Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Vertroos al die treurendes’

‘Vertroos al die treurendes’

‘Vertroos al die treurendes’

“Jehovah [het] my gesalf . . . om al die treurendes te vertroos.”—JES. 61:1, 2.

1. Wat het Jesus vir treurendes gedoen, en waarom?

 JESUS CHRISTUS het gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring” (Joh. 4:34). In die uitvoering van sy godgegewe toewysing het Jesus sy Vader se luisterryke eienskappe weerspieël. Een hiervan is Jehovah se groot liefde vir mense (1 Joh. 4:7-10). Die apostel Paulus het gewys op een manier waarop hierdie liefde geopenbaar word toe hy Jehovah as “die God van alle vertroosting” beskryf het (2 Kor. 1:3). Jesus het sulke liefde getoon toe hy gedoen het wat in Jesaja se profesie voorspel is. (Lees Jesaja 61:1, 2.) Jesus het in die sinagoge in Nasaret uit hierdie profesie gelees en die woorde daarvan op homself toegepas (Luk. 4:16-21). Regdeur sy bediening het Jesus treurendes liefdevol vertroos en aan hulle bemoediging en gemoedsrus gebied.

2, 3. Waarom moet Christus se volgelinge hom navolg deur vertroosting te bied?

2 Alle volgelinge van Jesus moet hom navolg deur diegene wat treur, te vertroos (1 Kor. 11:1). Paulus het gesê: “Hou . . . aan om mekaar te vertroos en mekaar op te bou” (1 Tess. 5:11). Ons moet ander vertroos veral omdat die mensdom nou lewe in ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ (2 Tim. 3:1). Opregtes van hart regoor die wêreld het al hoe meer te kampe met mense wie se woorde en dade leed, hartseer en droefheid veroorsaak.

3 Soos in Bybelprofesie voorspel is, is baie mense in hierdie laaste dae van die goddelose stelsel van dinge “liefhebbers van hulleself . . . , liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God”. Hierdie gesindhede is nou erger as ooit tevore, want ‘goddelose mense en bedrieërs gaan voort van kwaad tot erger’.—2 Tim. 3:2-4, 13.

4. Wat gebeur in ons tyd met wêreldtoestande?

4 Niks hiervan moet ons verbaas nie, aangesien God se Woord dit duidelik stel dat ‘die hele wêreld in die mag van die bose lê’ (1 Joh. 5:19). “Die hele wêreld” sluit politieke, godsdienstige en kommersiële elemente in, sowel as propagandakanale. Daar bestaan geen twyfel dat Satan die Duiwel tereg “die heerser van die wêreld” en “die god van hierdie stelsel van dinge” genoem word nie (Joh. 14:30; 2 Kor. 4:4). Toestande regoor die wêreld hou aan om te versleg, aangesien Satan nou groot toorn het, omdat hy weet dat hy net ’n kort tydjie oor het voordat Jehovah hom uit die weg ruim (Op. 12:12). Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat God binnekort Satan en sy bose stelsel nie langer sal duld nie en dat die geskil wat Satan ten opsigte van Jehovah se soewereiniteit geopper het, besleg sal word!—Gen., hfst. 3; Job, hfst. 2.

Die goeie nuus word aardwyd verkondig

5. Hoe word die profesie oor die predikingswerk in hierdie laaste dae vervul?

5 Wat Jesus voorspel het, word gedurende hierdie moeilike tydperk van die mensegeskiedenis vervul. Hy het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14). Hierdie aardwye getuieniswerk in verband met God se Koninkryk word op steeds groter skaal gedoen. Vandag preek meer as 7 500 000 Getuies van Jehovah, in meer as 107 000 gemeentes dwarsoor die wêreld, omtrent God se Koninkryk, net soos Jesus dit die tema van sy predikings- en onderrigtingswerk gemaak het (Matt. 4:17). Danksy ons hedendaagse predikingswerk word groot vertroosting aan treurendes gebied. Daar is onlangs in net twee jaar altesaam 570 601 persone as Jehovah se Getuies gedoop!

6. Wat dink jy van die omvang van ons predikingswerk?

6 Die beste manier om die groot omvang van hierdie predikingswerk te begryp, is deur daarop te let dat Jehovah se Getuies nou Bybellektuur in meer as 500 tale vertaal en versprei. So iets is nog nooit in die hele mensegeskiedenis gesien nie! Die bestaan, werk en groei van die aardse deel van Jehovah se organisasie is waarlik uitsonderlik. Sonder die leiding en hulp van God se kragtige heilige gees sou so iets nie moontlik gewees het in hierdie wêreld onder Satan se beheer nie. Omdat die goeie nuus in die hele bewoonde aarde verkondig word, put nie net ons medegelowiges vertroosting uit die Skrif nie, maar ook treurendes wat die Koninkryksboodskap aanneem.

Vertroos medeaanbidders

7. (a) Waarom kan ons nie verwag dat Jehovah nou alle situasies wat benoudheid veroorsaak, uit die weg moet ruim nie? (b) Hoe weet ons dat dit vir ons moontlik is om vervolging en verdrukking te verduur?

7 In hierdie wêreld vol goddeloosheid en lyding sal ons beslis situasies teëkom wat benoudheid veroorsaak. Ons kan nie verwag dat God alle oorsake van ongelukkigheid of droefheid uit die weg moet ruim voordat hy hierdie stelsel van dinge vernietig nie. Intussen, terwyl ons die voorspelde vervolging ervaar, is ons onkreukbaarheid teenoor Jehovah as ondersteuners van sy universele soewereiniteit op die spel (2 Tim. 3:12). Maar met die hulp en vertroosting van ons hemelse Vader kan ons soos gesalfde Christene van eertydse Tessalonika wees, wat vervolginge en verdrukkinge met volharding en geloof verdra het.—Lees 2 Tessalonisense 1:3-5.

8. Watter skriftuurlike bewyse is daar dat Jehovah sy knegte vertroos?

8 Daar bestaan geen twyfel dat Jehovah sy knegte van die nodige vertroosting voorsien nie. Byvoorbeeld, toe die goddelose koningin Isebel gedreig het om die profeet Elia dood te maak, het hierdie profeet se moed hom begewe en het hy gevlug, en hy het selfs gesê dat hy wil sterf. Jehovah het Elia egter nie bestraf nie, maar het hom eerder vertroos en die moed gegee om sy werk as profeet uit te voer (1 Kon. 19:1-21). Die feit dat Jehovah sy volk vertroos, blyk ook uit die ondervinding van die eerste-eeuse Christengemeente. Ons lees byvoorbeeld van ’n tyd toe ‘die gemeente deur die hele Judea en Galilea en Samaria ’n tydperk van vrede ingegaan het en dit opgebou is’. Wat meer is, “terwyl dit in die vrees van Jehovah en in die vertroosting van die heilige gees gewandel het, het dit bly vermeerder” (Hand. 9:31). Hoe dankbaar is ons tog dat ons ook “die vertroosting van die heilige gees” het!

9. Waarom kan dit ons vertroos wanneer ons van Jesus leer?

9 As Christene word ons vertroos deur van Jesus Christus te leer en deur in sy voetstappe te wandel. Jesus het gesê: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig” (Matt. 11:28-30). Wanneer ons leer van die opbouende manier waarop Jesus mense behandel het en dan sy positiewe voorbeeld volg, help dit grootliks om die spanning wat ons moontlik ervaar, te verlig.

10, 11. Wie in die gemeente kan vertroosting bied?

10 Ons kan ook deur mede-Christene vertroos word. Dink byvoorbeeld aan hoe die ouer manne in die gemeente diegene help wat hulle in situasies bevind wat benoudheid veroorsaak. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Is iemand onder julle [geestelik] siek? Laat hom die ouer manne van die gemeente na hom toe roep, en laat hulle oor hom bid.” Met watter gevolg? “Die gebed van geloof sal die een wat ongesteld is, gesond maak, en Jehovah sal hom oprig. Ook as hy sondes gepleeg het, sal dit hom vergewe word” (Jak. 5:14, 15). Ander lede van die gemeente kan ook vertroosting voorsien.

11 Dit is dikwels vir vroue makliker om met ander vroue oor verskillende probleme te praat. Ouer, meer ervare susters in die besonder kan baie goeie raad aan jonger susters gee. Hierdie ouer, ryp Christenvroue het dalk reeds soortgelyke situasies in hulle lewe ervaar. Hulle simpatie en vroulike eienskappe kan van groot hulp wees. (Lees Titus 2:3-5.) Ouer manne en ander kan en moet natuurlik ‘vertroostend praat met die terneergedrukte siele’ onder ons (1 Tess. 5:14, 15). En dit is goed om in gedagte te hou dat God “ons in al ons verdrukking vertroos, sodat ons dié wat in enige soort verdrukking is, kan vertroos”.—2 Kor. 1:4.

12. Waarom is dit noodsaaklik dat ons Christelike vergaderinge bywoon?

12 ’n Baie belangrike manier waarop ons vertroos kan word, is deur teenwoordig te wees by Christelike vergaderinge, waar Bybelbesprekings ons aanmoedig. Ons lees dat Judas en Silas “die broers met baie toesprake aangemoedig en versterk” het (Hand. 15:32). Voor en ná ons vergaderinge is daar opbouende gesprekke tussen gemeentelede. Al ly ons weens die een of ander moeilike situasie, moet ons ons dus nie afsonder nie, want dit sal sake nie verbeter nie (Spr. 18:1). Ons moet eerder die apostel Paulus se geïnspireerde raad volg: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”—Heb. 10:24, 25.

Put vertroosting uit God se Woord

13, 14. Toon hoe die Skrif ons kan vertroos.

13 Hetsy ons gedoopte Christene is of maar net begin om van God en sy voornemens te leer, ons kan groot vertroosting uit die geskrewe Woord van God put. Paulus het geskryf: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Rom. 15:4). Die Heilige Skrif kan ons vertroos en ons “volkome bevoeg [maak], ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Tim. 3:16, 17). As ons weet wat die waarheid omtrent God se voornemens is en ’n ware hoop vir die toekoms het, sal dit beslis groot vertroosting bied. Laat ons dus ten volle gebruik maak van God se Woord en Bybelpublikasies wat ons kan vertroos en ons op baie maniere tot voordeel kan strek.

14 Jesus het vir ons ’n goeie voorbeeld gestel deur die Skrif te gebruik om ander te onderrig en te vertroos. Gedurende een van sy verskynings ná sy opstanding het hy byvoorbeeld ‘die Skrif ten volle geopen’ vir twee van sy dissipels. Terwyl hy met hulle gepraat het, is hulle hart diep geraak (Luk. 24:32). In ooreenstemming met Jesus se uitstekende voorbeeld het die apostel Paulus ‘uit die Skrif geredeneer’. In Berea het sy toehoorders “die woord met die grootste gretigheid van verstand ontvang en die Skrif elke dag sorgvuldig ondersoek” (Hand. 17:2, 10, 11). Hoe gepas is dit tog dat ons die Bybel elke dag lees en daarby baat vind, asook by Christelike publikasies wat saamgestel is om vir ons in hierdie veelbewoë tye vertroosting en hoop te gee!

Bykomende maniere om ander te vertroos

15, 16. Wat kan ons doen om mede-Christene te help en te vertroos?

15 Ons kan mede-Christene op verskeie praktiese maniere help en hulle sodoende vertroos. Byvoorbeeld, ons kan inkopies vir bejaarde of siek medegelowiges doen. Ons kan ander met hulle takies help en so persoonlike belangstelling in hulle toon (Fil. 2:4). Ons kan medegelowiges dalk prys vir hulle goeie eienskappe, soos hulle liefde, vindingrykheid, moed en geloof.

16 In ’n poging om die bejaardes te vertroos, kan ons hulle besoek en aandagtig luister wanneer hulle ons vertel van die ondervindinge en duidelike seëninge wat hulle in Jehovah se diens geniet het. Dit kan ons selfs aanmoedig en vertroos! Ons kan die Bybel of ons Bybelpublikasies lees saam met diegene wat ons besoek. Ons kan dalk die artikel vir die weeklikse Wagtoring-studie of die materiaal wat daardie week gedurende die Gemeentelike Bybelstudie gedek sal word, bespreek. Ons kan saam met hulle na ’n DVD met ’n skriftuurlike tema kyk. Ons kan ook aanmoedigende ondervindinge uit ons publikasies lees of vertel.

17, 18. Waarom kan ons as Jehovah se lojale knegte seker wees dat hy ons sal onderskraag en vertroos?

17 As ons sien dat ’n medeaanbidder van Jehovah vertroosting nodig het, kan ons hom of haar in ons persoonlike gebede meld (Rom. 15:30; Kol. 4:12). Terwyl ons self lewensprobleme die hoof bied en ywerig daarna streef om ander te vertroos, kan ons dieselfde geloof en oortuiging hê as die psalmis wat gesing het: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag. Nooit sal hy die regverdige laat wankel nie” (Ps. 55:22). Ja, Jehovah sal altyd daar wees om ons as sy lojale knegte te vertroos en te onderskraag.

18 God het vir sy aanbidders van die ou tyd gesê: “Ek—ek vertroos julle” (Jes. 51:12). Jehovah sal ons ook vertroos en sal ons goeie dade en woorde seën wanneer ons treurendes vertroos. Hetsy ons ’n hemelse of ’n aardse hoop het, elkeen van ons kan vertroos word deur Paulus se woorde aan sy geesgesalfde mede-Christene: “Mag ons Here Jesus Christus self en God, ons Vader, wat ons liefgehad het en deur middel van onverdiende goedhartigheid ewige troos en goeie hoop gegee het, julle harte vertroos en julle standvastig maak in elke goeie daad en woord.”—2 Tess. 2:16, 17.

Onthou jy?

• Hoe wydverspreid is ons werk om treurendes te vertroos?

• Wat kan ons doen om ander te vertroos?

• Watter skriftuurlike bewyse is daar dat Jehovah sy volk vertroos?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 28]

Help jy om treurendes te vertroos?

[Prent op bladsy 30]

Jonk sowel as oud kan aanmoedigend wees