarde aan geleerdheid geheg het. Sy het aan universiteite in Frankryk, Mexiko en Switserland gestudeer, en ’n belowende loopbaan het op haar gewag. “Sukses het my toegelag; aansien en voorregte het my vergesel”, het sy gesê, “maar binne-in my was daar ’n leemte, ’n diepe onvergenoegdheid.” Toe het sy van Jehovah geleer. Sy het gesê: “Namate ek geestelike vooruitgang gemaak het, het my begeerte om Jehovah te behaag en iets terug te gee van wat hy my gegee het, my gehelp om duidelik te sien watter weg ek moes inslaan—om hom voltyds te dien.” Sy het uit haar pos bedank en is kort daarna gedoop. Sy dien al die afgelope 20 jaar vreugdevol in die voltydse bediening. “Sommige mense dink dat ek my talente verkwis het”, sê sy, “maar hulle besef dat ek gelukkig is, en hulle bewonder die beginsels waarvolgens ek lewe. Ek bid elke dag tot Jehovah om my te help om nederig te wees sodat ek sy goedkeuring kan geniet.”

18. Hoe kan ons, soos Paulus, ryk wees teenoor God?

18 Saulus, wat die apostel Paulus geword het, het ’n belowende loopbaan voor hom gehad. Tog het hy later geskryf: “Ek beskou alles ook inderdaad as verlies weens die oortreffende waarde van die kennis van Christus Jesus, my Here” (Filippense 3:7, 8). Vir Paulus het die rykdom wat hy deur Christus verkry het, alles oortref wat die wêreld kon aanbied. Deur eweneens enige selfsugtige strewes te laat vaar en ’n lewe van godvrugtige toegewydheid na te streef, kan ons ook ’n lewe geniet wat ryk is in God se oë. God se Woord verseker ons: “Die gevolg van nederigheid en die vrees van Jehovah is rykdom en heerlikheid en die lewe.”—Spreuke 22:4.

Kan jy verduidelik?

• Watter probleem het die man in Jesus se illustrasie gehad?

• Waarom is die man in die gelykenis onredelik genoem?

• Wat beteken dit om ryk te wees teenoor God?

• Hoe kan ons ryk word teenoor God?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 26]

Waarom is die ryk man onredelik genoem?

[Prent op bladsy 27]

Hoe kan geleenthede vir vooruitgang ’n ware toets word?

[Prent op bladsy 28, 29]

“Die seën van Jehovah—dit maak ryk”