Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Behou jou vreugde in moeilike tye

Behou jou vreugde in moeilike tye

Behou jou vreugde in moeilike tye

“Almal wat hulle toevlug tot [Jehovah] neem, sal bly wees; tot onbepaalde tyd sal hulle met vreugde uitroep.”—PS. 5:11.

1, 2. (a) Wat is van die dinge wat vandag groot benoudheid veroorsaak? (b) Wat moet ware Christene verduur benewens die ellendes waarvoor alle mense te staan kom?

 JEHOVAH SE GETUIES is nie immuun teen die ellendes waarvoor die mensdom oor die algemeen te staan kom nie. Baie van God se knegte was al slagoffers van misdaad, oorlog en ander onregte. Natuurrampe, armoede, siekte en die dood veroorsaak groot benoudheid. Die apostel Paulus het gepas geskryf: “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly” (Rom. 8:22). Ons is ook slagoffers van ons eie onvolmaaktheid. Soos koning Dawid van die ou tyd sê ons dalk: “My eie oortredings het oor my hoof gegaan; soos ’n swaar vrag is hulle vir my te swaar.”—Ps. 38:4.

2 Benewens die ellendes waarvoor alle mense te staan kom, dra ware Christene ook ’n figuurlike folterpaal (Luk. 14:27). Ja, soos Jesus, word sy dissipels gehaat en vervolg (Matt. 10:22, 23; Joh. 15:20; 16:2). Daarom verg dit kragtige inspanning en volharding om die Christus te volg terwyl ons wag op die seëninge van die nuwe wêreld.—Matt. 7:13, 14; Luk. 13:24.

3. Hoe weet ons dat Christene nie ’n lewe vol lyding hoef te verduur om God te behaag nie?

3 Beteken dit dat ware Christene ’n lewe sonder enige vreugde en geluk lei? Moet ons lewe slegs gekenmerk word deur hartseer en droefheid totdat die einde kom? Dit is duidelik dat Jehovah wil hê dat ons gelukkig moet wees terwyl ons op die vervulling van sy beloftes wag. Keer op keer beskryf die Bybel ware aanbidders as gelukkige mense. (Lees Jesaja 65:13, 14.) “Almal wat hulle toevlug tot [Jehovah] neem, sal bly wees; tot onbepaalde tyd sal hulle met vreugde uitroep”, sê Psalm 5:11. Ja, dit is moontlik om groot vreugde, gemoedsrus en tevredenheid te ervaar, selfs te midde van ellendes. Kom ons kyk hoe die Bybel ons kan help om ons beproewinge te verduur en nog steeds vreugdevol te wees.

Jehovah—“Die gelukkige God”

4. Hoe voel God wanneer sy wil geïgnoreer word?

4 Dink byvoorbeeld aan Jehovah. As God die Almagtige het hy die ganse heelal onder sy gesag. Hy het geen gebrek aan enigiets en het niemand nodig nie. Maar ten spyte van sy onoortreflike krag was Jehovah beslis teleurgesteld toe een van sy geesseuns in opstand gekom en Satan geword het. Dit het God ongetwyfeld diep seergemaak toe van die ander engele later by die opstand aangesluit het. Dink ook aan die pyn wat God ervaar het toe Adam en Eva, die meesterstukke van sy fisiese skepping, hom die rug toegekeer het. Sedertdien het duisendmiljoene van hulle afstammelinge Jehovah se gesag verwerp.—Rom. 3:23.

5. Wat is baie ontstellend vir Jehovah?

5 Satan se opstand is nog steeds in volle gang. Jehovah aanskou al omtrent 6 000 jaar lank dade van afgodediens, geweld, moord en seksuele verdorwenheid (Gen. 6:5, 6, 11, 12). Daarbenewens het hy veragtelike leuens en laster gehoor. Selfs God se ware aanbidders het al partykeer sy gevoelens seergemaak. Die Bybel beskryf een van hierdie situasies soos volg: “Hoe dikwels het hulle in die wildernis teen hom in opstand gekom, het hulle hom in die woestyn gekrenk! En keer op keer het hulle God op die proef gestel, en hulle het die Heilige van Israel bedroef” (Ps. 78:40, 41). Die pyn wat Jehovah ervaar wanneer sy knegte hom verwerp, is beslis groot (Jer. 3:1-10). Dit ly geen twyfel dat slegte dinge gebeur nie, en dit is vir Jehovah baie ontstellend wanneer dit gebeur.—Lees Jesaja 63:9, 10.

6. Hoe bied God ontstellende situasies die hoof?

6 Maar Jehovah word nie verlam deur gekrenkte gevoelens en teleurstelling nie. Wanneer komplikasies ontstaan het, het Jehovah onmiddellik opgetree om die slegte gevolge van wat gebeur het, te beperk. Hy het ook langtermynmaatreëls getref sodat sy voorneme uiteindelik verwesenlik sal word. Weens hierdie positiewe dade sien Jehovah met vreugde uit na die regverdiging van sy soewereiniteit en die gevolglike seëninge vir sy lojale aanbidders (Ps. 104:31). Ja, ondanks die oneer wat Jehovah aangedoen is, bly hy “die gelukkige God”.—1 Tim. 1:11; Ps. 16:11.

7, 8. Hoe kan ons Jehovah navolg wanneer dinge skeef loop?

7 Ons kan ons weliswaar nie met Jehovah vergelyk wanneer dit kom by ons vermoë om probleme op te los nie. Maar ons kan Jehovah navolg wanneer ons met teëspoed te kampe het. Dit is net normaal om terneergedruk te voel wanneer dinge skeef loop, maar ons hoef nie in so ’n gemoedstemming te bly nie. Omdat ons na Jehovah se beeld geskep is, het ons denkvermoë en praktiese wysheid, wat ons in staat stel om ons probleme te ontleed en positiewe stappe te doen wanneer dit ook al moontlik is.

8 ’n Belangrike faktor wat ons kan help om die lewe se probleme die hoof te bied, is die besef dat sekere dinge eenvoudig buite ons beheer is. As ons ons oor sulke sake verknies, kan dit tot verdere frustrasie lei en ons beroof van die talle vreugdes wat met ware aanbidding gepaardgaan. Nadat ons redelike stappe gedoen het om ’n probleem op te los, is dit die beste om met ons lewe aan te gaan en ons aandag op produktiewer strewes te vestig. Die volgende Bybelverslae lig hierdie punt goed toe.

Redelikheid is noodsaaklik

9. Hoe het Hanna redelikheid aan die dag gelê?

9 Dink aan die voorbeeld van Hanna, wat uiteindelik die moeder van die profeet Samuel geword het. Sy was mismoedig oor die feit dat sy nie kinders kon voortbring nie. Sy is bespot en getreiter oor haar onvrugbaarheid. Soms was Hanna so moedeloos dat sy gehuil het en nie geëet het nie (1 Sam. 1:2-7). Gedurende een van haar besoeke aan Jehovah se heiligdom het Hanna “bitter van siel [geword], en sy het tot Jehovah begin bid en baie gehuil” (1 Sam. 1:10). Nadat Hanna haar hart voor Jehovah uitgestort het, het die hoëpriester Eli haar genader en gesê: “Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou versoek toestaan wat jy van hom gevra het” (1 Sam. 1:17). Op hierdie stadium het Hanna sekerlik besef dat sy alles gedoen het wat sy kon. Haar onvrugbaarheid was buite haar beheer. Hanna het redelikheid aan die dag gelê. Sy het toe “weggegaan en geëet, en haar gesig het nie meer besorgdheid oor haar situasie getoon nie”.—1 Sam. 1:18.

10. Watter realistiese beskouing het Paulus gehad toe hy voor ’n probleem te staan gekom het wat hy nie kon oplos nie?

10 Die apostel Paulus het ’n soortgelyke beskouing gehad toe hy met teëspoed te kampe gehad het. Hy het ’n kwaal gehad wat vir hom ’n groot beproewing was. Hy het dit “’n doring in die vlees” genoem (2 Kor. 12:7). Wat dit ook al was, Paulus het gedoen wat hy kon om hierdie beproewing uit die weg te ruim en het tot Jehovah gebid vir verligting. Hoe dikwels het Paulus Jehovah oor hierdie saak gesmeek? Drie keer. Ná die derde keer het God aan Paulus geopenbaar dat die “doring in die vlees” nie wonderdadig verwyder sou word nie. Paulus het dit aanvaar en hom daarop toegespits om Jehovah ten volle te dien.—Lees 2 Korintiërs 12:8-10.

11. Hoe help gebed en smekinge ons om teëspoed die hoof te bied?

11 Hierdie voorbeelde beteken nie dat ons moet ophou om tot Jehovah te bid oor dinge wat ons ontstel nie (Ps. 86:7). Inteendeel, God se Woord versoek ons: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word.” Hoe sal Jehovah op sulke smekinge en versoeke reageer? Die Bybel voeg by: “En die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Fil. 4:6, 7). Ja, Jehovah sal dalk nie ons probleem wegneem nie, maar hy kan ons gebede verhoor deur ons verstandelike vermoëns te bewaak. Nadat ons oor ’n saak gebid het, besef ons dalk hoe gevaarlik dit is om deur angstigheid oorweldig te word.

Skep behae daarin om God se wil te doen

12. Waarom kan dit skadelik wees om vir lang periodes mismoedig te wees?

12 Spreuke 24:10 erken: “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees.” ’n Ander spreuk sê: “Weens die pyn van die hart is daar ’n verslae gees” (Spr. 15:13). Party Christene het so mismoedig geword dat hulle opgehou het om hulle persoonlike Bybellees te doen en om oor God se Woord te peins. Hulle gebede het oppervlakkig geword, en hulle sonder hulle dalk af van medeaanbidders. Om in ’n mismoedige toestand te bly, kan ongetwyfeld skadelik wees.—Spr. 18:1, 14.

13. Wat is ’n paar bedrywighede wat ons kan help om ontmoediging te verdryf en ons ’n mate van vreugde kan verskaf?

13 Aan die ander kant sal ’n positiewe uitkyk ons help om ons aandag te vestig op aspekte van ons lewe waaruit ons genot en vreugde kan put. Dawid het geskryf: “Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen” (Ps. 40:8). Wanneer dinge skeef loop in ons lewe, moet ons allermins ophou om ons heilsame roetine van aanbidding te volg. Trouens, die teenmiddel vir hartseer is om aan bedrywighede deel te neem wat vreugde verskaf. Jehovah sê vir ons dat ons genot en vreugde daaruit kan put om sy Woord te lees en gereeld diep daarin te kyk (Ps. 1:1, 2; Jak. 1:25). Uit die Heilige Skrif sowel as by Christelike vergaderinge ontvang ons “aangename woorde” wat ons kan opbeur en ons hart kan bly maak.—Spr. 12:25; 16:24.

14. Watter versekering van Jehovah verskaf ons nou vreugde?

14 God gee ons baie redes om vreugdevol te wees. Sy belofte van redding is inderdaad ’n groot bron van vreugde (Ps. 13:5). Ons weet dat God, ongeag wat nou met ons gebeur, uiteindelik dié sal beloon wat hom ernstig soek. (Lees Prediker 8:12.) Die profeet Habakuk het hierdie oortuiging pragtig uitgedruk toe hy geskryf het: “Al bloei die vyeboom nie en is daar geen opbrengs aan die wingerdstokke nie, al loop die werk van die olyfboom op ’n mislukking uit en bring die terrasse geen voedsel voort nie, al word die kleinvee van die kraal afgesny en is daar geen beeste in die kampe nie—nogtans sal ek my in Jehovah verheug; ek sal bly wees in die God van my redding.”—Hab. 3:17, 18.

“Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!”

15, 16. Noem ’n paar van God se gawes wat ons kan geniet terwyl ons op toekomstige seëninge wag.

15 Terwyl ons wag op die wonderlike toekoms wat vir ons voorlê, is dit Jehovah se wil dat ons die goeie dinge geniet wat hy ons gee. Die Bybel sê: “Ek het te wete gekom dat daar vir [die mensdom] niks beters is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe; en ook dat elke mens eet en inderdaad drink en die goeie sien vir al sy harde werk. Dit is die gawe van God” (Pred. 3:12, 13). “Om goed te doen” sluit in om goeie dade vir ander te verrig. Jesus het gesê dat dit groter geluk verskaf om te gee as om te ontvang. Dade van goedhartigheid teenoor ons huweliksmaat, kinders, ouers en ander familielede lei tot diep bevrediging (Spr. 3:27). As ons teer, gasvry en vergewensgesind teenoor ons geestelike broers en susters is, bring dit ook groot vreugde mee, en dit behaag Jehovah (Gal. 6:10; Kol. 3:12-14; 1 Pet. 4:8, 9). En as ons ons bediening met ’n selfopofferende gees uitvoer, is dit waarlik bevredigend.

16 Die woorde wat hierbo uit Prediker aangehaal word, noem eenvoudige genietinge in die lewe, soos om te eet en te drink. Ja, selfs terwyl ons beproewinge deurmaak, kan ons vreugde put uit enige materiële gawes wat ons van Jehovah ontvang. Wat meer is, dit kos ons niks om na ’n asemrowende sonsondergang, ’n majestueuse landskap, die manewales van jong diertjies en ander natuurwonders te kyk nie, en tog kan dit ons met ontsag vervul en ons vreugde verskaf. Wanneer ons oor sulke dinge nadink, neem ons liefde vir Jehovah toe, want hy is die Gewer van alle goeie dinge.

17. Wat sal vir ons algehele verligting van probleme meebring, en wat vertroos ons intussen?

17 Uiteindelik sal ons liefde vir God, gehoorsaamheid aan sy gebooie en geloof in die losprysoffer vir ons blywende vreugde meebring, asook algehele verligting van die ellendes wat met onvolmaakte lewe gepaardgaan (1 Joh. 5:3). Intussen put ons vertroosting uit die wete dat Jehovah deeglik bewus is van alles wat ons teister. Dawid het geskryf: “Ek sal bly wees en my in u liefderyke goedhartigheid verbly, omdat u my ellende gesien het; u het geweet van die benoudhede van my siel” (Ps. 31:7). Jehovah se liefde vir ons sal hom beweeg om ons uit rampspoed te red.—Ps. 34:19.

18. Waarom moet vreugde oorheersend wees onder God se volk?

18 Mag ons Jehovah, die gelukkige God, navolg terwyl ons wag op die vervulling van sy beloftes. Mag ons nooit geestelik verlam word deur negatiewe gevoelens nie. Mag denkvermoë en praktiese wysheid ons lei wanneer probleme ontstaan. Jehovah sal ons help om ons emosies te beheers en om te doen wat ons ook al kan om die slegte gevolge van rampspoedige gebeure te beperk. Laat ons genot put uit die goeie dinge, fisies sowel as geestelik, wat van hom af kom. As ons na aan God bly, sal ons vreugdevol kan wees, want “gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!”—Ps. 144:15.

Wat het jy geleer?

• Hoe kan ons Jehovah navolg wanneer ons met teëspoed te kampe het?

• Hoe kan redelikheid ons help om teëspoed die hoof te bied?

• Hoe kan ons in tye van benoudheid vreugde daaruit put om God se wil te doen?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 16]

Die slegte dinge wat gebeur, ontstel Jehovah

[Erkenning]

© G.M.B. Akash/Panos Pictures

[Prente op bladsy 18]

Jehovah het dit vir ons moontlik gemaak om ons vreugde te behou