Laat niks jou van Jehovah vervreem nie
“Kies . . . vandag vir julle wie julle sal dien.”—JOS. 24:15.
1-3. (a) Waarom is Josua ’n goeie voorbeeld van iemand wat die regte keuse in die lewe geneem het? (b) Wat moet ons voor oë hou wanneer ons voor besluite te staan kom?
“KIES” is ’n kragtige woord. Iemand wat ’n keuse het, het opsies en ’n mate van beheer oor die weg wat hy in sy lewe sal volg. Ter toeligting: Stel jou voor dat ’n man wat op ’n pad loop, skielik voor ’n vurk in die pad te staan kom. Watter pad sal hy kies? As die man weet waarheen hy op pad is, sal een pad hom waarskynlik nader bring aan sy bestemming, terwyl die ander pad hom verder daarvandaan sal neem.
2 In die Bybel is daar baie voorbeelde van mense wat voor ’n soortgelyke situasie te staan gekom het. Byvoorbeeld, Kain moes besluit of hy uiting aan sy woede sou gee of dit sou beheers (Gen. 4:6, 7). Josua moes kies of hy die ware God sou dien of valse gode sou aanbid (Jos. 24:15). Josua se doelwit was om na aan Jehovah te bly, en daarom het hy ’n weg gekies wat hom in daardie rigting geneem het. Kain het nie hierdie doelwit gehad nie, en hy het dus ’n weg gekies wat hom verder van Jehovah geneem het.
3 Soms sal ons dalk voor ’n kruispad te staan kom. As dit gebeur, moet jy jou bestemming, of doelwit, voor oë hou—om Jehovah in alles wat jy doen, te verheerlik en om enigiets te vermy wat sal veroorsaak dat jy jou van hom terugtrek. (Lees Hebreërs 3:12.) In hierdie en die volgende artikel sal ons sewe aspekte van die lewe ondersoek waarin ons nie moet toelaat dat ons besluite ons van Jehovah vervreem nie.
WERK EN LOOPBAAN
4. Waarom is dit belangrik om ’n bestaan te maak?
4 Christene is onder verpligting om hulle en hulle gesinne te onderhou. Die Bybel toon dat iemand wat nie vir sy huisgesin wil sorg nie, erger as ’n ongelowige is (2 Tess. 3:10; 1 Tim. 5:8, vtn. in NW). Sekulêre werk is natuurlik ’n belangrike deel van die lewe, maar as jy nie versigtig is nie, kan jou werk jou van Jehovah vervreem. Hoe?
5. Watter faktore is belangrik wanneer ons ’n werksaanbod oorweeg?
5 Gestel jy soek werk. As jy in ’n land woon waar werk skaars is, sal jy dalk in die versoeking kom om die eerste werksaanbod—enige aanbod—te aanvaar. Maar sê nou die aard van die werk is in stryd met Bybelbeginsels? Sê nou die werksure of die reistyd werk toe en terug sal inbreuk maak op jou Christelike bedrywighede of jou tyd met jou gesin? Moet jy die aanbod in elk geval aanvaar omdat jy redeneer dat ’n werk wat nie geskik is nie, beter is as geen werk nie? Onthou: As jy die verkeerde pad kies, kan dit jou van Jehovah vervreem (Heb. 2:1). Hoe kan jy wyse besluite neem, hetsy jy werk soek of jou huidige werk weer in oënskou neem?
6, 7. (a) Watter doelwitte kan ’n persoon in verband met sekulêre werk hê? (b) Watter doelwit sal jou nader aan Jehovah bring, en waarom?
6 Soos vroeër gemeld is, moet jy jou bestemming in gedagte hou. Vra jou af: ‘Waarom werk ek nou eintlik?’ As jy sekulêre werk beskou as ’n middel tot ’n doel—om jou en jou gesin in Jehovah se diens te onderhou—sal Jehovah jou pogings seën (Matt. 6:33). Dit is nie asof Jehovah nie ’n oplossing kan vind as jy jou werk verloor of daar ’n onverwagte ekonomiese insinking is nie (Jes. 59:1). Hy “weet . . . hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos”.—2 Pet. 2:9.
7 Maar sê nou jou doel is bloot om ryk te word? Dalk sal jy dit regkry. Selfs al doen jy dit, moet jy egter in gedagte hou dat sulke “sukses” teen ’n prys kom—’n prys wat jy nie kan bekostig nie. (Lees 1 Timoteus 6:9, 10.) As jy te veel waarde heg aan rykdom of ’n loopbaan, sal dit jou net van Jehovah vervreem.
8, 9. Wat moet ouers in gedagte hou in verband met hulle gesindheid teenoor sekulêre werk? Verduidelik.
8 As jy ’n ouer is, moet jy dink aan die uitwerking wat jou voorbeeld op jou kinders het. Wat dink hulle is vir jou die belangrikste—jou loopbaan of jou vriendskap met Jehovah? Sal hulle, as hulle sien dat status, aansien en rykdom die belangrikste in jou lewe is, jou navolg deur ook so ’n rampspoedige weg in te slaan? Sal hulle dalk in ’n mate vir jou as ouer respek verloor? ’n Jong Christen sê: “Vir so lank as wat ek kan onthou, is my pa behep met sy werk. Eers het dit gelyk asof hy so hard werk omdat hy wou hê dat ons gesin net die beste moet hê. Hy wou goed vir ons sorg. Maar in onlangse jare het iets verander. Hy werk en werk, en dan bring hy luukshede huis toe in plaas van noodsaaklikhede. Gevolglik staan ons bekend as die gesin wat baie geld het, eerder as die gesin wat ander in geestelike strewes aanmoedig. Ek sal enige tyd my pa se geestelike ondersteuning bo sy geld kies.”
9 Ouers, julle moet julle nie van Jehovah vervreem deur te veel klem op julle loopbaan te lê nie. Toon deur middel van julle voorbeeld aan julle kinders dat julle werklik glo dat die grootste rykdom wat ons kan besit, geestelik is, nie materieel nie.—Matt. 5:3.
10. Wat kan ’n jongmens in gedagte hou wanneer hy of sy ’n beroep wil kies?
10 Hoe kan jy die regte pad kies as jy ’n jongmens is wat moet besluit watter loopbaan om te volg? Soos ons reeds bespreek het, moet jy weet waarheen jy in die lewe op pad is. Sal die beroep wat jy oorweeg en die opleiding wat jy daarvoor moet ontvang, jou toelaat om Koninkryksbelange in voller mate na te streef, of sal dit jou van Jehovah vervreem? (2 Tim. 4:10). Is dit jou doelwit om die lewenswyse na te volg van mense wie se geluk kom en gaan afhangende van hoeveel geld hulle in die bank het of wat die waarde van hulle aandeleportefeulje is? Of sal jy kies om dieselfde vertroue as Dawid te hê? Hy het geskryf: “Ek was eens ’n jong man, ook het ek oud geword, en tog het ek geen regverdige heeltemal verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie” (Ps. 37:25). Onthou: Die een pad sal jou van Jehovah vervreem, terwyl die ander pad jou na die beste lewe moontlik sal lei. (Lees Spreuke 10:22; Maleagi 3:10.) Watter pad sal jy kies? *
ONTSPANNNING EN VERMAAK
11. Wat erken die Bybel in verband met ontspanning en vermaak, maar wat moet ons in gedagte hou?
11 Die Bybel sê nie dat dit verkeerd is om pret te hê of dat ontspanning en vermaak ’n vermorsing van tyd is nie. Paulus het aan Timoteus geskryf dat liggaamlike oefening voordelig kan wees (1 Tim. 4:8). Die Bybel sê selfs dat daar “’n tyd [is] om te lag” en “’n tyd [is] om rond te huppel”, en dit moedig ons aan om genoeg rus te kry (Pred. 3:4; 4:6). Maar as jy nie versigtig is nie, kan ontspanning en vermaak jou van Jehovah vervreem. Hoe? Die gevaar hou verband met die soort ontspanning en vermaak wat jy kies en hoeveel tyd jy daaraan bestee.
12. Watter faktore moet jy in gedagte hou wanneer jy ontspanning en vermaak kies?
12 Kom ons bespreek eers die soort ontspanning en vermaak. Dit is wel moontlik om heilsame vorme van ontspanning en goeie vermaak te vind. Maar baie van wat beskikbaar is, verheerlik dinge wat God haat, insluitende geweld, spiritisme en ongeoorloofde seks. Daarom moet jy die soort ontspanning en vermaak wat jy kies, noukeurig ondersoek. Watter uitwerking het dit op jou? Wakker dit ’n gees van geweld, strawwe mededinging of nasionalisme in jou aan? (Spr. 3:31). Kos dit te veel geld? Kan dit ander laat struikel? (Rom. 14:21). Met watter soort mense bring jou keuse van ontspanning en vermaak jou in aanraking? (Spr. 13:20). Wek dit by jou ’n begeerte om verkeerde dinge te doen?—Jak. 1:14, 15.
13, 14. Wat moet jy in gedagte hou in verband met die hoeveelheid tyd wat jy aan ontspanningsbedrywighede bestee?
13 Dink ook aan die hoeveelheid tyd wat jy aan ontspanning en vermaak bestee. Vra jou af: ‘Bestee ek soveel tyd aan ontspanning dat ek min tyd vir geestelike bedrywighede oorhet?’ As jy kies om te veel tyd aan ontspanning en vermaak te bestee, sal jy vind dat jou vrye tyd nie so verkwikkend is soos wat dit kon gewees het nie. Trouens, diegene wat ontspanning in sy plek hou, geniet dit selfs meer. Waarom? Hulle weet dat hulle eers “die belangriker dinge” gedoen het, en daarom ontspan hulle sonder om skuldig te voel.—Lees Filippense 1:10, 11.
14 Hoewel dit dalk aanloklik lyk om baie tyd aan ontspanningsbedrywighede te bestee, kan dit jou van Jehovah vervreem as jy hierdie pad volg. Kim, ’n 20-jarige suster, het dit uit ondervinding geleer. “Ek het na al die partytjies gegaan”, sê sy. “Daar was elke naweek ’n groot geleentheid—Vrydag, Saterdag en Sondag. Maar nou besef ek dat daar soveel belangriker dinge is om te doen. As ’n pionier staan ek byvoorbeeld sesuur die oggend op vir velddiens, en dit beteken dat ek nie tot een- of tweeuur in die oggend kan kuier nie. Ek weet dat nie alle gesellighede sleg is nie, maar dit kan ’n groot afleiding wees. Soos enigiets anders, moet dit in sy plek gehou word.”
15. Hoe kan ouers hulle kinders help om verkwikkende ontspanning te geniet?
15 Dit is ouers se verantwoordelikheid om in hulle materiële, geestelike en emosionele behoeftes en dié van hulle kinders te voorsien. Dit sluit ontspanning in. As jy ’n ouer is, moet jy nie ’n pretbederwer wees wat alle ontspanningsbedrywighede as sleg beskou nie. Terselfdertyd moet jy teen slegte invloede waak (1 Kor. 5:6). Met ’n bietjie dinkwerk, kan jy ontspanning en vermaak vind wat vir jou gesin waarlik verkwikkend is. * So sal jy en jou kinders ’n pad kies wat julle nader aan Jehovah sal bring.
GESINSVERHOUDINGS
16, 17. In watter hartseer situasie bevind baie ouers hulle, en hoe weet ons dat Jehovah hulle pyn verstaan?
16 Die band tussen ’n ouer en ’n kind is so sterk dat Jehovah hierdie verhouding gebruik het om sy liefde vir sy volk toe te lig (Jes. 49:15). Dit is dus normaal om diep bedroef te wees wanneer ’n geliefde gesinslid Jehovah verlaat. “Ek was verpletter”, sê ’n suster wie se dogter uitgesit is. “Ek het gewonder: ‘Hoekom het sy Jehovah verlaat?’ Ek het skuldig gevoel en ek het myself blameer.”
17 Jehovah verstaan jou pyn. Hy het ook “gekrenk gevoel in sy hart” toe die eerste lid van sy mensegesin, en later die meeste mense wat voor die Vloed gelewe het, in opstand gekom het (Gen. 6:5, 6). Vir diegene wat nog nooit so ’n verlies ervaar het nie, kan dit moeilik wees om te verstaan hoe verpletterend dit kan wees. Nogtans sal dit onverstandig wees om toe te laat dat die verkeerde weg wat ’n uitgesette gesinslid ingeslaan het, jou van Jehovah vervreem. Hoe kan jy dan die diepe droefheid verwerk wat ’n mens ondervind wanneer ’n gesinslid Jehovah verlaat?
18. Waarom moet ouers hulleself nie blameer as ’n kind Jehovah verlaat nie?
18 Moenie jouself blameer vir wat gebeur het nie. Jehovah gee mense ’n keuse, en elke toegewyde en gedoopte gesinslid moet “sy eie vrag [van verantwoordelikheid] dra” (Gal. 6:5). Op die ou end hou Jehovah die sondaar verantwoordelik vir sy of haar keuse—nie vir jou nie (Eseg. 18:20). Moet ook nie ander blameer nie. Respekteer Jehovah se reëling om dissipline te gee. Weerstaan die Duiwel—nie die herders wat die gemeente probeer beskerm nie.—1 Pet. 5:8, 9.
19, 20. (a) Wat kan die ouers van uitgesette kinders doen om hulle droefheid die hoof te bied? (b) Watter hoop koester sulke ouers tereg?
19 As jy egter kies om gegriefd te wees teenoor Jehovah, sal jy jou van hom vervreem. Wat jou geliefde gesinslid in werklikheid moet sien, is jou vasbeslotenheid om Jehovah bo alle ander dinge te stel—insluitende die gesinsband. Om die situasie die hoof te bied, moet jy dus seker maak dat jy jou geestelikheid handhaaf. Moet jou nie van jou getroue Christenbroers en -susters afsonder nie (Spr. 18:1). Stort jou hart voor Jehovah uit in gebed (Ps. 62:7, 8). Moenie verskonings soek om met ’n uitgesette gesinslid te assosieer, byvoorbeeld deur e-posse te stuur, nie (1 Kor. 5:11). Wees verdiep in geestelike bedrywighede (1 Kor. 15:58). Die suster wat hierbo aangehaal is, sê: “Ek weet dat ek in Jehovah se diens besig moet bly en myself geestelik sterk moet hou sodat ek my dogter sal kan help wanneer sy tot Jehovah terugkeer.”
20 Die Bybel sê: “Die liefde . . . hoop alles” (1 Kor. 13:4, 7). Dit is nie verkeerd om die hoop te koester dat jou geliefde sal terugkeer nie. Elke jaar is daar baie oortreders wat berou toon en na Jehovah se organisasie terugkeer. Jehovah hou nie hulle sonde teen hulle nie. Trouens, hy is “vergewensgesind”.—Ps. 86:5.
KIES WYSLIK
21, 22. Wat is jy vasbeslote om te doen wanneer dit by die gebruik van wilsvryheid kom?
21 Jehovah het sy menseskepping wilsvryheid gegee. (Lees Deuteronomium 30:19, 20.) Maar dit gaan gepaard met ’n ernstige verantwoordelikheid. Elke Christen moet hom afvra: ‘Watter pad volg ek? Het ek toegelaat dat my werk of loopbaan, ontspanning en vermaak of gesinsverhoudings my van Jehovah vervreem?’
22 Jehovah se liefde vir sy volk is konstant. Die enigste manier waarop ons van Jehovah vervreemd kan raak, is as ons kies om ’n verkeerde pad te volg (Rom. 8:38, 39). Maar dit hoef nie te gebeur nie! Wees vasbeslote om nie toe te laat dat enigiets jou van Jehovah vervreem nie. Die volgende artikel sal nog vier aspekte bespreek waarin jy jou vasbeslotenheid kan toon om dit te doen.