Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy ‘jou naaste lief soos jouself’?

Het jy ‘jou naaste lief soos jouself’?

“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—MATTEUS 22:39.

LIEDERE: 73, 36

1, 2. Hoe toon die Bybel dat liefde belangrik is?

LIEFDE is Jehovah God se hoofeienskap (1 Johannes 4:16). Sy eerste skepping, Jesus Christus, het miljarde jare saam met sy Vader in die hemel deurgebring en geleer hoe liefdevol Jehovah God werklik is (Kolossense 1:15). Jesus het nog altyd, selfs toe hy op die aarde was, dieselfde liefde as Jehovah getoon. Daarom kan ons seker wees dat Jehovah en Jesus altyd op ’n liefdevolle manier sal regeer.

2 Toe iemand Jesus gevra het wat die grootste gebod is, het Jesus gesê: “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod. Die tweede, soortgelyk hieraan, is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’”—Matteus 22:37-39.

3. Wie is ons “naaste”?

3 Dit is belangrik om liefde in al ons verhoudings te toon. Jesus het gesê dat ons Jehovah sowel as ons naaste moet liefhê. Maar wie is ons “naaste”? As ons getroud is, is die persoon naaste aan ons ons man of vrou. Ons naaste sluit ook ons broers en susters in die gemeente in, sowel as die mense wat ons in die bediening ontmoet. In hierdie artikel sal ons leer hoe ons liefde vir ons naaste kan toon.

WEES LIEF VIR JOU HUWELIKSMAAT

4. Hoe kan ’n huwelik ten spyte van menslike onvolmaaktheid suksesvol wees?

4 Jehovah het Adam en Eva geskep en hulle bymekaargebring. Dit was die eerste huwelik. God wou hê dat hulle ’n gelukkige huwelik moet hê en die aarde met hulle kinders moet vul (Genesis 1:27, 28). Maar toe hulle aan Jehovah ongehoorsaam was, het hulle huwelik skade gely en is sonde en die dood aan ons almal oorgedra (Romeine 5:12). Nietemin kan ’n huwelik vandag suksesvol wees. Jehovah, die Insteller van die huwelik, het die heel beste raad vir mans en vrouens in die Bybel voorsien.—Lees 2 Timoteus 3:16, 17.

Jehovah verwag van die man om ’n liefdevolle hoof te wees

5. Hoe belangrik is liefde in ’n huwelik?

5 Die Bybel toon dat opregte en tere liefde noodsaaklik is vir gelukkige verhoudings. Dit is beslis die geval in die huwelik. Die apostel Paulus het opregte liefde beskryf toe hy gesê het: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde is nie jaloers nie, dit praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie, gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie. Dit is nie bly oor onregverdigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit verdra alles, glo alles, hoop alles, verduur alles. Die liefde faal nooit nie” (1 Korintiërs 13:4-8). Wanneer ons oor Paulus se woorde nadink en dit toepas, kan ons ’n gelukkige huwelik hê.

Die Bybel toon vir ons hoe ons ’n suksesvolle huwelik kan hê (Sien paragraaf 6, 7)

6, 7. (a) Wat sê die Bybel oor hoofskap? (b) Hoe moet ’n Christenman sy vrou behandel?

6 Jehovah het besluit wie die hoof van die gesin moet wees. Paulus het verduidelik: “Ek wil hê dat julle moet weet dat die Christus die hoof is van elke man; en die man is die hoof van die vrou; en God is die hoof van die Christus” (1 Korintiërs 11:3). Maar Jehovah verwag van die man om ’n liefdevolle hoof te wees; hy moet nooit gemeen of wreed wees nie. Jehovah self is ’n goedhartige en onselfsugtige Hoof. Gevolglik respekteer Jesus God se liefdevolle gesag. Hy het gesê: ‘Ek het die Vader lief’ (Johannes 14:31). Jesus sou nie so gevoel het as Jehovah hardvogtig teenoor hom was nie.

7 Al is ’n man die hoof van sy vrou, sê die Bybel dat hy haar moet eer (1 Petrus 3:7). Hoe kan ’n man dit doen? Hy kan haar behoeftes in ag neem en haar voorkeure respekteer. Die Bybel sê: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het” (Efesiërs 5:25). Ja, Jesus het selfs sy lewe vir sy volgelinge gegee. As ’n man ’n liefdevolle hoof is, soos Jesus, sal dit vir sy vrou makliker wees om hom lief te hê, hom te respekteer en aan hom onderdanig te wees.—Lees Titus 2:3-5.

WEES LIEF VIR JOU BROERS EN SUSTERS

8. Hoe moet ons oor ons broers en susters voel?

8 Daar is vandag miljoene mense regoor die wêreld wat Jehovah aanbid. Hulle is ons broers en susters. Hoe moet ons oor hulle voel? Die Bybel sê: “Laat ons . . . aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is.” (Galasiërs 6:10; lees Romeine 12:10.) Die apostel Petrus het geskryf dat ons “gehoorsaamheid aan die waarheid” opregte “broederlike geneentheid” tot gevolg moet hê. Petrus het ook vir mede-Christene gesê: “Bo alles moet julle intense liefde vir mekaar hê.”—1 Petrus 1:22; 4:8.

9, 10. Waarom is daar eenheid onder God se volk?

9 Ons wêreldwye organisasie is uniek. Waarom? Omdat ons diep en opregte liefde vir ons broers en susters het. Nog belangriker, Jehovah ondersteun ons met die sterkste krag in die heelal, sy heilige gees, omdat ons hom liefhet en sy wette gehoorsaam. God se gees help ons om ’n waarlik verenigde wêreldwye broederskap te wees.—Lees 1 Johannes 4:20, 21.

10 Paulus het beklemtoon dat daar liefde onder Christene moet wees toe hy geskryf het: “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen. Maar beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:12-14). Hoe dankbaar is ons tog dat daar liefde, “’n volmaakte band van eenheid”, onder ons is, ongeag waar ons vandaan kom!

Liefde en eenheid identifiseer Jehovah se Getuies as Christus se ware volgelinge, die volk wat God gebruik om die goeie nuus van die Koninkryk wêreldwyd te verkondig

11. Watter eienskappe identifiseer God se organisasie?

11 Die opregte liefde en eenheid van Jehovah se knegte identifiseer hulle as diegene wat die ware godsdiens beoefen. Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34, 35). En die apostel Johannes het geskryf: “Die kinders van God en die kinders van die Duiwel word aan hierdie feit geken: elkeen wat nie regverdigheid beoefen nie, het nie sy oorsprong by God nie, ook nie hy wat sy broer nie liefhet nie. Want dít is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons liefde vir mekaar moet hê” (1 Johannes 3:10, 11). Liefde en eenheid identifiseer Jehovah se Getuies as Christus se ware volgelinge, die volk wat God gebruik om die goeie nuus van die Koninkryk wêreldwyd te verkondig.—Matteus 24:14.

“’N GROOT MENIGTE” WORD INGESAMEL

12, 13. Wat doen die “groot menigte” vandag, en wat sal hulle binnekort ervaar?

12 Vandag is die meeste van Jehovah se knegte deel van “’n groot menigte” wat uit talle verskillende dele van die wêreld kom, en hulle toon dat hulle die Koninkryk ondersteun. Hulle “[kom] uit die groot verdrukking . . . , en hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam” deur geloof in Jesus se losprysoffer te toon. Die “groot menigte” is lief vir Jehovah en sy Seun en hulle aanbid Jehovah “dag en nag”.—Openbaring 7:9, 14, 15.

13 God sal hierdie goddelose wêreld binnekort tydens die “groot verdrukking” vernietig. (Matteus 24:21; lees Jeremia 25:32, 33.) Maar Jehovah sal sy knegte beskerm en hulle tot in sy nuwe wêreld lei omdat hy hulle liefhet. Soos hy byna 2 000 jaar gelede belowe het, sal hy “elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie”. Sien jy daarna uit om in die Paradys te lewe nadat goddeloosheid, lyding en die dood uit die weg geruim is?—Openbaring 21:4.

14. Hoe groot het die groot menigte geword?

14 Toe die laaste dae in 1914 begin het, was daar net ’n paar duisend knegte van God op die aarde. Uit liefde vir hulle naaste en met die hulp van God se heilige gees, het daardie klein groepie gesalfde broers en susters die goeie nuus van die Koninkryk ondanks moeilikhede verkondig. Wat was die gevolg? Vandag word ’n groot menigte mense wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe, ingesamel. Daar is ongeveer 8 000 000 Getuies in meer as 115 400 gemeentes regoor die wêreld, en die getal neem steeds toe. Byvoorbeeld, meer as 275 500 nuwe Getuies is in die 2014-diensjaar gedoop. Dit is sowat 5 300 elke week.

15. Hoe hoor baie mense vandag die goeie nuus?

15 ’n Verbasende aantal mense het al die goeie nuus van die Koninkryk gehoor. Vandag is ons publikasies in meer as 700 tale beskikbaar. Die Wagtoring is die tydskrif met die grootste verspreiding ter wêreld. Meer as 52 000 000 eksemplare word elke maand gedruk, en dit word in 247 tale uitgegee. En die boek wat ons vir Bybelstudies gebruik, Wat leer die Bybel werklik?, is al in meer as 250 tale vertaal. Tot dusver is meer as 200 000 000 eksemplare gedruk.

16. Waarom hou Jehovah se organisasie aan groei?

16 Ons organisasie hou aan groei omdat ons geloof in God het en die Bybel as sy geïnspireerde Woord aanvaar (1 Tessalonisense 2:13). Ons geniet Jehovah se seën ten spyte van Satan se haat en teenstand.—2 Korintiërs 4:4.

WEES ALTYD LIEF VIR ANDER

17, 18. Hoe wil Jehovah hê moet ons voel oor diegene wat hom nie aanbid nie?

17 Mense reageer op verskillende maniere op ons predikingswerk. Party mense luister na ons, terwyl ander ons boodskap haat. Hoe wil Jehovah hê moet ons voel oor diegene wat hom nie aanbid nie? Ongeag hoe mense op ons boodskap reageer, ons pas die volgende raad in die Bybel toe: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord” (Kolossense 4:6). Wanneer ons ons oortuigings verdedig, wil ons dit “met sagmoedigheid en diep respek” doen omdat ons ons naaste liefhet.—1 Petrus 3:15.

18 Selfs wanneer mense kwaad word en ons boodskap verwerp, toon ons liefde vir ons naaste en volg ons Jesus se voorbeeld. Toe Jesus “uitgeskel is, het hy nie terug uitgeskel nie. Toe hy gely het, het hy nie gedreig nie”. Jesus het eerder op Jehovah vertrou (1 Petrus 2:23). Ons lê dus te alle tye nederigheid aan die dag en pas die volgende raad toe: “[Moenie] kwaad met kwaad of uitskellery met uitskellery vergeld nie, maar seën eerder.”—1 Petrus 3:8, 9

Ons moet ons vyande liefhê, ongeag hoe hulle ons behandel

19. Hoe moet ons ons vyande behandel?

19 Nederigheid help ons om ’n belangrike beginsel te gehoorsaam wat Jesus gegee het. Hy het verduidelik: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand haat.’ Ek sê egter vir julle: Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg; sodat julle kan toon dat julle kinders is van julle Vader wat in die hemele is, aangesien hy sy son laat opgaan oor goddeloses en goeies en dit laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Matteus 5:43-45). As God se knegte moet ons ons vyande liefhê, ongeag hoe hulle ons behandel.

20. Hoe weet ons dat liefde vir God asook naasteliefde die hele aarde sal vul? (Sien prent aan begin van artikel.)

20 Ons moet altyd toon dat ons Jehovah en ons naaste liefhet. Selfs as mense ons en ons boodskap teëstaan, help ons hulle wanneer hulle hulp nodig het. Die apostel Paulus het geskryf: “Julle moet niemand enigiets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat sy medemens liefhet, het die wet vervul. Want die wetsbepalings: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie, Jy mag nie moord pleeg nie, Jy mag nie steel nie, Jy mag nie hebsugtig begeer nie’, en watter ander gebod daar ook al is, word in hierdie woord saamgevat, naamlik: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet” (Romeine 13:8-10). In hierdie verdeelde, gewelddadige, goddelose wêreld wat onder Satan se beheer is, toon God se knegte opregte liefde vir hulle naaste (1 Johannes 5:19). Nadat Jehovah Satan, sy demone en hierdie goddelose wêreld vernietig het, sal liefde die hele aarde vul. Wat ’n seën sal dit tog wees wanneer almal op die aarde Jehovah sowel as hulle naaste liefhet!