Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Respekteer die huwelik as ’n gawe van God

Respekteer die huwelik as ’n gawe van God

Respekteer die huwelik as ’n gawe van God

“Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef en hulle sal een vlees word.”—GEN. 2:24.

1. Waarom verdien Jehovah ons respek?

 JEHOVAH GOD, die Insteller van die huwelik, verdien beslis ons respek. As ons Skepper, Soewerein en hemelse Vader word hy tereg beskryf as die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” (Jak. 1:17; Op. 4:11). Dit is ’n blyk van sy groot liefde (1 Joh. 4:8). Alles wat hy ons leer, alles wat hy ons vra, alles wat hy ons gee, is altyd tot ons beswil en voordeel.—Jes. 48:17.

2. Watter instruksies het Jehovah die eerste egpaar gegee?

2 Volgens die Bybel is die huwelik een van hierdie “goeie” gawes van God (Rut 1:9; 2:12). Toe Jehovah die eerste huwelik voltrek het, het hy die egpaar, Adam en Eva, spesifieke instruksies gegee oor hoe om sukses te behaal. (Lees Matteus 19:4-6.) As hulle God se riglyne gevolg het, sou hulle blywende geluk gesmaak het. Maar hulle het dwaas opgetree deur God se bevel te verontagsaam, en dit het vir hulle verskriklike gevolge gehad.—Gen. 3:6-13, 16-19, 23.

3, 4. (a) Hoe minag baie mense van vandag die huweliksreëling en Jehovah God? (b) Watter voorbeelde sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Soos daardie eerste egpaar toon baie mense van vandag min of geen agting vir Jehovah se riglyne wanneer hulle besluite oor die huwelik neem nie. Party verwerp die huweliksreëling openlik terwyl ander dit probeer heromskryf sodat dit by hulle begeertes pas (Rom. 1:24-32; 2 Tim. 3:1-5). Hulle neem nie in ag dat die huwelik ’n gawe van God is nie, en omdat hulle hierdie gawe minag, minag hulle ook die Gewer, Jehovah God.

4 Selfs party van God se knegte verloor soms uit die oog hoe Jehovah die huwelik beskou. Party Christenegpare besluit om uitmekaar te gaan, of hulle skei sonder ’n skriftuurlike rede. Hoe kan dit vermy word? Hoe kan God se riglyne in Genesis 2:24 getroude Christene help om hulle huwelik te versterk? En hoe kan diegene wat dit oorweeg om te trou, daarvoor voorberei? Kom ons kyk na drie suksesvolle huwelike in Bybeltye wat toelig hoe respek vir Jehovah noodsaaklik is vir ’n blywende huwelik.

Kweek lojaliteit aan

5, 6. Watter situasie was moontlik vir Sagaria en Elisabet ’n beproewing, en hoe is hulle lojaliteit beloon?

5 Sagaria en Elisabet het al die regte dinge gedoen. Albei het met ’n geestelikgesinde maat getrou. Sagaria het sy priesterlike pligte getrou uitgevoer, en hulle albei het God se Wet na die beste van hulle vermoë nagekom. Hulle het beslis baie gehad om voor dankbaar te wees. Maar as jy hulle by hulle huis in Juda besoek het, sou jy gou besef het dat daar iets ontbreek. Hulle het nie kinders gehad nie. Elisabet was onvrugbaar, en hulle albei was al oud.—Luk. 1:5-7.

6 In eertydse Israel is groot waarde daaraan geheg om kinders te hê, en gesinne was dikwels redelik groot (1 Sam. 1:2, 6, 10; Ps. 128:3, 4). Destyds het party Israelitiese mans verraderlik met hulle vrouens gehandel deur van hulle te skei as hulle nie kinders gebaar het nie. Sagaria het egter lojaal by Elisabet gebly. Hy het nie ’n maklike uitweg uit hulle huwelik gesoek nie, en sy vrou het ook nie. Al was hulle hartseer omdat hulle nie kinders gehad het nie, het hulle aangehou om Jehovah saam getrou te dien. Jehovah het hulle mettertyd deur middel van ’n wonderwerk ryklik beloon met die geboorte van ’n seun toe hulle oud was.—Luk. 1:8-14.

7. Op watter ander manier was Elisabet lojaal aan haar man?

7 Elisabet het ook op ’n ander manier prysenswaardige lojaliteit getoon. Toe haar seun, Johannes, gebore is, kon Sagaria nie praat nie, want hy is met stomheid geslaan omdat hy die woorde van God se engel in twyfel getrek het. Maar Sagaria het sekerlik op die een of ander manier aan sy vrou bekend gemaak dat Jehovah se engel vir hom gesê het dat hy die seun “Johannes” moet noem. Die bure en familielede wou die seun na sy vader vernoem. Maar Elisabet het haar man se riglyne lojaal gevolg. Sy het gesê: “Nee, beslis nie! maar hy moet Johannes genoem word.”—Luk. 1:59-63.

8, 9. (a) Hoe versterk lojaliteit ’n huwelik? (b) Op watter spesifieke maniere kan ’n man en vrou lojaliteit toon?

8 Soos Sagaria en Elisabet kom egpare vandag voor teleurstellings en ander uitdagings te staan. As huweliksmaats nie lojaal is nie, sal dit nie goed gaan met die huwelik nie. Flankeerdery, pornografie, egbreuk en ander dinge wat ’n gesonde huwelik bedreig, kan ’n huweliksmaat se vertroue onherstelbaar skend. En wanneer vertroue in ’n huwelik ondermyn word, begin liefde afkoel. Lojaliteit is in sekere opsigte soos ’n beskermende heining om die gesin se huis wat onwelkome besoekers en gevare buite hou en aan dié in die huis ’n mate van veiligheid bied. Wanneer ’n man en vrou lojaal aan mekaar is, kan hulle dus veilig saam woon en hulle hart teenoor mekaar uitstort, wat hulle liefde sal laat toeneem. Ja, lojaliteit is noodsaaklik.

9 Jehovah het vir Adam gesê: “’n Man [sal] sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef” (Gen. 2:24). Wat beteken dit? Vroeëre verhoudings met vriende en familielede moet aangepas word. Albei moet eers tyd en aandag aan hulle maat gee. Vriende en familielede kan nie meer voorkeur geniet ten koste van die nuwe gesin nie; die egpaar moet ook nie toelaat dat ouers in die besluite of meningsverskille van die gesin inmeng nie. Die egpaar moet mekaar nou aankleef. Dit is wat God vereis.

10. Wat sal huweliksmaats help om lojaliteit aan te kweek?

10 Selfs in godsdienstig verdeelde huise bring lojaliteit belonings mee. ’n Suster met ’n ongelowige huweliksmaat sê: “Ek is baie dankbaar teenoor Jehovah omdat hy my geleer het hoe om onderdanig te wees aan my man en diep respek vir hom te hê. Lojaliteit het tot 47 jaar van volgehoue liefde en respek gelei” (1 Kor. 7:10, 11; 1 Pet. 3:1, 2). Span jou dus in om jou huweliksmaat veilig te laat voel. Soek na maniere waarop jy jou maat deur jou woorde en dade kan verseker dat hy of sy vir jou die heel belangrikste mens op aarde is. Sover dit van jou afhang, moet jy nie toelaat dat enigiemand of enigiets tussen jou en jou maat kom nie. (Lees Spreuke 5:15-20.) Ron en Jeannette, wat al meer as 35 jaar gelukkig getroud is, sê: “Omdat ons lojaal doen wat God van ons vereis, het ons ’n gelukkige, suksesvolle huwelik.”

Eenheid versterk die huwelik

11, 12. Hoe het Aquila en Priscilla saamgewerk (a) by die huis, (b) in hulle sekulêre werk en (c) in die Christelike bediening?

11 Wanneer die apostel Paulus van sy goeie vriende Aquila en Priscilla gepraat het, het hy die een nie sonder die ander genoem nie. Hierdie verenigde egpaar is ’n goeie voorbeeld van wat God bedoel het toe hy gesê het dat ’n man en ’n vrou “een vlees” moet word (Gen. 2:24). Hulle het voortdurend saam gewerk in hulle huis, in hulle sekulêre werk en in die Christelike bediening. Toe Paulus die eerste keer in Korinte aangekom het, het Aquila en Priscilla hom byvoorbeeld uit goedhartigheid genooi om in hulle huis te bly, vanwaar hy toe ’n tyd lank blykbaar sy werksaamhede voortgesit het. Hulle het later, in Efese, hulle huis gebruik om gemeentelike vergaderinge te hou en het saam gewerk om nuwelinge, soos Apollos, te help om geestelik te groei (Hand. 18:2, 18-26). Hierdie ywerige egpaar het toe na Rome gegaan, waar hulle weer hulle huis vir gemeentelike vergaderinge beskikbaar gestel het. Hulle het later na Efese teruggekeer en die broers versterk.—Rom. 16:3-5.

12 Aquila en Priscilla het ook ’n ruk lank saam met Paulus hulle gemeenskaplike ambag beoefen, naamlik om tente te maak. Weer eens word die egpaar saam genoem waar hulle sonder wedywering of onenigheid saamwerk (Hand. 18:3). Maar dit was sekerlik die tyd wat hulle saam aan Christelike bedrywighede bestee het wat hulle huwelik op ’n hoë geestelike vlak gehou het. Hetsy hulle in Korinte, Efese of Rome was, hulle het alombekend geword as “medewerkers in Christus Jesus” (Rom. 16:3). Hulle het sy aan sy gewerk om die Koninkrykspredikingswerk te bevorder waar hulle ook al gedien het.

13, 14. (a) Watter situasies kan eenheid in ’n huwelik teëwerk? (b) Wat kan huweliksmaats doen om hulle band as “een vlees” te versterk?

13 Ja, eenheid wat doelwitte en bedrywighede betref, versterk ’n huwelik (Pred. 4:9, 10). Ongelukkig bring baie egpare vandag min tyd saam deur. Hulle werk lang ure by hulle afsonderlike werke. Ander reis baie vir hulle sekulêre werk of trek na ’n ander land om daar te gaan werk en geld huis toe te stuur. Selfs by die huis is party huweliksmaats van mekaar afgesonder, omdat hulle baie tyd aan televisie, stokperdjies, sport, videospeletjies of die Internet bestee. Is dit in julle huis die geval? Indien wel, kan julle julle omstandighede aanpas sodat julle meer tyd saam kan deurbring? Kan julle dalk alledaagse take saam verrig, soos om maaltye voor te berei, die skottelgoed te was of in die tuin te werk? Kan julle saam werk terwyl julle na die kinders omsien of julle bejaarde ouers help?

14 Die heel belangrikste is dat julle gereeld tyd saam deurbring in bedrywighede wat met Jehovah se aanbidding verband hou. Wanneer julle die dagteks saam bespreek en aan gesinsaanbidding deelneem, bied dit uitstekende geleenthede om seker te maak dat julle as gesin dieselfde denke en doelwitte het. Neem ook saam aan die bediening deel. Indien moontlik kan julle probeer om saam te pionier, al laat julle omstandighede julle toe om dit net ’n maand of ’n jaar lank te doen. (Lees 1 Korintiërs 15:58.) ’n Suster wat saam met haar man gepionier het, sê: “Die bediening was een van die maniere waarop ons tyd saam kon deurbring en regtig kon gesels. Omdat ons albei die gemeenskaplike doelwit gehad het om ander geestelik te help, het ek gevoel dat ons werklik ’n span is. Ek het nader aan hom gevoel, nie net as my man nie, maar ook as ’n goeie vriend.” Wanneer julle saam werk in bedrywighede wat die moeite werd is, sal jou belangstellings, voorkeure en gewoontes geleidelik in ooreenstemming gebring word met dié van jou huweliksmaat totdat julle, soos Aquila en Priscilla, al hoe meer as “een vlees” dink, voel en optree.

Laat geestelikheid julle rig

15. Wat is die sleutel tot ’n suksesvolle huwelik? Verduidelik.

15 Jesus het geweet hoe belangrik dit is om God eerste in ’n huwelik te stel. Hy het gesien toe Jehovah die eerste huwelik voltrek. Hy het opgelet hoe gelukkig Adam en Eva was solank hulle God se riglyne gevolg het, en hy het self gesien watter probleme ontstaan het toe hulle dit verontagsaam het. Wanneer Jesus ander geleer het, het hy dus sy Vader se opdrag in Genesis 2:24 herhaal. Hy het ook hierdie gedagte bygevoeg: “Wat God . . . onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matt. 19:6). Gevolglik is diep respek vir Jehovah nog steeds die sleutel tot ’n gelukkige, suksesvolle huwelik. Jesus se aardse ouers, Josef en Maria, het in hierdie verband ’n uitstekende voorbeeld gestel.

16. Hoe het Josef en Maria geestelikheid in hulle gesinslewe geopenbaar?

16 Josef was goedhartig teenoor Maria en het haar met respek behandel. Toe hy aanvanklik uitgevind het dat sy swanger is, wou hy barmhartig teenoor haar wees, selfs voordat God se engel aan hom verduidelik het wat met Maria gebeur het (Matt. 1:18-20). As ’n egpaar het hulle die keiser se verordening gehoorsaam en ook streng by die Mosaïese Wet gebly (Luk. 2:1-5, 21, 22). En al is daar net van mans vereis om die belangrike godsdiensfeeste in Jerusalem by te woon, het Josef en Maria, tesame met familielede, dit elke jaar bygewoon (Deut. 16:16; Luk. 2:41). Op hierdie en ander maniere het hierdie godvresende egpaar Jehovah probeer behaag en diep respek vir geestelike dinge getoon. ’n Mens kan verstaan waarom Jehovah hulle gekies het om vir sy Seun te sorg gedurende die eerste deel van Jesus se aardse lewe.

17, 18. (a) Op watter maniere kan ’n egpaar geestelikheid eerste in hulle gesin stel? (b) Hoe sal hulle hierby baat vind?

17 Word julle gesinslewe ook deur geestelikheid gerig? Sal julle byvoorbeeld, wanneer julle belangrike besluite moet neem, eers navorsing oor Bybelbeginsels doen, oor die saak bid en ’n ervare Christen se raad vra? Of is julle geneig om probleme op te los deur julle eie gevoelens of dié van familie en vriende te volg? Probeer julle al die praktiese wenke oor die huwelik en gesinslewe toepas wat in die publikasies van die getroue slaaf verskyn? Of volg julle bloot plaaslike gebruike of gewilde wêreldse raad? Bid en studeer julle gereeld saam, stel julle geestelike doelwitte en praat julle oor wat vir julle gesin die belangrikste is?

18 Ray sê aangaande hulle 50 jaar van gelukkige getroude lewe: “Ons het nog nooit ’n probleem gehad wat ons nie kon oplos nie, want Jehovah was nog altyd ’n deel van ons ‘driedubbele tou’.” (Lees Prediker 4:12.) Danny en Trina stem hiermee saam. “Ons dien God saam”, sê hulle, “en dit maak ons huwelik sterker.” Hulle is al langer as 34 jaar gelukkig getroud. As julle Jehovah altyd eerste in julle huwelik stel, sal hy julle help om sukses te behaal en julle ryklik seën.—Ps. 127:1.

Hou aan om God se gawe te respekteer

19. Waarom het God die gawe van die huwelik voorsien?

19 Vandag stel baie mense net in hulle eie geluk belang. Maar ’n kneg van Jehovah beskou sake anders. Hy weet dat God die huwelik voorsien het as ’n gawe om Sy voorneme te bevorder (Gen. 1:26-28). As Adam en Eva hierdie gawe gerespekteer het, sou die hele aarde ’n paradys vol gelukkige, regverdige knegte van God geword het.

20, 21. (a) Waarom moet ons die huwelik as heilig beskou? (b) Watter gawe sal ons volgende week bespreek?

20 Bowenal beskou God se knegte die huwelik as ’n geleentheid om Jehovah te verheerlik. (Lees 1 Korintiërs 10:31.) Soos ons gesien het, is lojaliteit, eenheid en geestelikheid godvrugtige eienskappe wat ’n huwelik versterk. Hetsy ons vir ons huwelik voorberei, dit versterk of dit probeer red, ons moet eers besef wat die huwelik werklik is: ’n goddelike en heilige instelling. As ons hierdie feit in gedagte hou, sal dit ons beweeg om ons bes te doen om besluite oor die huwelik op grond van God se Woord te neem. Sodoende toon ons nie net respek vir die gawe van die huwelik nie, maar ook vir die Gewer van hierdie gawe, Jehovah God.

21 Die huwelik is natuurlik nie die enigste gawe wat Jehovah ons gegee het nie; dit is ook nie die enigste manier om geluk in die lewe te smaak nie. In ons volgende artikel sal ons kyk na nog ’n kosbare gawe van God—die gawe van die ongetroude lewe.

Hoe sal jy antwoord?

• Watter rol moet lojaliteit in getroude Christene se lewe speel?

• Waarom sal ’n huwelik versterk word as die huweliksmaats in eenheid saam werk?

• Op watter maniere kan getroude mense hulle deur geestelikheid laat rig?

• Hoe kan ons respek toon vir Jehovah, die Insteller van die huwelik?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 15]

Wanneer egpare saam werk, help dit hulle om verenig te bly