Waardeer jou gawe van wilsvryheid
“Waar die gees van Jehovah is, daar is vryheid.”—2 KOR. 3:17.
LIEDERE: 62, 65
1, 2. (a) Hoe verskil mense se beskouing oor wilsvryheid? (b) Wat leer die Bybel ons oor wilsvryheid, en watter vrae sal ons bespreek?
’N VROU wat ’n persoonlike besluit moes neem, het vir haar vriend gesê: “Moenie my vra om te dink nie; sê net vir my wat om te doen. Dit is makliker.” Die vrou het verkies dat iemand vir haar sê wat om te doen eerder as om haar wilsvryheid, ’n kosbare gawe wat haar Skepper haar gegee het, te gebruik. Wat van jou? Hou jy daarvan om jou eie besluite te neem, of verkies jy dat ander vir jou besluit? Hoe beskou jy wilsvryheid?
2 Mense het al eeue lank verskillende menings oor hierdie onderwerp. Party sê dat daar nie iets soos wilsvryheid is nie—dat God al ons dade vooraf bepaal. Ander redeneer dat ware wilsvryheid net moontlik is as ons absolute vryheid het. Maar om die regte beskouing te hê, moet ons kyk na wat God se Woord, die Bybel, sê. Dit toon dat Jehovah ons geskep het met wilsvryheid; dit wil sê die vermoë en vryheid om intelligente persoonlike besluite te neem. (Lees Josua 24:15.) Die Bybel beantwoord ook vrae soos: Hoe moet ons ons wilsvryheid gebruik? Het ons wilsvryheid perke? Hoe kan die manier waarop ons ons wilsvryheid gebruik, toon of ons werklik lief is vir Jehovah? Hoe kan ons toon dat ons ander se besluite respekteer?
WAT KAN ONS BY JEHOVAH EN JESUS LEER?
3. Hoe gebruik Jehovah sy vryheid?
3 Slegs Jehovah het absolute vryheid, en ons kan leer uit die manier waarop hy sy vryheid gebruik. Hy het byvoorbeeld besluit om die nasie Israel as sy naamvolk, sy “spesiale eiendom”, te kies (Deut. 7:6-8). Hy het ’n goeie rede gehad vir hierdie besluit. Jehovah het die belofte gehou wat hy eeue tevore aan sy vriend Abraham gemaak het (Gen. 22:15-18). Jehovah gebruik altyd sy vryheid op ’n liefdevolle en regverdige manier. Ons sien dit in die manier waarop hy die Israeliete gedissiplineer het, wat herhaaldelik van ware aanbidding afgewyk het. Wanneer hulle opregte berou getoon het, het Jehovah liefde en barmhartigheid aan hulle betoon. Hy het gesê: “Ek sal hulle ontrouheid genees. Ek sal hulle uit vrye wil liefhê” (Hos. 14:4). Hy het beslis ’n goeie voorbeeld gestel deur sy vryheid te gebruik tot ander se voordeel!
4, 5. (a) Wie het God se gawe van wilsvryheid eerste ontvang, en hoe het hy dit gebruik? (b) Watter vraag moet ons ons afvra?
4 Toe Jehovah met sy skeppingswerke begin het, het hy liefdevol besluit om vir sy intelligente skepsele wilsvryheid te gee. Die eerste een wat hierdie gawe ontvang het, was sy eersgebore Seun, “die beeld van die onsigbare God” (Kol. 1:15). Selfs voordat Jesus aarde toe gekom het, het hy gekies om lojaal aan sy Vader te bly en om nie saam met Satan in opstand te kom nie. Later, toe Jesus op die aarde was, het hy sy wilsvryheid gebruik om die versoekings van die groot Teenstander te weerstaan (Matt. 4:10). Jesus het die aand voor sy dood in opregte gebed gesê dat hy vasbeslote is om God se wil te doen. Hy het gesê: “Vader, as u wil, neem hierdie beker van my af weg. Laat nietemin nie my wil nie, maar u wil geskied” (Luk. 22:42). Is dit werklik vir ons moontlik om Jesus na te volg en ons wilsvryheid te gebruik om Jehovah te eer en sy wil te doen?
5 Ja, ons kan Jesus se voorbeeld volg, want ons is ook na God se beeld gemaak (Gen. 1:26). Maar ons het nie die absolute vryheid wat Jehovah het nie. God se Woord verduidelik dat ons vryheid perke het en dat ons binne die perke moet bly wat Jehovah vir ons stel. Byvoorbeeld, vrouens moet onderdanig wees aan hulle mans en kinders aan hulle ouers (Ef. 5:22; 6:1). Watter uitwerking het hierdie perke op die manier waarop ons ons wilsvryheid gebruik? Die antwoord op hierdie vraag sal bepaal wat die toekoms vir ons sal inhou.
DIE GEBRUIK EN MISBRUIK VAN WILSVRYHEID
6. Gee ’n voorbeeld om te toon waarom dit gepas is dat ons vryheid beperk is.
6 Is wilsvryheid met perke regtig vryheid? Ja, dit is! Waarom sê ons so? Beperkings op mense se vryheid kan hulle beskerm. Byvoorbeeld, ons gebruik dalk ons wilsvryheid en besluit om na ’n stad ver van ons af te ry. Maar sal ons veilig voel om op paaie te ry waar daar geen verkeerswette is nie, waar elkeen self kan besluit hoe vinnig of aan watter kant van die pad hy wil ry? Natuurlik nie. Beperkings is nodig sodat almal die seëninge van ware vryheid kan geniet. Kom ons kyk na Bybelvoorbeelde wat toon dat die perke wat Jehovah gestel het, tot ons voordeel is.
7. (a) Wat het Adam anders gemaak as die ander lewensvorme in Eden? (b) Beskryf een manier waarop Adam sy wilsvryheid gebruik het.
7 Toe God die eerste mens, Adam, geskep het, het hy hom dieselfde gawe gegee as wat hy sy intelligente skepsele in die hemel gegee het, die gawe van wilsvryheid. Dit Gen. 2:19.
het Adam anders gemaak as die diere, aangesien hulle volgens instink lewe. Kyk na hoe Adam sy wilsvryheid op ’n gepaste wyse gebruik het. Diere is voor die mens geskep. Maar Jehovah wou hê dat sy eerste menseseun die vreugde moet hê om vir die diere name te gee. God “het hulle na die mens toe begin bring om te sien wat hy elkeen sou noem”. Nadat Adam elke dier dopgehou en ’n gepaste naam gegee het, het Jehovah nie die name wat Adam gekies het, verander nie. Wat die mens “elke lewende siel ook al genoem het, dit was sy naam”.—8. Hoe het Adam sy wilsvryheid misbruik, en wat was die gevolg?
8 Ongelukkig was Adam nie tevrede met die toewysing wat God hom gegee het om na die aardse paradys om te sien nie. God het hom beveel: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit, en die visse . . . en die voëls . . . en al die diere wat op die aarde kruip, moet aan julle onderworpe wees” (Gen. 1:28). Maar hy was nie tevrede met die vryheid wat hy gehad het nie. Hy het gekies om die perke wat God gestel het, te oorskry deur die verbode vrug te eet. Omdat Adam sy wilsvryheid misbruik het, ondervind sy nageslag al duisende jare lank pyn en lyding (Rom. 5:12). Ons weet wat die gevolge van Adam se besluit was, en dit moet ons beweeg om ons vryheid op ’n verantwoordelike manier te gebruik en binne die perke te bly wat Jehovah gestel het.
9. Watter keuse het Jehovah sy volk, Israel, gegee, en hoe het hulle gereageer?
9 Adam en Eva se nageslag het onvolmaaktheid en die dood van hulle ongehoorsame ouers geërf. Maar hulle het nog steeds die gawe van wilsvryheid gehad. Ons kan dit sien uit die manier waarop God met die nasie Israel gehandel het. Jehovah het deur middel van sy kneg Moses vir die nasie gesê dat hulle kan kies of hulle Sy spesiale eiendom wil word (Eks. 19:3-6). Hoe het hulle gereageer? Hulle het gekies om God se naamvolk te word en sy vereistes na te kom. Hulle het eenstemmig gesê: “Alles wat Jehovah gespreek het, is ons bereid om te doen” (Eks. 19:8). Ongelukkig het die nasie later hulle wilsvryheid misbruik en hierdie belofte gebreek. Ons kan ’n belangrike les uit hulle voorbeeld leer. Ons moet altyd ons gawe van wilsvryheid waardeer deur Jehovah se regverdige vereistes na te kom en na aan hom te bly.—1 Kor. 10:11.
10. Watter voorbeelde toon dat onvolmaakte mense hulle wilsvryheid tot eer van God kan gebruik? (Sien prent aan begin van artikel.)
10 In Hebreërs hoofstuk 11 vind ons die name van 16 knegte van God wat hulle wilsvryheid reg gebruik het en binne die perke gebly het wat Jehovah gestel het. Gevolglik het Jehovah hulle ryklik geseën en hulle ’n vaste hoop vir die toekoms gegee. Byvoorbeeld, Noag het groot geloof aan die dag gelê en het God se instruksies gehoorsaam om ’n ark te bou sodat sy gesin en toekomstige geslagte behoue kon bly (Heb. 11:7). Abraham en Sara het God gehoorsaam en na die land gegaan wat hy beloof het om aan hulle te gee. Nadat hulle hierdie lang reis aangepak het, het hulle die “geleentheid gehad . . . om terug te keer” na die welvarende stad Ur. Maar hulle het hulle oë van geloof gevestig gehou op “die vervulling van [God se] beloftes”; hulle het ‘gestreef na ’n beter plek’ (Heb. 11:8, 13, 15, 16). Moses het die skatte van Egipte die rug toegekeer “en verkies om liewer saam met die volk van God sleg behandel te word as om die tydelike genieting van sonde te hê” (Heb. 11:24-26). Ons wil die geloof van hierdie eertydse knegte van God navolg deur ons gawe van wilsvryheid te waardeer en dit te gebruik om God se wil te doen.
11. (a) Wat is een van die grootste seëninge wat wilsvryheid meebring? (b) Wat beweeg jou om jou wilsvryheid op die regte manier te gebruik?
11 Ons dink dalk dat dit makliker is as iemand anders ons besluite vir ons neem, maar dit sal ons beroof van een van die grootste seëninge wat wilsvryheid meebring. Deuteronomium 30:19, 20 (lees) toon wat hierdie seëning is. Vers 19 beskryf watter keuse God die Israeliete gegee het. In vers 20 sien ons dat Jehovah hulle die kosbare geleentheid gegee het om vir hom te wys wat in hulle hart is. Ons kan ook kies om Jehovah te aanbid. Die beste manier waarop ons God se gawe van wilsvryheid kan gebruik, is om vir hom te wys dat ons hom liefhet en om hom te eer en te verheerlik!
MOENIE JOU GAWE VAN WILSVRYHEID MISBRUIK NIE
12. Wat moet ons nooit met ons wilsvryheid doen nie?
12 Stel jou voor dat jy ’n kosbare geskenk aan ’n vriend gegee het. Jy sal beslis teleurgesteld wees as jy hoor dat hy jou geskenk in die asblik gegooi het of, nog erger, dat hy dit gebruik het om iemand seer te maak! Dink nou hoe Jehovah voel as hy sien dat baie mense hulle wilsvryheid misbruik en selfs besluite neem wat ander benadeel. Die Bybel het voorspel dat daar in “die laaste dae” mense sal wees wat “ondankbaar” is, en ons sien dit vandag (2 Tim. 3:1, 2). Ons wil nooit hierdie kosbare gawe van Jehovah misbruik of dit as vanselfsprekend aanneem nie. Maar hoe kan ons seker maak dat ons ons gawe van wilsvryheid nie misbruik nie?
13. Hoe kan ons seker maak dat ons ons wilsvryheid nie misbruik nie?
13 Ons almal kan kies met wie ons wil assosieer, watter soort klere ons wil dra of watter vermaak ons wil geniet. Ons wilsvryheid kan egter “’n dekmantel vir slegtheid” word as ons kies om slawe van ons eie vleeslike begeertes te word of as ons die skandelike modes of giere van die wêreld aanneem. (Lees 1 Petrus 2:16.) Ons wil nie ons vryheid gebruik om vleeslike begeertes na te jaag nie. Ons wil eerder vasbeslote wees om keuses te maak wat ons sal help om gehoor te gee aan die vermaning: “Doen alles tot heerlikheid van God.”—Gal. 5:13; 1 Kor. 10:31.
14. Waarom moet ons op Jehovah vertrou wanneer ons ons wilsvryheid gebruik?
14 As ons ons wilsvryheid reg wil gebruik, moet ons op Jehovah vertrou en binne die perke bly wat hy vir ons gestel het. Hy is ‘die Een wat ons leer om onsself te bevoordeel, die Een wat ons laat loop op die weg wat ons moet bewandel’ (Jes. 48:17). Ons moet nederig erken dat die volgende geïnspireerde woorde waar is: “Ek weet goed, o Jehovah, dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jer. 10:23). Ons wil nooit soos Adam en die opstandige Israeliete in die strik trap om op ons eie begrip te vertrou nie. Mag ons eerder ‘met ons hele hart op Jehovah vertrou’.—Spr. 3:5.
RESPEKTEER ANDER SE WILSVRYHEID
15. Wat leer ons uit die beginsel in Galasiërs 6:5?
15 Ons moet ander se reg om hulle eie besluite te neem, respekteer. Waarom? Aangesien ons almal die gawe van wilsvryheid het, sal Christene nie altyd presies dieselfde besluit neem nie. Dit geld selfs vir sake wat met ons gedrag en aanbidding te doen het. Onthou die beginsel in Galasiërs 6:5. (Lees.) As ons erken dat elke Christen “sy eie vrag [moet] dra”, sal ons ander se reg respekteer om hulle gawe van wilsvryheid te gebruik.
16, 17. (a) Watter geskil oor wilsvryheid het in Korinte ontstaan? (b) Hoe het Paulus die saak opgelos, en wat leer ons daaruit?
16 Kyk na ’n Bybelvoorbeeld wat toon waarom ons ons broers se reg moet respekteer om hulle eie besluite te neem wanneer dit kom by gewetensake. Christene in Korinte het verskillende beskouings gehad oor vleis wat dalk aan afgode geoffer is, maar later in ’n vleismark verkoop is. Party het geredeneer: ‘Aangesien ’n afgod niks is nie, kan ’n mens die vleis met ’n goeie gewete eet.’ Maar ander wat hierdie afgode vroeër aanbid het, het gemeen dat dit ’n daad van aanbidding sou wees om die vleis te eet (1 Kor. 8:4, 7). Dit was ’n sensitiewe saak wat verdeeldheid in die gemeente kon veroorsaak. Hoe het Paulus die Christene in Korinte gehelp om God se beskouing oor die saak te verkry?
17 Paulus het hulle daaraan herinner dat voedsel hulle nie nader aan God sal bring nie (1 Kor. 8:8). Daarna het hy hulle gewaarsku om nie toe te laat dat hulle reg om self te besluit, “’n struikelblok word vir dié wat swak is” nie (1 Kor. 8:9). Later het hy vir diegene met ’n sensitiewer gewete gesê dat hulle nie hulle broers wat besluit om hierdie vleis te eet, moet oordeel nie (1 Kor. 10:25, 29, 30). In hierdie belangrike saak wat met aanbidding verband gehou het, moes elke Christen se gewete hom dus lei. Moet ons dan nie ook ons broers se reg respekteer om persoonlike besluite in minder belangrike sake te neem nie?—1 Kor. 10:32, 33.
18. Hoe sal jy toon dat jy jou gawe van wilsvryheid waardeer?
18 Jehovah het ons die gawe van wilsvryheid gegee, wat ware vryheid meebring (2 Kor. 3:17). Ons waardeer hierdie gawe, want dit stel ons in staat om besluite te neem wat vir Jehovah wys hoe lief ons hom het. Mag ons aanhou om ons waardering vir hierdie kosbare gawe te toon deur dit te gebruik op ’n manier wat God eer en deur ander se reg te respekteer om hulle gawe van wilsvryheid te gebruik.