Het jy geweet?
Wat was ongewoon omtrent die manier waarop Jesus melaatses behandel het?
Die eertydse Jode het ’n vrees gehad vir die melaatsheid wat in Bybeltye algemeen was. Hierdie gevreesde siekte kon die slagoffer se senuwee-eindpunte aantas en permanente skade en verminking tot gevolg hê. Destyds was daar geen geneesmiddel vir melaatsheid nie. Daarom is slagoffers onder kwarantyn geplaas en moes hulle ander waarsku dat hulle melaats is.—Levitikus 13:45, 46.
Die Joodse godsdiensleiers het reëls oor melaatsheid gemaak wat nie in die Skrif voorgekom het nie en wat die lewe vir slagoffers onnodig moeilik gemaak het. Rabbynse wette het byvoorbeeld gesê dat niemand binne 4 el (ongeveer 2 m) van ’n melaatse mag kom nie. Maar as die wind gewaai het, was die afstand 100 el (ongeveer 45 m). Volgens party Talmoediste het die skriftuurlike vereiste dat melaatses “buite die kamp” moet bly, beteken dat hulle nie in ommuurde stede mag kom nie. Daarom het ’n sekere rabbi, wanneer hy ’n melaatse in ’n stad gesien het, hom met klippe gegooi en gesê: “Gaan terug na jou plek toe, en moenie ander besmet nie.”
Jesus het melaatses heeltemal anders behandel! Hy het hulle nie weggejaag nie, maar was bereid om aan hulle te raak—en hulle selfs te genees.—Matteus 8:3.
Op watter gronde het Joodse godsdiensleiers ’n egskeiding toegestaan?
Godsdiensleiers in die eerste eeu HJ was verdeeld oor wanneer ’n egskeiding toelaatbaar was. Daarom het van die Fariseërs Jesus eenkeer met hierdie vraag probeer uitvang: “Is dit ’n man geoorloof om op sommer enige grond van sy vrou te skei?”—Matteus 19:3.
Die Mosaïese Wet het toegelaat dat ’n man van sy vrou skei as hy “iets onwelvoegliks aan haar gevind het” (Deuteronomium 24:1). In Jesus se dag was daar twee rabbynse denkrigtings wat verskil het oor hoe hierdie wet verstaan moes word. Volgens die strenger groep, die skool van Sjammai, was “onkuisheid”, dit wil sê egbreuk, die enigste geldige rede vir ’n egskeiding. In teenstelling hiermee het die skool van Hillel gemeen dat ’n man wettig van sy vrou kon skei oor enige onenigheid in die huwelik, al was dit ook hoe gering. Volgens hierdie denkrigting kon ’n man van sy vrou skei as sy bloot sy aandete bederf het of as hy iemand anders gekry het wat vir hom mooier was.
Maar hoe het Jesus die Fariseërs se vraag beantwoord? Hy het eenvoudig gesê: “Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery, en met ’n ander trou, [pleeg] egbreuk.”—Matteus 19:6, 9.