Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vertrou op Jehovah terwyl die einde nader kom

Vertrou op Jehovah terwyl die einde nader kom

Vertrou op Jehovah terwyl die einde nader kom

“Vertrou op Jehovah vir altyd.”—JES. 26:4.

1. Watter teenstelling is daar tussen God se knegte en mense in die wêreld?

 ONS lewe in ’n wêreld waar miljoene mense nie meer weet wie of wat om te vertrou nie, miskien omdat hulle al te dikwels seergemaak of teleurgestel is. Wat ’n teenstelling vorm dit tog met Jehovah se knegte! Aangesien hulle deur goddelike wysheid gerig word, weet hulle dat dit nie verstandig is om hulle vertroue in hierdie wêreld of sy “edeles” te stel nie (Ps. 146:3). Hulle plaas eerder hulle lewe en hulle toekoms in Jehovah se hande, in die wete dat hy hulle liefhet en dat hy altyd sy Woord vervul.—Rom. 3:4; 8:38, 39.

2. Hoe het Josua van God se betroubaarheid getuig?

2 Josua van ouds het van God se betroubaarheid getuig. Teen die einde van sy lewe het hy vir sy mede-Israeliete gesê: “Julle weet goed met julle hele hart en met julle hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, onvervuld gebly het nie. Alles is vir julle bewaarheid.”—Jos. 23:14.

3. Wat openbaar God se naam omtrent hom?

3 Jehovah vervul sy beloftes, nie net uit liefde vir sy knegte nie, maar veral ter wille van sy naam (Eks. 3:14; 1 Sam. 12:22). Die inleiding tot The Emphasized Bible, deur J.B. Rotherham, sê aangaande die goddelike naam: “[Dit] word ’n baie goedgunstige belofte; die goddelike vermoë om aan te pas by enige omstandighede, enige probleme, enige behoeftes wat kan ontstaan . . . [Dit is] ’n belofte, . . . ’n openbaring, ’n herinnering, ’n waarborg. God sal altyd aan hierdie Naam getrou bly; Hy sal hom nooit daarvoor skaam nie.”

4. (a) Wat spoor Jesaja 26:4 ons aan om te doen? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Vra jou af: ‘Ken ek Jehovah goed genoeg om ten volle op hom te vertrou? Gaan ek die toekoms met vertroue tegemoet, in die wete dat God volkome in beheer is?’ Jesaja 26:4 sê: “Vertrou op Jehovah vir altyd, want in Jah Jehovah is die Rots van onbepaalde tye.” God gryp weliswaar nie nou op wonderdadige wyse in mense se lewens in soos hy soms in Bybeltye gedoen het nie. Maar as “die Rots van onbepaalde tye” kan hy “vir altyd” vertrou word. Hoe help ons betroubare God vandag sy getroue aanbidders? Kom ons bespreek drie maniere: Hy versterk ons wanneer ons sy hulp vra om versoeking te weerstaan, hy ondersteun ons wanneer ons voor onverskilligheid of openlike teenstand te staan kom en hy onderskraag ons wanneer ons onder sorge gebuk gaan. Terwyl ons hierdie maniere ondersoek, moet jy beslis nadink oor hoe jy jou vertroue op Jehovah kan versterk.

Vertrou op God wanneer jy in die versoeking kom om verkeerd te doen

5. Wat kan werklik ’n toets wees wanneer dit by ons vertroue op God kom?

5 Dit is een ding om op Jehovah te vertrou wanneer dit kom by sy belofte van die Paradys of die opstanding—dinge waarna ons smag. Maar dit is iets heeltemal anders om in sedelike sake op hom te vertrou, om in jou hart ten volle oortuig te wees dat dit reg is om jou aan sy weë en standaarde te onderwerp en dat dit tot die grootste geluk sal lei. Koning Salomo het hierdie vermaning neergeskryf: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak” (Spr. 3:5, 6). Let op die verwysing na ons “weë” en “paaie”. Ja, ons hele lewenswyse—nie net ons Christelike hoop nie—moet ons vertroue op God weerspieël. Hoe kan ons hierdie vertroue toon wanneer versoekings ontstaan?

6. Hoe kan ons ons voorneme versterk om slegte gedagtes te verwerp?

6 Om af te wyk van wat sleg is, begin in die verstand. (Lees Romeine 8:5; Efesiërs 2:3.) Hoe kan jy dus jou voorneme versterk om slegte gedagtes te verwerp? Kyk na hierdie vyf maniere: 1. Bid tot God om hulp (Matt. 6:9, 13). 2. Peins oor Bybelvoorbeelde van diegene wat nie na Jehovah geluister het nie en dié wat wel geluister het. Kyk dan hoe sake vir hulle verloop het (1 Kor. 10:8-11). a 3. Dink na oor die verstandelike en emosionele leed wat sonde vir jou en jou geliefdes tot gevolg kan hê. 4. Dink hoe God moet voel wanneer een van sy knegte in ernstige sonde verval. (Lees Psalm 78:40, 41.) 5. Stel jou voor hoe bly dit Jehovah se hart maak wanneer hy sien dat ’n lojale aanbidder die kwaad verwerp en doen wat reg is, hetsy in die openbaar of wanneer hy alleen is (Ps. 15:1, 2; Spr. 27:11). Jy kan ook toon dat jy op Jehovah vertrou.

Vertrou op God wanneer jy voor onverskilligheid en teenstand te staan kom

7. Hoe is Jeremia op die proef gestel, en hoe het hy soms gevoel?

7 Baie van ons broers dien in gebiede waar dit besonder moeilik is om te volhard. Die profeet Jeremia het in so ’n gebied gedien—die koninkryk van Juda gedurende sy onstuimige laaste dae. Sy geloof is daagliks op die proef gestel omdat hy God se oordeelsboodskappe gehoorsaam bekend gemaak het. Op een tydstip het selfs sy lojale sekretaris Barug van moegheid gekla (Jer. 45:2, 3). Het Jeremia aan ontmoediging toegegee? Hy hét soms terneergedruk gevoel. “Mag die dag waarop ek gebore is, vervloek wees!” het hy uitgeroep. “Waarom het ek uit die moederskoot voortgekom om harde werk en droefheid te sien en om te sien dat my dae net in skaamte sou eindig?”—Jer. 20:14, 15, 18.

8, 9. Wat moet ons in ooreenstemming met Jeremia 17:7, 8 en Psalm 1:1-3 doen as ons wil aanhou om goeie vrugte voort te bring?

8 Tog het Jeremia nie moed opgegee nie. Hy het aangehou om op Jehovah te vertrou. Gevolglik het hierdie getroue profeet die vervulling van Jehovah se woorde in Jeremia 17:7, 8 beleef: “Geseënd is die man wat op Jehovah vertrou, en wie se vertroue Jehovah geword het. En hy sal beslis word soos ’n boom wat by die water geplant is, wat sy wortels reg by die waterloop uitstoot; en hy sal nie sien wanneer daar hitte kom nie, maar sy blare sal welig wees. En in die jaar van droogte sal hy nie angstig raak nie, en ook sal hy nie ophou om vrugte voort te bring nie.”

9 Soos ’n blaarryke vrugteboom “wat by die water geplant is”, of in ’n vrugteboord wat natgelei word, het Jeremia nooit ‘opgehou om vrugte voort te bring nie’. Hy het nie toegelaat dat die goddelose spotters om hom, hom beïnvloed nie. Hy het eerder die Bron van lewensonderhoudende “water” aangekleef en alles wat Jehovah vir hom gesê het, ter harte geneem. (Lees Psalm 1:1-3; Jer. 20:9.) Wat ’n goeie voorbeeld is Jeremia tog vir ons, veral vir dié van ons wat God in moeilike gebiede dien! As dit met jou die geval is, moet jy aanhou om grootliks op Jehovah staat te maak, wat jou sal help om te volhard terwyl jy “sy naam in die openbaar bekend maak”.—Heb. 13:15.

10. Watter seëninge geniet ons, en wat moet ons ons afvra?

10 Jehovah het ons werklik ’n oorvloed geestelike voorsienings gegee om ons te help om gedurende hierdie laaste dae opgewasse teen die lewe te wees. Hy het onder andere die hele Woord van God voorsien, wat akkuraat vertaal word in al hoe meer tale. Hy het ’n oorvloed tydige geestelike voedsel deur middel van die “getroue en verstandige slaaf”-klas voorsien. En hy het ons die ondersteunende kameraadskap van ’n groot menigte medegelowiges by vergaderinge en byeenkomste gegee. Benut jy hierdie voorsienings ten volle? Almal wat dit doen, “sal met vreugde uitroep weens die goeie toestand van die hart”. Maar dié wat nie na God luister nie, “sal skreeu weens die pyn in die hart en weeklaag weens die verbreking van gees”.—Jes. 65:13, 14.

Vertrou op God wanneer jy met sorge te kampe het

11, 12. Wat is die weg van ware wysheid, in die lig van die wêreld se probleme?

11 Soos voorspel is, teister ’n toenemende vloed van weë die mensdom (Matt. 24:6-8; Op. 12:12). Wanneer daar ’n letterlike vloed is, is die algemene reaksie om na ’n hoër gebied te vlug of om op ’n gebou se dak te klim—enige plek wat hoër is. Terwyl die wêreld se probleme toeneem, soek miljoene mense eweneens toevlug by finansiële, politieke of godsdiensinstellings wat oënskynlik verhewe is, sowel as by die wetenskap en tegnologie. Maar niks hiervan bied ware veiligheid nie (Jer. 17:5, 6). Jehovah se knegte daarenteen het wel ’n veilige toevlug—“die Rots van onbepaalde tye” (Jes. 26:4). Die psalmis het gesê: “[Jehovah] is my rots en my redding, my veilige hoogte.” (Lees Psalm 62:6-9.) Hoe maak ons hierdie Rots ons toevlug?

12 Ons kleef Jehovah aan wanneer ons ag slaan op sy Woord, wat dikwels in stryd is met menslike wysheid (Ps. 73:23, 24). Byvoorbeeld, persone wat deur menslike wysheid beïnvloed word, sê dalk: ‘Jy het net een lewe; maak die beste gebruik daarvan.’ ‘Volg ’n goeie loopbaan.’ ‘Maak baie geld.’ ‘Koop alles wat jy wil.’ ‘Reis; geniet die wêreld.’ Goddelike wysheid daarenteen word geopenbaar in die raad: “[Laat] dié wat van die wêreld gebruik maak, [wees] soos dié wat dit nie ten volle gebruik nie; want die toneel van hierdie wêreld is aan die verander” (1 Kor. 7:31). Jesus vermaan ons eweneens om Koninkryksbelange altyd eerste te stel en sodoende “skatte in die hemel” op te gaar, waar dit heeltemal veilig sal wees.—Matt. 6:19, 20.

13. Wat moet ons ons afvra met 1 Johannes 2:15-17 in gedagte?

13 Toon jou gesindheid teenoor “die wêreld” en “die dinge in die wêreld” dat jy volkome op God vertrou? (1 Joh. 2:15-17). Is geestelike rykdom en voorregte in verband met Koninkryksdiens vir jou begeerliker en belangriker as die dinge wat die wêreld bied? (Fil. 3:8). Streef jy daarna om jou ‘oog eenvoudig’ te hou? (Matt. 6:22). God wil natuurlik nie hê dat jy onverstandig of onverantwoordelik moet wees nie, veral nie as jy ’n gesin het om voor te sorg nie (1 Tim. 5:8). Maar hy verwag wel dat sy knegte ten volle op hom moet vertrou—nie op Satan se sterwende wêreld nie.—Heb. 13:5.

14-16. Hoe het party daarby baat gevind om hulle ‘oog eenvoudig’ te hou en Koninkryksbelange altyd eerste te stel?

14 Kyk na die voorbeeld van Richard en Ruth, die ouers van drie jong kinders. “Ek het in my hart gevoel dat ek meer vir Jehovah kan doen”, sê Richard. “Ek het ’n gemaklike lewe gelei, maar dit het vir my gevoel asof ek God as ’t ware net die oorskiet gee. Nadat ons oor die saak gebid en die koste bereken het, het ek en Ruth saamgestem dat ek my toesighouer moet vra of ek net vier dae per week kan werk—al was daar ’n ekonomiese krisis in die land. My versoek is toegestaan, en ek het binne ’n maand volgens die nuwe rooster begin werk.” Hoe voel Richard nou?

15 “My salaris is 20 persent minder as voorheen”, sê hy, “maar nou het ek ’n bykomende 50 dae per jaar om saam met my gesin te wees en die kinders op te lei. Ek kon my velddienstyd verdubbel, my Bybelstudies verdriedubbel en in groter mate leiding neem in die gemeente. En omdat ek meer daar is om met die kinders te help, kan Ruth van tyd tot tyd hulppionierdiens doen. Ek is vasbeslote om hierdie rooster so lank as moontlik te volg.”

16 Roy en Petina, wat nog steeds ’n dogter by die huis het, kon hulle sekulêre werk verminder sodat hulle aan die voltydse bediening kan deelneem. “Ek werk drie dae per week”, sê Roy, “en Petina twee dae. Ons het ook van ’n huis na ’n woonstel getrek, wat baie makliker is om na om te sien. Ons het pionierdiens gedoen voordat ons seun en dogter gebore is, en ons wou nog altyd weer pioniers wees. Toe ons kinders grootgeword het, het ons dus weer die voltydse diens betree. Geen geld kan vergelyk met die seëninge wat ons ontvang het nie.”

Laat “die vrede van God” jou hart bewaak

17. Hoe het die Skrif jou al bemoedig in die lig van die onsekerhede van die lewe?

17 Nie een van ons weet wat die toekoms inhou nie, want “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” tref ons almal (Pred. 9:11). Maar onsekerheid oor die toekoms hoef ons nie nou van ons gemoedsrus te ontneem, soos dikwels die geval is met diegene wat nie die veiligheid geniet wat ’n hegte verhouding met God meebring nie (Matt. 6:34). Die apostel Paulus het geskryf: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns . . . bewaak.”—Fil. 4:6, 7.

18, 19. Op watter maniere help God ons? Lig toe.

18 Baie broers en susters in moeilike situasies het al die innerlike kalmte en vrede ondervind wat van Jehovah kom. ’n Suster sê: “’n Chirurg het my herhaaldelik probeer bangpraat sodat ek ’n bloedoortapping sal aanvaar. ‘Wat is hierdie onsin oor geen bloed nie?’ was een van die eerste dinge wat hy vir my gesê het. Ek het toe, en op ander tye, in my hart tot Jehovah gebid, en sy vrede het oor my gekom. Ek het rotsvas gevoel. Al was ek swak weens my lae bloedtelling, kon ek hom duidelike skriftuurlike redes vir my standpunt gee.”

19 God voorsien soms die nodige ondersteuning deur middel van ’n medegelowige wat ons bemoedig of deur geestelike voedsel op die regte tyd. Jy het waarskynlik al ’n broer of suster hoor sê: “Hierdie artikel is net wat ek nodig het. Dit is vir my geskryf!” Ja, ongeag wat ons omstandighede of behoeftes is, Jehovah sal sy liefde vir ons toon as ons op hom vertrou. Ons is immers sy “skape”, en hy het sy naam op ons gelê.—Ps. 100:3; Joh. 10:16; Hand. 15:14, 17.

20. Waarom sal Jehovah se knegte in veiligheid woon wanneer Satan se wêreld tot ’n einde kom?

20 Gedurende die vinnig naderende “dag van Jehovah se grimmigheid” sal alles waarin Satan se wêreld vertroue stel, vernietig word. Goud, silwer en ander waardevolle dinge sal hoegenaamd geen veiligheid bied nie (Sef. 1:18; Spr. 11:4). Die enigste toevlug sal ons “Rots van onbepaalde tye” wees (Jes. 26:4). Laat ons dus nou toon dat ons ten volle op Jehovah vertrou deur gehoorsaam in sy regverdige weë te wandel, deur sy Koninkryksboodskap ondanks onverskilligheid of teenstand te verkondig en deur al ons sorge op hom te werp. Wanneer ons dit doen, sal ons waarlik “in veiligheid woon en nie deur vrees vir rampspoed versteur word nie”.—Spr. 1:33.

[Voetnoot]

Kan jy verduidelik?

Hoe kan ons op God vertrou

• wanneer ons in die versoeking kom om verkeerd te doen?

• wanneer ons voor onverskilligheid of teenstand te staan kom?

• wanneer ons met sorge te kampe het?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 13]

Wanneer ons by God se standaarde bly, lei dit tot geluk

[Prent op bladsy 15]

“Jehovah is die Rots van onbepaalde tye”