Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wees bly oor die huwelik van die Lam!

Wees bly oor die huwelik van die Lam!

“Laat ons bly wees en oorloop van vreugde, . . . want die huwelik van die Lam het gekom.”—OP. 19:7.

1, 2. (a) Wie se bruilof sal ’n rede tot groot vreugde in die hemel wees? (b) Watter vrae ontstaan?

DIT neem altyd tyd om vir ’n troue voor te berei. Maar ons sal nou ’n baie spesiale troue bespreek—’n koninklike bruilof. Stel jou net voor! Daar word al 2 000 jaar lank voorbereidings daarvoor getref. Die tyd kom nou vinnig nader wanneer die bruidegom met sy bruid verenig sal word. Binnekort sal vreugdevolle musiek die Koning se paleis vul, en hemelse menigtes sal sing: “Loof Jah, want Jehovah ons God, die Almagtige, het as koning begin heers. Laat ons bly wees en oorloop van vreugde, en laat ons hom die heerlikheid gee, want die huwelik van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereedgemaak.”—Op. 19:6, 7

2 “Die Lam” wie se huwelik ’n rede tot vreugde in die hemel sal wees, is niemand anders as Jesus Christus nie (Joh. 1:29). Hoe is hy vir die bruilof geklee? Wie is sy bruid? Hoe is sy vir die huwelik voorberei? Wanneer vind die bruilof plaas? Hierdie huwelik sal wel ’n bron van vreugde in die hemel wees, maar sal diegene wat hoop om vir ewig op die aarde te lewe, in daardie vreugde deel? Ons sien daarna uit om die antwoorde op hierdie vrae te vind terwyl ons Psalm 45 verder ondersoek.

‘SY KLERE IS MIRRE EN AALWYNHOUT EN KASSIA’

3, 4. (a) Wat word omtrent die Bruidegom se huweliksgewaad gesê, en wat dra tot sy vreugde by? (b) Wie is “die dogters van konings” en “die koninklike gemalin” wat in die Bruidegom se vreugde deel?

3 Lees Psalm 45:8, 9Die Bruidegom, Jesus Christus, trek sy glansryke koninklike huweliksgewaad aan. Dit is gepas dat sy klere ruik na “die keurigste welriekende stowwe”, soos mirre en kassia, wat van die bestanddele was in die heilige salfolie wat in Israel gebruik is.—Eks. 30:23-25.

4 Die hemelse musiek wat sy paleis vul, dra tot die Bruidegom se vreugde by terwyl sy huwelik nader kom. “Die koninklike gemalin”, die hemelse deel van God se organisasie, wat “die dogters van konings”, die heilige engele, insluit, deel ook in hierdie vreugde. Hoe opwindend is dit tog om hemelse stemme te hoor sê: “Laat ons bly wees en oorloop van vreugde, . . . want die huwelik van die Lam het gekom”!

DIE BRUID WORD VIR DIE BRUILOF VOORBEREI

5. Wie is “die Lam se vrou”?

5 Lees Psalm 45:10, 11. Ons het die Bruidegom geïdentifiseer, maar wie is sy bruid? Sy is ’n saamgestelde bruid wat bestaan uit die lede van die gemeente waarvan Jesus Christus die hoof is. (Lees Efesiërs 5:23, 24.) Hulle sal deel word van Christus se Messiaanse Koninkryk (Luk. 12:32). Hierdie 144 000 geesgesalfde Christene ‘bly die Lam volg ongeag waar hy gaan’ (Op. 14:1-4). Hulle word “die Lam se vrou” en woon saam met hom in sy hemelse woning.—Op. 21:9; Joh. 14:2, 3

6. Waarom word daar na die gesalfdes as “die koning se dogter” verwys, en waarom word hulle beveel om ‘hulle volk te vergeet’?

6 Die toekomstige bruid word nie net as “o dogter” aangespreek nie, maar word ook “die koning se dogter” genoem (Ps. 45:13). Wie is hierdie “koning”? Gesalfde Christene word aangeneem as “kinders” van Jehovah (Rom. 8:15-17). Omdat hulle ’n hemelse bruid sal word, word die gesalfdes beveel: “Vergeet u volk en u [vleeslike] vader se huis.” Hulle moet hulle verstande “gerig [hou] op die dinge daar bo, nie op die dinge op die aarde nie”.—Kol. 3:1-4.

7. (a) Hoe berei Christus sy toekomstige bruid voor? (b) Hoe beskou die bruid haar toekomstige Bruidegom?

7 Christus berei sy toekomstige bruid al eeue lank vir die hemelse bruilof voor. Die apostel Paulus het verduidelik dat Christus “die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het, sodat hy dit kon heilig, deur dit met die waterbad deur middel van die woord te reinig, sodat hy die gemeente in die prag daarvan voor hom kon stel, sonder ’n vlek of ’n rimpel of iets dergeliks, maar dat dit heilig en sonder smet sou wees” (Ef. 5:25-27). Paulus het vir die gesalfde Christene in eertydse Korinte gesê: “Ek is jaloers oor julle met ’n goddelike jaloesie, want ek het julle persoonlik aan een man in die huwelik beloof om julle as ’n kuis maagd voor die Christus te stel” (2 Kor. 11:2). Die Bruidegom-Koning Jesus Christus waardeer die geestelike “skoonheid” van sy toekomstige bruid. En die bruid erken hom as haar “heer” en ‘buig haar voor hom neer’ as haar toekomstige man.

DIE BRUID WORD “NA DIE KONING TOE GELEI”

8. Waarom is dit gepas dat die bruid as “die ene heerlikheid” beskryf word?

8 Lees Psalm 45:13, 14a. Die bruid is “die ene heerlikheid”, pragtig versier vir die koninklike bruilof. In Openbaring 21:2 word die bruid vergelyk met ’n stad, Nuwe Jerusalem, en is sy “vir haar man versier”. Hierdie hemelse stad het “die heerlikheid van God”, en die glans daarvan is “soos ’n baie kosbare steen, soos ’n jaspissteen wat kristalhelder blink” (Op. 21:10, 11). Die luisterrykheid van Nuwe Jerusalem word pragtig beskryf in die boek Openbaring (Op. 21:18-21). Dit is geen wonder dat die psalmis die bruid as “die ene heerlikheid” beskryf nie! Die koninklike bruilof vind immers in die hemel plaas.

9. Wie is “die koning” na wie die bruid gelei word, en hoe is sy geklee?

9 Die Een na wie die bruid gelei word, is die Bruidegom—die Messiaanse Koning. Hy het haar voorberei deur haar ‘te reinig met die waterbad deur middel van die woord’. Sy is “heilig en sonder smet” (Ef. 5:26, 27). Sy bruid moet ook gepas geklee wees vir die geleentheid. En sy is! Ja, “haar klere het goue borduurwerk”, en “in geweefde klere sal sy na die koning toe gelei word”. Vir die bruilof van die Lam ‘is dit aan haar gegee om geklee te wees in blink, skoon, fyn linne, want die fyn linne beeld die regverdige dade van die heiliges af’.—Op. 19:8.

‘DIE HUWELIK HET GEKOM’

10. Wanneer sal die Lam se huwelik plaasvind?

10 Lees Openbaring 19:7. Wanneer sal die Lam se huwelik plaasvind? Hoewel ‘sy vrou haar gereedgemaak het’ vir die huwelik, beskryf wat volgende gesê word, nie die eintlike bruilof nie. Dit gee eerder ’n lewendige beskrywing van die finale fase van die groot verdrukking (Op. 19:11-21). Beteken dit dat die bruilof plaasvind voordat die Bruidegom-Koning sy oorwinning voltooi? Nee. Die visioene in die boek Openbaring is nie in chronologiese volgorde neergeskryf nie. Volgens Psalm 45 vind die koninklike bruilof plaas nadat die Koning Jesus Christus sy swaard aangord en ‘voortgaan tot sukses’ deur sy vyande te oorwin.—Ps. 45:3, 4

11. In watter volgorde sal Christus sy oorwinning voltooi?

11 Ons kan dus tot die gevolgtrekking kom dat hierdie gebeurtenisse soos volg sal plaasvind: Eerstens sal oordeel voltrek word aan “die groot hoer”, Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens (Op. 17:1, 5, 16, 17; 19:1, 2). Daarna sal Christus God se oordele aan die res van Satan se goddelose stelsel op die aarde voltrek deur dit te vernietig by Armageddon, “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” (Op. 16:14-16; 19:19-21). Laastens sal die Stryder-Koning sy oorwinning voltooi deur Satan en sy demone in die afgrond te werp, waar hulle in ’n toestand van doodse onbedrywigheid sal wees.—Op. 20:1-3.

12, 13. (a) Wanneer sal die huwelik van die Lam plaasvind? (b) Wie sal in die hemel bly wees oor die huwelik van die Lam?

12 Wanneer gesalfde Christene hulle aardse loopbaan gedurende Christus se teenwoordigheid voltooi, word hulle tot hemelse lewe opgewek. Die een of ander tyd ná die vernietiging van Babilon die Grote sal Jesus al die oorblywende lede van die bruidsklas insamel (1 Tess. 4:16, 17). Al die lede van die “bruid” sal dus in die hemel wees voordat die oorlog van Armageddon uitbreek. Ná daardie oorlog kan die huwelik van die Lam plaasvind. Wat ’n vreugdevolle geleentheid sal daardie huwelik tog wees! “Gelukkig is dié wat na die aandmaal van die Lam se huwelik genooi is”, sê Openbaring 19:9. Die 144 000 lede van die bruidsklas sal beslis gelukkig wees. En die Bruidegom-Koning sal oorloop van vreugde wanneer hy in simboliese sin saam met al sy koninklike metgeselle ‘aan sy tafel in sy koninkryk eet en drink’ (Luk. 22:18, 28-30). Maar dit is nie net die Bruidegom en sy bruid wat oor die huwelik van die Lam sal bly wees nie.

13 Soos ons vroeër gesien het, sing hemelse menigtes saam: “Laat ons bly wees en oorloop van vreugde, en laat ons hom [Jehovah] die heerlikheid gee, want die huwelik van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereedgemaak” (Op. 19:6, 7). Maar wat van Jehovah se knegte op aarde? Sal hulle ook in hierdie vreugde deel?

‘HULLE SAL MET BLYDSKAP GEBRING WORD’

14. Wie is “die maagde” waarna Psalm 45 verwys?

14 Lees Psalm 45:12, 14b, 15. Die profeet Sagaria het voorspel dat mense van die nasies hulle in die tyd van die einde met dankbaarheid by die oorblyfsel van geestelike Israel sou aansluit. Hy het geskryf: “In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ’n Joodse man vasgryp, ja, hulle sal dit vasgryp en sê: ‘Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is’” (Sag. 8:23). Psalm 45:12 verwys na hierdie simboliese “tien man” as “die dogter van Tirus” en “die rykes van die volk”. Hulle kom met geskenke na die gesalfde oorblyfsel om hulle ‘aangesig te versag’, dit wil sê om hulle guns en geestelike hulp te soek. Sedert 1935 het miljoene mense toegelaat dat die oorblyfsel hulle “tot regverdigheid bring” (Dan. 12:3). Hierdie lojale metgeselle van die gesalfde Christene het hulle lewe gereinig en geestelike maagde geword. Hierdie “maagde” wat die bruid vergesel, het hulle aan Jehovah toegewy en het bewys dat hulle getroue onderdane van die Bruidegom-Koning is.

15. Hoe werk “die maagde” saam met die lede van die bruidsklas wat nog op aarde is?

15 Die oorblyfsel van die bruidsklas is veral dankbaar teenoor hierdie “maagde” vir hulle ywerige hulp met die verkondiging van “hierdie goeie nuus van die koninkryk” in die hele bewoonde aarde (Matt. 24:14). Dit is nie net ‘die gees en die bruid wat aanhou om te sê: “Kom!”’ nie, maar diegene wat hoor, sê ook: “Kom!” (Op. 22:17). Ja, die “ander skape” het gehoor hoe die lede van die gesalfde bruidsklas sê: “Kom!”, en hulle sê saam met die bruid vir die bewoners van die aarde: “Kom!”—Joh. 10:16.

16. Watter voorreg het Jehovah aan die ander skape gegee?

16 Die gesalfde oorblyfsel is lief vir hulle metgeselle en is bly om te weet dat die Bruidegom se Vader, Jehovah, hierdie ander skape op die aarde die voorreg gegee het om te deel in die vreugde van die hemelse huwelik van die Lam. Daar is voorspel dat hierdie “maagde . . . met blydskap en vreugde gebring” sou word. Ja, die ander skape, wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe, sal hulle saam met die ganse heelal verbly wanneer die huwelik van die Lam in die hemel plaasvind. Dit is gepas dat die boek Openbaring sê dat die lede van die “groot menigte . . . voor die troon en voor die Lam staan”. Hulle verrig heilige diens aan Jehovah in die aardse voorhof van sy geestelike tempel.—Op. 7:9, 15.

Die huwelik van die Lam bring vreugde mee vir “die maagde” wat die bruid vergesel (Sien paragraaf 16)

“IN DIE PLEK VAN U VOORVADERS SAL U SEUNS WEES”

17, 18. Hoe word die Lam se huwelik vrugbaar, en vir wie sal Christus gedurende sy Duisendjarige Heerskappy ’n vader word?

17 Lees Psalm 45:16. “Die maagde” van Christus se hemelse bruid sal verdere rede tot blydskap hê wanneer hulle sien dat die huwelik in die nuwe wêreld vrugbaar word. Die Bruidegom-Koning sal sy aandag op die aarde rig en sal sy aardse “voorvaders” opwek, wat sy aardse “seuns” sal word (Joh. 5:25-29; Heb. 11:35). Uit hulle sal hy ‘vorste op die hele aarde’ aanstel. Christus sal ongetwyfeld ook ander uit die getroue ouer manne van vandag aanstel om die leiding in die nuwe wêreld te neem.—Jes. 32:1.

18 Gedurende sy Duisendjarige Heerskappy sal Christus ook vir ander ’n vader word. Trouens, al die bewoners van die aarde wat die ewige lewe ontvang, sal dit verkry omdat hulle geloof in Jesus se losprysoffer beoefen (Joh. 3:16). Hy word dus hulle “Ewige Vader”.—Jes. 9:6, 7.

BEWEEG ‘OM MELDING TE MAAK VAN SY NAAM’

19, 20. Hoe raak die opwindende gebeurtenisse wat in Psalm 45 gemeld word, vandag alle ware Christene?

19 Lees Psalm 45:1, 17. Ja, die gebeurtenisse wat in Psalm 45 opgeteken is, is vir alle Christene van belang. Die oorblywende gesalfdes op aarde is verheug oor die vooruitsig om binnekort saam met hulle broers en hulle Bruidegom in die hemel verenig te wees. Die ander skape word beweeg om hulle al hoe meer aan hulle glorieryke Koning te onderwerp en is dankbaar vir die voorreg om metgeselle van die oorblywende lede van sy bruid op die aarde te wees. Ná hulle huwelik sal Christus en sy koninklike metgeselle ongekende seëninge op die bewoners van die aarde uitstort.—Op. 7:17; 21:1-4.

20 Terwyl ons uitsien na die vervulling van “’n aangename saak” aangaande die Messiaanse Koning, word ons sekerlik beweeg ‘om melding te maak van sy naam’. Mag ons onder diegene wees wat ‘die Koning tot onbepaalde tyd sal prys’.