Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die einde van bose dade is seker!

Die einde van bose dade is seker!

Die einde van bose dade is seker!

GOD het vir ons sy geïnspireerde Woord gegee, wat wys op die redes waarom mense slegte dinge doen. Hy het ons ook wilsvryheid gegee en die vermoë om selfbeheersing te beoefen, wat dit vir ons moontlik maak om te kies om nie slegte dinge te doen nie (Deuteronomium 30:15, 16, 19). Aangesien ons hierdie vermoëns het, kan ons enige slegte neiging wat ons dalk het, erken en die nodige regstellende stappe doen. As ons slegte dade vermy, sal dit op die ou end vir ons sowel as vir diegene om ons geluk meebring.—Psalm 1:1.

Maar ongeag hoe hard ons persoonlik probeer om nie slegte dinge te doen nie, die wêreld word nog steeds geteister deur bose dade wat deur ander mense gepleeg word. Die Bybel waarsku: “Weet dít, dat daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom.” Om te toon waarom die dae “moeilik is om deur te kom”, sê dit verder: “Mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God, wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën; en keer jou van hierdie mense af.”—2 Timoteus 3:1-5.

Jy het moontlik die uitdrukking “die laaste dae” opgemerk in die profetiese woorde wat hierbo aangehaal word. Wat beteken dit vir jou? Soos dit oor die algemeen verstaan word, gee die frase “die laaste dae” te kenne dat iets tot ’n einde kom. Wat kan dit wees? Kyk wat God in sy Woord belowe.

Die goddeloses sal heeltemal uit die weg geruim word.

“Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie. Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”PSALM 37:10, 11.

“Jehovah bewaar almal wat hom liefhet, maar al die goddeloses sal hy verdelg.”PSALM 145:20.

Daar sal geen verdrukking meer wees nie.

“Hy sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle siel verlos.”PSALM 72:12, 14.

“Die skepping [sal] self ook van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak . . . word en die glorieryke vryheid van die kinders van God . . . hê.”ROMEINE 8:21.

Mense se materiële behoeftes sal bevredig word.

“Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie.”MIGA 4:4.

“Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet. Hulle sal nie bou sodat iemand anders dit bewoon nie; hulle sal nie plant sodat iemand anders dit eet nie. Want die dae van my volk sal wees soos die dae van ’n boom; en die werk van hulle eie hande sal my uitverkorenes ten volle benut.”JESAJA 65:21, 22.

Daar sal geregtigheid wees.

“Sal God dan nie beslis reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot hom roep nie . . . ? Ek sê vir julle: Hy sal gou reg aan hulle laat geskied.”LUKAS 18:7, 8.

“Jehovah het geregtigheid lief, en hy sal sy lojales nie verlaat nie. Tot onbepaalde tyd sal hulle beslis bewaar word.”PSALM 37:28.

Selfsug sal deur regverdigheid vervang word.

“Die bewoners van die vrugbare land [salbeslis regverdigheid leer.”JESAJA 26:9.

“Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon.”2 PETRUS 3:13.

Mense verander—nou al

Hierdie beloftes maak ons almal ongetwyfeld baie bly. Maar watter versekering is daar dat dit vervul sal word? Daar bestaan vandag reeds bewys dat God se beloftes bewaarheid sal word. Wat is hierdie bewys? Dit is die feit dat miljoene mense regoor die wêreld vandag reeds daarin geslaag het om ontslae te raak van selfsugtige, onsedelike of gewelddadige karaktertrekke en geleer het om eerlike, vreedsame en goedhartige mense te wees. Vandag is Jehovah se Getuies, wat meer as sewemiljoen tel, ’n internasionale broederskap wat rasse-, etniese, nasionalistiese, politieke en ekonomiese grense oorbrug—oorsake van soveel haat, geweld en bloedvergieting deur die geskiedenis heen. a Die feit dat sulke veranderinge vandag plaasvind, voorsien ’n vaste grondslag om te glo dat God se beloftes op groot skaal vervul sal word.

Maar waardeur word hierdie veranderinge teweeggebring? Die antwoord lê in nog een van die Bybel se beloftes, wat deur die profeet Jesaja opgeteken is. Hy het geskryf:

“Die wolf sal ’n ruk by die lam bly, en die luiperd sal by die boklam gaan lê, en die kalf en die jong maanhaarleeu en die vetgevoerde dier almal bymekaar; en ’n blote seuntjie sal hulle lei. . . . Selfs die leeu sal strooi eet net soos die bul. En die suigeling sal beslis by die gat van die kobra speel; en op die liggat van ’n giftige slang sal ’n gespeende kind sy hand sit. Hulle sal geen kwaad doen of enige verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek.”—Jesaja 11:6-9.

Voorspel hierdie profesie bloot ’n tyd wanneer diere in harmonie met mense sal lewe? Nee, meer is daarby betrokke. Let op dat die laaste deel van die Skrifgedeelte aandui wat die verandering teweegbring: “Die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah.” Verander kennis van God diere se gedrag? Nouliks. Maar dit kan mense verander en doen dit dan ook! Hierdie profesie voorspel dat mense wat moontlik dierlike neigings het, daarvan ontslae sal raak en ’n Christelike persoonlikheid sal aankweek omdat hulle leer en toepas wat die Bybel sê.

Beskou die voorbeeld van Pedro. b Hy het geglo dat hy vir geregtigheid stry toe hy by ’n terroristeorganisasie aangesluit het. Nadat hy opleiding ontvang het, is hy beveel om ’n polisiebarak op te blaas. Terwyl hy voorbereidings hiervoor getref het, is hy in hegtenis geneem. Pedro was 18 maande lank in die tronk, waar hy sy ondermynende bedrywighede voortgesit het. Intussen het Pedro se vrou die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Nadat hy vrygelaat is, het Pedro ook die Bybel begin studeer, en wat hy oor Jehovah God geleer het, het hom beweeg om groot veranderinge in sy gesindheid en sy lewensbenadering aan te bring. “Ek dank Jehovah dat ek nooit iemand gedurende my jare as ’n terroris doodgemaak het nie”, sê Pedro. “Nou gebruik ek die swaard van God se gees, die Bybel, om aan mense ’n boodskap van ware vrede en geregtigheid oor te dra—die goeie nuus van God se Koninkryk.” Pedro het selfs die barak wat hy van plan was om te vernietig, besoek om sy boodskap van vrede en van ’n wêreld sonder geweld bekend te maak.

Die kragtige uitwerking wat God se Woord op mense kan hê, gee ons selfs meer rede om geloof te hê in God se belofte dat die einde van alle bose dade seker is. Ja, mense sal nie vir ewig slegte dinge doen nie, maar sal ten goede verander. Jehovah gaan binnekort ontslae raak van die bron van bose dade, Satan die Duiwel, wat wêreldaangeleenthede as ’t ware agter die skerms manipuleer. Die Bybel sê: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Maar hy sal binnekort uit die weg geruim word. Ook diegene wat hardnekkig weier om hulle goddelose weë te laat vaar, sal nie meer daar wees nie. Hoe wonderlik om in so ’n geseënde tyd te lewe!

Wat moet ’n mens doen om van so ’n toekoms verseker te wees? Onthou dat dit “die kennis van Jehovah” is wat vandag die verandering in mense teweegbring en wat in die nabye toekoms ’n wêreldwye verandering sal teweegbring. As jy juiste kennis van die Bybel verkry en dit toepas—soos Pedro—kan jy ook daarna uitsien om in ’n wêreld te lewe waarin ‘regverdigheid sal woon’ (2 Petrus 3:13). Ons spoor jou dus aan om die geleentheid aan te gryp, terwyl dit nog daar is, om kennis van God en van Jesus Christus in te neem, want dit kan vir jou die ewige lewe beteken.—Johannes 17:3.

[Voetnote]

a Vir meer inligting, sien die brosjure Jehovah se Getuies—Wie is hulle? Wat glo hulle?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Naam is verander.

[Lokteks op bladsy 9]

Jy kan ook daarna uitsien om in ’n wêreld te lewe waarin ‘regverdigheid sal woon’.—2 PETRUS 3:13