Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Reg en verkeerd: Leiding wat werk

Reg en verkeerd: Leiding wat werk

Kyk na vier gebiede van die lewe waar die Bybel miljoene mense gehelp het om te leer dat die leiding daarin werk en vertrou kan word.

1. Die huwelik

Mense het verskillende beskouings oor die huwelik en wat nodig is om ’n gelukkige huwelik te hê.

DIE BYBEL SÊ: “Elkeen van julle moet sy vrou liefhê soos homself, en die vrou moet diep respek vir haar man hê.” – Efesiërs 5:33.

BETEKENIS: Die huwelik is ’n reëling wat deur God ingestel is, so hy weet wat nodig is vir ’n paartjie om gelukkig te wees (Markus 10:​6-9). Die huwelik sal gelukkig wees wanneer huweliksmaats nie fokus op wat hulle elkeen daaruit kry nie, maar eerder op wat hulle elkeen kan gee om hulle huwelik sterk te maak. ’n Man wat vir sy vrou lief is, sal dit wys deur die manier hoe hy haar behandel en vir haar sorg. En ’n vrou wat haar man respekteer, sal dit wys deur die manier hoe sy praat en optree.

DIE BYBEL SE LEIDING WERK: Quang en Thi, van Viëtnam, het vasgevang gevoel in hulle ongelukkige huwelik. Quang het baie keer nie liefdevol opgetree nie. Hy sê: “Ek het nie oor Thi se gevoelens omgegee nie en het haar dikwels verneder.” Thi wou ’n egskeiding hê. Sy het gesê: “Ek het gevoel dat ek nie meer my man kon vertrou of respekteer nie.”

Quang en Thi het uiteindelik geleer wat die Bybel sê en hoe om Efesiërs 5:33 in hulle huwelik toe te pas. Quang sê: “Hierdie teks het my gehelp om te sien dat dit nodig is om liefdevol te wees. Ek moet Thi ook laat voel dat ek lief is vir haar en dat ek materieel, fisies en emosioneel vir haar sorg. Wanneer ek dit doen, is sy liewer vir my en respekteer sy my meer.” En Thi sê: “Hoe meer ek Efesiërs 5:33 toepas en my man wys dat ek hom respekteer, hoe meer laat hy my geliefd, veilig en kalm voel.”

Vir meer inligting oor die huwelik, lees die Ontwaak!, nr. 2 2018, met die titel “12 Geheime vir ’n suksesvolle gesin” op jw.org.

2. Hoe om ander te behandel

Mense mishandel ander dikwels as gevolg van hulle ras, nasionaliteit, voorkoms, godsdiens of seksuele oriëntasie.

DIE BYBEL SÊ: “Eer alle soorte mense.” – 1 Petrus 2:17.

BETEKENIS: Die Bybel keur nie rassisme, homofobie of xenofobie goed nie. Dit moedig ons eerder aan om alle mense te respekteer, ongeag hulle ras, nasionaliteit en of hulle ryk of arm is (Handelinge 10:34). Selfs al stem ons nie saam met wat ander glo of hoe hulle optree nie, kan ons hulle nog steeds met liefde en respek behandel. – Matteus 7:12.

DIE BYBEL SE LEIDING WERK: Daniel was geleer om mense van Asië as ’n bedreiging vir sy land te beskou. Hy het almal van ’n Asiatiese agtergrond begin haat en het hulle dikwels in die openbaar beledig. Daniel sê: “Ek het gedink dat ek my land ondersteun. Ek het nie eers besef dat die manier hoe ek gedink of opgetree het, verkeerd was nie.”

Daniel het later geleer wat die Bybel sê. Hy verduidelik: “Ek moes die manier hoe ek dink, heeltemal verander. Ek moes mense sien soos God hulle sien – dat ons almal dieselfde is, maak nie saak waar ons vandaan kom nie.” Daniel beskryf hoe hy nou voel wanneer hy mense ontmoet. Hy sê: “Ek dink dikwels nie eers aan waar hulle vandaan kom nie. Ek is nou lief vir alle soorte mense en het goeie vriende van regoor die wêreld.”

Vir meer inligting, lees die Ontwaak!, nr. 3 2020, met die titel “Diskriminasie – Is daar ’n oplossing?” op jw.org.

3. Geld

Baie mense jaag rykdom na om gelukkig te wees en ’n beter toekoms te hê.

DIE BYBEL SÊ: “Wysheid is ’n beskerming net soos geld ’n beskerming is, maar die voordeel van kennis is: Wysheid bewaar die lewe van dié wat dit besit.” – Prediker 7:12.

BETEKENIS: Ons het geld nodig, maar dit kan nie ons geluk of ons toekoms waarborg nie (Spreuke 18:11; 23:​4, 5). Ware geluk en ’n veilige toekoms hang eerder daarvan af dat ons die wysheid van God wat in die Bybel gevind word, toepas. – 1 Timoteus 6:​17-19.

DIE BYBEL SE LEIDING WERK: Cardo, ’n man in Indonesië, het daarop gefokus om ryk te word. Hy het gesê: “Ek het al die dinge gehad wat die meeste mense wil hê. Ek kon reis en kon luukse dinge, karre en huise koop.” Maar dit het nie lank gehou nie. Cardo sê: “Ek was bedrieg, en die geld waarvoor ek al daardie jare so hard gewerk het, was in ’n oogwink weg. Ek het my hele lewe lank rykdom nagejaag, maar op die ou end het ek net leeg, waardeloos en teleurgesteld gevoel.”

Cardo het die Bybel se raad oor geld begin toepas. Hy fokus nie meer al sy energie daarop om ryk te word nie, maar kies eerder om ’n eenvoudiger lewe te hê. Hy sê: “Ek voel dat ek nou ware rykdom het omdat ek ’n goeie verhouding met God het. Ek kan nou elke aand lekker slaap, en ek is regtig gelukkig.”

Vir inligting oor die Bybel se beskouing van geld, lees die artikel “Kan opvoeding en geld ’n beter toekoms waarborg?” in Die Wagtoring, nr. 3 2021, op jw.org.

4. Seks

Mense het baie verskillende opinies oor wat seksueel aanvaarbaar is.

DIE BYBEL SÊ: Julle moet “van seksuele onsedelikheid . . . wegbly. Elkeen van julle moet weet hoe om sy eie liggaam in heiligheid en eer onder beheer te hou. Moet julle nie laat lei deur gierige, onbeheerste seksuele begeertes soos die nasies wat God nie ken nie.” – 1 Tessalonisense 4:​3-5.

BETEKENIS: Die Bybel beperk ons wanneer dit by ons seksuele begeertes kom. Die term “seksuele onsedelikheid” sluit egbreuk, prostitusie, seks tussen mense wat nie getroud is nie, homoseksualiteit en bestialiteit in (1 Korintiërs 6:​9, 10). Seks is ’n geskenk van God wat hy net bedoel het vir ’n man en ’n vrou wat met mekaar getroud is. – Spreuke 5:​18, 19.

DIE BYBEL SE LEIDING WERK: ’n Vrou in Australië met die naam Kylie sê: “As ’n ongetroude persoon het ek gedink dat seks my geliefd en veilig sou laat voel. Maar die teenoorgestelde het gebeur. Ek het onseker gevoel, en my hart was gebreek.”

Kylie het later uitgevind wat die Bybel oor seks leer en dit toegepas. Sy sê: “Ek kan sien dat God se standaarde daar is om te keer dat ek seerkry. Ek voel nou veilig en geliefd omdat ek dinge op Jehovah se manier doen. Om die Bybel se leiding toe te pas, het my soveel hartseer gespaar!”

Vir meer inligting, lees die artikel “Wat sê die Bybel oor saambly sonder om te trou?” op jw.org.

Ons Skepper help ons om te weet wat reg en wat verkeerd is. Hoewel dit nie altyd maklik is om gehoorsaam te wees aan wat hy sê nie, is dit die moeite werd. Ons kan vertrou dat dit altyd tot ons geluk sal lei.