Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dankbaar dat ek Jehovah kan dien, selfs tydens beproewinge

Dankbaar dat ek Jehovah kan dien, selfs tydens beproewinge

Dankbaar dat ek Jehovah kan dien, selfs tydens beproewinge

Soos vertel deur Maatje de Jonge-van den Heuvel

EK IS 98 jaar oud. Gedurende 70 van hierdie jare het ek die vreugde gehad om Jehovah te dien—maar nie sonder dat my geloof beproef is nie. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is ek in ’n konsentrasiekamp aangehou, waar ek op ’n stadium so mismoedig was dat ek ’n besluit geneem het waaroor ek later spyt was. ’n Paar jaar later het ek voor nog ’n baie moeilike beproewing te staan gekom. Ek is nogtans dankbaar teenoor Jehovah dat ek die voorreg gehad het om hom te dien, selfs tydens beproewinge.

My lewe het in Oktober 1940 verander. Ek het in Hilversum, ’n dorp ongeveer 24 kilometer suidoos van Amsterdam in Nederland, gewoon. Die land was onder Nazi-bewind. Ek was toe al vyf jaar lank getroud met Jaap de Jonge, ’n liefdevolle man, en ons het ’n dierbare driejarige dogtertjie met die naam Willy gehad. Ons het langs ’n arm gesin gewoon wat gesukkel het om hulle agt kinders kos te gee. Tog het hulle ook aan ’n jong man wat by hulle ingewoon het, huisvesting en maaltye voorsien. ‘Waarom sou hulle hierdie bykomende las op hulle neem?’ het ek gewonder. Toe ek vir hulle kos neem, het ek uitgevind dat die jong man ’n pionier is. Hy het my vertel van God se Koninkryk en die seëninge wat dit sal meebring. Ek is diep geraak deur wat ek geleer het, en ek het gou die waarheid aangeneem. Daardie selfde jaar het ek my aan Jehovah toegewy en my laat doop. ’n Jaar ná my doop het my man ook sy standpunt vir die waarheid ingeneem.

Al het ek min Bybelkennis gehad, het ek heeltemal verstaan dat ek, toe ek ’n Getuie geword het, deel geword het van ’n organisasie wat verban is. Ek het ook geweet dat baie Getuies al tronk toe gestuur is omdat hulle die Koninkryksboodskap verkondig het. Ek het nogtans dadelik begin om van huis tot huis te preek, en ek en my man het ons huis oopgestel vir pioniers en reisende opsieners om daar te bly. Ons huis het ook ’n bergplek geword vir Bybellektuur, wat broers en susters van Amsterdam by ons afgelewer het. Hulle swaar afleweringsfietse was vol boeke gelaai, wat hulle met seil toegemaak het. Watter liefde en moed het hierdie koeriers tog aan die dag gelê! Hulle het hulle lewe vir hulle broers gewaag.—1 Joh. 3:16.

“Sal Mammie gou terugkom?”

Ongeveer ses maande ná my doop het drie polisiebeamptes by ons deur opgedaag. Hulle het ingekom en die huis deursoek. Hulle het nie die kas vol lektuur gevind nie, maar hulle het wel ’n paar boeke gevind wat onder ons bed versteek was. Hulle het my dadelik beveel om hulle na die polisiestasie in Hilversum te volg. Toe ek my dogter teen my vasdruk om haar te groet, het Willy gevra: “Sal Mammie gou terugkom?” “Ja, skatjie”, het ek gesê, “Mammie sal gou huis toe kom.” Maar 18 moeilike maande het verbygaan voordat ek haar weer in my arms kon hou.

’n Polisiebeampte het my per trein na Amsterdam geneem vir ondervraging. Die ondervraers het my probeer dwing om drie broers van Hilversum as Jehovah se Getuies uit te wys. Ek het gesê: “Ek ken hulle nie, behalwe een. Hy is ons melkman.” En dit was waar; daardie broer het melk afgelewer. “Maar julle moet hom vra of hy een van Jehovah se Getuies is”, het ek bygevoeg, “nie vir my nie.” Toe ek weier om enigiets anders te sê, het hulle my in die gesig geslaan en my in ’n sel opgesluit, waar hulle my vir twee maande gelos het. Toe my man uitvind waar ek is, kon hy vir my kos en klere bring. In Augustus 1941 is ek toe na Ravensbrück gestuur—’n berugte konsentrasiekamp vir vroue sowat 80 kilometer noord van Berlyn, Duitsland.

“Skep moed, hartjie”

Met ons aankoms is daar vir ons gesê dat ons huis toe kan gaan as ons ’n verklaring onderteken waarin ons ons geloof verloën. Maar ek het dit natuurlik nie geteken nie. Daarom moes ek my besittings oorhandig en kaal uittrek in ’n waskamer, waar ek ’n paar Christensusters van Nederland ontmoet het. Ons is kampklere gegee waarop ’n pers driehoek vasgewerk is, en ons het ook ’n bord, ’n beker en ’n lepel ontvang. Die eerste nag is ons in ’n oorgangskaserne aangehou. Daar het ek vir die eerste keer nadat ek in hegtenis geneem is, in trane uitgebars. “Wat gaan gebeur? Hoe lank sal ek hier bly?” het ek gesnik. Om eerlik te wees, op daardie tydstip was my verhouding met Jehovah nog nie baie sterk nie, want ek het die waarheid maar net ’n paar maande geken. Ek het nog soveel gehad om te leer. Terwyl ons name die volgende dag afgelees is, het ’n Nederlandse suster blykbaar agtergekom dat ek hartseer is. Sy het gesê: “Skep moed, hartjie, skep moed! Watter kwaad kan hulle ons tog aandoen?”

Nadat ons name afgelees is, is ons na ’n ander kaserne geneem, waar honderde Christensusters van Duitsland en Nederland ons verwelkom het. Party van die Duitse susters het reeds meer as ’n jaar lank in daardie kaserne gebly. Hulle geselskap het my versterk—ja, dit het my laat moed skep. Ek was ook beïndruk omdat die kaserne waar ons susters gebly het, baie skoner as ander kasernes in die kamp was. Behalwe dat ons kaserne skoon was, was dit ook bekend as ’n plek waar daar glad nie gesteel, gevloek of baklei is nie. In teenstelling met die wrede toestande waaronder ons in die kamp geleef het, was ons kaserne soos ’n skoon eiland wat deur ’n vuil see omring is.

Daaglikse lewe in die kamp

Die kamplewe het bestaan uit baie werk en baie min kos. Ons moes vyfuur in die oggend opstaan, en kort daarna is ons name afgelees. Die wagte het ons sowat ’n uur lank buite laat staan, of die weer nou goed of sleg was. Vyfuur in die middag, ná ’n dag se harde arbeid, is hierdie roetine herhaal. Daarna het ons ’n bietjie sop en brood geëet en gaan slaap—heeltemal uitgeput.

Elke dag behalwe Sondag is ek werk gegee op plase, waar ek koring met ’n sens gemaai, waterslote dieper gemaak en varkhokke skoongemaak het. Al was dit swaar en vuil werk, kon ek dit dag ná dag doen, want ek was nog jonk en redelik sterk. Ek het my ook versterk deur liedere met ’n Bybelboodskap te sing terwyl ek werk. Maar ek het elke dag na my man en kind verlang.

Ons het baie min kos gekry, maar ons het elke dag ’n stukkie brood probeer spaar sodat ons Sondae iets ekstra sou hê wanneer ons bymekaargekom het om Bybelonderwerpe te bespreek. Ons het geen Bybellektuur gehad nie, maar ek het gretig na die ouer, getroue Duitse susters geluister terwyl hulle geestelike sake bespreek het. Ons het selfs die Herdenking van Christus se dood gehou.

Mismoedigheid, spyt en aanmoediging

Soms is ons beveel om werk te doen wat die oorlogspoging van die Nazi’s regstreeks ondersteun het. Omdat ons polities neutraal is, het al die susters geweier om daardie werk te doen, en ek het hulle moedige voorbeeld gevolg. As straf het ons dae lank nie kos gekry nie en moes ons ure lank staan terwyl ons name afgelees is. Ons is eenkeer gedurende die winter vir 40 dae in ’n kaserne sonder verhitting opgesluit.

Daar is oor en oor vir ons as Jehovah se Getuies gesê dat ons vrygelaat sal word en huis toe kan gaan as ons ’n verklaring onderteken waarin ons ons geloof verloën. Nadat ek langer as ’n jaar in Ravensbrück was, het ek baie mismoedig geword. Ek wou my man en dogter so graag sien dat ek na die wagte toe gegaan het, gevra het vir die vorm met die verklaring dat ek nie meer ’n Bybelstudent sal wees nie en dit geteken het.

Toe die susters uitvind wat ek gedoen het, het party my begin vermy. Maar twee bejaarde Duitse susters, Hedwig en Gertrud, het na my toe gekom en my van hulle liefde verseker. Terwyl ons saam in die varkhokke gewerk het, het hulle vriendelik aan my verduidelik hoe belangrik dit is om ons onkreukbaarheid teenoor Jehovah te handhaaf en dat ons ons liefde vir hom toon deur nie ons geloof prys te gee nie. Hulle moederlike besorgdheid en tere geneentheid het my diep geraak. a Ek het geweet dat wat ek gedoen het, nie reg was nie, en ek wou my verklaring ongeldig maak. Een aand het ek ’n suster vertel van my besluit om dit te doen. ’n Kampbeampte het seker ons gesprek gehoor, want dieselfde aand is ek skielik uit die kamp vrygelaat en per trein na Nederland toe teruggestuur. Een van die toesighouers—ek kan haar gesig nog onthou—het vir my gesê: “Jy is nog steeds ’n Bibelforscher (Bybelstudent) en jy sal altyd een wees.” Ek het geantwoord: “Ja, ek sal, as dit Jehovah se wil is.” Maar ek het aanhou dink: ‘Hoe kan ek daardie verklaring ongeldig maak?’

Een van die punte in die verklaring het gesê: “Ek bevestig hiermee dat ek nooit weer aan die bedrywighede van die Internasionale Bybelstudente-vereniging sal deelneem nie.” Ek het geweet wat om te doen! In Januarie 1943, kort nadat ek by die huis gekom het, het ek weer aan die predikingswerk begin deelneem. As ek ’n tweede keer deur die Nazi-owerheid gevang sou word terwyl ek oor God se Koninkryk preek, sou ek natuurlik baie swaar gestraf word.

Ek wou meer doen om aan Jehovah te toon dat ek baie graag ’n lojale kneg wil wees, en daarom het ek en my man ons huis weer oopgestel vir die koeriers en reisende opsieners om daar te bly. Hoe dankbaar was ek tog omdat ek nog ’n geleentheid gekry het om my liefde vir Jehovah en sy volk te toon!

’n Pynlike beproewing

’n Paar maande voor die einde van die oorlog het ek en my man voor ’n pynlike beproewing te staan gekom. In Oktober 1944 het ons dogter skielik siek geword. Willy het witseerkeel gehad. Haar toestand het vinnig versleg, en sy het drie dae later gesterf. Sy was net sewe jaar oud.

Die verlies van ons enigste kind was ’n verpletterende slag. Om die waarheid te sê, die beproewinge waarvoor ek in Ravensbrück te staan gekom het, was niks in vergelyking met die pyn wat ek verduur het toe ons ons kind verloor het nie. Maar in tye van benoudheid het ons altyd vertroosting geput uit die woorde in Psalm 16:8: “Ek het Jehovah voortdurend voor my gestel. Omdat hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie.” Ek en my man het vaste vertroue in Jehovah se belofte van die opstanding gehad. Ons het in die waarheid volhard en was altyd ywerige verkondigers van die goeie nuus. My man het my tot sy dood in 1969 werklik gehelp om Jehovah met dankbaarheid te dien.

Seëninge en vreugdes

Gedurende die afgelope dekades was noue omgang met voltydse knegte nog altyd ’n groot bron van vreugde. Soos gedurende die oorlog was ons huis altyd beskikbaar as blyplek vir reisende opsieners en hulle vrouens wanneer hulle ons gemeente besoek het. Een egpaar in die reisende werk, Maarten en Nel Kaptein, het selfs 13 jaar lank in ons huis gewoon! Toe Nel ongeneeslik siek geword het, het ek die voorreg gehad om haar drie maande lank in ons huis te versorg tot haar dood. My omgang met hulle en met die dierbare plaaslike broers en susters het my gehelp om die geestelike paradys te geniet waarin ons nou lewe.

Een van die hoogtepunte in my lewe was ’n uitnodiging in 1995 om ’n herdenking in Ravensbrück by te woon. Ek het susters daar ontmoet wat saam met my in die kamp was en wat ek meer as 50 jaar lank nie gesien het nie! Om saam met hulle te wees, was ’n onvergeetlike en hartverblydende ondervinding en ’n goeie geleentheid om mekaar aan te moedig om uit te sien na die dag wanneer ons geliefdes wat gesterf het, weer sal lewe.

Die apostel Paulus sê in Romeine 15:4 dat “ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê”. Ek dank Jehovah vir hierdie hoop, wat dit vir my moontlik gemaak het om hom met dankbaarheid te dien, selfs tydens beproewinge.

[Voetnoot]

a Destyds, toe daar geen verbinding met die hoofkantoor was nie, het broers sake in verband met neutraliteit na die beste van hulle vermoë behartig. Gevolglik het die manier waarop individue daarop gereageer het, effens verskil.

[Prent op bladsy 10]

Saam met Jaap, 1930

[Prent op bladsy 10]

Ons dogter, Willy, toe sy sewe was

[Prent op bladsy 12]

In 1995 het ek ’n hartverblydende reünie bygewoon. Ek is in die eerste ry, tweede van links