1 | Gebed – “Gee al julle bekommernisse oor aan God”
DIE BYBEL SÊ: “Gee al julle bekommernisse oor aan God, want hy gee om vir julle.” – 1 PETRUS 5:7.
Wat dit beteken
Jehovah God nooi ons om met hom te praat oor enige bekommernis (Psalm 55:22). Geen probleem is te groot of te klein om oor te bid nie. As dit vir ons saak maak, maak dit vir Jehovah saak. Om tot hom te bid, is ’n belangrike stap om innerlike vrede te kry. – Filippense 4:6, 7.
Hoe dit kan help
Wanneer ons sukkel met ons verstandelike gesondheid, voel ons dalk heeltemal alleen. Ander mense verstaan nie altyd presies waardeur ons gaan nie (Spreuke 14:10). Maar wanneer ons uit ons hart in gebed vir God sê hoe ons voel, sal hy altyd liefdevol na ons luister en ons verstaan. Jehovah sien ons, hy weet watter probleme en watter pyn ons ondervind, en hy wil hê dat ons tot hom moet bid oor enige iets waaroor ons bekommerd is. – 2 Kronieke 6:29, 30.
Om met Jehovah in gebed te praat, versterk ons vertroue dat hy vir ons omgee. Ons kan voel net soos die psalmskrywer wat gebid het: “U het gesien hoe ek swaarkry. U is bewus van my groot angs” (Psalm 31:7). Net om te weet dat Jehovah sien waardeur ons gaan, kan ons baie help om moeilike tye te verduur. Maar hy sien nie net die angstige tye waardeur ons gaan nie. Hy verstaan beter as enige iemand anders waardeur ons gaan, en hy help ons om vertroosting en aanmoediging in die Bybel te vind.