Leer hoe om meegevoel te hê met “alle soorte mense”
TOE Jesus sy dissipels geleer het hoe om die goeie nuus te verkondig, het hy erken dat mense nie altyd na die Koninkryksboodskap sou wou luister nie (Luk. 10:3, 5, 6). Wanneer ons velddiens doen, ontmoet ons soms mense wat onbeskof of selfs aggressief teenoor ons is. Wanneer mense ons so behandel, kan dit soms moeilik wees om meegevoel met hulle te hê.
’n Persoon wat meegevoel met ander het, kan sien wat ander nodig het en met watter probleme hulle sukkel. Hy voel ook jammer vir hulle en wil hulle graag help. Maar as ons begin om minder meegevoel te hê met die mense vir wie ons preek, sal ons dalk ook minder ywerig en minder suksesvol in ons bediening wees. Wanneer ons daaraan werk om meer meegevoel te hê, is dit asof ons ’n vuur aanblaas. Op hierdie manier hou ons ons ywer vir die bediening aan die brand! — 1 Tess. 5:19.
Hoe kan ons leer om meegevoel met ander te hê, al is dit soms moeilik om dit te doen? Kom ons kyk na drie persone wie se voorbeeld ons kan navolg — Jehovah, Jesus en die apostel Paulus.
BETOON MEEGEVOEL NET SOOS JEHOVAH
Jehovah verduur al duisende jare lank die oneer wat op sy naam gebring word. Nogtans bly hy “goedhartig teenoor die ondankbares en goddeloses” (Luk. 6:35). Jehovah bewys dat hy goedhartig is deur geduldig te wees. Hy wil graag hê dat “alle soorte mense” gered moet word (1 Tim. 2:3, 4). God haat goddeloosheid. Maar mense is vir hom kosbaar, en hy wil nie hê dat enigiemand hulle lewe moet verloor nie. — 2 Pet. 3:9.
Jehovah weet dat Satan dit regkry om ongelowige mense se verstande te verblind (2 Kor. 4:3, 4). Baie mense word van kleins af valse leringe en verkeerde gesindhede geleer, en dit maak dit vir hulle moeilik om die waarheid te aanvaar. Jehovah wil graag sulke mense help. Hoe weet ons dit?
Kom ons kyk hoe Jehovah gevoel het oor die mense in die stad Nineve. Al was hulle gewelddadig, het Jehovah vir Jona gesê: “Behoort ék nie jammer te voel vir Nineve, die groot stad, waarin daar meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat glad nie die verskil tussen hulle regter- en hulle linkerhand ken nie?” (Jona 4:11). Jehovah het jammer gevoel vir hierdie mense omdat hulle nie die waarheid omtrent hom geken het nie. Daarom was hy genadig en het hy Jona gestuur om hulle te waarsku.
Net soos Jehovah, beskou ons mense ook as kosbaar. Ons kan hom navolg deur na maniere te soek om enigiemand te help wat dalk sal luister, selfs al lyk dit asof hulle nie belangstel nie.
BETOON MEEGEVOEL NET SOOS JESUS
Net soos sy Vader, het Jesus baie jammer gevoel vir mense wat geestelik arm was. “Toe hy die skare sien, het hy vir hulle innig jammer gevoel, want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matt. 9:36). Jesus het die situasie van die mense wat na hom kom luister het, goed verstaan. Hy het besef dat hulle godsdiensleiers hulle sleg behandel het en hulle nie die waarheid geleer het nie. Hy het geweet dat baie van hulle om verskeie redes nie na hom sou luister nie, maar hy het aangehou “om hulle baie dinge . . . te leer”. — Mark. 4:1-9.
Wanneer mense nie na ons boodskap wil luister nie, moet ons probeer om hulle situasie te verstaan. Ons moet ons afvra hoekom hulle so reageer. Party het dalk gesien hoe mense wat sê dat hulle
Christene is, verkeerde dinge doen. Daarom het hulle miskien ’n negatiewe beskouing van die Bybel of van die Christelike godsdiens. Ander is moontlik leuens vertel oor wat ons glo. En ander sal dalk baie sleg behandel word deur hulle familielede of die gemeenskap as hulle na ons sou luister.Party mense wat ons in die bediening ontmoet, wil dalk nie na ons luister nie omdat hulle traumatiese ondervindinge gehad het wat hulle diep seergemaak het. ’n Sendeling met die naam Kim sê: “In ’n sekere deel van ons gebied is baie mense slagoffers van ’n oorlog waarin hulle alles verloor het wat hulle gehad het. Hulle het geen ware hoop vir die toekoms nie. Hulle is gefrustreerd en vertrou niemand nie. In hierdie gebied kry ons gereeld mense wat teen ons boodskap gekant is. Eenkeer is ek selfs aangerand terwyl ek velddiens gedoen het.”
Hoe kry Kim dit reg om nog steeds meegevoel met mense te hê, al word sy so sleg behandel? Sy sê: “Wanneer ek sleg behandel word, probeer ek dink aan die woorde in Spreuke 19:11, wat sê: ‘Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn.’ Wanneer ek die agtergrond van die mense in ons gebied in gedagte hou, help dit my om meegevoel met hulle te hê. En nie almal in ons gebied is vyandig nie. Ons het ’n paar goeie herbesoeke in daardie selfde gebied.”
Dalk moet ons ons afvra: ‘Hoe sou ek gereageer het as ek nie die waarheid geken het nie en iemand die Koninkryksboodskap vir my gebring het?’ Sê nou iemand het oor en oor vir ons leuens vertel oor Jehovah se Getuies? Onder sulke omstandighede, sou ons miskien ook nie geluister het nie en sou ons wou hê dat iemand meegevoel met ons moet hê. Wanneer ons dink aan Jesus se opdrag om ander te behandel soos ons behandel wil word, word ons gemotiveer om meegevoel vir ander mense te hê, al is dit nie altyd maklik nie. — Matt. 7:12.
BETOON MEEGEVOEL NET SOOS PAULUS
Die apostel Paulus het selfs met mense wat gewelddadig teenoor hom was, meegevoel gehad. Hoekom? Hy het nooit vergeet watter soort persoon hy voorheen was nie. Hy het gesê: ‘Ek was vroeër ’n lasteraar en ’n vervolger en ’n vermetele man. Nietemin is barmhartigheid aan my bewys, omdat ek onkundig was en in ’n gebrek aan geloof opgetree het’ (1 Tim. 1:13). Hy het besef dat Jehovah en Jesus baie genadig teenoor hom was. Paulus kon waarskynlik verstaan hoekom party van die mense vir wie hy gepreek het, negatief gereageer het, want hy het voorheen ook soos hulle gevoel.
Paulus het partykeer mense ontmoet wat oortuig was dat die valse leringe waaraan hulle glo, reg is. Hoe het hy gereageer? In Handelinge 17:16 lees ons dat terwyl Paulus in Atene was, “sy gees in hom geïrriteerd geraak [het] toe hy sien dat die stad vol afgode is”. Maar Paulus het dit wat hom geïrriteer het, gebruik om ’n goeie getuienis te gee (Hand. 17:22, 23). Hy het die manier waarop hy gepreek het, aangepas by die agtergrond van verskillende mense sodat hy ‘op elke moontlike manier sommige kon red’. — 1 Kor. 9:20-23.
Wanneer ons mense ontmoet wat ’n negatiewe gesindheid het of valse dinge glo, kan ons Paulus se voorbeeld volg deur aanpasbaar te wees en vir hulle “goeie nuus van iets beters [te] bring” (Jes. 52:7). ’n Suster met die naam Dorothy sê: “In ons gebied word baie mense geleer dat God wreed is en mense oordeel. Ek prys sulke mense vir hulle sterk geloof in God en wys dan vir hulle wat die Bybel sê oor Jehovah se liefdevolle persoonlikheid en sy beloftes vir die toekoms.”
“HOU AAN OM DIE KWAAD MET DIE GOEIE TE OORWIN”
Terwyl ons al hoe nader aan die einde van “die laaste dae” kom, kan ons verwag dat die gesindhede van die mense vir wie ons preek ‘van kwaad tot erger sal voortgaan’ (2 Tim. 3:1, 13). Maar ons moenie toelaat dat dit veroorsaak dat ons minder meegevoel het of ons vreugde verloor nie. Jehovah kan ons die krag gee om ‘aan te hou om die kwaad met die goeie te oorwin’ (Rom. 12:21). ’n Pionier met die naam Jessica vertel: “Ek ontmoet dikwels mense wat nie nederig is nie en wat op ons en ons boodskap neersien. Dit kan ’n mens baie vies maak. Wanneer ek met iemand begin praat, bid ek en vra ek Jehovah om my te help om die persoon te sien soos Hy hom sien. Dan dink ek nie meer aan my gevoelens nie, maar eerder aan hoe ek die persoon kan help.”
Ons moet ook dink aan hoe ons die broers en susters wat saam met ons velddiens doen, kan aanmoedig. Jessica sê: “As een van ons ’n slegte ondervinding gehad het, probeer ek om nie te veel daaraan te dink nie. Ek begin liewer oor positiewe dinge te gesels, soos die goeie dinge wat deur ons bediening bereik word ten spyte daarvan dat party mense negatief reageer.”
Jehovah weet van al die uitdagings wat ons in die bediening het. Hoe bly moet dit Jehovah se hart maak wanneer hy sien dat ons hom navolg deur genade aan ander te betoon! (Luk. 6:36). Jehovah sal natuurlik nie vir ewig meegevoel met mense in hierdie wêreld hê nie. Ons kan daarvan seker wees dat hy presies weet wanneer om ’n einde aan hierdie stelsel van dinge te maak. Maar totdat dit gebeur, is ons predikingswerk dringend (2 Tim. 4:2). Daarom moet ons aanhou om ons werk ywerig te doen en moet ons meegevoel hê met “alle soorte mense”.