Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die uitdaging om God by name te ken

Die uitdaging om God by name te ken

DAAR is iemand wat wil verhinder dat jy Jehovah se naam ken en ’n hegte verhouding met Hom geniet. Wie is hierdie bose vyand? Die Bybel verduidelik: “Die god van hierdie stelsel van dinge [het] die verstande van die ongelowiges verblind.” Die god van hierdie teenswoordige goddelose wêreld is Satan die Duiwel. Hy wil jou in die duisternis hou sodat jou hart nie met “die glorieryke kennis van God” verlig word nie. Satan wil nie hê dat jy Jehovah by name moet ken nie. Maar hoe verblind Satan mense se verstande?—2 Korintiërs 4:4-6.

Satan het valse godsdiens gebruik om te verhinder dat mense God by name leer ken. In die ou tyd het sommige Jode byvoorbeeld besluit om die geïnspireerde Skrif te ignoreer ten gunste van ’n tradisie waarvolgens God se naam nie gebruik moes word nie. Teen die eerste eeue van die huidige jaartelling was Joodse openbare lesers blykbaar beveel om nie God se naam te lees soos dit in hulle Heilige Geskrifte verskyn nie, maar om dit te vervang met die woord ʼAdho·nai′, wat “Here” beteken. Hierdie gebruik het ongetwyfeld bygedra tot ’n tragiese afname in geestelikheid. Baie het die voordele van ’n hegte persoonlike verhouding met God verbeur. Maar wat van Jesus? Wat was sy gesindheid teenoor Jehovah se naam?

Jesus en sy volgelinge het God se naam bekend gemaak

Jesus het in gebed aan sy Vader gesê: “Ek het u naam . . . bekend gemaak en sal dit bekend maak” (Johannes 17:26). Jesus sou God se naam ongetwyfeld by verskeie geleenthede uitgespreek het wanneer hy dele van die Hebreeuse Geskrifte waarin daardie belangrike naam voorkom, gelees, aangehaal of verduidelik het. Jesus sou God se naam dus net so vryelik gebruik het soos al die profete voor hom. As enige Jode alreeds gedurende Jesus se bediening die gebruik van God se naam vermy het, sou Jesus beslis nie hulle tradisie gevolg het nie. Hy het die godsdiensleiers skerp gekritiseer toe hy vir hulle gesê het: “Julle [het] die woord van God kragteloos gemaak weens julle oorlewering.”—Matteus 15:6.

Jesus het die voorbeeld daarin gestel om God se naam bekend te maak

Ná Jesus se dood en opstanding het sy getroue volgelinge voortgegaan om God se naam bekend te maak. (Sien die venster  “Het die eerste Christene God se naam gebruik?”) Op Pinkster 33 HJ, die dag waarop die Christengemeente gestig is, het die apostel Petrus uit ’n profesie van Joël aangehaal en vir ’n menigte Jode en proseliete gesê: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word” (Handelinge 2:21; Joël 2:32). Vroeë Christene het mense van baie  nasies gehelp om Jehovah by name te leer ken. In ’n vergadering van die apostels en ouer manne in Jerusalem het die dissipel Jakobus dus gesê: “God [het] sy aandag op die nasies gerig . . . om uit hulle ’n volk vir sy naam te neem.”—Handelinge 15:14.

Die vyand van God se naam het egter nie tou opgegooi nie. Toe die apostels eers dood was, het Satan geen tyd verspil om afvalligheid te saai nie (Matteus 13:38, 39; 2 Petrus 2:1). Byvoorbeeld, die verklaarde Christen Justinus die Martelaar is gebore omtrent die tyd toe Johannes, die laaste van die apostels, gesterf het. Tog het Justinus herhaaldelik in sy geskrifte daarop aangedring dat die Voorsiener van alle dinge “’n God is wat op geen eienaam genoem word nie”.

Toe afvallige Christene afskrifte van die Christelike Griekse Geskrifte gemaak het, het hulle Jehovah se persoonlike naam klaarblyklik  uit die teks verwyder en dit vervang met Ku′ri·os, die Griekse woord vir “Here”. Dieselfde het met die Hebreeuse Geskrifte gebeur. Afvallige Joodse kopiïste, wat God se naam nie meer hardop gelees het nie, het die goddelike naam meer as 130 keer in hulle Geskrifte met ʼAdho·nai′ vervang. In die invloedryke Latynse vertaling van die Bybel wat in 405 HJ deur Hieronimus voltooi is en later die Vulgaat genoem is, is die persoonlike naam van God eweneens uitgelaat.

Hedendaagse pogings om God se naam uit te wis

Kerke het God se naam uit die Bybel verwyder weens ’n Joodse tradisie of selfs om ’n wins te maak

Vandag is geleerdes daarvan bewus dat Jehovah se persoonlike naam sowat 7 000 keer in die Bybel voorkom. Gevolglik is daar party bekende vertalings, soos die Katolieke Jerusalem Bible, die Katolieke La Biblia Latinoamérica in Spaans en die gewilde Reina-Valera-vertaling, ook in Spaans, wat God se persoonlike naam vryelik gebruik. Sommige vertalings gee God se naam weer as “Jahweh”.

Ongelukkig plaas baie kerke wat Bybelvertalings borg, druk op geleerdes om God se naam uit hulle vertalings van die Bybel weg te laat. In ’n brief, gedateer 29 Junie 2008, aan die presidente van Katolieke konferensies vir biskoppe het die Vatikaan byvoorbeeld gesê: “In onlangse jare het die gebruik ingesluip om die God van Israel se eienaam uit te spreek.” Die brief voorsien hierdie duidelike riglyn: “Die naam van God . . . moet nie gebruik of uitgespreek word nie.” Verder sê dit: “Vir die vertaling van die Bybelse teks in moderne tale . . . moet die goddelike tetragrammaton weergegee word met die ekwivalent van Adonai/Kurios: ‘Here.’” Die doel van die Vatikaan se opdrag is klaarblyklik om te verseker dat God se naam nie gebruik word nie.

Protestante was net so oneerbiedig wanneer dit kom by Jehovah se naam. ’n Woordvoerder vir die New International Version, wat deur Protestante geborg is en in 1978 in Engels uitgegee is, het geskryf: “Jehovah is ’n unieke naam vir God, en ideaal gesien moes ons dit gebruik het. Maar ons het 21⁄4 miljoen dollar [R17 miljoen] aan hierdie vertaling bestee, en ’n gewisse manier om dit weg te gooi, is om byvoorbeeld Psalm 23 te vertaal as ‘Jahweh is my herder’.”

Kerke het ook verhinder dat Latyns-Amerikaners God by name ken. Steven Voth, ’n vertaalkonsultant vir die United Bible Societies (UBS), skryf: “Een van die voortslepende debatte in Latyns-Amerikaanse Protestantse kringe draai om die gebruik van die naam Jehová . . . Interessant genoeg, ’n baie groot en groeiende Neo-Pinkster kerk . . . het gesê dat hulle ’n  1960-uitgawe van die Reina-Valera wou hê, maar sonder die naam Jehová. In plaas daarvan wou hulle die woord Señor [Here] hê.” Volgens Voth het die UBS hierdie versoek aanvanklik geweier, maar hulle het later toegegee en ’n uitgawe van die Reina-Valera-Bybel “sonder die woord Jehová” gepubliseer.

Wanneer God se naam uit sy geskrewe Woord verwyder word en met “Here” vervang word, verhinder dit dat lesers werklik weet wie God is. So ’n vervanging skep verwarring. Byvoorbeeld, ’n leser sal moontlik nie kan onderskei of die woord “Here” na Jehovah of na sy Seun, Jesus, verwys nie. In die teks waarin die apostel Petrus Dawid aanhaal en sê: “Jehovah het vir my Here [die verrese Jesus] gesê: ‘Sit aan my regterhand’”, sê baie Bybelvertalings dus: “Die Here het gespreek tot my Here” (Handelinge 2:34, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Daarbenewens sê David Clines in sy werkstuk “Jahweh en die God van die Christelike Teologie”: “Een gevolg van die afwesigheid van Jahweh in Christelike denke is die neiging om op die persoon van Christus te konsentreer.” Baie kerkgangers is dus nouliks daarvan bewus dat die ware God tot wie Jesus sy gebede gerig het, ’n Persoon is met ’n naam—Jehovah.

Satan het hom daarop toegespits om mense se verstande te verblind wat God betref. Tog is dit vir jou moontlik om Jehovah intiem te leer ken.

Jy kan Jehovah by name ken

Een ding is seker, Satan het teen die goddelike naam oorlog gevoer en het valse godsdiens op slinkse wyse daarvoor gebruik. Maar die werklikheid is dat geen mag in die hemel of op aarde kan keer dat die Soewereine Heer Jehovah sy naam bekend maak aan dié wat die waarheid omtrent hom en sy glorieryke voorneme vir getroue mense wil weet nie.

Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om te leer hoe jy deur middel van ’n studie van die Bybel nader aan God kan kom. Hulle volg die voorbeeld van Jesus, wat vir God gesê het: “Ek het u naam aan hulle bekend gemaak” (Johannes 17:26). Wanneer jy nadink oor die tekste wat die verskeie rolle openbaar wat Jehovah tot voordeel van die mensdom vervul, sal jy al die pragtige fasette van sy verhewe persoonlikheid leer ken.

Die getroue aartsvader Job het “intimiteit met God” geniet, en jy kan ook (Job 29:4). Met kennis van God se Woord is dit vir jou moontlik om Jehovah by name te ken. Sulke kennis sal jou die vertroue gee dat Jehovah sal optree in ooreenstemming met wat hy gesê het die betekenis van sy naam is—‘Ek sal word wat ek ook al wil’ (Eksodus 3:14, voetnoot in NW). Hy sal dus ongetwyfeld al sy goeie beloftes teenoor die mensdom vervul.