Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jou gewete ’n betroubare gids?

Is jou gewete ’n betroubare gids?

“Die doel van hierdie opdrag is in werklikheid liefde uit ’n rein hart en uit ’n goeie gewete.”—1 TIMOTEUS 1:5.

LIEDERE: 57, 48

1, 2. Wie het ons ons gewete gegee, en waarom kan ons dankbaar wees dat ons ’n gewete het?

JEHOVAH GOD het mense geskep met wilsvryheid, dit wil sê die vryheid om keuses te maak. Om ons te help om die regte keuses te maak, het Jehovah ons ’n gids gegee. Hierdie gids is die gewete—ons innerlike sin vir wat reg en verkeerd is. Wanneer ons ons gewete op die regte manier gebruik, kan dit ons help om te doen wat goed is en om te vermy wat sleg is. Die feit dat ons ’n gewete het, toon dat Jehovah vir ons lief is en wil hê dat ons suksesvol moet wees.

2 Party mense doen vandag wat goed is en haat wat sleg is, al weet hulle nie wat die Bybel se standaarde is nie. (Lees Romeine 2:14, 15.) Waarom is dit die geval? Dit is omdat hulle ’n gewete het. Dit weerhou baie mense daarvan om bose dinge te doen. Stel jou voor hoe sleg die wêreld sou gewees het as niemand ’n gewete gehad het nie! Ons sou waarskynlik van baie erger dinge gehoor het as die dinge waarvan ons reeds hoor. Ons kan dankbaar wees dat Jehovah mense ’n gewete gegee het!

Hoe kan ’n goed opgeleide gewete ons help wanneer ons besluite moet neem?

3. Hoe kan ons gewete ons in die gemeente help?

3 Die meeste mense besef nie dat hulle hulle gewete moet oplei nie. Maar Jehovah se volk wil hê dat hulle gewete reg moet werk, aangesien dit hulle baie kan help om eenheid in die gemeente te bevorder. Ons wil hê dat ons gewete ons moet herinner aan die Bybel se standaarde van reg en verkeerd, van goed en sleg. Maar om ons gewete op te lei en reg te gebruik, moet ons nie net leer wat die Bybel sê nie. Ons moet lief wees vir God se standaarde en glo dat dit tot ons beswil is. Paulus het geskryf: “Die doel van hierdie opdrag is in werklikheid liefde uit ’n rein hart en uit ’n goeie gewete en uit geloof sonder huigelary” (1 Timoteus 1:5). As ons ons gewete oplei en daarna luister, sal ons liefde vir Jehovah en ons geloof in hom toeneem. Die manier waarop ons ons gewete gebruik, toon hoe heg ons verhouding met Jehovah is en hoe graag ons hom wil behaag. Ons gewete toon ook watter soort persoon ons werklik is.

4. Hoe kan ons ons gewete oplei?

4 Maar hoe kan ons ons gewete oplei? Ons moet die Bybel gereeld bestudeer, peins oor wat ons lees en Jehovah vra om ons te help om toe te pas wat ons geleer het. Dit beteken dat ons nie net feite en reëls moet leer nie. Ons bestudeer die Bybel omdat ons Jehovah beter wil leer ken. Ons leer watter soort Persoon hy is en waarvan hy hou en nie hou nie. Wanneer ons meer omtrent Jehovah leer, sal ons gewete ons help om gou te onderskei tussen wat reg en verkeerd is in Jehovah se oë. Hoe meer ons ons gewete oplei, hoe meer sal ons soos Jehovah begin dink.

5. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

5 Maar ons wonder dalk: Hoe kan ’n goed opgeleide gewete ons help wanneer ons besluite moet neem? Hoe kan ons die gewete van ’n mede-Christen respekteer? En hoe kan ons gewete ons beweeg om te doen wat goed is? Kom ons bespreek drie gebiede waarop ons ’n goed opgeleide gewete nodig het: (1) gesondheidsorg, (2) ontspanning en (3) ons predikingswerk.

WEES REDELIK

6. Watter besluite moet ons in verband met gesondheidsorg neem?

6 Die Bybel sê dat ons skadelike dinge moet vermy en matigheid voor oë moet hou, soos wanneer dit kom by ons eet- en drinkgewoontes (Spreuke 23:20; 2 Korintiërs 7:1). As ons na die Bybel se raad luister, kan dit ons help om na ons gesondheid om te sien. Maar ons raak nog steeds siek en word oud. Watter besluite sal ons dalk moet neem? In party lande is konvensionele sowel as alternatiewe mediese behandeling beskikbaar. Takkantore ontvang gereeld briewe van broers en susters in verband met die een of ander soort mediese behandeling. Baie vra: “Kan ’n kneg van Jehovah hierdie soort behandeling aanvaar?”

7. Hoe kan ons besluite neem in verband met bloed?

7 ’n Takkantoor en die plaaslike gemeentelike ouer manne het nie die gesag om mediese besluite vir ’n Christen te neem nie, selfs as hy hulle vra wat hy moet doen (Galasiërs 6:5). Maar die ouer manne kan ’n Christen help om ’n wyse besluit te neem deur sy aandag te vestig op wat Jehovah sê. God het ons byvoorbeeld beveel om ons voortdurend van bloed te onthou (Handelinge 15:29). Hierdie bevel help ’n Christen om duidelik te verstaan dat hy nie mediese behandeling kan aanvaar wat behels dat hy heelbloed of enige van die vier hoofkomponente van bloed inneem nie. Hierdie kennis kan selfs ’n uitwerking hê op ’n Christen se gewete wanneer hy ’n besluit moet neem aangaande bloedfraksies, wat verkry word uit die vier hoofkomponente van bloed. * (Sien voetnoot.) Watter ander Bybelraad kan ons help om wyse besluite te neem in verband met mediese behandeling?

8. Hoe kan Filippense 4:5 ons help om wyse besluite te neem in verband met gesondheidsorg?

8 Spreuke 14:15 sê: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.” Vandag is daar nog nie ’n geneesmiddel vir party siektes nie. Ons moet dus versigtig wees wanneer daar beweer word dat ’n sekere soort behandeling ’n siekte kan genees, maar daar geen bewyse daarvoor is nie. Paulus het geskryf: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word” (Filippense 4:5). Redelikheid sal ons help om eerder toegespits te bly op ons aanbidding van Jehovah as om al ons aandag aan gesondheidsake te bestee. As gesondheidsorg die belangrikste ding in ons lewe is, kan ons selfbehep word (Filippense 2:4). Ons weet dat ons nie volmaakte gesondheid in hierdie stelsel kan hê nie. Daarom moet jy seker maak dat jou diens aan Jehovah vir jou van die allergrootste belang is.—Lees Filippense 1:10.

Probeer jy jou mening op ander afdwing? (Sien paragraaf 9)

9. Hoe kan Romeine 14:13, 19 ons help om besluite te neem in verband met gesondheidsorg, en wat kan ons eenheid in gevaar stel?

9 ’n Redelike Christen sal nie ander probeer dwing om te doen wat hy dink die beste is nie. In een land het ’n egpaar ander aangeraai om sekere voedselaanvullings te gebruik en om ’n sekere dieet te volg. Hulle het party broers oorreed om dit te doen, maar ander wou dit nie doen nie. Toe die aanvullings en dieet nie goeie resultate gehad het nie, was baie broers en susters ontsteld. Die egpaar het die reg gehad om te besluit of hulle die aanvullings wou gebruik en die dieet wou volg. Maar was dit redelik om die eenheid van die gemeente in gevaar te stel ter wille van gesondheidsake? Party Christene in eertydse Rome het verskillende menings gehad oor sekere voedselsoorte en vierings. Watter raad het Paulus hulle gegee? Hy het gesê: “Die een persoon oordeel dat die een dag bo die ander is; ’n ander oordeel dat die een dag gelyk aan al die ander is; laat elkeen heeltemal oortuig wees in sy eie verstand.” Ons moet dus seker maak dat ons ander nie laat struikel nie.—Lees Romeine 14:5, 13, 15, 19, 20.

Maak seker dat jou diens aan Jehovah vir jou van die allergrootste belang is

10. Waarom moet ons die persoonlike besluite van ander respekteer? (Sien prent aan begin van artikel.)

10 Soms verstaan ons dalk nie waarom iemand in die gemeente ’n sekere besluit in verband met ’n persoonlike saak neem nie. Wat moet ons dan doen? Ons moenie gou wees om hom te oordeel nie of hom dwing om van plan te verander nie. Dalk moet hy sy gewete verder oplei, of moontlik is sy gewete oorsensitief (1 Korintiërs 8:11, 12). Of miskien is ons gewete nie ten volle opgelei nie. Wanneer dit kom by gesondheidsorg en ander sake, moet elkeen van ons ons eie besluite neem en verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.

GENIET ONTSPANNING

11, 12. Hoe help die Bybel ons wanneer dit kom by ons keuse van ontspanning?

11 Jehovah het ons geskep met die vermoë om ontspanning te geniet en daarby baat te vind. Salomo het geskryf dat daar “’n tyd [is] om te lag” en “’n tyd [is] om rond te huppel” (Prediker 3:4). Maar nie alle ontspanning is voordelig, ontspannend of verkwikkend nie. Ons moet ook nie te veel tyd aan ontspanning bestee nie. Hoe kan ons gewete ons help om ontspanning wat Jehovah goedkeur, te geniet en daarby baat te vind?

‘Waarsku my gewete my wanneer ek voor versoekings te staan kom?’

12 Die Bybel waarsku ons teen “die werke van die vlees”. Hierdie werke sluit dinge in soos “hoerery, onreinheid, losbandige gedrag, afgodediens, die beoefening van spiritisme, vyandskappe, twis, jaloesie, vlae van toorn, rusies, verdeeldhede, sektes, afgunstighede, dronkenskap [en] swelgerye”. Paulus het geskryf dat “dié wat sulke dinge beoefen, God se koninkryk nie sal beërf nie” (Galasiërs 5:19-21). Ons kan ons dus afvra: ‘Help my gewete my om sportsoorte te vermy wat gewelddadig is of wat ’n aggressiewe, mededingende of nasionalistiese gees in my wek? Waarsku my gewete my wanneer ek in die versoeking kom om na ’n rolprent te kyk wat pornografiese tonele bevat of wat onsedelikheid, dronkenskap of spiritisme bevorder?’

13. Hoe kan die raad in 1 Timoteus 4:8 en Spreuke 13:20 ons help wanneer dit kom by ontspanning?

13 Bybelbeginsels kan ons help om ons gewete op te lei wanneer dit kom by ontspanning. Die Bybel sê byvoorbeeld dat “liggaamlike oefening . . . min voordeel” het (1 Timoteus 4:8). Baie meen dat gereelde oefening verfrissend en goed vir hulle gesondheid is. Maar sê nou ons wil saam met ’n groep oefen? Maak dit saak saam met wie ons oefen? Spreuke 13:20 sê vir ons: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan.” Dit is duidelik dat ons ons Bybelopgeleide gewete moet gebruik in ons keuse van ontspanning.

14. Hoe het ’n gesin Romeine 14:2-4 toegepas?

14 Christian en Daniela het twee tienerdogters. Christian sê: “Gedurende ons aand vir Gesinsaanbidding het ons oor ontspanning gesels. Ons het saamgestem dat party maniere om pret te hê, aanvaarbaar is en ander nie. Wie kan as goeie assosiasie beskou word? Een van ons dogters het gesê dat party jong Getuies hulle gedurende pouse gedra het op ’n manier wat sy meen nie gepas is nie. En sy het gevoel dat daar druk op haar geplaas word om soos hulle op te tree. Ons het geredeneer dat ons elkeen ’n gewete het en dat dit ons moet lei wanneer ons besluit wat om te doen en saam met wie ons dit gaan doen.”—Lees Romeine 14:2-4.

Jou Bybelopgeleide gewete kan jou help om gevare te vermy (Sien paragraaf 14)

15. Hoe kan Matteus 6:33 ons help wanneer ons ons ontspanning beplan?

15 Hoeveel tyd bestee jy aan ontspanning? Stel jy bedrywighede soos vergaderinge, velddiens en Bybelstudie eerste in jou lewe, of kom ontspanning eerste? Wat is vir jou die belangrikste? Jesus het gesê: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:33). Herinner jou gewete jou aan Jesus se raad wanneer jy besluit hoe jy jou tyd gaan bestee?

ONS GEWETE BEWEEG ONS OM TE PREEK

16. Hoe spoor ons gewete ons aan om te preek?

16 ’n Opgeleide gewete waarsku ons nie net teen verkeerde dinge nie, maar dit beweeg ons ook om goeie dinge te doen. Een van hierdie dinge is om van huis tot huis sowel as informeel te preek. Dit is wat Paulus gedoen het. Hy het geskryf: “Die dwang is my opgelê. Waarlik, wee my as ek die goeie nuus nie bekend maak nie!” (1 Korintiërs 9:16). As ons Paulus navolg, sal ons ’n skoon gewete hê omdat ons weet dat ons doen wat reg is. En wanneer ons ander van die goeie nuus vertel, doen ons ’n beroep op hulle gewete. Paulus het gesê: “Deur die waarheid openbaar te maak, beveel ons ons by elke menslike gewete voor die aangesig van God aan.”—2 Korintiërs 4:2.

17. Hoe het ’n jong suster haar Bybelopgeleide gewete gevolg?

17 Toe Jacqueline 16 was, het sy biologie as ’n vak op skool gehad. In die klas het hulle van die evolusieteorie geleer. “My gewete het my nie toegelaat om ’n volle deelname aan klasbesprekings te hê, soos ek gewoonlik gedoen het nie. Ek kon nie die evolusieteorie steun nie. Ek het na die onderwyser toe gegaan en my standpunt verduidelik. Tot my verbasing was hy baie vriendelik en het hy gesê dat ek met die hele klas oor die skepping kan praat.” Jacqueline het goed gevoel omdat sy na haar Bybelopgeleide gewete geluister en in ooreenstemming daarmee opgetree het. Beweeg jou gewete jou om te doen wat reg is?

18. Waarom wil ons ’n goeie, betroubare gewete hê?

18 Ons doelwit is om volgens Jehovah se beginsels en standaarde te lewe. En ons gewete kan ons help om hierdie doelwit te bereik. As ons God se Woord gereeld bestudeer, daaroor peins en toepas wat ons leer, sal ons ons gewete oplei. Dan sal hierdie wonderlike gawe ’n betroubare gids in ons Christelike lewe wees!

^ par. 7 Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Junie 2004, bladsy 29-31.