Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verstaan jy dit dalk net verkeerd?

Verstaan jy dit dalk net verkeerd?

’n Dogtertjie het gesien hoe rook by die skoorstene van ’n fabriek uitborrel en wolke vorm. Dit het haar laat dink dat hierdie fabriek die plek is waar wolke gemaak word. As ’n kind ’n verkeerde gevolgtrekking maak, kan dit nogal snaaks wees. Maar as ons ’n verkeerde gevolgtrekking maak wanneer dit by belangrike dinge kom, kan dit ’n groot invloed op ons lewe hê. As jy byvoorbeeld die etiket op ’n medisynebottel verkeerd verstaan, kan dit lewensgevaarlik wees.

Verkeerde gevolgtrekkings oor geestelike sake kan selfs ernstiger wees. Sommige mense het byvoorbeeld Jesus se leringe verkeerd verstaan (Johannes 6:48-68). In plaas daarvan om meer uit te vind, het hulle al Jesus se leringe verwerp. Wat ’n jammerte!

Lees jy die Bybel wanneer jy raad soek? Dit is prysenswaardig. Maar is dit moontlik dat jy iets wat jy gelees het, verkeerd kan verstaan? Dit gebeur met baie mense. Kom ons kyk na drie dinge wat mense dikwels verkeerd verstaan.

  • Die Bybel sê: “Vrees die ware God.” Party mense verstaan hierdie bevel verkeerd en neem aan dat hulle ’n morbiede vrees vir God moet hê (Prediker 12:13). Maar God wil nie hê dat diegene wat hom aanbid so oor hom moet voel nie. Hy sê: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Moenie rondkyk nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help” (Jesaja 41:10). Om God te vrees beteken eenvoudig dat ons groot ontsag en diep respek vir hom het.

  • Sal die aarde deur vuur vernietig word?

    Party mense verstaan die volgende geïnspireerde woorde verkeerd: “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd, . . . ’n tyd vir geboorte en ’n tyd om te sterf.” Hulle glo dat God bepaal het presies wanneer elke mens sal sterf (Prediker 3:1, 2). Maar hierdie gedeelte praat eintlik van die kringloop van die lewe en toon dat ons almal uiteindelik sal sterf. Ons leer ook uit God se Woord dat ons besluite ’n invloed kan hê op hoe lank ons lewe. Ons lees byvoorbeeld: “Die vrees van Jehovah sal dae byvoeg” (Spreuke 10:27; Psalm 90:10; Jesaja 55:3). Hoe so? Respek vir God se Woord sal ons byvoorbeeld beweeg om ongesonde gewoontes soos dronkenskap en onsedelikheid te vermy.—1 Korintiërs 6:9, 10.

  • Party mense neem die Bybel letterlik op wanneer dit sê dat die hemele en die aarde “vir die vuur weggelê” word, en hulle dink dat God hierdie planeet gaan vernietig (2 Petrus 3:7). Maar God belowe dat hy nooit sal toelaat dat die letterlike aarde vernietig word nie. God “het die aarde op sy vaste plekke gegrondves; tot onbepaalde tyd of tot in ewigheid sal niks dit laat wankel nie” (Psalm 104:5; Jesaja 45:18). Dit is hierdie verdorwe wêreldstelsel van dinge, nie die letterlike planeet nie, wat permanent, asof met vuur, vernietig sal word. En die woord hemele kan in ’n letterlike sin na die hemelruim, die sterrehemel of na God se woonplek verwys. Nie een van hierdie dinge sal vernietig word nie.

WAAROM WORD DIE BYBEL SOMS VERKEERD VERSTAAN?

Soos jy uit hierdie voorbeelde kan sien, verstaan mense dikwels die gedeeltes wat hulle in die Bybel lees, verkeerd. Maar waarom laat God toe dat dit gebeur? Party redeneer dalk: ‘As God alwys en alwetend is, kon hy vir ons ’n boek gegee het wat so duidelik geskryf is dat almal dit maklik kan verstaan. Waarom het hy nie?’ Kyk na drie redes waarom die Bybel dikwels verkeerd verstaan word.

  1. Die Bybel is op so ’n manier saamgestel dat nederige mense wat gewillig is om te leer, dit kan verstaan. Jesus het vir sy Vader gesê: “Ek loof u in die openbaar, Vader, Here van hemel en aarde, omdat u hierdie dinge sorgvuldig vir die wyse en intellektuele mense verberg het en dit aan klein kindertjies geopenbaar het” (Lukas 10:21). Die Bybel is op so ’n manier geskryf dat slegs diegene met die regte gesindheid die boodskap daarin kan verstaan. Mense wat trots is—’n algemene gesindheid van “wyse en intellektuele mense”—is geneig om die Bybel verkeerd te verstaan. Maar mense wat die Bybel lees met die gesindheid van “klein kindertjies”—nederig en gretig om te leer—word beloon met ’n beter begrip van God se boodskap. God het beslis die Bybel op ’n vaardige manier saamgestel!

  2. Die Bybel is bedoel vir mense wat werklik God se hulp wil hê om dit te verstaan. Jesus het getoon dat mense hulp nodig sou hê om sy leringe ten volle te verstaan. Hoe sou hulle hierdie hulp ontvang? Jesus het verduidelik: “Die helper, die heilige gees, wat die Vader in my naam sal stuur, dié sal julle alles leer” (Johannes 14:26). God voorsien dus sy heilige gees—sy magtige werkende krag—om mense te help om te verstaan wat hulle in die Bybel lees. Maar God weerhou sy gees van mense wat nie op hom vertrou vir hulp nie, en daarom dink hulle dikwels dat die Bybel onverstaanbaar is. Die heilige gees beweeg ook Christene wat meer Bybelkennis het, om diegene te help wat die Bybel graag beter wil verstaan.—Handelinge 8:26-35.

  3. Mense kan sommige Bybeltekste slegs op die regte tyd in die geskiedenis verstaan. Daar is byvoorbeeld vir die profeet Daniël gesê om ’n boodskap vir die toekoms neer te skryf. ’n Engel het vir hom gesê: “Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek, tot die tyd van die einde toe.” Deur die eeue heen het baie mense die Bybelboek Daniël gelees, maar hulle kon dit nie werklik verstaan nie. Trouens, selfs Daniël het nie alles verstaan wat hy neergeskryf het nie. Hy het nederig erken: “Ek het gehoor, maar ek kon nie verstaan nie.” Mense sou uiteindelik God se profesie wat deur Daniël neergeskryf is, reg verstaan, maar slegs op die tyd in die geskiedenis wat deur God bepaal is. Die engel het verduidelik: “Gaan, Daniël, want die woorde word geheim gehou en verseël tot die tyd van die einde toe.” Wie sal God se boodskappe verstaan? “Geeneen van die goddeloses sal verstaan nie; maar dié wat insig het, sal verstaan” (Daniël 12:4, 8-10). God openbaar dus nie die betekenis van sekere Bybeltekste totdat die regte tyd aangebreek het nie.

Het tydsberekening al ooit veroorsaak dat Jehovah se Getuies die Bybel verkeerd verstaan? Ja. Maar wanneer God se tyd aangebreek het om dinge duideliker te maak, was die Getuies bereid om hulle begrip aan te pas. Hulle glo dat hulle sodoende Christus se apostels navolg, wat hulle denke nederig aangepas het wanneer Jesus hulle ook al reggehelp het.—Handelinge 1:6, 7.

’n Dogtertjie se verkeerde afleiding oor waar wolke vandaan kom, is dalk net iets kleins. Maar wat die Bybel leer, is vir jou van groot belang. Die Bybel se boodskap is veels te belangrik vir enigeen om dit net op sy eie te lees en te probeer verstaan. Soek dus hulp om te verstaan wat jy lees. Soek na diegene wat die Bybel met ’n nederige gesindheid studeer, wat op God se heilige gees vertrou om die Bybel te verstaan en wat daarvan oortuig is dat ons in die tyd lewe waarin God wil hê dat ons die Bybel beter moet verstaan as ooit tevore. Moenie huiwer om met Jehovah se Getuies te praat of om hulle sorgvuldige navorsing op die webwerf jw.org/af te lees nie. Die Bybel belowe: ‘As jy na begrip roep, sal jy die kennis van God vind.’—Spreuke 2:3-5.