Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die pretoriaanse wag ontvang ’n getuienis

Die pretoriaanse wag ontvang ’n getuienis

Dit is die jaar 59 HJ. Onder die bewaking van reismoeë soldate gaan ’n aantal gevangenes Rome binne by die Porta Capena-poort. Op die Palatynse heuwel staan keiser Nero se paleis, wat bewaak word deur pretoriaanse soldate, met swaarde wat onder hulle formele togas versteek is. * Julius, ’n hoofman oor honderd, laat sy gevangenes verby die Romeinse Forum en teen die Viminale heuwel op loop. Hulle loop verby ’n tuin met baie altare vir Romeinse gode en ook verby ’n paradeterrein waar krygsoefeninge plaasvind.

’n Reliëf van pretoriaanse soldate, wat vermoedelik uit die Boog van Claudius kom, wat in 51 HJ gebou is

Onder die gevangenes is die apostel Paulus. Toe Paulus maande tevore op ’n stormgeteisterde skip was, het ’n engel van God vir hom gesê: “Jy moet voor die keiser staan” (Hand. 27:24). Is dit wat nou met Paulus gaan gebeur? Wanneer hy nou oor die hoofstad van die Romeinse Ryk uitkyk, dink hy ongetwyfeld aan die woorde wat die Here Jesus vir hom by die Toring van Antonia in Jerusalem gesê het. “Hou goeie moed!” het Jesus gesê. “Want soos jy in Jerusalem ’n deeglike getuienis oor die dinge aangaande my gegee het, so moet jy ook in Rome getuig.”—Hand. 23:10, 11.

Miskien staan Paulus vir ’n oomblik stil om te kyk na die Castra Praetoria—’n groot vesting met hoë rooisteenmure waarop daar kantele en torings is. Die vesting huisves lede van die pretoriaanse wag, wat as die keiser se lyfwagte en ook die stad se polisiemag dien. Met 12 pretoriaanse troepeafdelings * en etlike stedelike troepeafdelings wat daar gestasioneer is, kan hierdie vesting etlike duisende soldate, insluitende perderuiters, huisves. Die Castra Praetoria is ’n herinnering aan die bron van die ryk se mag. Aangesien die pretoriaanse wag verantwoordelik is vir gevangenes uit die provinsies, lei Julius sy groep deur een van die vier hoofpoorte. Ná ’n gevaarlike reis van ’n hele paar maande het hy uiteindelik sy gevangenes na hulle bestemming gebring.—Hand. 27:1-3, 43, 44.

DIE APOSTEL PREEK “SONDER ENIGE VERHINDERING”

Gedurende die reis het Paulus goddelike visioene ontvang wat aangedui het dat die hele bemanning ’n skipbreuk sou oorleef. Toe ’n giftige slang hom gepik het, het hy niks oorgekom nie. Hy het siek mense genees op die eiland Malta, waar die plaaslike bewoners begin sê het dat hy ’n god is. Berigte van hierdie gebeure het moontlik die rondte gedoen onder die bygelowige pretoriaanse wagte.

Paulus het reeds broers van Rome gesien wat ‘hulle by die Mark van Appius en die Drie Herberge kom ontmoet het’ (Hand. 28:15). Maar hoe kon hy as ’n gevangene sy begeerte vervul om die goeie nuus in Rome bekend te maak? (Rom. 1:14, 15). Party dink dat die gevangenes aan die kaptein van die wag oorgelewer is. As dit die geval was, is Paulus waarskynlik na die pretoriaanse prefek Afranius Burrus geneem, wat moontlik naas die keiser die meeste gesag in die ryk gehad het. * Hoe dit ook al sy, Paulus word nie deur hoofmanne oor honderd bewaak nie, maar eerder deur ’n enkele gewone soldaat van die pretoriaanse wag. Paulus word toegelaat om sy eie verblyf te reël en om besoekers te ontvang en “sonder enige verhindering” vir hulle te preek.—Hand. 28:16, 30, 31.

PAULUS GETUIG AAN KLEIN SOWEL AS GROOT

Mure van die Castra Praetoria soos dit vandag lyk

Een van Burrus se regterlike pligte is moontlik om ’n onderhoud met die apostel Paulus te voer, by die paleis of by die pretoriaanse kamp, voordat hy die saak aan Nero voorlê. Paulus laat nie hierdie unieke geleentheid verbygaan om “aan klein sowel as groot te getuig” nie (Hand. 26:19-23). Watter indruk Burrus ook al gekry het, hy het Paulus nie na die tronk in die pretoriaanse kamp gestuur nie. *

Paulus se gehuurde huisvesting is groot genoeg sodat hy “die vernaamste manne van die Jode” kan ontvang en kan getuig vir hulle sowel as vir die ‘groter getalle wat na hom toe gekom het in sy verblyfplek’. Daar is ook die pretoriaanse soldate wat geen ander keuse het nie as om te luister hoe hy “van die oggend tot die aand” vir Jode ‘deeglik getuig’ aangaande die Koninkryk sowel as Jesus.—Hand. 28:17, 23.

Gedurende Paulus se gevangenskap het soldate hom briewe hoor dikteer

Die pretoriaanse afdeling by die paleis word elke dag op die agtste uur afgelos. Paulus se wag word ook gereeld afgelos. Gedurende die twee jaar van die apostel se gevangenskap het soldate gehoor hoe hy briewe aan die Hebreeuse Christene sowel as die Christene in Efese, Filippi en Kolosse dikteer en het hulle gesien toe hy ’n brief aan ’n Christen met die naam Filemon skryf. Gedurende sy gevangenskap skenk Paulus persoonlike aandag aan ’n wegloperslaaf, Onesimus, ‘vir wie hy in sy gevangenisboeie ’n vader geword het’, en stuur hy hom terug na sy heer (Filem. 10). Paulus toon ongetwyfeld ook persoonlike belangstelling in sy wagte (1 Kor. 9:22). Ons kan ons net voorstel hoe hy ’n soldaat uitvra oor die doel van die verskillende dele van die wapenrusting en dan die inligting in ’n uitstekende illustrasie gebruik.—Ef. 6:13-17.

‘SPREEK DIE WOORD VAN GOD ONBEVREES’

Paulus se gevangenskap dra by tot “die vooruitgang van die goeie nuus” onder die hele pretoriaanse wag en ander (Fil. 1:12, 13). Die inwoners van die Castra Praetoria het konneksies regdeur die Romeinse Ryk, asook met die keiser en sy groot huishouding. Hierdie huishouding bestaan uit gesinslede, knegte en slawe, waarvan party Christene word (Fil. 4:22). Danksy Paulus se vrymoedige getuieniswerk vind die broers in Rome die moed om “die woord van God onbevrees te spreek”.—Fil. 1:14.

Wat ons omstandighede ook al is, ons kan getuig vir mense wat verskillende dienste aan ons lewer

Paulus se getuieniswerk in Rome is ook vir ons ’n bron van aanmoediging terwyl ons ‘die woord in gunstige tye en in moeilike tye verkondig’ (2 Tim. 4:2). Party van ons is huisgebonde, in ’n verpleeginrigting of in die hospitaal of dalk selfs in die tronk weens ons geloof. Wat ons omstandighede ook al is, ons kan vir diegene getuig wat na ons toe kom, miskien om ons by die huis te besoek of om sekere dienste aan ons te lewer. Wanneer ons by elke geleentheid moedig getuig, sien ons persoonlik dat ‘die woord van God nie gebind kan word nie’.—2 Tim. 2:8, 9.

^ par. 2 Sien die venster “Die pretoriaanse wag in Nero se tyd”.

^ par. 4 In ’n Romeinse troepeafdeling was daar tot 1 000 soldate.

^ par. 7 Sien die venster “Sextus Afranius Burrus”.

^ par. 9 Herodes Agrippa is in 36/37 HJ deur keiser Tiberius hier opgesluit omdat hy die wens uitgespreek het dat Kaligula weldra keiser sou word. Toe Kaligula keiser geword het, het hy Herodes met koningskap beloon.—Hand. 12:1.