Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | DIE VIER PERDERUITERS—HOE RAAK DIT JOU?

Die vier perderuiters—Hoe moet jy oor hulle voel?

Die vier perderuiters—Hoe moet jy oor hulle voel?

Hulle kom aangejaag met dawerende hoewe! Wanneer ons van die vier sterk perde en hulle ruiters in die Bybel lees, is dit asof hulle reg voor ons oë verbyjaag! Die eerste perd is wit—sy ruiter is ’n glorieryke koning wat pas gekroon is. Ná hom kom ’n vuurrooi perd met ’n ruiter wat vrede van die hele aarde af wegneem. Dan volg daar ’n derde perd, swart soos die nag, met ’n ruiter wat ’n weegskaal in sy hand hou terwyl ’n hartseer boodskap verkondig word dat daar nie genoeg kos is nie. Die vierde perd is ’n sieklike vaal kleur wat siekte en ander dodelike gevare aankondig, en die Dood self ry op hom. Die Graf, die gemeenskaplike graf van die mens, volg kort op sy hakke en eis lewens so ver as wat hy gaan!—Openbaring 6:1-8.

“Ek was bang toe ek die eerste keer oor die vier perderuiters lees. Ek het gedink dat die Oordeelsdag kom en dat ek dit nie sal oorleef nie omdat ek nie gereed is nie.”—Crystal.

“Ek was gefassineer deur die vier perde van verskillende kleure en hulle ruiters. Maar toe ek eers verstaan wat die visioen beteken, het dit alles sin gemaak.”—Ed.

Voel jy soos Crystal gevoel het oor die vier perderuiters van die Apokalips? Of voel jy soos Ed? Wat ook al die geval is, die beskrywing van die vier perderuiters en hulle perde is een van die bekendste tonele in Openbaring, die laaste boek van die Bybel. Het jy geweet dat dit tot jou eie voordeel is as jy hierdie visioen verstaan? Hoe so? God belowe dat jy ware geluk kan vind as jy die dinge in hierdie profetiese boek lees, daaruit leer en daarvolgens lewe.—Openbaring 1:1-3.

Hoewel die visioen van die vier perderuiters party mense bang maak, is dit nie die rede hoekom dit geskryf is nie. Miljoene mense het eerder gevind dat hierdie visioen hulle geloof versterk en hulle die hoop op ’n wonderlike toekoms gee. Dit kan dieselfde vir jou beteken! Lees asseblief verder.