Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal ons gevoelens ons altyd help om goeie besluite te maak?

Reg en verkeerd: Waarop baseer mense dikwels hulle besluite?

Reg en verkeerd: Waarop baseer mense dikwels hulle besluite?

Amper almal stem saam dat party dade duidelik reg is of beslis verkeerd is. Byvoorbeeld, moord, verkragting en kindermolestering word wêreldwyd veroordeel, terwyl regverdigheid, goedheid en simpatie wêreldwyd geprys word. Maar wat as dit kom by besluite soos met wie moet ek seks hê, moet ek die waarheid praat en hoe moet ek my kinders grootmaak? Baie mense dink dat daar nie ’n regte of ’n verkeerde besluit is nie. Hulle dink dat amper enige besluit aanvaarbaar is. Mense baseer dikwels hulle besluite op hoe hulle voel en hoe dié om hulle oor die saak voel. Is dit ’n goeie idee?

HOE ONS VOEL

Ons word dikwels deur ons gevoelens gelei. Dit kan verwys na ons innerlike gevoel van wat reg en verkeerd is, wat oor die algemeen ons gewete genoem word (Romeine 2:​14, 15). Selfs jong kinders weet wanneer dinge onregverdig is, en hulle voel skuldig wanneer hulle iets verkeerds doen. Oor tyd word ons gewete gevorm deur die waardes wat ons by ons familie, vriende, onderwysers, gemeenskap, geloof en kultuur leer. Wanneer ons besluite maak, sê ons gewete vir ons of ons keuse met ons waardes ooreenstem of nie.

Ons gevoel van wat reg en verkeerd is, kan ons beweeg om simpatie, dankbaarheid, regverdigheid en meegevoel teenoor ander te wys. Dit kan ook keer dat ons dinge doen wat mense vir wie ons omgee, kan seermaak of wat kan veroorsaak dat ons ongemaklik, skaam of skuldig voel.

Is hoe ons voel, altyd ’n betroubare gids? As ’n jong man het Garrick ’n lewe gekies waar hy, soos hy gesê het, “kon doen wat ek ook al wou”. Maar hy het uitgevind dat om te doen wat hy gevoel het reg was, nie altyd goeie resultate gehad het nie. Hy het sy lewe as baie ongelukkig beskryf omdat dit vol onsedelikheid, dwelm- en alkoholmisbruik en baie geweld was.

HOE ANDER MENSE VOEL

Buiten ons eie gevoelens word ons dikwels gelei deur hoe ander ons besluite sal beskou. Dit kan ons help om by hulle ondervinding en wysheid baat te vind. Ons kry die respek van ons familie, vriende en gemeenskap wanneer ons doen wat hulle dink reg is.

Is hoe ander mense voel, altyd ’n betroubare gids? As ’n jong vrou het Priscila gedoen wat baie van haar vriende gedoen het en het sy gereeld voorhuwelikse seks gehad. Maar sy het besef dat om te doen wat ander gedink het reg was, haar nie gelukkiger gemaak het nie. Sy het gesê: “Om te doen wat die res gedoen het, het my nie goed laat voel nie. Dit het gemaak dat ek dinge doen wat onwys en gevaarlik is.”

IS DAAR ’N BETER MANIER OM GOEIE BESLUITE TE MAAK?

Wanneer ons besluit tussen wat reg en verkeerd is, speel ons gevoelens en die gevoelens van ander ’n belangrike rol. Maar hierdie leiding op sy eie lei nie altyd tot goeie resultate nie. Partykeer maak ons onsself en ander seer omdat ons nie kan sien watter gevolge ons besluite sal hê nie (Spreuke 14:12). En selfs al dink ons en ander iets is reg, kan dit nog steeds skadelik wees, en hierdie opinies kan verander. Sekere gedrag wat eers as verkeerd beskou is, word nou oor die algemeen aanvaar. En gedrag wat voorheen aanvaarbaar was, word nou as verkeerd beskou.

Sal dit ons altyd help om goeie besluite te maak as ons ander se opinies volg?

Is daar ’n beter manier om te besluit wat reg en wat verkeerd is? Is daar ’n standaard wat ons vandag kan volg wat ons nie jare later teleurgesteld sal laat voel nie?

Gelukkig is daar ’n bron wat altyd dieselfde bly en betroubare leiding gee oor wat reg en verkeerd is wat vir almal oral werk. Die volgende artikel sal bespreek waar ons die betroubaarste gids kan kry om vas te stel wat reg en verkeerd is.