Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Laat ons op mekaar ag gee en mekaar aanmoedig

Laat ons op mekaar ag gee en mekaar aanmoedig

“Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor.”—HEB. 10:24.

1, 2. Wat het 230 Getuies van Jehovah gehelp om die doodsmars aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog te oorleef?

TOE die Nazi-regime aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog ineengestort het, is die bevel gegee dat duisende wat nog in konsentrasiekampe was, uitgewis moet word. Die gevangenes in die Sachsenhausen-kamp moes na kusstede stap waar hulle op skepe gelaai sou word wat op see gesink sou word. Dit was deel van ’n strategie wat later as die doodsmarse bekend gestaan het.

2 Drie-en-dertig-duisend van die gevangenes van die Sachsenhausen-konsentrasiekamp moes 250 kilometer stap na Lübeck, ’n hawestad in Duitsland. Onder hulle was daar 230 Getuies van Jehovah uit ses lande, wat beveel is om bymekaar te bly. Hulle almal was swak weens verhongering en siekte. Wat het dit vir ons broers moontlik gemaak om die mars te oorleef? “Ons het mekaar heeltyd aangemoedig om nie tou op te gooi nie”, het een van hulle gesê. Hulle liefde vir mekaar asook godgegewe “krag wat bo die normale is”, het hulle gehelp om hierdie doodsmars te oorleef.—2 Kor. 4:7.

3. Waarom moet ons mekaar aanmoedig?

3 Hoewel ons nie vandag op so ’n doodsmars is nie, kom ons wel voor baie uitdagings te staan. Nadat God se Koninkryk in 1914 opgerig is, is Satan uit die hemel gewerp en tot die omgewing van die aarde beperk, en hy “het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het” (Op. 12:7-9, 12). Terwyl Armageddon naderkom, gebruik Satan beproewinge en druk in ’n poging om ons geestelik te verswak. Dan is daar ook die druk van die daaglikse lewe (Job 14:1; Pred. 2:23). Al ons probleme kan ons soms so uitmergel dat ons nie die emosionele en geestelike krag kan bymekaarskraap om die ontmoediging die hoof te bied nie. Kyk na die geval van ’n broer wat oor die jare heen baie mense geestelik gehelp het. In sy latere jare het hy en sy vrou sieklik geword,  en hy het baie mismoedig begin voel. Soos hierdie broer het ons almal “krag wat bo die normale is”, van Jehovah nodig. Ons het ook mekaar se aanmoediging nodig.

4. Watter raad van die apostel Paulus moet ons ter harte neem as ons ander wil aanmoedig?

4 As ons vir ander ’n bron van aanmoediging wil wees, moet ons die vermaning ter harte neem wat die apostel Paulus aan die Hebreeuse Christene gegee het. Hy het gesê: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Heb. 10:24, 25). Hoe kan ons hierdie belangrike raad toepas?

“LAAT ONS OP MEKAAR AG GEE”

5. Wat beteken dit om “op mekaar ag [te] gee”, en hoe kan ons dit doen?

5 Om “op mekaar ag [te] gee”, beteken om “ander se behoeftes in ag te neem, om aan hulle te dink”. Kan ons noukeurig ag gee op ander se behoeftes as ons ons gesprekke met hulle beperk tot ’n vinnige “hallo” by die Koninkryksaal of net onbenullige sake bespreek? Nie werklik nie. Ons wil natuurlik versigtig wees om ‘ons met ons eie sake te bemoei’ en ons nie ‘met ander se sake te bemoei’ nie (1 Tess. 4:11; 1 Tim. 5:13). As ons ons broers wil aanmoedig, moet ons hulle nietemin werklik leer ken—hulle omstandighede, hulle eienskappe, hulle geestelikheid, hulle sterk punte en hulle swakhede. Hulle moet ons as hulle vriende beskou en weet dat ons vir hulle lief is. Dit behels dat ons tyd met hulle deurbring—nie net wanneer hulle probleme het en mismoedig is nie, maar ook op ander tye.—Rom. 12:13.

6. Wat sal ’n ouer man help om op diegene onder sy sorg ‘ag te gee’?

6 Die ouer manne in die gemeente word gemaan om ‘as herders toesig te hou oor die kudde van God wat onder hulle sorg is’ en om dit gewillig en gretig te doen (1 Pet. 5:1-3). Hoe kan hulle die herderswerk op doeltreffende wyse doen tensy hulle die skape onder hulle sorg werklik ken? (Lees Spreuke 27:23.) As ouer manne vir medegelowiges beskikbaar is en dit geniet om tyd met hulle deur te bring, sal die skape meer geneig wees om hulle om hulp te vra wanneer hulle dit nodig het. Dit sal ook vir die broers en susters makliker wees om te sê hoe hulle werklik voel en waaroor hulle besorg is. Dít sal weer die ouer manne in staat stel om ‘ag te gee’ op dié wat onder hulle sorg is en die nodige hulp te verleen.

7. Hoe moet ons die “wilde praatjies” beskou van dié wat mismoedig is?

7 Paulus het vir die gemeente in Tessalonika gesê: “Ondersteun die swakkes.” (Lees 1 Tessalonisense 5:14.) “Terneergedrukte siele” sowel as dié wat mismoedig is, is in sekere sin swak. Spreuke 24:10 sê: “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees.” Die woorde van ’n persoon wat baie mismoedig is, kan in “wilde praatjies” ontaard (Job 6:2, 3). Wanneer ons ‘ag gee op’ sulke mense, moet ons in gedagte hou dat hulle woorde moontlik nie ’n ware weerspieëling is van wat werklik in hulle hart is nie. Rachelle, wie se ma baie depressief geraak het, het dit uit eie ondervinding geleer. Rachelle sê: “My ma het dikwels baie gemene dinge gesê. Meeste van die tyd het ek probeer onthou watter soort persoon my ma werklik is—liefdevol, goedhartig en vrygewig. Ek het geleer dat mense wat aan depressie ly, baie dinge sê wat hulle nie bedoel nie. Die laaste ding wat ’n mens moet doen, is om kwaad vir kwaad te vergeld.” Spreuke 19:11 sê: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn, en dit is mooi van hom om die oortreding oor te sien.”

8. Veral teenoor wie moet ons ons liefde “bevestig”, en waarom?

8 Hoe kan ons ‘ag gee op’ iemand wat  terneergedruk is omdat hy nog steeds verleë en mismoedig voel as gevolg van ’n oortreding wat hy in die verlede begaan het, al het hy stappe gedoen om die saak reg te stel? Paulus het aangaande ’n berouvolle oortreder in Korinte geskryf: “Julle [moet] hom . . . goedgunstig . . . vergewe en vertroos, sodat so iemand nie dalk op die een of ander wyse deur sy oormatige droefheid verswelg word nie. Daarom vermaan ek julle om julle liefde vir hom te bevestig” (2 Kor. 2:7, 8). Volgens een woordeboek beteken die woord wat as “bevestig” vertaal word, “om te bekragtig, geldig te verklaar, wetlik bindend te maak”. Ons kan nie bloot aanneem dat die persoon weet dat ons hom liefhet en oor hom besorg is nie. Hy moet dit in ons gesindheid en optrede teenoor hom sien.

‘SPOOR TOT LIEFDE EN GOEIE WERKE AAN’

9. Wat beteken dit om “tot liefde en goeie werke aan te spoor”?

9 “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor”, het Paulus geskryf. Ons moet medegelowiges aanspoor om liefde te betoon en goeie werke te verrig. Wanneer ’n vuur besig is om dood te gaan, sal ons dalk die kole moet roer en die vlamme moet aanblaas (2 Tim. 1:6). Net so kan ons ons broers liefdevol aanspoor om liefde vir God en naaste te openbaar. Dit is noodsaaklik om ander te prys as ons hulle tot goeie werke wil aanspoor.

Gaan met ander in die veldbediening uit

10, 11. (a) Wie het woorde van lof nodig? (b) Lig toe hoe woorde van lof iemand kan help wat ‘’n misstap begaan het’.

10 Ons almal het woorde van lof nodig, hetsy ons mismoedig is of nie. “My pa het nie een keer gesê dat ek enigiets goed gedoen het nie”, het ’n ouer man geskryf. “Ek het dus ’n swak selfbeeld ontwikkel. . . . Hoewel ek nou 50 jaar oud is, waardeer ek dit nog steeds wanneer my vriende my verseker dat ek ’n goeie ouer man is. . . . Ek het uit eie ondervinding geleer hoe belangrik dit is om ander aan te moedig, en ek maak ’n punt daarvan om dit te doen.” Almal voel aangemoedig wanneer hulle geprys word—insluitende pioniers, bejaardes  en dié wat dalk mismoedig voel.—Rom. 12:10.

11 Wanneer ‘dié wat geestelik bekwaam is, iemand wat ’n misstap begaan het, probeer reghelp’, sal liefdevolle raad en gepaste woorde van lof die oortreder moontlik aanspoor om sy denke te verander en te doen wat reg is (Gal. 6:1). Dit was die geval met ’n suster met die naam Miriam. Sy skryf: “Ek het ’n traumatiese tydperk in my lewe deurgemaak toe ’n paar hegte vriende die gemeente verlaat het, en boonop het my pa omtrent daardie tyd bloeding op die brein gehad. Ek het baie depressief geraak. Om my depressie te probeer oorkom, het ek met ’n wêreldse man begin uitgaan.” Dit het haar laat voel dat sy nie Jehovah se liefde waardig is nie, en sy het dit oorweeg om die waarheid te verlaat. Toe ’n ouer man haar herinner het aan die getroue diens wat sy in die verlede verrig het, het dit haar diep geraak. Sy het die ouer manne die geleentheid gegee om haar van Jehovah se liefde te verseker. En dit het haar liefde weer aangewakker. Sy het haar verhouding met die ongelowige man beëindig en haar diens aan Jehovah voortgesit.

Spoor tot liefde en goeie werke aan

12. Watter uitwerking sal dit moontlik hê as ons iemand probeer motiveer deur hom verleë te laat voel, te kritiseer of skuldig te laat voel?

12 Om iemand verleë te laat voel deur hom onregverdig met ander te vergelyk, hom te kritiseer omdat hy nie aan ons eie onbuigsame standaarde voldoen nie of hom skuldig te laat voel dat hy nie meer doen nie, kan hom dalk motiveer om hom ’n ruk lank meer in te span, maar dit sal net tydelik wees. Daarenteen kan dit ’n blywende, positiewe uitwerking op ’n medegelowige hê as ons hom prys en herinner aan sy liefde vir God.—Lees Filippense 2:1-4.

‘MOEDIG MEKAAR AAN’

13. Wat behels dit om ander aan te moedig? (Sien prent aan begin van artikel.)

13 Ons moet ‘mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate ons die dag sien nader kom’. Dit behels dat ons ander motiveer om aan te hou om in hulle diens aan God vooruitgang te maak. Om tot liefde en goeie werke aan te spoor, is soos om ’n vuur te roer wat besig is om dood te gaan, en om ander aan te moedig is soos om hout op die vuur te sit om dit aan die brand te hou of dit sterker te laat brand. Om ander aan te moedig, sluit in dat ons die terneergedruktes opbou en vertroos. Wanneer ons die geleentheid kry om so ’n persoon aan te moedig, moet ons op hartlike en liefdevolle wyse met hulle praat (Spr. 12:18). Wat meer is, ons moet “gou wees om te hoor”, en “stadig om te praat” (Jak. 1:19). As ons met empatie luister, sal ons dalk kan uitvind wat ’n mede-Christen ontmoedig en iets kan sê wat hom sal help om daardie omstandighede die hoof te bied.

Geniet heilsame assosiasie

14. Hoe is een broer wat mismoedig was, gehelp?

14 Kyk na hoe ’n medelydende ouer man ’n broer gehelp het wat jare lank onbedrywig  was. Terwyl die ouer man na hom geluister het, het dit duidelik geword dat die broer nog steeds baie lief is vir Jehovah. Hy het elke nommer van Die Wagtoring ywerig bestudeer en probeer om vergaderinge gereeld by te woon. Maar die optrede van party in die gemeente het hom teleurgestel en ietwat verbitterd laat voel. Die ouer man het met empatie geluister sonder om te oordeel en het liefdevol sy besorgdheid oor die broer en sy gesin uitgespreek. Uiteindelik het die broer besef dat hy toelaat dat slegte ondervindinge van die verlede hom verhinder om die God te dien vir wie hy lief is. Die ouer man het die broer genooi om saam met hom in die predikingswerk uit te gaan. Met die ouer man se hulp het die broer weer velddiens begin doen en uiteindelik gekwalifiseer om weer as ’n ouer man te dien.

Luister geduldig na ’n persoon wat aanmoediging nodig het (Sien paragrawe 14, 15)

15. Wat kan ons by Jehovah leer oor hoe om terneergedruktes aan te moedig?

15 ’n Mismoedige persoon sal dalk nie onmiddellik beter voel of gou reageer op die hulp wat ons aanbied nie. Ons sal hom moontlik volgehoue ondersteuning moet gee. Paulus het gesê: “Kleef die swakkes aan, wees geduldig met almal” (1 Tess. 5:14, An American Translation). Laat ons nie gou moed opgee met die swakkes nie, maar laat ons hulle eerder “aankleef” en aanhou om hulle te ondersteun. In die verlede was Jehovah geduldig met sy knegte wanneer hulle soms mismoedig geraak het. Byvoorbeeld, God was baie genadig teenoor Elia en het sy gevoelens in ag geneem. Jehovah het voorsien wat die profeet nodig gehad het om in sy diens te volhard (1 Kon. 19:1-18). Omdat Dawid opregte berou getoon het, het Jehovah hom goedgunstig vergewe (Ps. 51:7, 17). God het ook die skrywer van Psalm 73 gehelp, wat amper opgehou het om Hom te dien (Ps. 73:13, 16, 17). Jehovah is genadig en goedhartig teenoor ons, veral wanneer ons terneergedruk en mismoedig voel (Eks. 34:6). Sy barmhartighede is “elke oggend nuut” en “sal beslis nie tot ’n einde kom nie” (Klaagl. 3:22, 23). Jehovah verwag dat ons sy voorbeeld moet volg en terneergedruktes met teerheid moet behandel.

MOEDIG MEKAAR AAN OM OP DIE PAD VAN DIE LEWE TE BLY

16, 17. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen terwyl die einde van hierdie stelsel nader kom, en waarom?

16 Van die 33 000 gevangenes wat van die Sachsenhausen-konsentrasiekamp af begin stap het, het duisende gesterf. Maar elkeen van die 230 Getuies van Jehovah wat die kamp verlaat het, het daardie doodsmars oorleef. Die aanmoediging en ondersteuning wat hulle van mekaar ontvang het, het ’n sleutelrol daarin gespeel om die doodsmars vir hulle in ’n oorlewingsmars te verander.

17 Vandag is ons op “die pad wat na die lewe lei” (Matt. 7:14). Binnekort sal al Jehovah se aanbidders in eenheid in die nuwe wêreld van regverdigheid instap (2 Pet. 3:13). Laat ons vasbeslote wees om mekaar aan te moedig op die pad wat na die ewige lewe lei.