Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die regte beskouing van foute

Die regte beskouing van foute

Don en Margaret * het hulle dogter en haar gesin se kuiertjie baie geniet. Vir hulle laaste ete saam het Margaret, wat ’n afgetrede professionele kok is, macaroni-en-kaas gemaak. Dit was haar twee kleinseuns se gunstelingkos.

Nadat almal by die tafel gaan sit het, het Margaret die kos gebring en dit in die middel van die tafel neergesit. Toe sy die deksel oplig, was sy ontsteld omdat daar net warm kaassous in die bak was! Margaret het die belangrikste ding vergeet, die macaroni!

Dit maak nie saak hoe oud ons is of hoeveel ondervinding ons het nie, ons almal maak foute. Ons kon iets gesê het sonder om te dink, of iets goeds gedoen het maar op die verkeerde tyd. Dalk het ons iets misgekyk of eenvoudig net vergeet. Hoekom maak ons foute? Wat kan ons daaromtrent doen? Kan ons dit vermy? Die regte beskouing van foute sal ons help om hierdie vrae te beantwoord.

FOUTE—HOE ONS DIT SIEN EN HOE GOD DIT SIEN

Wanneer ons iets reg doen, wil ons graag hê dat mense dit moet raaksien en ons daarvoor moet prys omdat ons dink dat ons dit verdien. Moet ons dan nie ook erken wanneer ons ’n fout gemaak het, selfs al was dit nie aspris nie of het niemand anders dit opgemerk nie? Om dit te doen moet ons nederig wees.

As ons te veel van onsself dink, sal ons dalk maak asof ons fout nie so ernstig was nie, iemand anders daarvoor blameer of selfs ontken dat ons ’n fout gemaak het. Wanneer ons dit doen, het dit gewoonlik slegte gevolge. Die probleem mag dalk nie opgelos word nie, en iemand anders kan dalk onregverdig die skuld daarvoor kry. Selfs al kry ons dit reg om die gevolge van ’n fout wat ons gemaak het, nou te vermy, moet ons onthou dat ‘elkeen van ons vir homself aan God rekenskap sal gee’.—Romeine 14:12.

God het ’n realistiese beskouing van foute. Die boek Psalms beskryf God as “barmhartig en genadig”. “Hy sal nie vir altyd verwyt nie”, en ook sal hy nie vir altyd kwaad bly nie. Hy weet dat mense onvolmaak is, en hy verstaan ons swakhede, “gedagtig dat ons stof is”.—Psalm 103:8, 9, 14.

Ons liefdevolle Vader wil ook hê dat ons, as sy kinders, foute moet sien soos hy dit sien (Psalm 130:3). In sy Woord kry ons oorgenoeg liefdevolle raad en leiding om ons te help wanneer ons of iemand anders ’n fout maak.

HOE OM FOUTE TE HANTEER

Wanneer ’n fout gemaak word, mors mense gewoonlik baie tyd en emosionele energie om ander te blameer of om hulle woorde of optrede te regverdig. Sal dit nie beter wees om maar net om verskoning te vra wanneer jou woorde iemand ontstel nie? Praat dinge eerder uit en bly vriende. Het jy iets gedoen wat verkeerd is en dinge vir jouself of vir iemand anders moeilik gemaak? In plaas daarvan om vir jouself kwaad te word of ander die skuld te gee, waarom doen jy nie net jou bes om sake reg te stel nie? As jy daarop aandring dat die fout nie by jou lê nie, sal dit onnodige spanning veroorsaak en die probleem net erger maak. Leer eerder uit jou fout, stel dinge reg en gaan aan met jou lewe.

Ons raak maklik ontsteld wanneer iemand anders ’n fout maak. Maar sal dit nie beter wees om Jesus Christus se raad te volg nie? Hy het gesê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Wanneer jy ’n fout maak, selfs ’n klein foutjie, wil jy graag hê dat ander mense jou liefdevol moet behandel of dalk selfs jou fout moet oorsien. Hoekom probeer jy nie om ander mense ook so te behandel nie?—Efesiërs 4:32.

BEGINSELS WAT JOU KAN HELP OM MINDER FOUTE TE MAAK

’n Woordeboek verduidelik dat ons foute maak as gevolg van “verkeerde oordeel, te min kennis of omdat ons nie genoeg aandag gee nie”. Dit is iets wat elkeen van ons al op die een of ander tyd gedoen het. Maar ons sal minder foute maak as ons oor ’n paar basiese beginsels in die Bybel redeneer.

Een van hierdie beginsels is in Spreuke 18:13. Dit sê: “Wanneer iemand op ’n saak antwoord voordat hy dit hoor, is dit dwaasheid van sy kant en ’n vernedering.” Om goed te luister en mooi te dink voordat jy antwoord, sal definitief help dat jy nie iets oorhaastig doen of sê nie. Wanneer jy oplettend is en seker maak dat jy al die feite het, kan dit keer dat jy ’n verkeerde besluit neem en ’n fout maak.

’n Ander Bybelbeginsel sê: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense” (Romeine 12:18). Probeer jou bes om vrede en samewerking te bevorder. Wees bedagsaam teenoor die mense saam met wie jy werk en respekteer hulle. Probeer hulle aanspoor en prys hulle vir wat hulle doen. Wanneer almal goed met mekaar oor die weg kom, is dit makliker om iemand te vergewe wat dalk iets doen of sê sonder om te dink. En ernstiger foute kan op ’n liefdevolle manier opgelos en reggestel word.

Probeer om iets goeds uit die fout te leer. In plaas daarvan om ’n verskoning te soek vir wat jy gesê of gedoen het, moet jy kyk of jy hierdie ondervinding kan gebruik om goeie eienskappe aan te leer. Het jy dalk meer geduld, goedheid of selfbeheersing nodig? Of dalk meer sagmoedigheid, vrede en liefde? (Galasiërs 5:22, 23). Dit sal jou ten minste leer wat jy nie moet doen as dit weer gebeur nie. Alle foute kan natuurlik nie as niks afgemaak word nie, maar probeer om nie te veel op jou foute te konsentreer nie. Wanneer jy oor iets kan lag, sal dit help om die spanning te verlig.

HOE DIE REGTE BESKOUING TOT JOU VOORDEEL IS

Die regte beskouing van foute kan ons help om dinge reg te hanteer wanneer ’n fout gemaak word. Ons sal beter voel oor onsself en beter met ander mense oor die weg kom. As ons probeer om uit ons foute te leer, sal ons verstandiger optree en sal ander mense meer van ons hou. Ons sal nie sleg van onsself dink of moedeloos raak nie. Wanneer ons besef dat ander mense ook aan hulle eie foute probeer werk, sal dit ons nader aan hulle bring. Maar nog belangriker, ons moet leer om God se voorbeeld van liefde en vergewensgesindheid na te volg, want dit sal tot ons voordeel wees.—Kolossense 3:13.

Het Margaret se fout, wat vroeër genoem is, die hele geleentheid vir die familie bederf? Glad nie. Almal het gedink dat dit baie snaaks is, veral Margaret. Hulle het die ete geniet al was daar nie macaroni nie! Jare later het die twee kleinseuns met liefde teruggedink aan hulle oupa en ouma en die lekker tye saam met hulle. Hulle het die storie van die ete sonder die macaroni vir hulle eie kinders vertel. En ja, Ouma het maar net ’n fout gemaak!

^ par. 2 Name is verander.