Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dink na oor wat Jehovah vir jou gedoen het

Dink na oor wat Jehovah vir jou gedoen het

Dink na oor wat Jehovah vir jou gedoen het

KORT nadat Jesus opgewek is, het twee van sy dissipels van Jerusalem af na Emmaus geloop. “Terwyl hulle gepraat en gedagtes gewissel het”, sê Lukas se Evangelieverslag, “het Jesus self nader gekom en saam met hulle begin loop; maar hulle oë is verhinder om hom te herken.” Toe het Jesus vir hulle gesê: “‘Watter sake is dit wat julle so druk met mekaar loop en bespreek?’ En hulle het met droewige gesigte gaan staan.” Waarom was hulle bedroef? Die dissipels was onder die indruk dat Jesus op daardie tydstip Israel van nie-Joodse oorheersing sou verlos, maar dit het nie gebeur nie. In plaas daarvan is Jesus doodgemaak. Dit is waarom hulle hartseer was.—Luk. 24:15-21; Hand. 1:6.

Jesus het met die dissipels begin redeneer. “Hy het by Moses en al die Profete begin en vir hulle dinge in die hele Skrif uitgelê wat op hom betrekking het.” Ja, talle betekenisvolle en geloofversterkende gebeure het gedurende Jesus se bediening plaasgevind! Terwyl die dissipels na Jesus se verduideliking geluister het, het hulle gemoedstoestand van hartseer tot vreugde verander. Later daardie aand het hulle gesê: “Het ons hart nie gebrand toe hy op die pad met ons gepraat het, toe hy die Skrif ten volle vir ons geopen het nie?” (Luk. 24:27, 32). Watter les kan ons leer uit die reaksie van Jesus se dissipels?

Watter uitwerking het uitgestelde verwagtinge op ons?

Die twee dissipels op pad na Emmaus was hartseer omdat die gebeure wat hulle verwag het, nie plaasgevind het nie. Hulle het ondervind wat in Spreuke 13:12 beskryf word: “’n Uitgestelde verwagting maak die hart siek.” Net so het party van ons wat Jehovah al dekades lank getrou dien, verwag dat die “groot verdrukking” nou al verby sou gewees het (Matt. 24:21; Op. 7:14). Dit is te verstane dat so ’n onvervulde verwagting tydelik droefheid kan veroorsaak.

Onthou egter dat daardie twee dissipels hulle vreugde herwin het nadat Jesus hulle aandag gevestig het op profesieë wat reeds vervul is—selfs gedurende hulle leeftyd. Ons kan op soortgelyke wyse ons innerlike vreugde behou en teleurstelling verwerk. ’n Ervare Christen- ouer man genaamd Michael het gesê: “Moenie konsentreer op wat Jehovah nog nie gedoen het nie. Dink eerder na oor wat hy reeds gedoen het.” Dit is beslis goeie raad!

Wat Jehovah gedoen het

Dink aan party van die uitsonderlike dinge wat Jehovah reeds gedoen het. Jesus het gesê: “Hy wat geloof in my beoefen, hy sal ook self die werke doen wat ek doen; en hy sal groter werke as dié doen” (Joh. 14:12). Vandag verrig God se knegte die grootste Christelike werke wat al ooit verrig is. Meer as sewemiljoen mense sien daarna uit om die groot verdrukking te oorleef. Dink net hieraan: Nog nooit voorheen was daar soveel getroue knegte van Jehovah in soveel lande regoor die aarde bedrywig nie! Jehovah het Jesus se profetiese woorde oor “groter werke as dié” bewaarheid.

Wat het Jehovah nog vir ons gedoen? Hy het dit vir opregtes van hart moontlik gemaak om in figuurlike sin uit die goddelose wêreld uit te gaan en na die geestelike paradys te kom wat hy geskep het (2 Kor. 12:1-4). Neem tyd om na te dink oor aspekte van hierdie paradys wat ons tot ons beskikking het. Kyk byvoorbeeld na jou persoonlike biblioteek of die een by die Koninkryksaal. Blaai deur die Watch Tower Publications Index of snuffel deur Watchtower Library. Luister na ’n opname van ’n Bybeldrama. Herleef die klanke en beelde van ’n onlangse byeenkoms in jou gedagtes. Dink ook na oor die heilsame omgang wat ons met ons Christenbroers en -susters geniet. Hoe vrygewig is Jehovah tog deurdat hy ’n oorvloed geestelike voedsel en ’n liefdevolle broederskap aan ons voorsien—inderdaad ’n geestelike paradys!

Die psalmis Dawid het gesê: “Baie dinge het u gedoen, o Jehovah my God, ja, u wonderlike werke en u gedagtes teenoor ons” (Ps. 40:5). Ja, deur na te dink oor die wonderlike dinge wat Jehovah reeds vir ons gedoen het en deur te peins oor sy liefdevolle gedagtes teenoor ons, sal ons hernieude krag kry om getrou te volhard in ons heelhartige diens aan ons hemelse Vader, Jehovah.—Matt. 24:13.

[Prent op bladsy 31]

Jesus het sy dissipels gehelp om na te dink oor wat Jehovah reeds vir hulle gedoen het

[Prente op bladsy 32]

Herleef die klanke en beelde van ’n onlangse byeenkoms in jou gedagtes