Het jy geweet?
Wat het dit in Bybeltye beteken as iemand opsetlik sy klere geskeur het?
DIE Skrif beskryf ’n aantal situasies waarin individue hulle eie klere geskeur het. So ’n daad klink dalk vir hedendaagse lesers vreemd, maar onder die Jode was dit hoe mense sterk emosie uitgedruk het as gevolg van wanhoop, verdriet, vernedering, verontwaardiging of rou.
Byvoorbeeld, Ruben “het . . . sy klere geskeur” toe hy uitgevind het dat sy plan om sy broer Josef te bevry, misluk het, aangesien Josef as ’n slaaf verkoop is. Hulle vader, Jakob, het “sy mantels geskeur” toe hy gedink het dat Josef deur ’n wilde dier verslind is (Gen. 37:18-35). Job het “sy moulose oorkleed geskeur” toe daar vir hom gesê is dat al sy kinders dood is (Job 1:18-20). ’n Boodskapper “met geskeurde klere” het voor die hoëpriester Eli verskyn om hom in te lig dat die Israeliete ’n nederlaag gely het, Eli se twee seuns omgekom het en die verbondsark buitgemaak is (1 Sam. 4:12-17). Toe Josia die woorde van die wetboek hoor wat aan hom voorgelees is en die dwaling van sy volk besef het, het hy “sy klere geskeur”.
By Jesus se verhoor het die hoëpriester Kajafas “sy boklere geskeur” toe hy gehoor het wat hy verkeerdelik as laster beskou het (Matt. 26:59-66). Volgens ’n rabbynse tradisie was enigiemand wat gehoor het dat die heilige naam belaster word, verplig om sy klere te skeur. Volgens ’n ander rabbynse beskouing wat ná die vernietiging van Jerusalem se tempel ontstaan het, “hoef iemand wat deesdae hoor dat die Heilige Naam belaster word, nie sy klere te skeur nie, want anders sal al sy klere verflenterd wees”.
As iemand sy klere geskeur het, maar sy droefheid nie opreg was nie, het dit natuurlik geen waarde in God se oë gehad nie. Jehovah het dus vir sy volk gesê: “Skeur julle hart en nie julle klere nie; en keer terug tot Jehovah.”