Vrae van lesers
Mag ’n Christen ’n vuurwapen vir selfverdediging teen ander mense besit?
Christene doen alles wat hulle kan om hulle veiligheid te verseker, maar hulle hou altyd Bybelbeginsels in gedagte. Hierdie beginsels wys dat Christene nie wapens soos rewolwers, gewere of ander vuurwapens vir selfverdediging teen ander mense sal gebruik nie. Dink hieroor na:
In Jehovah se oë is lewe—veral die lewe van mense—heilig. Die psalmis het van Jehovah gesê: “By u is die bron van die lewe” (Ps. 36:9). Indien ’n Christen besluit om redelike stappe te doen om homself en sy eiendom te beskerm, sal hy alles in sy vermoë doen om nie iemand dood te maak en bloedskuldig te word nie.—Deut. 22:8; Ps. 51:14.
Hoewel verskillende voorwerpe gebruik kan word om iemand dood te maak, is dit makliker om iemand met ’n vuurwapen dood te maak, hetsy dit per ongeluk of opsetlik is. * Die aanvaller is dalk reeds gespanne en as hy iemand met ’n vuurwapen sien, kan dit die situasie vererger en iemand kan sy lewe verloor.
Toe Jesus die aand voor sy dood vir sy volgelinge gesê het om swaarde te dra, het hy nie bedoel dat hulle hulle daarmee moet verdedig nie (Luk. 22:36, 38). Jesus wou hulle eerder iets leer: Sy volgelinge moes nooit geweld gebruik nie, selfs al was hulle teenstanders gewapen (Luk. 22:52). Nadat Petrus die hoëpriester se slaaf aangeval het, het Jesus vir Petrus gesê: “Sit jou swaard terug in sy plek.” Jesus het toe iets gesê wat sy volgelinge tot vandag toe as ’n beginsel navolg: “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan.”—Matt. 26:51, 52.
Soos Miga 4:3 voorspel het, maak God se knegte “van hulle swaarde ploegskare . . . en van hulle spiese snoeimesse”. Ware Christene is vreedsaam. Hulle is gehoorsaam aan God se geïnspireerde bevel aan die apostel Paulus: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. . . . Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense” (Rom. 12:17, 18). Paulus was altyd aan hierdie raad gehoorsaam al was hy in baie moeilike situasies, soos “in gevare van struikrowers”. Sy eie veiligheid was nooit vir hom belangriker as om by Bybelbeginsels te bly nie (2 Kor. 11:26). Hy het eerder op God vertrou en het geweet dat die Bybel se ‘wysheid beter is as oorlogswapens’.—Pred. 9:18.
Christene weet dat lewe baie waardevoller is as materiële dinge. ‘’n Mens se lewe spruit nie voort uit die dinge wat hy besit nie’ (Luk. 12:15). As dit nie help om met ’n gewapende rower te praat nie, moet ons Jesus se raad toepas: “Moenie die een wat goddeloos is, teëstaan nie.” Dit beteken dalk dat ons hom sal toelaat om te vat wat hy wil (Matt. 5:39, 40; Luk. 6:29). * Die heel beste is natuurlik om so ’n situasie te verhoed. As ons “die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” vermy en as mense ons as vreedsame Getuies van Jehovah ken, sal ons moontlik nie ’n teiken van gewelddadige rowers wees nie.—1 Joh. 2:16; Spr. 18:10.
Christene respekteer die gewete van ander (Rom. 14:21). As die broers weet dat iemand in die gemeente ’n vuurwapen vir selfverdediging het, kan dit hulle ontstel of selfs laat struikel. Ons sal uit liefde die belange van ander hoër ag as ons eie, selfs al moet ons iets prysgee wat ons as ’n wetlike reg beskou.—1 Kor. 10:32, 33; 13:4, 5.
Christene probeer om ’n goeie voorbeeld te stel (2 Kor. 4:2; 1 Pet. 5:2, 3). As ’n Christen weier om na raad te luister oor ’n vuurwapen wat hy vir selfverdediging teen ander mense het, sal hy nie voorbeeldig wees nie. Hy sal nie vir verantwoordelikhede kwalifiseer of spesiale voorregte in die gemeente geniet nie. Dit geld ook vir ’n Christen wat ’n vuurwapen vir sy werk dra. Dit sal baie beter wees om ander werk te kry! *
Elke Christen moet natuurlik self besluit hoe hy homself, sy familie en sy besittings sal beskerm en watter soort werk hy wil doen. Maar hy moet Bybelbeginsels gebruik om sulke besluite te neem. Daarom besluit Christene wat lief is vir Jehovah om nie ’n vuurwapen vir selfverdediging te besit nie. Hulle weet dat as hulle op God vertrou en Bybelbeginsels in hulle lewe toepas, hulle ware veiligheid sal geniet.—Ps. 97:10; Spr. 1:33; 2:6, 7.
^ par. 3 Party Christene hou dalk ’n vuurwapen (soos ’n geweer of ’n haelgeweer) aan om vir die pot te jag of vir beskerming teen wilde diere. Sulke wapens moet in ’n kluis gehou word, uitmekaargehaal word en moenie gelaai wees nie. In lande waar dit onwettig is om vuurwapens aan te hou of waar dit op die een of ander manier beperk word, moet Christene die wet gehoorsaam.—Rom. 13:1.
^ par. 2 Sien die artikel “Hoe om verkragting te voorkom” in die Ontwaak! van 8 Maart 1993 oor hoe ’n mens jou teen ’n verkragter kan verdedig.
^ par. 4 Verdere besonderhede oor die vraag of ’n Christen werk kan doen wat vereis dat hy gewapen moet wees, kan gevind word in Die Wagtoring van 1 November 2005, bl. 31; en 1 Oktober 1983, bl. 24-25 (The Watchtower 15 Julie 1983, bl. 25-26).