Spring na inhoud

 Leer jou kinders

’n Geheim wat jy vir ander kan vertel

’n Geheim wat jy vir ander kan vertel

HET iemand al ooit vir jou ’n geheim vertel?— * Ek wil graag vir jou een vertel. Die Bybel noem dit “die heilige geheim wat vir lang tye verswyg is” (Romeine 16:25). Aan die begin het net God “die heilige geheim” geken. Kom ons kyk hoe God seker gemaak het dat hierdie geheim aan baie mense bekend word.

Om mee te begin, weet jy wat ‘heilig’ beteken?— Die woord beteken rein of baie spesiaal. Die geheim word dus die heilige geheim genoem omdat dit van God af kom, wat heilig is. Wie dink jy wou weet wat hierdie spesiale geheim is?— Die engele. Die Bybel sê: “In juis hierdie dinge is engele begerig om te tuur.” Ja, hulle wou hierdie heilige geheim verstaan.—1 Petrus 1:12.

Toe Jesus aarde toe gekom het, het hy van die heilige geheim gepraat en dit begin verduidelik. Hy het vir sy dissipels gesê: “Aan julle is die heilige geheim van die koninkryk van God gegee” (Markus 4:11). Het jy gesien waaroor die heilige geheim handel?— Oor God se Koninkryk, waarvoor Jesus ons leer bid het!—Matteus 6:9, 10.

Kom ons kyk nou waarom God se Koninkryk “vir lang tye” ’n geheim was totdat Jesus aarde toe gekom het en dit begin verduidelik het. Nadat Adam en Eva God se wet verbreek het en uit die tuin van Eden gesit is, het God se knegte uitgevind dat God nog steeds die hele aarde in ’n paradys sal verander (Genesis 1:26-28; 2:8, 9; Jesaja 45:18). Hulle het geskryf oor die vreugde wat mense op die aarde onder God se Koninkryk sal hê.—Psalm 37:11, 29; Jesaja 11:6-9; 25:8; 33:24; 65:21-24.

Dink nou aan die Heerser van God se Koninkryk. Weet jy wie God gekies het om die Heerser te wees?— Sy Seun, die “Vredevors”, Jesus Christus. “Die vorstelike heerskappy sal op sy skouer wees” (Jesaja 9:6, 7). Ek en jy moet “kennis van die heilige geheim van God, naamlik Christus”, inneem (Kolossense 2:2). Ons moet weet dat God die lewe van die eerste engel (geesseun) wat hy geskep het, geneem het en daardie lewe in Maria gesit het. Hierdie seun, wat ’n magtige engel was, het die een geword wat God as ’n offerande aarde toe gestuur het sodat ons die ewige lewe kan hê.—Matteus 20:28; Johannes 3:16; 17:3.

Maar ons moet meer omtrent hierdie geheim weet as net dat God Jesus gekies het om die Heerser van Sy Koninkryk te wees. ’n Deel van die heilige geheim is dat ander, mans sowel as vroue, saam met die verrese Jesus in die hemel sal wees. Hulle sal saam met  Jesus in die hemel regeer!—Efesiërs 1:8-12.

Kom ons leer die name van party van dié wat saam met Jesus in die hemel sal regeer. Jesus het vir sy getroue apostels gesê dat hy soontoe gaan om vir hulle ’n plek te berei (Johannes 14:2, 3). As jy na die volgende tekste kyk, sal jy die name sien van ’n paar van die mans en vroue wat saam met Jesus in sy Vader se Koninkryk sal regeer.—Matteus 10:2-4; Markus 15:39-41; Johannes 19:25.

Mense het lank nie geweet hoeveel persone saam met Jesus as deel van sy Koninkryk sal regeer nie. Maar nou weet ons presies hoeveel. Weet jy?— Die Bybel sê dat daar 144 000 sal wees. Dit is ook deel van die heilige geheim.—Openbaring 14:1, 4.

Stem jy saam dat hierdie “heilige geheim van die koninkryk van God” die wonderlikste geheim is waarvan enigiemand ooit kan weet?— Kom ons probeer dan om alles daaroor te leer wat ons kan sodat ons hierdie dinge aan soveel mense moontlik kan verduidelik.

^ par. 3 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.