Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gee God werklik vir jou om?

Gee God werklik vir jou om?

Gee God werklik vir jou om?

VOEL jy geliefd? Of voel jy soms dat niemand vir jou omgee nie? In hierdie gejaagde, egosentriese wêreld is dit dalk maklik om te glo dat jy te gering is om van belang te wees, te onbeduidend is om raakgesien te word. In ooreenstemming met die Bybel se beskrywing van ons tyd is baie vandag so behep met hulleself dat daar ’n algemene gebrek aan besorgdheid oor ander is.—2 Timoteus 3:1, 2.

Ongeag ouderdom, kultuur, taal of ras, alle mense het ’n diepgewortelde behoefte daaraan om liefde te gee en te ontvang. Volgens sommige verslae is ons senuweestelsel spesiaal ontwerp om liefde en teerheid waar te neem. Jehovah God, wat ons geskep het, verstaan beter as enigiemand anders dat ons ’n behoefte daaraan het om geliefd te wees en waardeer te word. Hoe sal jy voel as hy jou sou verseker dat jy vir hom kosbaar is? Dit sal beslis die waardevolste erkenning wees wat jy kan ontvang. Kan ons werklik seker wees dat Jehovah in onvolmaakte mense belangstel? Is hy besorg oor ons as individue? Indien wel, wat maak ’n persoon by hom geliefd?

Jehovah gee wel om

Sowat 3 000 jaar gelede is ’n godvresende psalmis met ontsag vervul toe hy die luisterrykheid van die sterrehemel aanskou het. Daar het geen twyfel by hom bestaan oor die oneindig verhewe majesteit van die Een wat die tallose sterre geskep het nie. Bepeinsing oor Jehovah se grootheid en die mens se nietigheid het die psalmis beweeg om verwondering oor Jehovah se liefdevolle besorgdheid uit te spreek: “Wanneer ek u hemel sien, die werke van u vingers, die maan en die sterre wat u berei het, wat is die sterflike mens dat u aan hom dink, en die mensekind dat u vir hom sorg?” (Psalm 8:3, 4). Dit sou maklik wees om tot die slotsom te kom dat die Opperwese te ver weg of te besig is om aan onvolmaakte mense aandag te skenk. Maar die psalmis het geweet dat die mens, ten spyte van sy betreklike geringheid en verganklikheid, wel vir God van belang is.

’n Ander psalmis het hierdie versekering uitgespreek: “Jehovah het behae in dié wat hom vrees, in dié wat op sy liefderyke goedhartigheid wag” (Psalm 147:11). Die gedagte wat in albei hierdie psalms na vore kom, is aangrypend. Ongeag sy verhewenheid, is Jehovah nie net bewus van mense nie. Nee, hy ‘sorg vir hulle’ en ‘het behae in hulle’.

Hierdie feit word verder beklemtoon deur ’n Bybelprofesie wat verwikkelinge in ons tyd beskryf. Deur die profeet Haggai het Jehovah aangedui dat die goeie nuus van God se Koninkryk wêreldwyd verkondig sou word. Met watter resultate? Let op een: “Die begeerlike dinge van al die nasies moet inkom; en ek sal hierdie huis met heerlikheid vul.”—Haggai 2:7.

Wat is hierdie “begeerlike dinge” wat uit al die nasies ingesamel word? Dit kan nouliks materiële rykdom wees (Haggai 2:8). Dit is nie silwer en goud wat Jehovah se hart bly maak nie. Hy skep behae in mense wat hom uit liefde aanbid, ondanks hulle onvolmaakthede (Spreuke 27:11). Hulle is “die begeerlike dinge” wat hom verheerlik, en hy stel hulle hartgrondige toegewydheid en ywerige diens hoog op prys. Is jy een van hulle?

Die gedagte dat onvolmaakte menseskepsele vir die Grootse Skepper van die heelal begeerlik kan wees, klink dalk ongelooflik. Maar hierdie waarheid behoort ons in werklikheid te beweeg om die hartlike uitnodiging te aanvaar om nader aan hom te kom.—Jesaja 55:6; Jakobus 4:8.

“Jy is ’n besonder geliefde man”

Toe die profeet Daniël al bejaard was, het hy vroeg een aand ’n verbasende ondervinding gehad. Terwyl Daniël gebid het, het ’n belangrike besoeker skielik opgedaag. Sy naam was Gabriël. Daniël het hom tevore ontmoet en hom as Jehovah se engel herken. Gabriël het die rede vir sy skielike verskyning verduidelik: “O Daniël, nou het ek gekom om jou insig met begrip te laat kry . . . , want jy is ’n besonder geliefde man.”—Daniël 9:21-23.

By ’n ander geleentheid het een van Jehovah se engele Daniël aangespreek met die woorde: “O Daniël, besonder geliefde man.” Toe, om Daniël te versterk, het die engel gesê: “Moenie bang wees nie, o besonder geliefde man. Mag jy vrede hê” (Daniël 10:11, 19). Daniël is dus drie keer as ’n “besonder geliefde man” beskryf. Hierdie uitdrukking kan ook “innig beminde”, “hooggeagte” en selfs “’n gunsteling” beteken.

Daniël het sekerlik alreeds na aan sy God gevoel en het ongetwyfeld besef dat sy toegewyde diens Jehovah se goedkeuring wegdra. Maar daardie betuiging van God se groot geneentheid wat deur sy engeleboodskappers oorgedra is, moes baie gerusstellend gewees het. Dit is nie verbasend dat Daniël toe gesê het nie: “U het my versterk.”—Daniël 10:19.

Die hartverblydende verslag van Jehovah se tere gevoelens vir sy getroue profeet is tot ons voordeel in God se Woord opgeteken (Romeine 15:4). As ons oor Daniël se voorbeeld nadink, help dit ons om te verstaan wat ’n persoon by ons hemelse Vader geliefd maak.

Studeer God se Woord gereeld

Daniël was ’n ywerige student van die Geskrifte. Ons weet dit omdat hy self geskryf het: “Ek [het] uit die boeke die getal jare onderskei . . . om die verwoestings van Jerusalem te vervul” (Daniël 9:2). Die boeke wat hy destyds beskikbaar gehad het, het waarskynlik die geïnspireerde geskrifte van Moses, Dawid, Salomo, Jesaja, Jeremia, Esegiël en ander profete ingesluit. Ons kan ons Daniël voorstel, omring deur talle boekrolle en verdiep in sy studies, terwyl hy die profetiese uitsprake in verband met die herstel van ware aanbidding in Jerusalem lees en met mekaar vergelyk. Ongesteurd, moontlik in sy dakvertrek, het hy sekerlik diep gepeins oor die betekenis van hierdie gedeeltes. Sy doelgerigte studie het sy geloof versterk en hom nader aan Jehovah laat kom.

Daniël se studie van God se Woord het ook sy persoonlikheid gevorm en sy hele lewensweg beïnvloed. Skriftuurlike onderrig gedurende sy vroeë jare het hom ongetwyfeld as ’n jongmens vasbeslote gemaak om die voedselvoorskrifte van God se Wet wat destyds van toepassing was, te gehoorsaam (Daniël 1:8). Later het hy God se boodskap onbevrees aan Babilon se heersers oorgedra (Spreuke 29:25; Daniël 4:19-25; 5:22-28). Hy was bekend vir sy pligsgetrouheid, eerlikheid en betroubaarheid (Daniël 6:4). Bowenal het Daniël eerder op Jehovah vertrou as om sy beginsels prys te gee om sy lewe te red (Spreuke 3:5, 6; Daniël 6:23). Geen wonder dat hy vir God ’n “besonder geliefde man” was nie!

In sekere opsigte is Bybelstudie vandag vir ons makliker as wat dit vir Daniël was. Lywige boekrolle is deur gerieflike boeke vervang. Ons het nou die volledige Bybel, insluitende die geskrewe verslag van hoe party van Daniël se profesieë vervul is. En ons het ’n oorvloed Bybelstudie- en navorsingshulpe tot ons beskikking. a Maak jy goed gebruik van hierdie middele? Het jy vaste tye om die Bybel te lees en daaroor te peins? Indien wel, sal dit dieselfde uitwerking hê as in Daniël se geval. Jy sal sterk geloof en ’n hegte verhouding met Jehovah kan opbou. God se Woord sal ’n onfeilbare gids in jou lewe wees, en dit sal jou van sy liefdevolle sorg verseker.

Hou vol met gebed

Daniël was ’n man van gebed. Hy het gepaste versoeke aan God gerig. As jong man het hy die gevaar van teregstelling in die gesig gestaar as hy nie die Babiloniese koning Nebukadnesar se droom kon uitlê nie. Daniël het Jehovah sonder aarseling gesmeek om hom te ondersteun en te beskerm (Daniël 2:17, 18). In nederige erkenning van sy menslike onvolmaaktheid het die getroue profeet jare later sy sonde tesame met die sonde van sy volk bely en Jehovah om vergifnis gesmeek (Daniël 9:3-6, 20). Wanneer Daniël nie die dinge wat hy onder inspirasie gegee is, verstaan het nie, het hy God se hulp gevra. By een geleentheid het die engel wat Daniël besoek het om hom verdere insig te gee, bevestig: “Jou woorde [is] gehoor.”—Daniël 10:12.

Die getroue Daniël het egter nie net versoeke aan God gerig nie. Daniël 6:10 sê: “Hy [het] selfs drie keer per dag . . . gebid en lof gebring voor sy God, net soos hy voorheen gereeld gedoen het.” Daniël het baie redes gevind om Jehovah te dank en te loof. En hy het dit gereeld gedoen. Ja, gebed was ’n onafskeidelike deel van sy aanbidding, in so ’n mate dat hy dit nie kon prysgee selfs toe dit vir hom lewensgevaarlik was om te bid nie. Hierdie standvastigheid het hom beslis geliefd gemaak by Jehovah.

Wat ’n wonderlike gawe is die voorreg van gebed tog! Moet nooit ’n dag laat verbygaan sonder om met jou hemelse Vader te praat nie. Onthou om hom te dank en te loof vir al sy goedhartigheid teenoor jou. Spreek jou sorge en bekommernisse vryelik uit. Dink aan hoe jou versoeke of smekinge verhoor is, en bedank hom daarvoor. Neem jou tyd wanneer jy bid. Wanneer ons ons hart so voor Jehovah in gebed uitstort, ervaar ons sy liefde op ’n baie persoonlike manier. Wat ’n aansporing is dit tog om ‘vol te hou met gebed’!—Romeine 12:12.

Verheerlik Jehovah se naam

Geen vriendskap kan floreer as een van die partye egosentries is nie. Dit geld ook vir ons verhouding met Jehovah. Daniël was bewus hiervan. Kyk hoe belangrik dit vir hom was om Jehovah se naam te verheerlik.

Toe God sy gebed verhoor het deur Nebukadnesar se droom en die uitlegging daarvan aan hom te openbaar, het Daniël gesê: “Laat die naam van God geloof word van onbepaalde tyd, ja, tot onbepaalde tyd, want die wysheid en die mag—dit behoort aan hom.” Toe hy later die droom en die betekenis daarvan aan Nebukadnesar bekend gemaak het, het Daniël Jehovah herhaaldelik die eer daarvoor gegee en beklemtoon dat Hy alleen die “Openbaarder van geheime” is. Toe Daniël om vergifnis en verlossing gesmeek het, het hy eweneens gebid: “O my God, . . . u naam is oor u stad en oor u volk uitgeroep.”—Daniël 2:20, 28; 9:19.

Ons het baie geleenthede om Daniël in hierdie opsig na te volg. Wanneer ons bid, kan ons meld hoe belangrik dit vir ons is dat God se “naam geheilig word” (Matteus 6:9, 10). Ons wil nooit hê dat ons gedrag Jehovah se heilige naam oneer moet aandoen nie. Mag ons Jehovah eerder altyd verheerlik deur vir ander te vertel wat ons omtrent die goeie nuus van sy Koninkryk leer.

In die wêreld om ons is daar weliswaar ’n gebrek aan liefde en besorgdheid oor ander. Ons kan egter groot vertroosting put uit die wete dat Jehovah werklik oor sy aanbidders as individue besorg is. Soos die psalmis sê: “Jehovah het behae in sy volk. Hy versier die sagmoediges met redding.”—Psalm 149:4.

[Voetnoot]

a Jehovah se Getuies publiseer ’n aantal navorsings- en studiehulpe wat Bybellees en -studie nuttiger kan maak. As jy daarin belangstel om van hierdie hulpe te bekom, kan jy enigeen van Jehovah se Getuies vra.

[Lokteks op bladsy 21]

God het sy geneentheid vir Daniël getoon deur die engel Gabriël te stuur om hom te versterk

[Lokteks op bladsy 23]

Daniël se ywer ten opsigte van studie en gebed het sy persoonlikheid verfyn en hom geliefd gemaak by God